Met betrekking tot Dirk Laurie se verwysing na Delamaine du Toit se vertaling van die Paradiso verskaf ek graag die volgende inligting: In die Italiaanse teks van canto XIV eindig reëls 104, 106 en 108 met Cristo. Dit is ook die geval met canto XII, 71, 73, 75; canto XIV, 104, 106, 108 en canto XXXII, 83, 85 en 87. Hierdie poëtiese strategie stel Dante in staat om al die aandag op Cristo te vestig. Du Toit verwys glad nie na hierdie poëtiese tegniek nie. Cas Vos verwys hierna en maak hiervan in sy vertaling gebruik.
Dante maak in canto XIX op ’n vernuftige wyse in nege tersines (reëls 115—141) van die akrostigon as stylfiguur gebruik. Die digter wend sekere sleutelwoorde wat herhaal word aan om ’n versreël te begin. Deur die tegniek spel die eerste letters die woord vir ramp, pes, verderf uit. Delamaine du Toit verwys ook nie na die strategie nie. Vos verduidelik dit nie alleen nie, maar gebruik dit ook in sy vertaling.
Paradokse kom dikwels in Dante se tersines voor. Hierdeur word die spanning van die vertelgang verhoog. ’n Voorbeeld van die stylfiguur kom in canto III, 29–30 voor:
”vere sustanze son ciò che tu vedi,
qui rilegate per manco di voto.”
”Wat jy voor jou sien, is werklike wesens,
wat hier is as gevolg van onvervulde geloftes.”
Die tegniek is vir du Toit onbekend. Vos wend dit in sy vertaling aan. Die leser sal met vreugde ontdek hoe Dante op ’n oorspronklike wyse metafore en vergelykings in die Paradiso gebruik. Die aanwending van enjambemente laat die reëls ritmies vloei. Hier is ’n voorbeeld uit canto XII, 10–15.
10 Soos twee reënboë kleurryk en neffens mekaar
soms kromrug oor ’n deursigtige wolk buig
as Iris die aarde met reënsagte druppels bewaar,
13 so weerkaats die buitenste boog die binneste boog;
net so is die stem van daardie dwalende nimf
deur haar liefde verteer soos mis deur die son se oog.
Delamaine du Toit verwys nie hierna nie, maar Cas Vos wel.
Dante bou sy engelehiërargie op Pseudo-Dionisius se geskrif De coelesti hierarchia. Die engele speel ’n sentrale rol in Dante se reis na die Paradiso. Delamaine du Toit verwys wel na die engel-ordes, maar gee nie inligting in die verband nie. Cas Vos bespreek die kwessie indringend.
Cas Vos se verklarende aantekeninge bestryk 137 bladsye. Daarin is voldoende inligting om die tersines te verduidelik en te verstaan.
Delamaine du Toit het al drie dele van die La Divina Commedia vertaal. Sy bedoeling was om Dante in Afrikaans leesbaar te maak. Die rym en poëtiese krag kom egter nie tot sy reg nie. Daar is opmerklike spel(foute) in die vertaling en aantekeninge. In canto X word reël 85 vemenigvuldig geskryf. In canto XVI, reël 41 staan “erste” in plaas van eerste. En in canto XXIX, reël 28 is “drievoudge” in plaas van drievoudige.
Ek hoop die inligting dra by om Cas Vos se “uiters knap vertaling” in digvorm (Gerda de Villiers) beter te waardeer.
Wie nog meer inligting benodig, kan onder andere uit die volgende werke put:
Brouwer Rob, Inferno, Purgatorio, Paradiso, 2000-2002
Cialona, Ike en Verstegen, Peter. 2013 De goddelijke komedie.
Longfellow, Henry Wadsworth 1887. The Divine Comedy of Dante Alighieri, 3 vol.;
Mark Musa, al drie dele van The Divine Comedy, 1971, 1981, 1984;
Sayers, Dorothy. The Divine Comedy. Part 3: Paradise, 1986;
Sinclair, John D. 1991. The Divine Commedy. 3: Paradiso, 1991;
Sinclair, John D. 1946.The Divine Commedy of Dante Alighieri;
Singleton Charles, al drie dele van The Divine Comedy, 1970, 1973, 1975)
LitNet Akademies-resensie-essay: Il Paradiso deur Dante Alighieri (vertaal deur Cas Vos)

