LitNet Akademies-resensie-essay: Il Paradiso deur Dante Alighieri (vertaal deur Cas Vos)

  • 1

Il Paradiso
Dante Alighieri
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781928426288

Inleiding

 Il Paradiso is die laaste afdeling van Dante Alighieri se werk, "La Divina Commedia". Cas Vos het sy hand daaraan gewaag om hierdie middeleeuse Italiaanse werk in Afrikaans te laat herleef.

Dit is nie sy eerste poging nie. In sy voorafgaande oeuvre, "Die Goddelike Komedie", met die onderskrif, "Liefde laat die son en sterre sing" (Vos: 2017), het hy reeds grepe uit al drie afdelings van Dante se werk omgedig, naamlik, Inferno, Purgatorio en Paradiso.

Vos se resente werk fokus op laasgenoemde, die Paradys.

Reisgidse

"La Divina Commedia" begin waar Dante in die middel van sy lewensreis homself in ’n woud bevind en op ’n manier die spoor byster raak. Gelukkig verskyn daar spoedig gidse wat hom help om weer sy pad te vind, en hom op sy reis begelei. Net soos wat Dante gidse nodig gehad het, het die leser van die een-en- twintigste eeu ook reisgidse nodig as hy of sy saam met Dante op reis wil gaan, want die middeleeuse wêreld en denke is ’n ander en vreemde landskap.

Voordat hy by die teks self uitkom, begin Cas Vos om sy leser aan die wêreld van Dante voor te stel. Hy verwys kortliks na Dante se persoonlike omstandighede wat alles behalwe aangenaam was (Vos 2018:1–2; sien Vos 2017:2–9 vir ’n meer breedvoerige bespreking). "La Divina Commedia" is gebore uit Dante se diepe teleurstelling met die politieke en teologiese bestel van sy tyd. Hebsug, magsmisbruik en knoeiery is aan die orde van die dag, en keiser sowel as pous maak hulle hieraan skuldig. Dante se persoonlike politieke betrokkenheid in sy geboortestad Firenze (Florence) lei daartoe dat hy uiteindelik uit sy eie stad verban word.

Ontnugter, en wanhopig oor die aardse bestel, onderneem Dante ’n fiktiewe "reis" waarin hy die heersende instansies van sy tyd kritiseer, maar uiteindelik uitkom by ’n visioen van die volmaakte, van die paradys en die Liefde self aanskou. Dante se reis begin by die hel, neem hom deur die plek van loutering en eindig in die paradys. Die Latynse digter Virgilius was aanvanklik sy eerste gids, maar teen die einde van Il Purgatorio neem Beatrice oor en help hom verder. Beatrice was die liefde van sy jeug, maar eintlik ook die liefde van sy lewe. Sy het vroeg gesterf, toe sy maar vier-en-twintig jaar oud was, en Dante laat haar herleef om hom in die hemel in te lei.

Dante Alighieri

Om Il Paradiso te verstaan, is dit belangrik om te weet hoe die middeleeuse mens die kosmos voorgestel het, en watter literêre werke, filosofie en teologie Dante beïnvloed het. Vos (2018:6) wys daarop dat hy in ’n tyd vóór die opkoms van die natuurwetenskappe geleef het, toe ’n geosentriese wêreldbeeld gehandhaaf is, dit wil sê, die aarde is die middelpunt van die heelal, en alles draai daaromheen (Vos 2018:6–8). Hierdie wêreldbeeld is verder beïnvloed deur klassieke Griekse filosowe soos Plato en Aristoteles, maar Dante steun veral op Ptolemeus (tweede eeu nC) in sy voorstelling van die aarde as middelpunt wat deur ’n aantal konsentriese hemelsfere omring word.

Vervolgens skenk Vos (2018:9–11) aandag aan die middeleeuse astronomie rakende Vaste Sterre en Wandelende Planete. Die Wandelende Planete word deur die eerste sewe hemelse sfere gedra, en hulle is: Maan, Mercurius, Venus, Son, Mars, Jupiter en Saturnus. Die agste sfeer dra die Vaste Sterre, die negende sfeer is die terrein van die "Eerste Beweger" (Primum Mobile), waar ruimte, tyd en natuur in beweging gebring word. Die hoogtepunt vanwaar alles egter bestuur word, is die tiende sfeer: die Empireo, die vurige hemel, wat onbeweeglik, en buite tyd en ruimte is, die woonplek van die Skepper self (Vos 2018:10).         

Die feit dat die planete (behalwe die aarde) na Romeinse gode en godinne vernoem is (Vos 2018:12) is alreeds ’n aanduiding dat mites uit die Grieks-Romeinse wêreld ook in Dante se werk vervleg is (Vos 2018:20–22). Maar saam met Dante se voorstelling van die aarde en omringende hemelsfere, moet die middeleeuse besondere komplekse engeleleer in gedagte gehou word. Verskeie engelekore of -groepe bestuur elk van die nege sfere: Maan –engele; Mercurius –aartsengele; Venus – vorstedomme; Son–magte; Mars–kragte; Jupiter –heerskappye; Saturnus –trone; Vaste Sterre–gerubs; Primum Mobile –serafs. Die tiende, die Empireo, lyk vir Dante soos ’n amfiteater in die vorm van ’n wonderskone roos, waar hy al die saliges in die hemelse hof van God sien (Vos 2018:35). Om die leser te help, stel Vos (2018: n.p.) hierdie besonder komplekse teologies-kosmologiese konsepte skematies aan die begin van sy bundel voor.

Vos wil die leser deurgaans daaraan herinner dat die middeleeuse mens, soos Dante, die wêreld anders as in die een-en-twintigste eeu verklaar het. Hy wys byvoorbeeld op die natuurwetenskaplike teorieë vir die ontstaan van die heelal, die sterre, en die formasie van planete (Vos 2018:16–19). Ook die verduideliking vir die vlekke op die maan, bring ’n glimlag nie net om die lippe van Beatrice nie, maar ook van die hedendaagse leser (Vos 2018:23-25). Enersyds is dit goed om bewus te wees van die afstand tussen toe en nou. Die ernstige leser moet dit egter waag om sy of haar "nou" opsy te skuif, en ’n sprong te neem na die eerste hemelsfeer, waar Dante se laaste reistog begin.    

As gelowige maar ook as geleerde van sy tyd, het Dante die Bybel geken, was goed vertroud met die teologiese werke van onder andere Thomas van Aquino, Augustinus, Bernardus van Clairvaux, en hy tree in gesprek met hulle of hulle met hom in Il Paradiso. Vos (2018:26–35) bespreek hierdie figure, verduidelik hul teologie kortliks, en dui ook aan waar en in watter Canto's hulle te voorskyn kom. Maar nie net teks en teologie nie, ook sang en lig word in die paradys aangewend (Vos 1018:41–48). Heel treffend is Vos (2018:49) se eie twee slotstrofes aan die einde van die hoofstuk:

Ek aanskou hoe die wit roos oopkelk
en God se skoonheid en lof versprei
sonder dat die rooskelk ooit verwelk.

Ek staar my blind in u glansende Lig,
almal in die hoogstehemel skink u lof,
u heerlikheid is heilig, heilig, heilig.  

Die vertaling/omdigting

Purgatorio

Vos (2018:36–40) meld kortliks iets oor die retoriek en poëtiese strategieë waarvan Dante gebruik gemaak het, en waaraan hy as vertaler/interpreteerder probeer het om reg te laat geskied (kyk ook Vos 2017:27–29; 32–34). Tersines en die terza rima-rymskema het ’n vaste, gedronge patroon wat metrum en rym betref, en stel besondere vereistes aan die vertaler. "Om te vertaal is in die eerste plek om keuses te maak. Die vertaler mag nie Dante se tersines so probeer tem dat hy/sy dit vir sy/haar doeleiendes 'inheems' maak nie. Die vertaler moet na die woorde wat hy kies luister en dit vergelyk met die letterlike betekenis van die oorspronklike taal. Hy moet die gevoelswaarde daarteen opweeg ten einde die geskikte toonaard en kadens te vind. ’n Vertaling vra ook na die musikaliteit, ritme en samevoeging van woorde en sinne." Maar, sê hy, verder, "dat daar in enige vertaling ’n mate van verraad skuil" (Vos 2018: 64,65). Dit is veral die geval met poësie waar ’n enkele woord ’n omvattende semantiese veld van betekenis kan ontsluit, ’n verwysingsraamwerk oproep wat net in die brontaal geaktiveer kan word. Die vertaling van poësie is moeilik genoeg in twee verskillende kontemporêre tale; des te meer nog so wanneer die tale wêrelde en eeue van mekaar verwyder is. Tog reken Vos (2018:64):" ’n Vertaling in die eie taal is soos soetvye op die tong. Die Paradiso kry in Afrikaans ’n eie lewe, ritme en stukrag."   

Vos se 2017 bundel het reeds iets van bogenoemde bewys. Terwyl hy streng by die vaste rympatroon gehou het, het hy nie in dwangrym verval nie, en met vars beelde en metafore in Afrikaans vorendag gekom. So ook in Il Paradiso, wat ’n besondere groot uitdaging bied. Daar is altesaam XXXIII Canto's wat uit drieledige tersines opgebou is en wat uit drie en dertig lettergrepe bestaan. Vanaf bladsy 80 tot 302 word hiermee volgehou. Enkele voorbeelde van Vos se manier van omdigting:

Canto II:1–6 (Vos 2018:87):

O julle wat gretig is om oor naby te hoor,
en julle boot die wit sproeispore volg
wat julle singend op die wind se maat bekoor,

draai liewer om, terug na julle dobberende skepe,
want die see se splintergolwe is lewensbedreigend.
Miskien skeur die chaoswinde julle seile aan repe.   

Canto XII:10–15 (Vos 2018:39; 154):

Soos twee reënboë kleurryk en neffens mekaar
soms kromrug oor ’n deursigtige wolk buig
as Iris die aarde met reënsagte druppels bewaar,

so weerkaats die buitenste boog die binneste boog;
net so is die stem van daardie dwalende nimf
deur haar liefde verteer soos mis deur die son se oog.

Die klassieke terza rima rymskema wat Dante gebruik het, is besonder kompleks, en weerspieël ’n soort "kettingrym": aba bcb cdc (Vos 2017:32). In Il Paradiso volg Vos die aba bcb cdc patroon, maar dit is nogtans moeilik genoeg. Om eers die middeleeuse Italiaans te vertaal, binne sy eie konteks te verstaan, en vir ’n totaal ander konteks te herinterpreteer en vertaal, stel "Herkuleaanse" eise aan die vertaler. Omdigting uit klassieke werke is beslis ’n sterk punt in Cas Vos se werke.  

’n Verdere hulpmiddel 

Ten spyte van die "verhelderende" aantekeninge, sou die hedendaagse leser egter steeds ’n bietjie verlore in die middeleeuse paradys verdwaal het. Vos lig sy vertaling verder toe met wat hy "Verklarende Aantekeninge" noem (Vos 2018:303–441). Hierdie aantekeninge het betrekking op elk van die XXXIII Canto's. Die gedronge en beknopte styl van die poësie is moeilik om te volg, en die leser moet min of meer weet waar hy/sy hom/haar in die loop van die gebeure in. Die verklarende aantekeninge belig as't ware die "storie", en ook wat met sekere uitdrukkings bedoel word. Dit sou inderdaad raadsaam wees om voortdurend ’n vinger op "Verklarende Aantekeninge" te hou namate ’n mens deur Il Paradiso lees, ten einde by die Empireo uit te kom.

Mistiek

Divina Commedia

 Mistiek is vir die deursnee Afrikaanssprekende gehoor dikwels ’n vreemde konsep. Dit was egter integraal deel van die vroeë kerk en middeleeuse wyse van aanbidding. "Die mistiek was in die Middeleeue ’n stroom wat die siel gevoed het," merk Vos (2018:26) op, en hy verwys na verskillende teoloë wat ’n stempel op Dante se godsdienstige opvattings afgedruk het, onder andere: Sint Benedictus, Augustinus, Thomas van Aquino, Richard van Sint Victor, Bernardus van Clairvaux, Anselmus van Kantelberg. Vos se opmerkings oor die mistiek het hoofsaaklik op Il Paradiso betrekking, maar volgens Kobus Krüger moet  "Divina Commedia" as geheel as ’n mistieke dokument gelees word. Dit is "’n beskrywing van ’n mistieke reis wat sy hoogtepunt in ’n laaste onuitspreeklike ervaring vind" (Krüger 2013:289). Mistiek is "die soek na en die vind van helderheid en insig, klaarheid van emosie en wil, en suiwerheid van eksistensie" (Krüger 2013:299). Die mens is bewus van ’n direkte verhouding met ’n diepe waarheid en werklikheid van bestaan, maar dis ’n wete, ’n ervaring wat anderkant praat en dink lê. Dit kan nie onder woorde gebring word nie, en ook nie met geykte begrippe verduidelik word nie. Daardie dieper onbeskryflike werklikheid hoef nie noodwendig ’n teïstiese godsbeeld te verteenwoordig nie, verduidelik (Krüger 2013:299): "... die draer van die mistieke heimwee kan gewoon stil en sosiaal onverbonde sy of haar eie gang buite alle religieuse assosiasies gaan ...". Dante egter, wat in die Middeleeuse Christelike tradisie staan, smag na eenwording met die God van die Christelike geloof, en in Il Paradiso bereik hy die hoogtepunt van sy mistieke ervaring.     

God wat met Lig, Liefde en Vuur geassosieer word, is welbekend in die Christelike tradisie. Die digter-mistikus maak dan ook volop gebruik van ligbeelde in sy poging om die onuitspreeklike godservaring onder woorde te probeer bring. Wanneer hy die eerste sfeer van die hemelse paradys betree, is sy gewaarwording (Vos 2018: 80; Canto I:1-6):

Die heerlikheid van ons God wat alles beweeg
deurdring die ganse heelal, en skyn glansend
in een deel meer, en minder in ’n ongetemde steeg

In die hemel wat die meeste van sy Lig ontvang,
het ek dinge gesien wat van bo afdaal.
Alles bly egter in ’n geheimenis vasgevang.  

In reël 13 van dieselfde Canto beroep hy hom op Apollo, die Griekse god wat onder andere met die son en musiek geassosieer word, om hom in hierdie laaste Canto te inspireer, en merk op: (Vos 2018:81; Canto 1:34-36):

’n Geringe vonk kan ’n skitterende vlam ontsteek.
’n Vindingryker digter sal dalk ná my
vir u inspirasie, Apollo, op versmaat smeek.

Al drie-en-dertig Canto's verwoord die digter se ervaring van lig en glans, in sy poging om iets te sê wat hy eintlik nie kan sê nie, en om oor ’n ervaring te praat wat die bewussyn van sy bestaan transendeer. Dit raak al hoe meer intens namate hy deur die verskillende hemelsfere al hoër op beweeg. Die eindpunt en ook die hoogtepunt van die mistieke reis word in Canto XXXIII beskryf. Dit begin met ’n gebed tot Maria, maar die bidder is nie Dante nie, dit is Bernard (Bernardus van Clairvaux) wat vir Dante bid. Ná die gebed, onderneem Dante die laaste deel van sy reis deur die boonste hemelse sfeer alleen. Vanaf reëls 38–51 beweeg hy verby sy Beatrice, verby Maria, verby Bernard. Wat hy ervaar, en wat hy sien, is persoonlik. Hy reis alleen.

Paradiso

Hy verklaar egter dat hy nie die taal het of woorde kan vind om uitdrukking aan sy ervaring te gee nie. Namate hy verder gaan, word hy toenemend bewus van lig, wat al hoe helderder skyn. En dan uiteindelik, maar net vir ’n vlietende oomblik, word hy toegelaat om die heerlikheid van God te aanskou (Vos 2018:301–302; Canto XXXIII:139–141):

Só ’n hoë vlug was vir my onmoontlik,
maar my tastende verstand is onverwags getref
deur ’n ligstraal waardeur my doelwit geluk.    

Steeds bly die ervaring ’n misterie, groter as wat hy kan begryp of verwoord (Vos 2018:302; Canto XXXIII:142–145):

Hier ontbreek krag om dié misterie te oorweeg;
maar my begeerte en wil word reeds bestuur
soos ’n wiel wat egalig om ’n as beweeg

deur Liefde wat die son en ander sterre aanvuur.

Evaluering

 Il Paradiso is nie gemaklike ontspanne leesstof nie, en was nie so bedoel nie, nie in Dante se tyd nie, en ook nie in die een-en-twintigste eeuse Suid Afrika nie. Cas Vos se omdigting is uiters geslaagd: goeie, eietydse en idiomatiese Afrikaans, asook ’n paar nuutskeppinge, soos blyk uit die voorbeelde hierbo aangehaal. Die feit dat hy deurgaans ’n vaste rymskema handhaaf sonder dat dit geyk en vervelig raak, verhoog beslis die leesbaarheid van die bundel. ’n Punt van kritiek is dat die eerste "verhelderende" aantekeninge ’n bietjie kripties is; op baie van sy opmerkings brei hy egter in sy vorige weergawe uit, en moontlik wou hy nie te veel herhaal nie. Dit sou miskien die leser help om die verwysings in die gedig self na te volg, voordat dit in sy geheel gelees word. ’n Vinger kan gerus maar ook op die "verklarende" aantekeninge agter in die boek gehou word wanneer die lees begin. Uiteindelik is Il Paradiso egter nie ’n bundel wat ’n mens optel en van begin tot einde deurlees nie. Ten spyte van Vos se knap omdigting, vra dit besondere insette ook van die leser, ’n bepaalde soort leser, dié leser wat bereid is saam met Dante te reis, al is die spoor nie altyd duidelik nie.        

Bibliografie

Krüger, J.S. 2013. Dante se mistieke reis eerste tog: Inferno. Sentrum vir Mistiek: Pretoria.

Vos, C. 2017. Die Goddelike Komedie. Liefde laat die son en sterre sing. Naledi: Johannesburg.                  

  • 1

Kommentaar

  • Dit help ook om Delamaine du Toit se prosa-vertaling van Divina Commedia en verklarende aantekeninge (ses dele, insluitend. uitgegee deur Zebra-publikasies en die skrywer, 1990, 1998, 2002) byderhand te hê.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top