Gerda de Villiers is op 4 April 1956 in die St Augustine’s-hospitaal in Durban gebore.
Skool: Port Natal Bewaar-, Laer en Hoërskool.
Ek was nie ’n prefek nie, want ek kon nie vinnig hardloop nie. Ek was ook nie baie soet nie. Ek was mal oor Latyn, want die rowwe lewe van die gode het tot my gespreek.
Universiteit 1: Stellenbosch (BA Sielkunde en Sosiologie)
Toe trou ek met ’n predikant. Die gemeentelewe het my oë oopgemaak vir die lewe. Veral die donker kant. Gesinsgeweld, selfmoord, moord. Meer vrae as antwoorde. As ’n pa sy gesin in ’n onbesonne oomblik uitwis, en die outjie se meisie sit in my katkisasieklas, en sy sê vir my: “Tannie, sy plek is net so leeg, so leeg …”, hoe antwoord ek haar? As hulle die vorige week nog by my toets geskryf het en ek sy toets nog nie nagesien het nie? Dit ruk jou!
Universiteit 2: TUKS
Ek het toe maar teologie gaan swot om antwoorde op hierdie moeilike lewensvrae te kry. Het dit nie gevind nie – altans, nie direk nie. Ek het my weer eens na die gode gewend, en in die ou-ou verhale wysheid gevind. Die Gilgamesj-epos, waaroor ek ook my PhD gedoen het, is my lewensmotto. Elke mens smag na glorie en roem. Niemand ontkom mislukkig en vernedering nie. Al wat oorbly, is om die paradoks van die lewe te omhels – en die goeie oomblikke te geniet terwyl jy dit het.