Die goddelike komedie. Liefde laat die son en sterre sing: ’n resensie

  • 0

Die goddelike komedie. Liefde laat die son en sterre sing
Cas Vos se vertaling van dele uit Dante Alighieri se La divina commedia
Uitgewer: Naledi.
ISBN: 9780928316858

Inleiding

Dante Alighieri se La Divina Commedia is nie ’n onbekende werk nie. Maar, alhoewel baie mense min of meer weet waaroor dit gaan, het bitter min die oorspronklike werk van voor tot agter deurgelees. Middeleeuse Italiaans is slegs vir ’n handjie vol spesialiste in die vakgebied toeganklik, die vreemde woordorde en gedronge versmaat laat menige leser die spoor heeltemal byster raak, amper soos arme Dante, in die middel van sy lewe, in ’n donker bos ... Dít is dan waaroor die storie gaan: ’n middeljarige man wat ’n lewenskrisis beleef, en op soek na die sin in sy lewe ’n reis na binne onderneem. Hy begin by die donkerste dieptes, die hel (Inferno); hy klouter op teen die berg van loutering (Purgatorio); en bereik uiteindelik die hoogtes waar hy ’n visioen van die hemel beleef (Paradiso).

Die uitdaging

Kobus Krüger het in 2013 ’n uiters geslaagde prosavertaling van die eerste deel van Dante se La Divina Commedia gelewer: Dante se mistieke reis. Eerste tog: Inferno. Dit is nie ’n woord-vir-woord vertaling nie, maar die doel is om Dante se werk op ’n wyse oor te lewer sodat Afrikaanse lesers die inhoud en bedoeling daarvan kan snap. Krüger het op ’n prosavertaling besluit, en nie ’n poësievertaling van die oorspronklike werk nie, want, so skryf hy: “Pogings om poëties op Dante se vlak te beweeg én aan hom te gee wat hom toekom, reik baie hoog – onrealisties hoog. Dit is moontlik dat ’n vertaling in ’n poging om naby die oorspronklike te bly ’n steurende muur oprig eerder as om ’n doeltreffende brug tussen die leser en die digter te bou. ’n Versoening van duidelikheid en relevansie vir eie tyd en getrouheid aan ’n ander tyd is nodig, maar nie eenvoudig nie” (Krüger 2013:4).

En dit is presies wat Cas Vos probeer doen: om Dante in Afrikaans te laat dig, die brug tussen toe en nou te slaan, om getrou aan Dante te bly, maar terselfdertyd die hartsnaar van die hedendaagse leser te roer.

’n Volgende uitdaging lê in die religieuse, spirituele aard van Dante se werk. Krüger beskryf Dante as ’n “mistieke visionêr” (Krüger 2013:1), ’n mistieke digter wat in die dieptes van menslike lyding kon daal en die hoogste hoogtes van mistieke ekstase kon bereik. Vos stem saam dat La Divina Commedia ’n visioenêre gedig is (Vos 2017:7) en voeg by dat dit “’n werk is waarin die gedagtes gedra word deur die musiek van maat en rym, ritme, alliterasie en assonansie.”

Die vraag bly of Vos beide die “ars poetica” en “experientiae mysticae” in sy vertaling gaan behou – of nie?

Inhoud

Cas Vos se Die goddelike komedie bestaan uit drie dele. Deel I verskaf die nodige toeligting aan die leser om die teks te verstaan. Deel II is Vos se eie vertaling van La Divina Commedia, en Deel III is drie oorspronklike gedigte wat elk op ’n unieke manier by Dante se werk aansluit.

Deel I

Dante se grootse werk, La Divina Commedia moet verstaan word teen die agtergrond van wie hy was, binne watter omstandighede hy geleef het, en dit is waarmee Cas Vos begin. Durante degli Alighieri leef in die onstuimige twaalfde en dertiende eeu in Italië. Alles begin in Florence, sy geboortestad, die stad wat Vos as “die plek van droefheid” beskryf (p 2). Hy verloor sy moeder toe hy skaars tien jaar oud was, en op twaalf word hy aan ’n kontrakhuwelik verbind waaroor hy geen sê het nie. Maar op die brose ouderdom van nege, het hy reeds sy Beatrice ontmoet. En as sy sterf, skaars vier en twintig jaar oud, fassineer hy oor haar lewenslank. Sy vergesel hom ewig in sy gedagtes, sy verlaat hom nooit, sy bly sy gids wat hom uiteindelik die weg na die paradys toe beduie (p 18).

As jong volwassene probeer Dante die politieke terrein betree. Daar is groot spanning tussen Staat en Kerk, en die leiers van albei partye, keiser en pous is ewe skuldig aan korrupsie, swendelary, hebsug, magsmisbruik, onderduimsheid, en knoeiery. Juis as gevolg van sy politieke verbintenisse, word Dante lewenslank uit sy geboortestad verban. Hy woon eers in Verona en later in Ravenna waar hy dan ook sterf. La Divina Commedia is deels die resultaat van sy diepe teleurstelling dat ook pouse, in sy geval Pous Bonifacius VIII (1235-1303) voor wêreldse lokmiddels geswig het en eintlik maar net so korrup soos die keisers was. Sy veragting teen Pous Bonifacius VIII se optrede gee hy in die Inferno te kenne, en in Paradiso skets hy ’n volmaakte Hemelse Ryk waar ’n ewe volmaakte Keiserlike figuur uiteindelik sal kom (pp 4-9).

Bestaande vertalings van La Divina Commedia sluit in, prosavertalings soos dié van Kobus Krüger, poëtiese vertalings waarvan sommige die rym probeer behou, en ander wat ’n vrye versvorm verkies. Omdat Cas Vos dit duidelik gemaak het dat Die goddelike komedie ’n gedig is wat die styl van Dante gaan navolg, verduidelik hy hoe hy beoog om dit te doen. Hy gaan van twee tipes rymskemas gebruik maak, naamlik rymende tersines en terza rima. Tersines handhaaf ’n konsekwente rympatroon en ’n konstante aantal lettergrepe. Vos toon aan dat hy in sy bundel tersines met ’n rympatroon van aba cdc efe gaan gebruik, met 11-12-11 aantal lettergrepe in elke tersine (p 25). Dante self het van die terza rima-rymskema gebruik gemaak en dit is meer ingewikkeld. Vos beskryf dit as “kettingryme” met ’n skema van aba bcb cdc. Hiermee stel Vos ’n geweldige uitdaging aan homself, want in sy eie woorde is “Dante se ingewikkelde rymskema ... in die meeste rymende vertalings nie geslaagd nie” (p 32).

Ten opsigte van La Divina Commedia, ’n laaste opmerking: die reis begin op 8 April 1300 op Goeie Vrydag wanneer Dante ontdek dat hy die Donderdagnag al heeltemal verdwaal het. Hy reis twee dae en twee nagte deur die Hel, en kom daaruit op 10 April, Paassondag. Sommer dadelik, douvoordag pak hy die reis teen die Berg van Loutering aan. Hierdie reis duur vier dae en drie nagte: op die middag van Woensdag 13 April kom hierdie reis tot ’n einde. In ’n verlore toestand onderneem hy die reis na die Hemel, maar ’n dag later, ongeveer dieselfde tyd op Donderdag 14 April, kry hy ’n visioen van God (pp 21-22).

Deel II

In Deel II begin Vos aanvanklik getrou aan Dante wat homself in die middel van sy (ons) lewensreis in ’n donker woud bevind en die spoor byster raak. Spoedig daag sy gids, Virgilius op om hom deur die verskillende vlakke van die Inferno te begelei sonder dat hy seerkry. Maar dan word ’n onverwagte syspoor na die Babiloniese mitologie geneem waar die Skerpioenmense by die Tweelingpoort en Sjamasj (die Babiloniese songod) se tonnel wagstaan (p 57). Verwysings na die Babiloniese wêreld kom weer op bladsy 64 voor: Mari, die Eufraatrivier, spykerskriftablette, Hammurabi se wet, en die Hemelbul, laasgenoemde ’n uittreksel uit die Babiloniese Gilgamesj-epos. Die spore na die mense en mites van Babilonië is na alle waarskynlikheid nie bloot vindingryke kunsgrepe van Cas Vos, die digter nie: in die profetiese boeke van die Ou Testament sowel as in Openbaring van die Nuwe Testament word die sondes van “Babel” op verskeie maniere voorgestel en skerp veroordeel – waar anders kan jy hierdie volk verwag as in die Hel?

Gou blyk dit dat Cas Vos by Dante aansluit, maar dat hy dit op sy eie unieke manier doen.

In die Purgatorio gaan dit oor loutering. Dit is ’n soort halfwegstasie tussen Hemel en Hel. Hier is ook sondaars, maar hulle het berou oor wat hulle gedoen het. Hulle kry nog ’n kans om reg te maak wat hulle verkeerd gedoen het, om gelouter te word, en loutering geskied dikwels deur pyn. Hier vind Cas Vos Vincent, wat sy linkeroor afgesny het, “vir jou, / engel van die nag, met jou geknakte vlerk” (p 84). En as ’n mens gewonder het of Vos enigsins daarin gaan slaag om die Die goddelike komedie ook as ’n mistieke reis voor te stel waarin mistieke ervarings ’n belangrike rol speel, doen hy dit veral in die Purgatorio, onder andere met subtiele en digterlike verwysing na die werke van Afrikaanse mistieke digters, onder andere Sheila Cussons. Loutering deur vuur is ’n uiters prominente tema in Cussons se digkuns, en word op ’n unieke en aangrypende wyse deur Vos ingebed. Daarom meer breedvoerige aanhalings:

Gees van God, in stilte keer U my lewe om
met ’n sagte sprong uit die hemelse oord
as U in my diepste innerlike inkom.

Heilige Gees, deurgloei my liggaam met u vuur.
Louter, heilig my met skroeiende vlamme
dat ek glansend naderkom na U elke uur. (p 82)

Die digter gryp amper sonder vingers vlugtig
met woorde hunkerend na die hemelboord
vol van somer se vrug wat ons sal versadig. (p 87)

Die eerste twee strofes is duidelike sinspelings op Cussons se gedig “Die sagte sprong” uit die bundel met dieselfde titel; die laaste herinner sterk aan “Christ of the burnt men” uit “Die swart kombuis”.

En dan betree die digter – Dante of is dit Vos? die Hemel – Paradiso, waar sy geliefde Beatrice vir hom wag, en sy is sy gids deur die hemelse sfere. Onbegrip maar ook verwondering voer die botone in hierdie reis. Ook hier word ervarings in beelde van die mistiek verwoord, beelde veral van lig, vuur, vlam, visioene van die hemel, ’n diepe bewussyn van God se teenwoordigheid en ’n goddelike vrede. Paradiso is die sfeer van die Eerste Liefde, God die Heer.

Die subtitel van die bundel hou verband met hierdie ervaring van God:

Hier het krag ontbreek vir die hoë verbeelding:
maar my begeerte en wil is diep ontroer
deur die Liefde wat son en sterre laat sing. (p 110)

Maar watter musiek word in die Hemel gehoor?

God en sy engele luister na die musiek
van Gods wonder Wolfgang Amadeus Mozart
Dis nie net goed nie, Here; dis manjifiek. (p 110)

Paradiso sluit af:

Hier ontbreek krag om dié misterie te oorweeg:
maar my begeerte en wil word reeds bestuur
soos ’n wiel wat egalig om ’n as beweeg

deur Liefde wat die son en sterre aanvuur.

Op die omslagfoto van die boek is ’n afdruk van die kunstenaar Gustav Doré se “White Rose”. Van ver lyk dit soos ligsirkels wat al helderder word namate dit boontoe beweeg na ’n verblindende wit lig; van nader beskou, is dit gevlerkte wesens, engele wat in sirkels al hoër na die lig toe opvlieg – die wiel wat egalig om ’n as beweeg na die Liefde wat die son en sterre aanvuur.       

Deel III

Deel III, die laaste afdeling van die bundel, bevat drie oorspronklike gedigte van Cas Vos, en al drie spreek van godverlatenheid. Die eerste is “Aleppo”. Verwysings na Aleppo kom ook in Purgatorio sowel as Paradiso voor, en Vos verduidelik soos volg (p 23): “Florence verteenwoordig die twaalfde en dertiende eeuse chaos, politieke en kerklike spanning, onrus, verwoesting, korrupsie en wanbestuur. Aleppo wil die gebeure van 2012 in herinnering roep, toe dié stad ook weens politieke en religieuse spanning, wanbestuur en korrupsie verwoes is, en erge lyding tot gevolg gehad het. Beide stede verteenwoordig die oerchaos: Florence – toe; Aleppo – nou.”

Die openingsreëls van “Die stryd van Aleppo” herinner sterk aan die openingsreëls van die boek Klaagliedere in die Hebreeuse Bybel, ’n treurlied oor ’n stad en die ellende van haar inwoners. In Aleppo skuil die gode van Babilonië, Egipte, Kanaän, Griekeland, Rome. Maar geen god is daar wanneer die doodsklok oor die stad lui nie.

Die gode swyg ook in “As die gode afdwaal”. Hierdie gedig spreek van ’n godverlate wêreld en die versugting van ’n mens na sy soeke na God in donker tye. God, gode is afwesig, en onttrek hulself aan ’n lydende wêreld. Die gedig eindig met ’n verwronging van Jesus se kruiswoorde: “My God, my God, waarom het U my aan myself oorgelaat?” (p 121).

“Jesus en Dietrich Bonhoeffer” is die laaste van die drie gedigte. Beide Jesus en Bonhoeffer is ten tye van politieke onrus tereggestel. Beide se geloof kon hulle nie red nie. Jesus is gekruisig; Boenhoeffer is opgehang. “Miskien sidder God in hierdie donker uur,” skryf Vos op bladsy 123, en dan gee hy aan Bonhoeffer dié woorde: “Hou moed Here, ek is op pad.”

Evaluering

Digters wat hulself aan ’n vaste rymskema en ritme bepaal, loop altyd die gevaar om in rymdwang te verval: Cas Vos doen dit beslis nie. Die goddelike komedie is vars en nuut, hoogs leesbaar en die keuse van woorde is oorspronklik en sensitief. En uit die bespreking hierbo, is dit duidelik dat die mistieke ervarings van Dante behoue gebly het. Die subtiele sinspelings op Afrikaanse mistieke digters, soos Cussons, is besonder kunstig gedoen. Alhoewel dit nie ’n letterlike vertaling van La Divina Commedia is nie, bly Vos tog getrou aan Dante, maar nuanseer hom op ’n eietydse wyse. Die goddelike komedie slaag uitmuntend daarin om La Divina Commedia uit die Middeleeue te gaan uithaal, en dit lewendig en in Afrikaans in die 21ste eeu te laat sing.

Hieronder lees Dawid Minnaar voor, eers uit Paradiso, en dan uit Aleppo.

Bronnelys

Krüger, JS 2013. Dante se mistieke reis eerste tog: Inferno. Pretoria: Sentrum vir Mistiek.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top