Gerda de Villiers skryf na aanleiding van ’n Godsdienswetenskappe-artikel deur Johan Thom wat onlangs in LitNet Akademies verskyn het: Populêre filosofie en die Nuwe Testament
In hierdie artikel wil Johan Thom aantoon dat die Nuwe Testament nie binne ’n vakuum ontstaan het nie, maar dat dit binne ’n bepaalde denkwêreld – in hierdie geval die Griekse wêreld – vorm aangeneem het. Enersyds was daar die buite-Bybelse bronne vanuit die Hellenistiese Jodedom, maar ander Griekse filosofiese tradisies, veral die populêre Griekse filosofie, het die skrywers van die Nuwe Testament beïnvloed. Thom verduidelik dat populêr nie summier aan “eenvoudig” of “maklik” gelyk gestel moet word nie. Dit word populêr genoem omdat dit nie ’n enkele filosofiese skool verteenwoordig nie, maar eerder die leringe van verskillende filosofiese tradisies integreer. Ook was die populêre filosofie nie primêr op die gewone mens gemik nie, maar was dit deel van die opleiding wat die hoogs geskoolde mense van die tyd ontvang het.
Thom illustreer die invloed van die populêre filosofie op die Nuwe testament aan die hand van drie topoi. Die eerste topos noem hy “Die onsigbare God word sigbaar deur God se werke”. Dit is ’n probleem wat die Griekse filosowe sowel as die skrywers van die Nuwe Testament gemeen het: as ’n mens God nie kan sien nie, hoe kan jy weet dat hy bestaan? Die filosowe en die Nuwe Testament wend hulle na die kosmos. Die reëlmaat en orde wat in die kosmiese ratwerk gesien kan word, is bewys van ’n goddelike intellek wat dit tot stand gebring het en in stand hou. Dus, al kan ’n mens God nie sien nie, laat hy hom deur sy werke – die natuur – ken.
Die tweede topos noem Thom “voorsetsel-metafisika”, en soos die naam sê, hou dit verband met bepaalde voorsetsels, soos byvoorbeeld deur, vir, in, tot ens. Steeds in aansluiting by die probleem van die onsigbare God word hierdie voorsetsels op hom van toepassing gemaak om redes aan te dui waarom die bestaan van God nie in twyfel getrek kan word nie.
Die derde topos is die “splyting van God of die afwenteling van die demiurgiese funksie”. Dit worstel nog steeds met die onsigbare God, maar die probleem is hoe om sy afstand of transendensie te behou en terselfdertyd sy sigbare of immanente betrokkenheid op die aarde te verduidelik. Dit word dan gedoen na aanleiding van ’n demiurgiese beginsel wat as’t ware ’n oorbruggingsfunksie tussen die onsigbare God en sy sigbare kosmos vervul. Tipiese beelde hiervan is byvoorbeeld God se krag, beeld, woord, ens.

Hierdie artikel van Johan Thom is uiters insiggewend. Dit illustreer dat die skrywers van die Nuwe Testament kinders van hul tyd was – nie net kinders van die tyd nie, maar geleerdes van hul tyd. Ons vergeet dikwels dat slegs ’n klein handjievol mense in die antieke tye kon lees en skryf. My agtergrond is die Ou Testament en die ou Nabye Ooste, en ek het ’n bietjie navorsing gedoen oor ’n skrifgeleerde se opleiding in daardie tye. Skrifgeletterdheid was nie vir almal beskore nie; die skrifgeleerdes het uit ’n bepaalde klas – uit sekere families – gekom. En na alle waarskynlikheid was dit slegs mans wat ware skrifgeleerdes kon word. Hy het ’n strawwe kursus deurloop. Nie net moes so ’n persoon kon lees en skryf nie; sy opleiding het ’n omvattende kennis van al die bestaande literatuursoorte behels. Hy moes baie verskillende soorte tekste ken en memoriseer, asook die kultuur en tradisies wat daardie tekste verteenwoordig het. Dit was slegs ’n klein persentasie – waarskynlik selfs minder as 10% – van die bevolking wat geletterd was. Die skrifgeleerdes was ’n elitistiese akademiese klas – meestal kon nie eens die koning lees en skryf nie.
Alhoewel die persentasie geletterdheid teen die 1ste eeu waarskynlik groter was, bestaan daar by my geen twyfel dat ook die skrywers van die Nuwe Testament ’n strawwe skoling moes ondergaan nie. Die klassieke Griekse filosofie met al die verskillende strominge sou beslis deel van die kurrikulum uitgemaak het. Thom het aangetoon dat die skrywers van die Nuwe Testament nie afgesonder en in ’n donker wêreld geleef het nie, maar deeglike kennis gedra het van die Griekse wêreld rondom hulle.
Wat egter wel merkwaardig is, is hoedat die skrywers van die Bybel, die Ou en die Nuwe Testament, nie net klakkeloos die idees van die kultuurwêreld rondom hulle oorgeneem het nie, maar alles herbedink en binne hul eie teologiese oortuiginge interpreteer het. Ja, ’n mens kan duidelik die spore van die Umwelt sien, maar terselfdertyd is daar ongelooflike nadenke in die wyse waarop hierdie spore in die Bybel getrap word.
Thom se artikel lewer ’n belangrike bydrae nie net ten opsigte van die interessante ooreenkomste tussen die Griekse populêre filosofie en die Nuwe Testament nie; hy toon veral aan dat die Bybel ’n produk van sy tyd was wat deur mense van sy tyd geskryf is. Verder blyk dit ook dat die Bybel nie so eenvoudig is dat enige kind dit kan verstaan nie. Hierdie perspektief tas hoegenaamd nie die “gesag van die Skrif” aan nie; inteendeel, dit help ons eerder om in die tydgees van die Skrif te kom en te verstaan met watter ander tekste dit in gesprek tree. En laat ons maar gerus die hoed afhaal vir en nederig buig voor hulle – grotendeels anoniem – wat vir hierdie merkwaardige produksie verantwoordelik was.
Lees hier Paul Decock se reaksie.


Kommentaar
Nadat ek die 2012 boek God - Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles - George Claassen en Fritz Gaum onlangs toevallig gekry en gelees het, het dit my opgeval dat meeste geleerdes, mense met diep insig, indien nie almal nie, die pad van "geloof" verlaat het nadat hulle met gevorderde Filosofie kennis gemaak het. In beide die referaat van Thom en u eie kommentaar daaroor lees ek weer dat die begrip populêre Filosofie ook hoë geletterheid verg om te verstaan. Beide laasgenoemde artikels het my as "nie hoog geletterd" nie tog moed gegee dat daar nog iemand is om vir ons in die bresse te tree teen die geweldige aanslag van "hooggeleerde mense" soos Claassens en mense wat soos hy dink en reageer.