’n Kroniek van die populêre kultuur in die ’80’s

  • 2

Middeljariges dink met nostalgie terug aan die ’80’s – dit was sonder twyfel ’n dekade van hoop en verwagting. Van vernuwing. Van harmonie tussen sommige groepe in die samelewing en konflik tussen ander. Van rebellie. En ’n geloof in moderniteit.

Die televisiereeks Miami Vice, plaaslik oorgeklank as Misdaad in Miami, het in vele opsigte die pas aangegee vir die ’80’s se populêre kultuur. Dit was die tyd van groot hare, groot geld en groot en lelike brilrame. Don Johnson was die held van dié dekade: Sonny Crockett, geklee in wit Armani-pakke en sy bypassende pastelkleurige Oupa T-hemde met die kenmerkende knopies. Sy wit Ferrari Testarossa het rooi sportmotors ter syde gestel; selfs in films soos Wolf of Wall Street duik Jordan Belfort se wit Ferrari nostalgies op as simbool van die ’80’s en van Crockett se status. Ja, dit vorm deel van die ikonografie van meer as 40 jaar gelede, al voel dit soos gister.

Die titels in Miami Vice, in neonpienk en turkoois, het in ’n sekere sin die baldadige en helder nuwe tydsgees ingelui. Mans het die Rubicon oorgesteek en pienk was skielik die in kleur – daar was aarbeiroomyspienk dasse en selfs pakke klere. Dit was simbolies van ’n nuwe soort harmonie tussen gay en straight wat veral in nagklubs uitgespeel het. San Francisco het ’n sleutelrol gespeel as gay-wêreldstad. Klere is doelbewus te groot gedra (of dalk word klere vandag doelbewus te klein gedra). “Baggy trousers” was baie gewild onder mans en vroue, nóú by die enkels, maar met ’n balloneffek oor die heupe. En moenie die paisleymotiewe en wye verskeidenheid pastelkleure vergeet nie. Saans, as die son sak, het jongmense in neonkleurige uitrustings hulle nagklubs besoek. ’n Vyf dae oue stoppelbaard was skielik nie meer slordig nie, maar modieus.

Die ’80’s word waarskynlik gekenmerk deur die vestiging van identiteit teenoor die ’90’s met sy grunge look en musiek wat identiteit en die homogenisering van die jeug rondom musiek en modes verwerp het.

Teen die einde van die ’70’s het die punksubkultuur in Engeland ontwikkel as ’n soort subgenre van rock. Dit was meer aggressief en meer hipnoties. Groepe soos The Clash, Adam & the Ants, Bauhaus en Joy Division het gewild geraak en in die Hacienda in Soho gespeel. The new wave en the new romantics (en die Duitse ekwivalent, neue Deutsche Welle) was op die horison, want ’n nuwe golf helde in die musiekbedryf het die wêreld inderdaad soos ’n brander getref. ’n Era van skoon, melodieuse en luisterbare popmusiek het aangebreek. Die kommersiële gebruik van sinteti­seerders het vir ’n futuristiese en opwindende nuwe klank gesorg nadat groepe soos Kraftwerk, Tangerine Dream en Jean-Michel Jarre die weg daarvoor in die 1970’s gebaan het.

Na die dood van Ian Curtis het die lede van Joy Division hulself herskik en hulle naam verander na New Order. Die vrystelling van hulle “Blue Monday” het vir die new wave se eerste nuwe klank gesorg. Daarna het verskeie ander gevolg; trouens, die musiekbedryf het ’n massiewe oplewing ondergaan en kreatiwiteit het soos hormone gepuls. Dit word dikwels gesê dat hierdie era die meeste “one hit wonders” opgelewer het. Maar daar was ’n hegtheid en ’n vernacular met Londen as hoofkwartier wat dié nuwe subkultuur gevorm het en op MTV uitgesaai is. Dink maar aan groepe soos The Cure, Depeche Mode, Ultravox, Visage, Orchestral Manoeuvres in the Dark, Duran Duran, Blancmange, Tears for Fears, Talk Talk, The Human League, Soft Cell, A Flock of Seagulls, Kajagoogoo, a-Ha, die ikoniese Frankie Goes to Hollywood, Eurythmics, Yazoo en vele meer.

Die new wave het verskillende gedaantes aangeneem: neue Deutsche Welle met Kraftwerk, Peter Schilling en Alphaville aan die spits – toe arriveer Frank Duval se sad songs, wat onder die Suid-Afrikaanse jeug se aandag gekom het met die televisiereeks Derrick; die Kanadese groep Men Without Hats, en Yello se wacky, maar gestileerde klank. Dan was daar natuurlik Bryan Ferry vir die fynproewer, of die immergroen David Bowie. Waar synthesisers die koel nuwe klank geword het, het airbrush kuns herleef en die verfkwas van die nuwe tyd geword. Athena-afdrukke van lipstifprikkelpoppe wat guitig aan kersies en gestreepte strooitjies in hulle cocktails suig, het op busse, billboards en teen hotelkamermure verbygeflits.

Die rocktoneel het voortgegaan en veral power ballads opgelewer – stroperige musiek van Bon Jovi, Bryan Adams, Starship, Journey en Foreigner. En laat ons liewer niks sê oor Jennifer Rush se “The power of love” of Bonnie Tyler se “Total eclipse of the heart” nie. Of natuurlik Chris de Burgh se “The lady in red” (nogal jammer, want De Burgh was eintlik bekend as ’n goeie alternatiewe songwriter tot dít gebeur het). Almal het iewers geclosedans op een van laasgenoemde drie met iemand van wie hulle lankal geskei is en lewenslank de moer in voor is.

Terwyl dit alles aan’t gebeur was, het drie supersterre wat vir baie lank die pas sou aangee, op die toneel verskyn en hulle stemme begin dikmaak: Michael Jackson, Prince en Madonna. Hulle was nie regtig rockers of new wavers nie. Hulle was charlatans wat die tydgees van elke era sou verteenwoordig en miljoene plate sou verkoop, of jy nou die tradisionele rock aangehang het en of jy byderwets was en eerder new wave verkies het.

Die nagklub scene se invloede was vormend op die musiek en modes van die dag. Dansgunstelinge (hi-nrg) soos Pet Shop Boys se “It’s a sin”, Modern Talking se “You’re my heart, you’re my soul”, Fancy se “Slice me nice”, Laura Branagan se “Spanish Eddy” (tot vervelens toe), Hazell Dean se “They say it’s gonna rain” en Baltimora se “Tarzan Boy” het in die nag refrein deur die stede en uit arkades met nagklubs en jongelinge wat in Golf GTi’s of Alfas rondgejaag het met luidsprekers in die voertuie se luikrûe. Fluoressente en stroboskopiese ligte het hulle neonklere laat straal, en hulle sou vir dae lank spook om die verbode ink van ’n nagklub van hulle hande af te skrop. Gewilde uithangplekke was Jacquelines, Limelight en Nighshift in my geboortestad, Pretoria. Ter plaatse, en teen ’n groter agtergrond, is die ’80’s gekenmerk deur ’n landwye verset teen die apartheidsregering van PW Botha. Dit was die tyd van “stem ja” of “stem nee”; van kadette op skool; van “necklacing” en “klipgooiers” en van “liberation before education”. Dit was die skommeltreindekade van die Driekamerparlement en later die noodtoestand en streng mediawetgewing. Koerantopskrifte het die Rubicon-toespraak en die Dakar-samesprekings uitbasuin. In hierdie tyd het die Voëlvry-beweging as aktiewe verset teen die onderdrukkende ideologiese stelsel van apartheid ontstaan.

Johannes Kerkorrel se “Sit dit af” het seker die refrein van hierdie tydsgees geword – lirieke wat teen sosiaal-politieke toestande en die heersende middel- en heersersklaswaardes gerebelleer het:

Dit was ’n moerse klug
Dit was PW se gesig
En langs hom staan oom Pik
Wel ek dog ek gaan verstik

Sit dit af, sit dit af
Sit dit af, sit dit af
Sit dit af, sit dit af
Want dis ’n helse straf.

Baie van die voorafgaande Afrikaanse luisterliedjies was oorblyfsels van vertalings van die Duitse Schlager-musiek en die Afrikaanse musiektoneel is tot vervelens toe oorheers deur Bles Bridges, Rina Hugo, Cora Marie, Cupido en Manuel Escorsio. Hierteenoor het die alternatiewe kunstenaars soos Koos Kombuis, Johannes Kerkorrel en Bernoldus Niemand as protes teen die sogenaamde luisterliedjie ontstaan. Hulle wou deur middel van rockmusiek kritiek teen die Suid-Afrikaanse sosiopolitieke werklikheid uitspreek. Die ikoniese “Ek verpes Bles”-T-hemde het in Januarie 1988 aan rebelse lywe gepryk; en op 25 Maart 1988 het Dagga Dirk Uys en Boogy Gottschalk die eerste alternatiewe Afrikaanse rockkonsert in die Pool Club in downtown Johannesburg gereël.

Volgens E Adendorff in haar artikel “Die demokratisering van Afrikaans in die tagtigerjare” het Max du Preez se onafhanklike koerant, Vrye Weekblad, sy ontstaan tydens die onstuimige ’80’s gehad. “We had no respect for authority, and we saw it as our duty to make fun of the Fathers of the Volk. We had a general fuck-you attitude and didn’t believe the 1980’s was a time fot subtlety and good manners. We were labelled ‘alternative Afrikaners’.” Skrywers en digters het ná dekades lange voorskriftelikheid van Afrikaner-nasionalisme die “suur” in “sensuur” leer ken. En skrywers was, soos mens kon verwag, op die voorpunt van die revolusie; die ontstaan van die literêre little magazines en alternatiewe uitgewerye soos Taurus het ’n bloeitydperk beleef.

En terwyl Afrikaner-nasionalisme deur revolusionêres uitgedaag is, het die gonswoorde van die dag weerklink: “army”, “diensplig” en “ons land verdedig”. Seuns se gevreesde oproepinstruksies is met die onaardse geskreeu van dot matrix-drukkers op driegaatjiespapier uitgespoeg, sommiges selfs tydens skoolpouses, en solank die troep ten minste 16 jaar oud was. Kanonvoer vir die NP-regering. Ek weet van akademici wat aanhou swot het, sommiges dóér duskant doktorale studie, net om die sinloosheid van die destydse “spesiale militêre operasie” (die Grensoorlog) te ontduik. Skoolmeisies het skryfpapier vir hulle troepiekêrels gekoop en die velle sentimenteel onder mekaar uitgeruil. Dit was ’n statussimbool om ’n ou in die army te hê … ek onthou nog die hardegat maar sagtebaardlaaities wat selfs karre gehad het – jackpot! – en by ’n bokjol heel wintie gestaan en rook het, die een been opgetrek teen die bumper kompleet soos Clyde Barrow voor ’n bankroof.

Die boek Rockmusiek: die reg om te weet het van Rodney Seale in die ’80’s ’n legendariese volksvader gemaak. Seale, tydloos in voorkoms en steeds immerjonk soos Dorian Gray, was op ’n nasionale sending om skoolkinders by hulle onderskeie skole toe te spreek en te waarsku teen die gevare van rock- en popmusiek. Nee, teen énige musiek. Lucifer was die gewaande engel van musiek wat alle boosheid in hom rondgedra het. Kyk, as ’n kind van die ’80’s weet ek dat die meeste kinders werklik, in wese, onskuldig was. Oom Rodney het egter vir hulle met sy vermanings die dekadente wêreld van seks, drugs & rock ’n roll geopen. Ek het vir die eerste keer in my lewe kennis gemaak met Pink Floyd ná oom Rodney se waarskuwings en is hom tot vandag toe innig dankbaar. Dis eintlik verstommend hoe baie sataniste daar in die ’80’s moes gewees het (adus Seale), en hulle het net so, met dieselfde paddastoeleffek, verdwyn. Die rede hiervoor is eenvoudig: Suid-Afrika was ’n dekade agter die VSA met sy satanic panic, ’n craze wat later ter plaatse posgevat het.

In die ’80’s was ek een van daardie meisies wat belanggestel het in karre. Die sedan wat tradisioneel as dié luukse voertuig bestempel is, was die Mercedes-Benz. Vandag praat ons waarskynlik van ’n Merc as ’n ou-omie-kar. In die ’80’s het BMW vinnig opgang begin maak en dié ou staatmaker uitgedaag – nie net in terme van prys nie, maar ook in prestasie. Dit was die tyd van die Nissan Exa, Fiat X19 en Colt Galant. Daar was in die motorbedryf ’n groter vernuwing in die skep van ontwerp en inhoud. Ek onthou die Alfa Romeo as ’n haastige windgatkar, die statussimbool vir die manne onder dertig. ’n Niskar, maar ook ’n motor wat bekend was om sy swak bedrading wat as “spaghettidrade” bekend gestaan het. Dit was egter die vernuwende Ford Sierra (ja, lag maar) wat as voertuig van die ’80’s gatskoongemaak het bo die res. Daar was louvres op die agterruit en bubbles langs die vensters. Hoewel ons dalk almal ’n kommin oom het wat ’n Sierra gehad het waarmee hy sy karavaan gesleep het, was die ontwerp van die bakwerk baie revolusionêr en het dit as inspirasie vir baie motors sedertdien gedien.

Die dreigende misdaad van die ’80’s was afkomstig van die dwelmkartelle uit Suid-Amerika – die Pablo Escobars van die wêreld wat Amerika in ’n kokaïengreep gehad het uit. En weer: Dis hiér waar Miami Vice inkom, want die oorlog teen die dwelmbase het inderdaad in Miami as ’n soort kosmopool afgespeel.

Die ’80’s het hul donker kant gehad … maar dit was opwindend. Met die groot diversiteit van afleiding binne die popkultuur was gevare soos Vigs en die mediese navorsing rondom hierdie onderwerp nog in hul kinderskoene. In Suid-Afrika het die volksvaders verwys na die “euwels van die moderne tyd”, maar het daar regtig iets in meer as 40 jaar verander? Dit lyk nie so as daar na kerkgroeperings se veroordelende houding rondom selfdegeslaghuwelike gekyk word nie. Ook in die filmbedryf het ’n nuwe genre sy opwagting gemaak: die erotiese riller, byvoorbeeld Fatal attraction, Blue velvet en Body heat. Die “Fifty shades of grey” van die 1980’s was 9½ weeks met die smeulende Kim Basinger en die dae toe Mickey Rourke nog jonk en mooi en nie vuisvoos geslaan was deur ander boksers nie. Die erotiese riller van die ’80’s het die weg gebaan vir die 1992-film Basic instinct, en Michael Douglas het hom as die koning van dié genre gevestig. Ja, dit was die dae toe Bruce Willis nog hare gehad het in Moonlighting

En dit bring my by ’n volgende punt: In die ’80’s was die tydskrifmark in Suid-Afrika sterk en gesond. Joernaliste het nog uitgegaan en stories gedoen – nie soos vandag, waar hulle hul klikaas van die sosiale media af kry nie. Ons het wêreldklas fotograwe gehad soos Neville Petersen wat werksaam was by Die Transvaler, Oggendblad, The Citizen, Rapport en Sunday Times en by verskeie tydskrifte gevryskut het. Die volksbybel, Huisgenoot, het in die reël die jongste nuus bekendgemaak met “ekslusief” of “onthul” in vet letters op die voorblad, en die skolebylaag, “Fanie en Melanie ontdek” was toe nog werklik opvoedkundig en interessant. Daar was skindernuus uit Hollywood; “Wilde woordeboek”; dr Murray Janson se kla-rubriek; “Wille Willemien”; “Huisgenotjies”; die weeklikse horoskoop ... Maar die belangrikste van alles was die binneblad wat kinders uitgehaal en iewers in hulle kamers teen ’n kas of muur vasgeplak het. Tom Cruise in Top Gun … of Kim Basinger, smeulend in haar wit bikini. Top Gun met Tom Cruise in die hoofrol het vir ’n hele paar besoeke aan die barbier gesorg, want skielik was dit koel om so ’n kort, militêre haarstyl te dra. En die akteur van die dekade? Michael Douglas as Gordon Gecko in Wall Street.

Met verjaardae was tieners gelukkig as hulle ouers toegestem het tot garage parties – daardie dae het gekleurde gloeilampe en tuisgemaakte punch die ding gedoen. En jy was éérs gelukkig as jou ma toegestem het dat daar ’n skeut cane in jou vrugtepons mog kom. Die grootste sonde (naas ’n gesoenery iewers in die donker tuin) was om te rook. Die stoutgatte se gloeiende sigaretkooltjies, kompleet soos vampieroë, het hulle summier weggegee. En o wee as een van die rokers ’n meisie was … dit was onvergééflik as meisies gerook het.

En terwyl die Nasionaal-Christelike juk al swaarder op tieners gedruk het, het die opstand teen die owerhede toegeneem. Die guilty pleasures van die ’80’s het voorts gespil rondom kafees. ’n Régte kafee is ’n eenmanbesigheid wat al hoe skaarser begin raak. Dekades gelede is kafees deur Portugese of Grieke bestuur en al die verbode vrugte was dáár, onder een dak: draaiwiele vol comics (wat getipeer is as “kommin” of “swak leesstof”), en dan natuurlik fotoverhale. Vir diegene wat nie weet wat dit is nie: Dit is verhale wat letterlik uitspeel in foto’s. Die gedrukte weergawe van ’n stilfilm, byvoorbeeld die nimlike “Kyk-boekies”. Erotika was ’n trekpleister in dié fotoverhale en die brose jeug moes daarteen beskerm word. Die kou van kougom is eweneens gebrandmerk as kommin en net “slegte” meisies het bubble gum, Chappies of Beechies gekou. Skandalig! Dan was daar die gamer-masjiene: Jy het muntstukke (ek onthou ’n 20c-stuk) ingegooi in ’n gleuf en begin Space Invaders, Defender of PacMan speel. (As jou ouers ryk was en jy was soet, het jy dalk ’n Atari gekry met al hierdie games vir jouself – jy moes net kompeteer vir lugtyd op die een TV in die huis.) Kafees was ook gewilde ontmoetingsplekke vir vriende.

Die wêreld was stadig maar seker besig om te verander en ’n beter plek te word. Binne die groter politieke toneel was Ronald Reagan en Margaret Thatcher aan’t stuur van sake. Miskien was die new wave-beweging ook deels protes teen Thatcher se bewind. Gorbatsjof het oorgeneem in Rusland en die Koue Oorlog het stadig op ’n koue, klimakslose einde afgestuur. In Suid-Afrika het De Klerk in 1989 aan bewind gekom en ook hier planne begin beraam om ’n lang en donker era van apartheid te beëindig.

Maar dit alles het weinig invloed gehad op die gemoedere van kinders, wat hulle toevlug geneem het tot die populêre kultuur van die dag. Alle gebeure, TV-reekse, films en musiek het ’n invloed gehad op die elkedagse subkultuur. Klere was nie so duur soos vandag nie, en om in te pas was bekostigbaar en nie te moeilik nie. Prinses Diana het nog gelewe en kan gesien word as een van die grootste mode-ikone van dié dekade. Big, bright & loud som waarskynlik die modes van die ’80’s op. Daar was power dressing vir magshonger vroue wat power suits gedra het. En moenie die bonkige shoulder pads vergeet nie – die meeste vroue het soos Amerikaanse voetbalsterre rondparadeer. Jane Fonda en films soos Flashdance en Footloose het aërobiese modes gevestig. Body suits en leg warmers was baie gewild – en in 1989 was baie meisies skielik babes in Baywatch wat eenstukswemdrag (high cut, let wel) gedra het. Verweerde ski-denims was oornag in die mode en enigeen kon hom of haar verlustig in helderkleurige plastiekarmbande en groot, dramatiese oorringe. En die keuse vir die sonbril van die dag? Sonder twyfel Wayfarers. Soos Don Johnson in Miami Vice.

Elke tydvak het sy sielkundige versteurings. Vandag s’n is waarskynlik narsisme (onder meer gedryf deur die sosiale media). Die ’80’s s’n was Tourette-sindroom, nogal ’n statussimbool, want Mozart word in die film Amadeus uitgebeeld as ’n Tourette-lyer. En as Piet Pompies se seun te veel vloek of funny optree, dan is hy mos ’n genius, nie waar nie? Tourette het die wyk geneem en plek gemaak vir AGHS en in ’n japtrap was elke hiperaktiewe brat skielik ’n hoogs begaafde individu. Daarna het die bipolêre versteuring met rasse skrede toegeneem, tot redelik onlangs toe, maar die self-self-selfiegedrewe gees van die sosiale media het die jeug begin korrupteer tot ’n spul narsiste. Mens wonder inderdaad wat die volgende versteuring gaan wees wat die popsielkunde en tydskrifmark aan bekommerde moeders gaan opdis.

Die belangrikheid van sport kan seker nie in Suid-Afrika onderskat word nie. Gedurende die ’80’s het ’n gees van provinsialisme kortkop ná die NG Kerk stelling ingeneem. As gevolg van sanksies was daar nie internasionale rugby nie, maar daar was die Curriebeker. Noord-Transvaal en die WP het die toneel oorheers en Naas Botha se naam was konstant op almal se lippe. En Carel du Plessis. ’n Gebruik wat waarskynlik uitgesterf het, is waar geesdriftige rugbyondersteuners of gesinne saamgekloek het rondom ’n oop motorvoertuig met ’n radio in en só rugby geluister het, ’n braaivleisvuur gemoedelik in die agtergrond. Ek onthou die grys wintermiddae met nostalgie, asook die sproei van nartjies wat oopgeskeur word. Tennis – ja, tennis – was naas rugby en sokker die belangrikste sport in Suid-Afrika (in die ’90’s het Jonty Rhodes by die 1992-Wêreldbeker veroorsaak dat tennis deur krieket onttroon is). Tydens die Julie-vakansies het almal Wimbledon gekyk en dit was die goue era van Kevin Curren, Johan Kriek en Christo van Rensburg. Almal het met skok en verwondering gepraat oor daardie 17-jarige rooikopseun Boris Becker wat Curren in die Wimbledon-finaal geklop het. Ook onder die jeug het die tenniskoors hoog geloop – by winkels soos Varsity Sports was copies van tennishelde se klere en rakette te koop, byvoorbeeld Björn Borg se Donnay-raket en John McEnroe se Dunlop Maxply. Ek onthou hoe kinders droomverlore deur die strate geloop en balle slaan het, en in hulle fantasieë was ieder en elk sonder twyfel ’n toekomstige Wimbledon-kampioen. Vroulike tennissterre van die ’80’s was Martina Navratilova, Chris Evert en Steffi Graf. En die mans – Borg, McEnroe, Becker, Stefan Edberg en Ivan Lendl.

Gedurende die ’80’s is ’n fondasie vir vernuwing gelê. Toe die 1990’s aanbreek, was die idee (en gees) van moderniteit reeds veel beter omlyn. Almal wat in daardie tyd geleef het, dra iets van die ’80’s met hulle saam. Of dit nou ’n gunstelingsong is, of ’n voorliefde vir paisleydasse, Wayfarer-sonbrille – of perdalks die shoulder pads in werksdrag – na alle waarskynlikheid is die ’80’s, as tydvak, die dekade wat deur die heel gelukkigste herinneringe gekenmerk word.

  • 2

Kommentaar

  • Prof Melodie Labuschaigne

    Hoe fantasties beskryf jy die tagtigs! Het met verwondering gelees en weer onthou. Welgedaan, Nini!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top