’n Kroniek van die kettingbrief

  • 0

Foto: Pexels.com

Ek was 10 jaar oud toe dit gebeur het – die eerste en enigste keer in my lewe.

Een middag na skool hou my ma ’n koevert na my toe uit en sê: "Hier is pos vir jou."

Dit het my opgeval dat die handskrif dié van ’n volwasse persoon was. Met ander woorde dit was nie ’n kysbrief of iets in dier voege nie. Ek was in my skik: Ek het ook pos gekry, nogal formeel aan my geadresseer as "Mejuffrou Nerina Nöthling".

In my kamer het ek die vonds versigtig oopgemaak. Die brief, bestaande uit een vel papier, was ’n fotostaat, kennelik baie kere gefotokopieer, want die inkmerke het swart teen die kantlyne gelê. Die brief het gehandel oor ’n siek kind in die Kaap vir wie daar gebid word; en dat ek 30 fotokopieë van die brief aan die volgende ontvangers moet stuur. Die dreigemente van mense wat die ketting verbreek het en dood is in motorongelukke, of getref is deur weerlig, het my hart laat bons. Maar daar was darem ’n troos: As ek die 30 briewe aanstuur, dan wag daar moontlik ’n beloning van ’n vet tjek (R50 000) op my in die pos. (Weer daardie misterieuse tjek wat wonderbaarlik arriveer in die pos – Rhonda Byrne se gewilde blitsverkopers, The secret en The magic, beloof ook daardie magiese tjeks en het sedertdien ingeburger geraak in die New Age-subkultuur wat The Law of Attraction aanhang.)

So gesê, so gedaan. Ek het met my fiets na die plaaslike biblioteek gery, die kosbare dokument veilig in ’n A4-koevert in die fietsmandjie, en die fotokopieë gemaak. My volgende stop was by die CNA en die poskantoor vir die nodige koeverte en seëls. Die lekkerste deel van die hele proses was om deur die telefoongids te blaai en onwetend my nuwe slagoffers te kies. Daar was ’n meneer Droomer, woonagtig in Gezina. In my jong gemoed het ek nog gedink dat hy sal val vir die scam, omdat hy kan droom. (Het ek toe reeds intuïtief vermoed dat die hele ding ’n bedrogspul is?) Uiteindelik het ek die 30 briewe in die brandweerrooi posbus met die spits dak se gleuf geglip, dankbaar vir die groot tjek wat op pad is (of verlig dat ek die doom en gloom van my gesin afgeweer het). Watter een van die twee dit was, kan ek nie onthou nie – behalwe dat ek gewag en gewag het, maar nada. Geen onheil het my getref nie en ek wag tot vandag toe op die gewraakte tjek. Ja, ek was die slagoffer van ’n kettingbrief.

Kettingbriewe is nie om dowe neute die "kokkerotte van die poswese" genoem nie. En die geskiedenis van hierdie briewe is allesbehalwe vervelig. Die folklorekenner Daniel VanArsdale beweer die oupagrootjie van die kettingbrief, soos ons dit vandag ken, dateer terug na die antieke Egiptiese Book of the Dead waarin die belofte voorkom dat indien ’n persoon ’n replika van ’n sekere prent maak, hy geseënd sal wees: "… shall find it of great benefit to him both in heaven and on earth". Maar die teenpool was ’n dreigement: "[T]he man who knows not this picture shall never be able to repulse the serpent Neha-hra."

Die herkoms van die kettingbrief stam dus uit religieuse/esoteriese geledere. Die "Letter from Heaven", wat in die 1700’s in Europa gesirkuleer het, is volgens oorlewering deur Jesus sélf en in sy eie bloed geskryf en bevat religieuse instruksies soos om die Sabbat op ’n Saterdag, in stede van Sondag te hou; om vyf Vrydae ’n jaar te vas, ens. Die brief belowe ook beskerming vir diegene wat by die wette hou. Sommige mense het gedink die brief het uit die hemel self neergedaal. ’n Uittreksel uit die Engelse weergawe (1795) lui: "[H]e that publisheth it to others, shall be blessed of me, and though his sins be in number as the stars of the sky, and he believe in this he shall be pardoned; and if he believe not in this writing, and this commandment, I will send my own plagues upon him, and consume both him and his children, and his cattle." Europese immigrante het die brief, ook bekend as die Himmelsbrief, na die VSA gebring waar die brief in huise geraam en gehang en gebruik is as gelukbringer (charm) om die gebooie te onderhou en as sulks familie en vee teen God en noodlot te beskerm.

Nóg twee kettingbriewe, wat fondsinsameling ten doel gehad het, kom uit die geledere van die kerk. In 1888 is die eerste gedokumenteerde kettingbrief, wat instruksies bevat om handgeskrewe kopieë te maak en geld te skenk vir die oprigting van ’n Metodiste-opleidingskool in Chicago, versprei. ’n Ander brief het op sy ontvangers se gevoel gespeel om ’n "dime" (’n paar sent) te skenk vir die skoolopleiding van arm kinders in Cumberland. Die Chicago-fondsinsamelingsprojek was egter so suksesvol dat die eienaars besluit het om hulle fondsinsameling voort te sit, en die "peripatetic contribution box" se kettingbrief was volgende aan die beurt. Maar iewers het ’n vrou gatvol geraak, die ketting gebreek en gereageer soos ’n moderne leser sou: "To tell the plain truth, I am exasperated with this plan. I am a very busy woman, and this is the third benevolence I have been asked to help in this way."

Mens kan verstaan dat die kerk ’n affiniteit vir kettingbriewe gehad het, want religie en kettingbriewe is gegrond op dieselfde beginsels – mense word gedryf deur óf beloning óf straf, aangevuur deur vrees en bygeloof.

Volgens VanArsdale toon die kettingbrief weer ’n opbloei sedert die Covid-pandemie se wêreldwye inperkingsregulasies. Sosiale distansiëring en isolasie het mense genoop om te deel in gevoelens van kameraderie, sekuriteit en nostalgie; en om deel te wees van die gekoesterde gevoel van ’n groep/ketting. Mense wat nooit voorheen gereageer het op kettingbriewe nie, het tydens die pandemie begin om dit te doen – meesal was dit onskuldig, soos kettingbriewe wat kosresepte uitruil. Die kettinggroepe het mekaar bemoedig om positief te bly – en natuurlik, as bonus, is ’n glimlag van die geluksgodin in die vorm van ’n meevallertjie altyd welkom. Die renaissance van die kettingbrief tydens 2020 het ook die aanstuur van gedigte, inspirerende motto’s en foto-uitdagings betrek. "Ten days. Ten black-and-white photographs of my life. No photos of people. No words, no explanation." En dan merk (tag) jy ’n klomp mense. Net een voorbeeld van (die mutasie) van die moderne internetkettingbrief.

Volgens VanArsdale kan ’n kettingbrief in wese drie oogmerke hê: Dit is selfdienend, altruïsties of kwaadwillig. Met die evolusie van die kettingbrief het die temas min of meer dieselfde gebly en sentreer dit rondom beloftes van groot geluk, beskerming, welwillendheid; daar is godsdiens- en gebedskettings, protes- en petisiebriewe, geldmaakskemas en waarskuwings teen sosiale of politieke gevare. Die ketting vorm ’n eksponensieel groeiende piramide/boomdiagram wat nie op die lange duur volhoubaar is nie.

Die tradisionele bou van die kettingbrief behels ’n persoonlike inleiding deur die sender, gevolg deur ’n verduideliking van wat die kettingbrief behels, dan die instruksies rondom die aanstuur van die brief, afgesluit met die sender se inspirerende slotrede. Al het die internetkettingbrief baie mutasies ondergaan, bly die subteks dieselfde, naamlik die manipulerende trant om die plasing of e-pos aan te stuur of te deel.

Waar sommige kettingbriewe ’n positiewe pay-it-forward-gesindheid openbaar, is daar ander wat deur ’n narsistiese gevoel van sosiale kontrole of mag gedryf word.

Tydens die 20ste eeu het kettingbriewe ’n paddastoeleffek getoon – meer mense was nou geletterd, die posdienste was meer betroubaar, en tegnologie het nuwe moontlikhede gebied. Heelwat "luck letters" het religieuse ondertone gehad, soos ’n "antieke gebed" wat in 1906 die rondte gedoen het in die VSA en geskep is deur ene biskop Lawrence wat opdrag gegee het dat die betrokke geluksbrief oorgeskryf en aan die volgende nege ontvangers gestuur word. Geluksbriewe was veral gewild tydens die Groot Depressie en met die twee Wêreldoorloë – in tye van nood gryp die mens na enige strooihalm. Of lei vrees tot ’n groter vatbaarheid vir bygeloof?

En net soos bygeloof, was samesweringsteorieë maar altyd deel van die mensdom. In 1917 het die New York Times ’n berig geplaas dat die eindelose stroom kettingbriewe ’n Duitse komplot is om die VSA se poswese te saboteer.

Maar dis die berugte Send-a-Dime-skema wat tydens die Groot Depressie in die Weste van die VSA gedy en die wêreld op horings geneem het. Elke ontvanger moes tien sent bydra, ’n naam is van die lys geskrap en ’n ánder ontvanger het boontoe geskuif in die geluksgleuf. Nodeloos om te sê, die possakke het uit hulle nate gebars – en ’n mens wonder oor die rol van kettingbriewe in die ontwikkeling van piramideskemas. Binne enkele weke het die US Post Office Department die Send-a-Dime-skema as onwettig en teenstrydig met die poskantoor se regulasies verklaar.

Eers in 1959, met die geboorte van die fotokopieermasjien, het die moderne kettingbrief sy solovlug onderneem. Kantoorwerkers het in die geheim fotokopieë van resepte, gedigte, persoonlike dokumente, grappe, briewe en liggaamsdele (!) gemaak en begin versend – danksy die "Xerox-Lore". Die tegnologiese wonder het ’n magie van sy eie gehad: Geluksbriewe is onder die ruitveërs van vreemdelinge se motors ingedruk of in straatposbusse gegooi. Dalk het die nuwe anonimiteit die opwinding verhoog, ook omdat die poswese hulle hande vol gehad het met die groot volumes pos en kort-kort nuwe regulasies moes instel, soos dat geluksbriewe neerkom op dobbelpraktyke en sodanig verbied word … Maar verbode vrugte is mos soet.

Die pre-internet era is gedomineer deur die Circle of Gold, wat in 1978 ontstaan het en ontvangers opdrag gegee het om $50 aan twee volgende ontvangers te stuur. Nóg ’n piramideskema. Hierdie kettingbriewe is per hand afgelewer om die posdiens se wette te omseil. Nodeloos om te sê, daar was ’n lang spoor (of ketting) slagoffers in dié bedrieglike skema waaruit net ’n handjievol swendelaars voordeel getrek het.

Die migrasie van die internetkettingbrief in die laat ’90’s en vroeë 2000’s het die duplisering- en aanstuurprosesse van briewe versnel tot die copy-, paste-, share- en forward-funksies. In ’n artikel deur Alexandra Hayward in Vice het die vinnigrykwordskemas via die internet meer deursigtig, absurd en belaglik geraak. Die oes van internetgebruikers se persoonlike inligting deur phishing, en die donker onderwêreld van kuberkrakers het begin floreer – Trojaanse perde en virusse is byvoorbeeld deur e-posse en die klik op ongewenste skakels oorgedra. WhatsApp-stokvels en ander piramideskemas het ongelukkig op ’n legio internetplatforms bly voortbestaan. Die kettingbriewe se dreigemente aan veral kinders het donkerder en meer sinister geraak, byvoorbeeld as jy nie ’n brief binne sewe dae aanstuur nie, sal jy vir seker sterf. Of jou ma se kop in die wasmasjien aantref. Die berugte Katu Lata Kulu-ketting het gedreig om jou van jou siel te beroof indien jy die ketting verbreek.

Met die Koronavirus het kettingbriewe weer "mak" en gemoedelik geword – soos kwarantynresepte – want ons deel almal in dieselfde kollektiewe sosiale angst. Gebedskettings vir beskerming teen COVID-19 versprei soos ’n veldbrand; en voor Kersfees het die "Secret Sister" haar opwagting gemaak: ’n kettingbrief wat dames versoek om geskenke ter waarde van R100 aan anonieme "susters" te stuur met die belofte om tussen ses en 36 geskenke terug te ontvang. Daar is mense wat hulle beywer vir die voortbestaan van die ietermagog, of reken dat Trump van die Here en Biden van die duiwel is. Of: COVID-19 is ’n hoax.

En interessant: Nóg ’n tendens wat tydens die pandemie momentum gekry het, is die skryf van ope briewe. Elkeen het immers die reg om koning te kraai op sy eie mishoop … Daar was (en is steeds) hope ope briewe aan president Cyril Ramaphosa, Nkosazana Dlamini-Zuma, Julius Malema en die NG Kerk, om maar enkeles te noem. Ek weet darem nie; hierdie ope briewe, wat ’n element van grootheidswaan bevat, herinner my altyd aan ’n psigoot se vakuumpratery in ’n padded cell. Gaan ’n Facebook-plasing en die volgelinge wat die wit waks uit die ope brief uit share, enigsins die owerhede se aandag trek?

Intussen bly ons waarnemers van die Bizzaro-wêreld van die internet en sy gebruikers wat sosiale warmte en geborgenheid soek en uitdagings en kettingpos skep om die gevoelens van vervreemding en isolasie tydens die tweede golf infeksies te verdryf.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top