Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik. Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za
Iemand vertel nou die dag die mooi storietjie van 'n skaapboer êrens uit die Karoo wat 'n groot hofsaak in Kaapstad gehad het. Die saak het van Maandag tot Donderdag geduur en die Donderdagmiddag het die regter gesê dat hy die volgende dag, die Vrydag, sy uitspraak sou lewer. Toe hulle by die hofgebou uitstap, vra die boer vir sy advokaat of hy dink dit sal help as hy die aand 'n lekker vet geslagte Karoolam vir die regter by sy huis sou aflewer. Die advokaat was vreeslik ontsteld oor hierdie plan van sy kliënt. "Oom,” het hy gewaarsku, “as jy dít doen, dan gaan soek jy môreoggend vir jou 'n ander advokaat! Dis ook die beste manier om te verseker dat die regter môreoggend téén jou uitspraak sal gee."
Die oom is druipstert daar weg, maar die volgende oggend was hy weer op sy pos in die hof. Hy het 'n goeie saak gehad en die regter het in sy guns beslis. Toe hulle so by die hof uitstap, sê hy vir sy advokaat: "Dit lyk my die skaap het tog wel gehelp."
"Het Oom tog nie werklik vir die regter 'n skaap gaan aflewer nie?" vra die advokaat verbaas.
"Natuurlik!" sê die omie, en met ‘n knipoog en ‘n skalkse laggie voeg hy by: "Maar ek het dit onder die ánder party se naam laat aflewer!"
Vandeesweek se hofsaak handel oor ‘n aansoek van die Prokureursorde van Transvaal (soos dit voorheen bekend was) om die skrapping van 'n prokureur van 'n dorp in die teenswoordige Limpopo. Daar was verskeie bewerings van wangedrag teen die prokureur. Onder meer sou hy probeer het om die guns te wen van die vrouelanddros wat ‘n saak verhoor het waarin hy vir ‘n beskuldigde opgetree het. Die gunsbetoning vir die landdros was nou wel nie 'n Karooskaap nie, maar die aandra van sjokolade en blomme, asook ‘n ete-uitnodiging. En, o ja, dan was daar ook nog 'n krokodilvelhandsak wat die prokureur se vrou vir die landdros laat aflewer het. Daarbenewens het die prokureur hom aan verskeie ander vorme van wangedrag skuldig gemaak. Onder meer het hy op 'n Saterdagoggend besope op straat verskyn. Hy is skuldig bevind aan versuim om in die hof te verskyn, en toe hy wel verskyn het, was hy ook dáár besope. Sy boedel is gesekwestreer en, les bes, is hy ook nog aan opsetlike saakbeskadiging skuldig bevind nadat hy die ruite van 'n woonhuis gebreek het toe die eienaar geweier het om met hom te praat.
Die aansoek vir die skrapping van die prokureur het op 28 Augustus 1995 voor regter Van Dykhorst in Pretoria gedien.[1] Die prokureur het verskeie verwere gehad – onder meer dat die aansoek om hom te skrap strydig was met die Grondwet van Suid-Afrika wat die fundamentele reg erken van elke persoon om vryelik aan die ekonomiese verkeer deel te neem. Dié verweer het nogal 'n baie interessante debat in die hof uitgelok, maar uiteindelik het die hof ook hierdie verweer van die hand gewys. Regter van Dykhorst was van mening dat wanneer die totaliteit van al die oortredings en die omvang en erns daarvan in ag geneem word, die kumulatiewe effek tot slegs een gevolgtrekking kon lei, naamlik dat die prokureur ver tekort geskiet het aan die standaarde van gedrag waaraan 'n prokureur moet voldoen. Na die oordeel van die hof was hy nie 'n geskikte persoon om voort te gaan om as prokureur te praktiseer nie; gevolglik is sy naam van die rol van prokureurs geskrap.
Dit is jammer dat sulke dinge gebeur en dat dit soms nodig word dat 'n dokter of ouditeur, 'n prokureur of selfs 'n advokaat verbied word om sy beroep verder te beoefen omdat dit nie in openbare belang is nie. Dit is goed dat daar waghonde in die vorm van prokureursordes en mediese en ander beroepsrade is wat jaloers oor hierdie beroepe waak. Maar sou die wêreld nie 'n wonderlike plek gewees het as daar oor álle soorte beroepe – taxibestuurders, groentesmouse, begrafnisondernemers, loodgieters en elektrisiëns, noem maar op – sulke beroepsliggame was wat oor die gedrag van hulle lede gewaak het nie? Miskien moet ons vir so iets begin toi-toi ...
[1] Prokureursorde van Transvaal v Kleinhans 1995(1) SA 839 (TPA)


