’n Korpusgedrewe benadering tot taalonderrig in Afrikaans

  • 0

Korpuslinguistiek as ’n voorbeeld van digitale tegnologie om die onderrigproses te verryk, kan taalonderrig verlewendig en relevant maak tot hedendaagse taalstudente. Met korpuslinguistiek word digitale tegnologie ingespan en kan taaldosente vryheid van keuse, outonome leer en sosiale interaksie tussen studente tydens die onderrigproses bewerkstellig. Ter illustrasie word ’n voorbeeld van die onderrig van normering rakende vaste uitdrukkings in Afrikaans met behulp van die VivA-taalkorpus aan onderwysstudente beskryf. Vryheid van keuse kom ter sprake by die opdrag wat studente ontvang het, naamlik om sogenaamde foutiewe vaste uitdrukkings wat hul gelees of gehoor het, na die klas te bring vir bespreking. Outonome leer is bewerkstellig met die naslaan van die uitdrukkings in die taalkorpus tydens die lesing en sosiale interaksie tussen studente met ’n lewendige groep- en klasbespreking na afloop van die naslaanproses.

Digitale tegnologie kan as ’n bron vir ’n legio moontlikhede in taalonderrig dien, met voorbeelde van geskrewe, gesproke en visuele outentieke tekste oor enige onderwerp denkbaar. Ook in Afrikaans het dosente en studente toegang tot ’n verskeidenheid tekste, onder andere aanlyn woordeboeke, speltoetsers en taalkorpora. Met die kundige gebruik van tegnologie, in hierdie geval korpuslinguistiek, kan ’n vernuwende onderrigervaring aan taalstudente gebied word.

Korpuslinguistiek kan gedefinieer word as ’n taalkundige ondersoek aan die hand van navorsingsvrae oor die voorkoms en verspreiding van taalkundige kenmerke of patrone soos dit in ’n korpus waargeneem kan word (Stefanowitsch, 2020).  Volgens McEnery, Xiao en Tono (2006) verwys korpuslinguistiek ook na ’n sistematiese ontleding van die verspreiding van taalverskynsels. Die term korpus beteken letterlik “liggaam”, en op die gebied van taalstudie verwys korpus tipies na ’n “body of texts”, ’n versameling van tekste. ’n Korpus is elektronies beskikbaar en kan uit miljoene gesproke en geskrewe woorde bestaan. Dit bevat outentieke taalgebruik en weerspieël dus werklike taalgebruik van taalgebruikers.

........
Die term korpus beteken letterlik “liggaam”, en op die gebied van taalstudie verwys korpus tipies na ’n “body of texts”, ’n versameling van tekste. ’n Korpus is elektronies beskikbaar en kan uit miljoene gesproke en geskrewe woorde bestaan. Dit bevat outentieke taalgebruik en weerspieël dus werklike taalgebruik van taalgebruikers.
........

Taalkundige insigte wat uit korpuslinguistiese studie verkry word, vind dikwels toepassing in leksikografie, taalpraktyk en taalonderrig. Tydens taalonderrig kan ’n dosent of ’n student ’n verskeidenheid voorbeelde wat vanuit korpuslinguistiek verkry is, gebruik. Korpuslinguistiek kan by uitstek gebruik word om vaste uitdrukkings of kollokasies in tekste te bespeur.

McEnery en Xiao (2011:368) beveel byvoorbeeld aan dat daar ’n groter klem op die onderrig van kollokasies geplaas behoort te word. Taalaanleerders en ervare skrywers fouteer dikwels met die gebruik van idiome, vaste en semivaste uitdrukkings en verskillende grade van buigbaarheid of variansie, sowel as die formaliteitsgraad van dié kollokasies.

Met normering ten doel, veral ten opsigte van idiome en uitdrukkings in Afrikaans, het die dosent (ek) besluit om van ’n korpusgedrewe benadering gebruik te maak. Tognini-Bonelli (2001) beskryf ’n korpusgedrewe benadering as ’n benadering sonder vooropgestelde idees, wat voorsiening maak vir die korpus om self navorsing te dikteer en vir die ontleder om waar te neem, te ontdek en te ontleed wat eiesoortig is aan die korpus.

Die opdrag aan studente was om sogenaamde foutiewe vaste uitdrukkings wat hul gelees of gehoor het, neer te skryf en na die klas te bring. Vorige lesings oor normering in Afrikaanse taalkunde het agtergrondkennis aan studente verskaf. Ter inleiding van die lesing die dosent die voorbeeld van “*Die probleem aanspreek” in plaas van die korrekte vorm “Die probleem aanpak”, aangesien ’n mens nie met sake en vraagstukke kan “praat” nie. Die dosent herinner studente daaraan dat normatiewe inligting in Afrikaans aanlyn in verklarende woordeboeke, skoolwoordeboeke en die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) nageslaan kan word.

Daarna volg groepbesprekings, waartydens studente die normatiewe aard van foutiewe uitdrukkings wat hulle identifiseer het, aan die groep voorlê. Dit ontlok hewige debatvoering in sommige gevalle en studente kry die geleentheid om van mekaar te leer. Studente maak van naslaanbronne gebruik om uitklaring te kry vir sommige van die probleemgevalle waaroor daar nie konsensus bereik word nie.

Die dosent stel voor dat studente die VivA-korpusportaal op hul skootrekenaars oopmaak om inligting rakende sekere voorbeelde te bekom. (Studente het reeds voor die lesing vir die omvattende korpusportaal geregistreer. Dit is gratis en daarvolgens kan frekwensielyste nageslaan, kollokasiesoektogte gedoen en meerveranderlike ontledings uitgevoer word. Die VivA-korpusportaal bevat ’n verskeidenheid Afrikaanse korpora.)

Twee voorbeelde word ter illustrasie bespreek. Die eerste voorbeeld is: “*om uit te sien vir” en studente word gevra om dit na te slaan. Hulle tik in: “sien uit” en word na ’n bladsy met 50 voorbeelde van die uitdrukking (’n konkordansie of sleutelwoorde-in-konteks) geneem, elkeen in ’n sin gebruik. Hier onder volg ’n skermskoot.

Tabel 1: Skermskoot van “sien uit” in VivA-korpusportaal (2023)

Die vraag word gevra wat hulle waarneem van die uitdrukking se gebruik en die terugvoer is dat “sien uit” deurgaans deur die voorsetsel “na” of “daarna” in sinne in die korpus gevolg word. Sodoende word die werklike taalgebruik aan studente geïllustreer en besef hulle dat die gebruik van “*om uit te sien vir” nie algemeen aanvaarbaar deur die taalgemeenskap is nie.

Die taalkorpusportaal verskaf gebruiksinligting duidelik en ondubbelsinnig, in vergelyking met die leksikografiese hantering van “uitsien” in woordeboeke, byvoorbeeld die HAT, waar die volgende inskrywing gelees kan word:

uitsien 1 Na buite sien: By die venster uitsien. 2 Probeer om te kry, verlangend wag op: Op ’n vakansie, ’n nuwe pos, jou aftrede uitsien. (Artikel verkort)

’n Tweede voorbeeld onder bespreking is “*opgewonde vir” en dieselfde prosedure word gevolg. Sien skermskoot in Tabel 2 ter illustrasie.

Tabel 2: Skermskoot van “opgewonde” in VivA-korpusportaal (2023)

Studente kom agter dat “opgewonde” deurgaans deur die voorsetsel “oor” in sinne in die korpus gevolg word. Die gevolg is dat hulle waarneem dat die gebruik van “*opgewonde vir” nie in algemene geskrewe Afrikaans voorkom nie.

Die taalkorpus is dus gebruik om datagedrewe leer te ondersteun; met ander woorde studente kon taalgebruik ontleed gegrond op korpusbewyse. Met behulp van ’n korpus is toegang tot outentieke tekste verleen. Taal is tydens interaksie met ander en in verhouding tot kennisskepping gebruik.

Taalstudente word met hierdie benadering aktiewe, gemotiveerde deelnemers tydens die onderrig- en leerproses en hulle konstrueer dus hul eie kennis op grond van waarnemings en ervarings met behulp van tegnologie.

Bibliografie 

Hinkel, E (red.). 2011. Handbook of research in second language teaching and learning: Volume II. New York, NY: Routledge.

McEnery, T., Xiao, R. en Tono, R. 2006. Corpus-Based Language Studies: An Advanced Resource Book. London: Routledge. 

McEnery, T en R Xiao. 2011. What corpora can offer in language teaching and learning. In Hinkel (red) 2011. 

Odendal, FF en RH Gouws (reds). 2005. Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Kaapstad: Pearson.

Stefanowitsch, A. 2020. Corpus linguistics: a guide to the methodology. Language Science Press.

Tognini-Bonelli, E. 2001. Corpus linguistics at work. Amsterdam: Benjamins.

VivA-taalkorpusportaal. https://viva-afrikaans.org (20 Oktober 2023 geraadpleeg).

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top