'n Klap van die windmeul weg – of van die tolk!

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Mense is normaalweg bra lugtig om in 'n hof te getuig, en sal wye draaie gooi om daar weg te bly. Prokureurs ervaar dikwels dat as hul iemand versoek om in 'n saak te getuig, die persoon aanbied om 'n beëdigde verklaring af te lê, eerder as om in die hof sy storie te loop vertel. Maar so 'n verklaring is om verskeie redes nie toelaatbaar nie - onder meer aangesien dit nie aan kruisverhoor onderwerp kan word nie. Daarom is die reël dat getuienis normaalweg viva voce - letterlik "met die lewende stem" - aangebied moet word.

Maar in Rex teen Ranikolo1 moes die Vrystaatse hooggeregshof beslis of 'n nogal eienaardige wyse van getuienislewering aanvaarbaar was. Dit het so gekom. Ranikolo is in die landdroshof van Virginia aangekla dat hy vir ene Sekosana aangerand het met die opset om hom ernstig te beseer. Volgens mediese getuienis het Sekosana 'n hou oor die kop opgedoen wat skedelbreuk en breinskade tot gevolg gehad het. Sy regtervoorarm en hand is verlam en hy het sy spraak heeltemal verloor.

Sekosana is nietemin as 'n getuie geroep. Deur handgebare het hy bevestig dat hy verstaan het wat dit behels om onder eed te getuig. Daarna het hy na die beskuldigde gewys as die persoon wat hom aangerand het en na 'n kierie voor die hof as die instrument waarmee hy oor die kop geslaan is. Die landdros het beslis dat Sekosana bevoeg was om te getuig en het aan Ranikolo die geleentheid gebied om hom te kruisverhoor - 'n geleentheid wat hy nie benut het nie. Die beskuldigde het sy saak gesluit sonder om self te getuig. Hy is daarna skuldig bevind en tot ses maande dwangarbeid en ses houe met 'n rottang gevonnis. Dit was in 'n tydvak toe daar nog geglo is dat ‘n pak slae op sy tyd uitstekende medisyne is.

Die landdros was bekommerd dat hy 'n bepaling van die destydse Strafproseswet, waarvolgens alle getuienis in 'n strafsaak viva voce gelewer moet word, nie nagekom het nie, en het die saak vir hersiening na die hooggeregshof verwys.

In sy uitspraak van 20 Mei 1954 beslis regter Horwitz dat die landdros onnodig bekommerd was, en dat sy hantering van Sekosana se getuienis heeltemal suiwer was. Ter stawing het die hof verwys na verskeie sake in die Engelse reg waar niemondelinge getuienis aanvaar is, hetsy dit deur gebare of skriftelik geskied het. (Terloops, ons bewysreg is feitlik net so uit die Engelse reg oorgeneem.) Ranikolo se skuldigbevinding en vonnis is deur die hof bevestig.

Hierdie uitspraak het my laat dink aan 'n ander voorval wat jare gelede in een van ons howe plaasgevind het. Die verhaal kon dalk al 'n stertjie of twee bygekry het, maar - soos 'n goeie vriend van my altyd sê - 'n mens moet nie toelaat dat die waarheid tussen jou en 'n goeie storie inskuif nie. 'n Sekere kêrel, so lui die verhaal, is daarvan aangekla dat hy iemand aangerand het deur hom ‘n stewige oorveeg te gee. Die klaer was, sê maar, Xhosasprekend, en die hoftolk is nader geroep. In die loop van die getuienis vra die aanklaer toe vir die klaer – in Afrikaans: “Sê vir die hof, hoe het die beskuldige jou aangerand?” Die tolk het die vraag aan die getuie getolk, wat seker gedink het hier is nou die groot oomblik in die saak. “Edelagbare,” sê hy in Xhosa, “die beskuldige het my so geklap”, en toe klap hy die tolk deur sy gesig dat hy so steier.

Die tolk het sy teenwoordigheid van gees behou, sy das reggeskuif en sy bril weer teruggeplaas op sy neus. "Edelagbare," tolk hy vir die hof in Afrikaans, "die klaer sê die beskuldigde het hom só geklap", en toe kry die arme klaer 'n oorveeg dat hy byna uit die getuiebank val.

Die tolk het - soos dit 'n pligsgetroue tolk betaam - sy taak tot in die fynste besonderhede uitgevoer!

Wat het geword van "die ander wang draai"?


1 R v Ranikolo 1954(3) SA 255(O)

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

                                                    
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top