’n Kans in Afrikaans! – ’n Openbare uitdaging aan die US-bestuur

  • 20

kansinafrikaans

Persverklaring

“Ons daag die rektor van die US, prof Wim de Villiers, en/of die voorsitter van die Universiteit van Stellenbosch (US) se raad, mnr George Steyn, uit tot ’n openbare TV-debat oor die universiteit se konseptaalbeleid.” So sê Danie van Wyk, verteenwoordiger van die nuwe veldtog “’n Kans in Afrikaans!”. “Hierdie debat moet vóór die 22ste Junie se raadsvergadering plaasvind,” sê hy.

Die uitdaging volg op ’n werkswinkel oor die US se taalbeleid wat Saterdag, 4 Junie, deur die Afrikaanse Taalraad by ’n skool in Somerset-Wes georganiseer is. Die werkswinkel is bygewoon deur meer as dertig mense onder andere skoolhoofde, onderwysers, studente, dosente, skrywers, joernaliste, akademici en gemeenskapsleiers. Burgerlike organisasies wat deelgeneem het sluit in die Langenhoven Gedenktrust, die Suid-Afrikaanse Onderwys Ontwikkelingstrust, GelykeKanse, AfriForum, en PEN Afrikaans.

“Ons het daarin geslaag om belanghebbendes in die US se taalbeleid oor politiese en ideologiese skeidslyne heen bymekaar te bring,” sê Ria Olivier, die Taalraad se projekbestuurder.

Danie van Wyk, ’n deelnemer aan die gesprek, sê dat hy verstom was oor die vinnige manier wat konsensus bereik is. “Ou struggle veterane, wit, bruin, swart, wat ook al. Ons staan almal agter ’n Kans in Afrikaans!.” 

“Ons is gatvol daarvan om te hoor dat bruin mense nie in Afrikaans wil studeer nie,” sê Doreen Musson, ’n voormalige onderwyseres en stasiebestuurder by Radio Kaapse Punt. “Dit is pure nonsens en ek raak kwaad as ek dink aan al daai kinders wat in skole sit en nóóit by die universiteit gaan uitkom nie. For them there is no place at the University of Stellenbosch.”

“Hulle maak Engels die verstektaal van die universiteit en roei Afrikaans uit, maar die bestuur is nie moedig genoeg om dit reguit vir ons te sê nie,” sê Danie Marais, bestuurder van PEN Afrikaans. “Hulle argumente oor dat die nuwe beleid niemand gaan uitsluit nie is sinies en misleidend.”

“Die rektor of die voorsitter van die raad moet ín die publiek vir ons verduidelik hoekom Éngels nie nou die taal van uitsluiting by die US geword het nie,” sê Danie van Wyk. “Ook hoekom die nuwe taalbeleid nie die nekslag vir Afrikaanse moedertaalonderrig op skoolvlak gaan wees nie. Ek wil weet of hulle verstaan wat die implikasies van daai besluit is.”

Kontakpersoon: Danie van Wyk: weskaap@saoot.org.za; 083 382 3565        

  • 20

Kommentaar

    • Afiekaan is ek gebore. En ek sal so doodgaan. Mooi werk ouens. Mag ons Hemelse VADER. Julle lei. Om 'n oplosing te vind. Dankie vir julle harde werk.

  • Cilliers van Niekerk

    Dankie Danie en alle betrokkenes! Vir my is dit die mees veelseggende gebeurtenis in die hele debat dusver! Dring aan op daai debat, en heel beste wense!

  • Pieter van der Westhuizen

    Ek sien uit na so 'n debat. Span die net wyer as die gesprekke tussen die "taalbulle" en die "taalkapaters".

  • Dis waarlikwaar asof alle redelike oorwegings saam met die badwater uitgesmyt is en politieke korrektheid (of so-iets) almal aangesteek het soos 'n virus wat geen keer het nie. Wakker skrik!

  • Danie. Ek is baie trots op julle aksieplanne. Julle kan staat maak op my ondersteuning. As Oud-Matie is ek julle ewig dankbaar en verdien julle my agting en waardering.

  • Francois Gouws

    Ek stem 100% saam! Die bastion van Afrikaans moet nou val! Waarom? Ek sal veg vir my taal solank ek kan!

  • Jacobus Pienaar

    Sekondeer, hul verskuilde politieke agendas moet uitkom. Daar’s nou sakemanne ook in die koek wat hul besighede op die spel plaas in die verraad om Afrikaans af te takel.
    Ek en klomp mense asook bekende musikante staan agter julle. Dis nie sommer vir kom vat nie , Stellenbosch verteenwoordig ’n groot voedingsarea, honderde kilos land in, Wes, Noord, Oos-Kaap, Vrystaat en Namibia.
    Daar is twee ander universiteite in Kaapstad wat Engels akkommodeer, asook drie in die Oos-Kaap, wat tussen Xhosasprekers ook is, en een in die Vrystaat.
    Hoekom wil jul peuter aan ’n ou wenresep wat menige internasionale belangrike bydrae en bekende produkte gelewer het? Bv top manne in Google, Nasa is oud-Maties wat in Afrikaans studeer het.
    Wim sal moet pa staan vir konflik wat mag kom.

  • Die belangstelling is eintlik nie in opleiding in Engels nie, dit gaan oor afbreek van alles wat goed en reg is. Sodra alles afgebreek en in puin lê en armoede en hongersnood botoon vier, gaan hulle agterkom die kool was die sous nie werd nie.

  • engemi ferreira

    Baie dankie vir die aksie van opstaan om te wys hoe julle, en ek, en baie ander van ons voel; en onder die goeie titel glo ek sal 'n kans gevat veel beter werk as 'n kans waarvoor ons moet sit en wag daarvoor. Voeg my asb by as ondersteuner, meeloper en voorvegter.

  • Wilhelm Fourie

    Baie dankie aan Danie van Wyk en 'n groep mense met wie ek 100% kan saamstem. Vir my gaan dit ook daaroor dat my kinders (indien ons as laer middelklas dit ooit sal kan bekostig) in Afrikaans kan studeer. Selfs toe ek (so 'n dekade gelede) aan die US studeer het, was dit duidelik dat die bestuur liewer die ryk Engelssprekendes (wat met duurder motors gery het as my ouers) aan die US wou hê as arm bruin (en wit) Afrikaanssprekendes. Wel vandag is ons nog altyd hier en probeer 'n verskil maak terwyl die Natallers met hulle Britse paspoorte in Londen woon ...

  • Marianna Botes

    Baie dankie vir wat julle vir Afrikaans doen. Ons is besig om die 3de Afrikaanse taalstryd te voer. Ek steun julle heelhartig!

  • Hanlie Nel-Smith

    Ek en my man het by Maties geswot in ons moedertaal, Afrikaans. Ja, daar is Engelse universiteite ... Dankie aan almal wat opstaan vir ons taal.

  • Marina Ferreira

    Mooi so! Ek het gisteraand na die gaste op Prontuit gekyk en baie trots gevoel. Dis wonderlk dat ons ALMAL begin opstaan en voorbrand maak vir Afrikaans. Dis nie 'n eksklusiewe taal nie en kan as voorbeeld en motivering dien vir ander tale om te ontwikkel.

  • Dit voel weer soos in die ou dae toe ons gestry het vir die gebruik van Afrikaans in Johannesburg ook met bediening in die winkels. Groete. Annatjie

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top