’n Huldeblyk vir Johnny Davids: Dit was nou die laaste ding wat ek verwag het, Boytjie

  • 1

Nuusfoto deur Jennifer Beebe, Pixabay

Ons sou nog oor jou boek praat. Ons het mekaar dit aanhoudend belowe, maar dan kom ons net nie daarby uit nie. Jy was gretig om te hoor wat ek dink van jou memoir Boytjie, wat middel-2024 by Lux Verbi verskyn het, en ek het baie daarvan gedink. Dit is ’n goeie en éérlike boek het ek jou gesê. Hier en daar was daar selfs momente waar ons verhale by mekaar s’n aansluit: jou grootwordbuurt, Melton Rose1 in Eersterivier op die Kaapse Vlakte, byvoorbeeld, is waar ek in die vroeë-90’s kom loseer het toe ek ’n eerstejaarstudent word. Maar dan was daar ’n tergende vraag wat aan my bly knaag het, ’n baie persoonlike vraag, en ek wou dit nie sommer so langs die pad vra nie, het ek jou gesê. Ons moes daaroor sit en praat.

Die aand by die Vonk-musiektoekennings in Februarie 2025, byvoorbeeld, in Stellenbosch, sou nie werk nie. Ons het mekaar dié aand belowe dat ons dit nog sal doen. “My vriend,” skryf jy toe daarna op 18 Maart 2025 op WhatsApp. “Hoe lyk dinge daa by jou? Wanneer is jy hier in die Kaap in die omte?” Omdat ek uitstedig was, kon ons weer nie bymekaar uitkom nie.

En toe kom preek jy die Sondagoggend begin Oktober verlede jaar by ons VGK-diens op Caledon en ek wou jou en Liezel vir middagete neem. Jy het jou persoonlike verhaal as basis vir jou preek (of praatjie) aangewend. Die mense wat jou slegs van die TV af ken, kon nou luister na jou aangrypende, diep-hartseer, maar ook inspirerende verhaal van ’n seuntjie wie se ma hom nie net weggegee het aan sy ouma nie, maar hom ook minstens drie keer probeer doodmaak het; ’n afwesige pa; ’n gewelddadige uncle en ouma; ’n kind wat op skool gespot is oor hy sy boeke in ’n plastiek kruidenierswarewinkelsakkie dra en hy uit ’n huis kom waar die “luukses” van kaas, (winkel)hoender en toiletpapier nie bekostig kon word nie; en wat toe op ’n dag deur die buitetoilet-venstertjie van sy ouma se huis gespring het om te vlug van verdere mishandeling. Dit is hoe sy ongelooflike reis begin het na herstel en ’n (byna onmoontlike) suksesvolle loopbaan as sanger en aanbieder.

Die diens is nie in die kerk gehou nie, maar in die skoolsaal van Swartberg Primêr omdat baie mense verwag is, en dit was ook so. Die stoele was gepak. Die mense in die gehoor se monde het oopgehang. Die mense se trane het gerol. Miskien sou dit dan sommer ook die geskikte geleentheid wees om agterna oor daai vraag van my te praat, in die aanwesigheid van die vrou wat jou verby die afwesigheid van moederliefde laat groei het deur jou onvoorwaardelik lief te hê en wat jou geleer het hoe om liefde te waardeer.

En ek wou jou terugkry oor jy met my die spot gedryf het, daar waar ek in die voorste gestoeltes soos ’n wafferse kerkbroer na jou gesit en luister het. Maar jy moes weer die pad vat om iewers ’n TV-opname te gaan doen. Jy kon nie eens by die diens sing of agterna vrae beantwoord of met die mense foto’s neem nie, wat nog te sê van rustig sit en middagete geniet. En weer moes ons uitstel; maar wéér het ons mekaar belowe dat ons dit tog nog sal doen omdat dit vir ons albei belangrik was om die gesprek te hê. Die gesprek sou oor jou verhouding met jou ma wees, Johnny, maar dit het jy nie geweet nie. Ek het myself voorgeneem dat dit nie ’n terloopse gesprek moes wees nie. Dit moes twee volwasse mans wees wat sit en praat oor ’n gedeelde diep wond. Toe sit ek die vraag weer terug in die bêre-boksie in my kop.

Einde Oktober verlede jaar loop ons mekaar weer raak op die OR Tambo-lughawe, albei op pad terug Kaap toe. Dit is ’n Vrydagaand. Soos altyd is dit jou vriendelike glimlag wat my eerste opval; en jou warmte. Onder my blad dra ek my kopie van Lionel Richie se outobiografie, Truly – A Journey through Music and Life, wat beskryf word as “a candid, ‘tell-all’ story focusing on resilience and personal growth”, amper nes joune; en ook: “The memoir is designed to be an inspiring narrative of an unlikely success story...” Jy neem ’n selfie; jou vriend Randall Philander is ook in. “Dankie vrind,” teks ek jou nadat jy die foto aangestuur het. “Altyd goed om jou te sien. En áltyd trots op jou.”

En toe stap 2025 sy laaste draaie en jy verras my met ’n Kersboodskap – om 17:56 op die 24ste Desember reeds: “N Baie Geseende Kersfees vir jou my vriend. Mag jy God se Vrede en Vreugde met jou familie geniet” (Net so sonder leestekens, maar wat is ’n afwesige deelteken of komma nou tussen vriende!) “Johnny!” roep ek uit in ’n stemnota ses minute later. “Baie dankie - vir jou en Liezel en die kinders ook. En mag 2026 die jaar wees waar jy selfs jou eie verwagtinge oortref!” Jy antwoord (sonder ’n komma en ’n punt): “Baie dankie my vriend”.

Hier was 2026 nou en ons sou darem waarlikwaar nou moes aanstaltes maak met daardie beloofde “man to man”-gesprek. Nie dat ons enige rede gehad het om te dink dat enigiets ons aanjaag om die gesprek te hê nie. Ons het mos darem ouderdom aan ons kant gehad, het ons gereken. Jy net onder die 50-jaar kerf en ek skrams daar verby. Moenie worry nie, ons sal daarby uitkom, het ons geglo, ten spyte van ons albei se besige lewe. In jou geval, televisie-aanbieding (Kwêla, Landbouweekliks, SuperSport); en dan nog vertonings hier en daar, waarvan sommige reeds lank voor die tyd geadverteer word: in Augustus sou jy ’n mannekonferensie in Brackenfell toespreek; in April ’n ontbytfunksie saam met die Bonnievale Gemeenskapspolisiëringsforum hou.

Omtrent presies drie maande die nuwe jaar in, op 30 Maart, is daar weer kontak tussen ons toe ek ’n verrassing ontvang: ’n VIP INVITE, kondig die WhatsApp-boodskap die inhoud aan, na die vertoning “GRIEKWA PSALMS – Hulde aan Randall Wicomb”. Dit sou op 29 Mei by die Tygerberg Gesinskerk in Durbanville plaasvind. “Vriend!!!”, sê die uitnodiging. ’n Mens voel die opgewondenheid aan. “As jy Kan maak, Sal ek Baie waardeer...”

’n Kort video vergesel die uitnodiging en stel die konteks daarvan: dat dit op die 29ste jou verjaardag is en om dit te vier, bied jy hierdie vertoning aan. Die bedoeling, sê jy, is darem nie om vir verjaardaggeskenke te vra nie, maar eerder om mense aan te moedig om die vertoning by te woon. “Die rede is omdat my mense is ook half van die Griekwastamme – die Rehoboth Basters.” (Net in geval iemand vergeet het dat jy in Namibië gebore is en vandaar kom naam maak het toe jy en Vivian in 2003 die eerste wenners van die Zing!-sangkompetisie geword het.) In ’n ander video op jou Facebook-blad, praat jy vanuit die kerk waar die vertoning sal plaasvind: “Ek bring hulde aan Randall Wicomb. Ek bring hulde aan die Griekwa-psalms,” sê jy. “Ek bring hulde,” beklemtoon jy, “aan die mense wat voor ons gegaan het.”

Die mense wat voor ons gegaan het, weerklink die woorde nou ná Donderdagoggend se skoknuus dat die bekende TV-persoonlikheid Johnny Davids weens ’n hartaanval op 49 “gegaan het”. Ongeloof oorval my, terwyl ek gedurende ’n vergadering in Pretoria ’n WhatsApp-teksboodskap met die tyding ontvang. En die eerste gedagte wat by my opkom, Johnny, is dat ons nou nooit die gesprek oor jou boek sal kan hê, wat ons mekaar oor so ’n lank tydperk belowe het nie. Eintlik moet ek sê die gesprek oor die vraag wat aan my knaag sedert ek jou boek die eerste keer gelees het.

Die vraag hou verband met jou vertellings oor jou ma. In die boek is daar vir my geen aanduiding dat jy werklik al jou ma vergewe het nie, maar ek moes jou self en in persoon daaroor vra, het ek myself nog al die tyd voorgeneem, sodat ek nie my eie afleidings maak nie. Selfs nie eens nadat ek die gevoel gekry het dat jy op ’n manier daarop reageer in ’n onderhoud met Kwêla waar Hannes van Wyk jou vra of jou ma nog lewe nie. Jy antwoord dat sy (steeds) niks met jou te doen wil hê nie. Jy sê jy aanvaar en respekteer haar as jou biologiese ma, “maar dit is ongelukkig waar dit eindig”. Yskoud laat jy my wanneer jy ook sê: “Die band tussen ons is geknip daai dag toe die naelstring geknip is.”

Ek wou jou graag vertel waarom dit spesifiek jou verhouding met jou ma was wat my van jou verhaal gefassineer het, Johnny. Dit is nie om jou te oordeel nie, vriend; nie in die minste nie. Dit is eerder omdat ’n vinger na myself wys met dié dat ekself nog nie heeltemal my en my eie ma se verhouding vir myself kon uitwerk nie – vyftien jaar nadat sy afgesterf het.

Nou is jy weg en ons het nooit die gesprek gehad nie. Nou sal ek op my eie sin daaruit moet probeer maak. Maar ek weet nie hoe nie, Boytjie.

**

Nota: Johnny se ma het hom gelos by ’n ouma op die Kaapse vlakte. Hy het lank daar gebly, toe ontsnap en is uiteindelik na Namibië, waar sy pa gebly het.

Lees ook:

Persvrystelling: Media se blinkste sterre vereer

  • 1

Kommentaar

  • My eerste gedagte: dié anekdote ruk menswees aan die bors. 'n Mens moet waaksaam wees, gedagtes ontspring uit die niet. Ná nabetragting voel ek dit egter steeds aan die bors. Mooi eerbetoon, Heindrich.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top