
Foto van Wilhelm Jordaan en Margarethe Booysen: verskaf
Margarethe Booysen deel haar huldeblyk aan haar pa met LitNet se lesers. Dit het nog nie elders verskyn nie.
Die curriculum vitae van ons pa, Wilhelm Jordaan, is indrukwekkend, maar op baie maniere is die lys van poste beklee, toekennings ontvang en publikasies die uiteinde, die (perhaps unintended) consequences, van sy menswees.
Die weefsel van Wilhelm Jordaan se curriculum vitae is sekerlik ten eerste sy diepe verbondenheid aan taal. In “Met dank aan die taal” skryf hy:
Taal
Jy is part en deel van my
Gestel in elke senuwee en sel
Vir my pa was taal:
[Sy] Binnespraak en medeweter
Wat fragmente van [sy] dink
Versamel tot begrip
Hierdie intieme verhouding met taal was ook die poort waardeur hy menswees kon oopskryf vir soveel ander. Betsie besing sy woordtalent so: “Met sy klinkklare woorde en lieflike sinswendinge kon Wilhelm die aardbol op sy pinkie spin, was hy die prettige, pittige, mensige woordenaar. Hy kon name gee aan die fynste nuanses van menslike emosies ver anderkant die verbeelding.”
Hy was vir Betsie, maar ook vele ander die “opskrywer wat mense tot verhaal laat kom het iewers in die verbysterende biblioteek in sy kop”. Oor dekades was daar mense wat vashou aan sy woorde as klein rigtinggewende knipsels in handsakke en gebêre tussen die blaaie van boeke. So lê sy woorde oor die wêreld gestrooi – nie net in handsakke en as boekmerke nie, maar in brose menseharte en gedagtes. Hierin leef hy nimmereindigend voort. Soos Jo van Eeden, met ’n kopknik na my pa se skryfstyl, in ’n boodskap geskryf het, “enso(oneindig)voort”.
Sedert 23 Junie, die dag toe ons pa sy woorde verloor het, het tyd en ruimte vir so baie van ons ingekantel, soos Betsie dit beskryf. Die enormiteit van daardie dag kan baie van ons steeds nie kleinkry nie. Maar in die verskrikking was dit ook ’n rou, bykans heilige tyd, dat ek soos Van Wyk Louw kon vra:
O, Heer, laat hierdie dae heilig word:
Laat alles val wat pronk en sieraad was
of enkel jeug, en ver was van die pyn;
laat ryp word, Heer, laat U wind waai, laat stort
my waan, tot al die hoogheid eindelik vas
en nakend uit my teerder jeug verskyn.
In hierdie weke waar ons tot op die been verinneweer is, was daar ook soveel brose skoonheid. Die broosheid en weerloosheid van my pa, wat so sag en pynlik-mooi was in die laaste tyd, was altyd deel van hom. Miskien dan juis as gevolg van sy eie weerloosheid kon hy diepe begrip en deernis hê met die weerloosheid en menswees van ander, soos verwoord in Herman van Veen se lied “Dat tedere gevoel”:
Ik heb dat tedere gevoel
Voor elke zot, voor elke dwaas
Die buiten ronddaanst
Zonder doel
Die niemands knecht is
Niemands baas
Ik heb dat tedere gevoel
Voor ieder die zich luidkeels uit
Die elk gebaar ervaart als koel
Voor wie zich
Elke kudde sluit
Ik heb dat tedere gevoel
Voor wie zich in een droom verwart
En waar die droom de waarheid tart
Klinkt soms zijn lach net
Iets te hard
Ik heb dat tedere gevoel
Voor elke vrouw, voor elke man
Die in volkomen weerloosheid
Een ander mens
Beminnen kan
En soos hy self oor sy eie weerloosheid geskryf het in sy gedig “Verweer”:
Toe ek kind was in die winter
het ek fiets gery
om die hartseer
uit my lyf te kry.
Het iemand agterna
oor my oë uitgevra
het ek die weer
die wind van voor
blameer.
Pappa, om te sê dat ons nou die wind van voor gekry het is ’n understatement. Hierdie hartseer het diep in ons lywe gaan lê.
Te midde van ons pa se weerloosheid, het hy ook beskik oor ’n lewenskrag waardeur hy pynlike ervarings kon omvorm tot voortdurend verskuiwende begrip en insig – oor homself en ook oor ander. Ek glo dat hierdie lewenskrag gevoed is deur sy hartstogtelike liefde vir hierdie lewe met al sy kante.
My pa het ten diepste die veelkantigheid van die lewe begryp, maar ook die veelkantigheid van mense. Hy het ’n diepe verstaan gehad van en deernis met die mens se dubbelaard. Vir hom het die lig en die donker mekaar nie uitgesluit nie. In sy eie woorde skryf hy: “Donker word ’n voorwaarde om die verlange na lig te begryp; om in die menslike die goddelike moontlikheid te snap.” Miskien daarom dat hy so sonder veroordeling kon leef en ruimtes kon skep waar mense tot sagter begrip en deernis kon kom. Vir hulself en ook vir ander.
Ons dink ook vandag aan dié wat nie meer by ons is nie.
My ma, Jackie Jordaan, wat so groot deel van my pa se lewenspad met hom gedeel het. Saam was hulle die formidabele Jordaan & Jordaan wat derduisende studente van oor die wêreld deur afstandsonderrig bereik het. ’n Gewaardeerde oudkollega van my pa, Freddie Crous, skryf in ’n boodskap: “Van al die inleidende tekste tot die Sielkunde is jou ouers se Mens in konteks dié een wat uitstaan vanweë die oorspronklike aanslag wat hulle gevolg het.” En dan, buiten hulle intellektuele verbintenis, het my pa my ma, in hulle eendersheid en in hulle andersheid, baie liefgehad.
Ek noem ook in liefde die name van sy ouers, Willem Johannes Jordaan en Margaretha Maria Jordaan. My pa het, veral in die laaste jare, baie na hulle verlang. Ons dink ook aan sy suster, Eileen, en sy oudste broer, Kobus, wat ook nie meer hier is nie.
Ons het ook diepe dankbaarheid vir vriende en familie wat deurgaans op allerlei maniere vir ons teenwoordig is. Dankie ook aan elke leser en die honderde mense wat so, sonder voorbehoud, hulle liefde, respek en waardering vir ons pa op verskeie platforms deel.
Danie, ons pa se geliefde boesemvriend. Hy was nie net jou vriendste vriend, soos jy dit noem nie. Jy was ook syne. Dankie vir die 45 jaar wat jy ’n kosbare en lewegewende teenwoordigheid in ons pa se lewe was.
Dankie vir die laaste dae en ure wat jy so digby hom deurgebring het – tot in sy sterwensuur. Die laggie elke keer as jy voor hom verskyn het, het ons so bly gemaak en die diepe, woordlose band tussen julle was so onmiskenbaar teenwoordig.
Dankie ook aan jou en Beatrix vir julle jarelange teenwoordigheid in ons breër familie se lewens. En dan, veral in hierdie tyd, vir die warmte en deernis waarbinne ek by julle kon tuiskom.
Betsie, vir die afgelope vyf jaar het jy en my pa die aandag van mekaar se oë gehad. Soos jy dit self verwoord het: “Om Wilhelm se liefde te kon ken was ’n bietjie hemel op aarde.” En soveel van ons kan met vreugde getuig dat die laaste paar jaar van sy lewe saam met jou vir hom verruklik was. Sy verwondering oor die mens wat jy is, sou nooit eindig nie.
Dankie, Betsie, vir die diepe sorgsaamheid teenoor my pa tot die einde. Dankie vir elke dag wat jy nie weggekyk het van die verskrikking nie, maar aangehou het om, soos jy dit beskryf, “tempeltjies, klein katedraaltjies te bou in julle wêreld wat ’n verlate woestyn geword het”, soekend na die “woorde wat hy so toweragtig kon saambind” wat “versteek en verstrooi iewers in splete en alkowe van die gees gelê het waar jy nie kon kom nie”.
In die woorde van Lize Beekman, wens ek dat ek die swaar en die seer kon beter maak:
As ek kon sou ek wou
Als tussen toe en nou
Wou toeplak in ’n bruin koevert
En dit wegstuur na ’n ander plek
Maak nie saak waar nie, net weg van hier
As ek kon sou ek wou
Als tussen toe en nou
Wat genadeloos aan jou hart raak
Net ongedaan maak
[...] jou deure weer oopgooi vir die son
Ek sou, as ek kon
As ek kon sou ek wou
Als tussen toe en nou
In die see wou gooi en ’n wens maak
Dat jy weer sal heel raak
As ek kon sou ek wou
Ek sou, as ek kon
Liefste Betsie, met verwysing na jou eie liefdevolle woorde, wens ek dat daardie “diepste en verste reis waarop julle vertrek het van hart tot hart” paadjies vanuit die duisternis van die hier en nou vir jou moontlik maak. Mag my pa, wat jy beskryf as “die ewige romantikus wat volhardend bly glo het in die liefde en dit skromeloos besing het”, steeds digby jou bly. Mag jy, soos julle saam gedoen het, jouself weer “heelhartig en vreugdevol oorgee aan die heiligheid van die gewone” en “aanhou om tempeltjies van herinneringe te bou”. Mag die herinneringe aan die “klein oneindige gesprekke waarin julle die heelal self wou inpas” diep by jou bly.
Albertus, dankie vir die plek wat jy vir my pa in jou ma se lewe gemaak het en vir die vriend wat jy, en later ook Zanelle, vir hom geword het. Ek is so bly dat julle in sy lewe was en nou ook in ons lewens is. Dankie vir die lang afstande wat julle na julle werksdag afgelê het om by ons pa en Betsie te wees.
Ook aan Oom Stander, Christelle en klein Lana, dankie vir julle liefdevolle teenwoordigheid in ’n baie swaar tyd.
Aan my pa en Betsie se besondere vriendekring wie se liefde so sag om ons en my pa gevou bly, baie dankie.
Ten slotte dan ’n klein anekdote. Iewers in die verlede moes my pa vir ’n klein, maar baie komplekse operasie gaan. Ek voel sy spanning aan en in die trant van ons eerlike gesprekke met mekaar vra ek hom:
“Is Pappa bang om dood te gaan?”
“Ek is, my kind,” antwoord hy. “Ek wil nog nie sterf nie. Daar is nog so baie dinge wat ek wil doen en beleef.”
Toe ons groet sodat hy na die operasiesaal geneem kan word, het ons vir mekaar gesê: “L’chaim.” Op die lewe. As ons vandag met stukkende harte hierdie geliefde mens se lewe met blydskap vier, sê ek weer vir elkeen van ons: L’chaim.
- Margarethe Booysen, 28 Augustus 2025
Lees ook:


Kommentaar
Saam met vele wat die voorreg gehad het om Wilhelm te leer ken, sê ek dankie vir hierdie wonderlike huldeblyk.
'n Aangrypende huldeblyk van 'n belangrike mens en vriend.
'n Enorme verlies. Persoonlik word sy sober raad gemis. En sy heerlike humor.
Met 'n verstommende belesenheid. My lewe is op soveel vlakke sedert 1987 deur sy aanwesigheid verryk.
Hy was en bly 'n legende, my lekkerlagkliënt wat later 'n vriend geword het. Ek kleef vas aan baie van jou woorde en bewaar jou bundel soos goud.
Ontroerend. Die woorde-talent is oorgeërf.
Is daar groter rykdom as diep verhoudings?
Omgee vir mekaar?
Genade vir mekaar?