’n Huldeblyk aan Hugh Masekela

  • 0

Hugh Masekela (Foto: Tom Beetz - Flickr , CC BY 2.0, Wikimedia Commons)

Die Suid-Afrikaanse trompetspeler, musiekvervaardiger en anti-apartheidsaktivis Hugh Masekela is 23 Januarie oorlede na ’n lang stryd met prostaatkanker. Met meer as 40 albums agter sy naam wat voortspruit uit ’n musiekloopbaan van meer as ses dekades, het Masekela diep spore gelaat in die musiekbedryf in Suid-Afrika sowel as die buiteland.

Masekela is 4 April 1939 gebore en het in Witbank grootgeword. Dit was op skool, by St Peter’s Secondary in Rosettenville, dat hy begin trompet speel het. Daar is ’n pragtige staaltjie oor Masekela se eerste trompet: St Peter’s se skoolhoof, vader Trevor Huddleston, het tydens ’n reis na Amerika fondse gewerf om instrumente aan te skaf vir die skool se nuwe jazzorkes. So het hy ook Louis Armstrong by ’n konsert genader vir ’n bydrae, waarop die befaamde Satchmo geantwoord het dat hy sommer een van sy eie trompette sal skenk. Die ontvanger van hierdie groot gebaar was Hugh Masekela. Die oomblik wanneer Masekela Armstrong se trompet in ontvangs neem, is vasgevang in ’n foto wat op die albumomslag van Still grazing pryk.

Satchmo se trompet het Masekela vergesel tydens sy opgang in die Suid-Afrikaanse jazztoneel van die 1950’s wat gekulmineer het in die album The Jazz Epistles Verse 1, met Abdullah Ibrahim, Jonas Gwangwa en die legendariese saksofoonspeler Kippie Moeketsi. As orkeslid van die King Kong-produksie (wat tans ’n herlewing geniet op die Fugard-teater se planke) het hy in 1960 na Londen gereis. Dit was kort na die Sharpeville-slagting, en die land het nog gesidder van die naskokke – protesoptredes, inhegtenisnemings, die verklaring van ’n noodtoestand en die verbanning van sowel die ANC as die PAC. Die “goue era” (in Lewis Nkosi se woorde) van Suid-Afrikaanse jazz in die 1950’s het tot ’n na-stilstand gestotter met venues wat toemaak omdat ekonomiese voortbestaan dikwels onmoontlik was te midde van apartheidswetgewing wat stywer en stywer getrek is. Individue se bewegings is deur paswette gereguleer, gemengde gehore is nie toegelaat nie en plate is aan sensuur of verbanning onderwerp. ’n Aspirantjazzkunstenaar het die spreekwoordelike glasplafon gou getref. Die opsies was ’n sukkelbestaan in Suid-Afrika, wat baie musikante genoop het om uiteindelik hul instrumente weg te pak, of andersins om na die buiteland uit te wyk.

Met die ondersteuning van Miriam Makeba (met wie hy tussen 1964 en 1966 getroud was) en Harry Belafonte het Hugh Masekela homself in New York gevestig. Sy groot deurbraak het in 1968 gekom met die treffer “Grazing in the grass”, wat vir “Best Pop Performance” benoem is in die Grammy-toekennings. Sukses het gevolg met albums met spitsvondige titels soos Home is where the music is, The boy’s doin’ it en The Americanization of Ooga Booga. In die volgende dekades in die buiteland het Masekela sy eie platemaatskappy begin (Chisa), en saam met onder meer Paul Simon in sy befaamde Graceland-toer en die Nigeriese ikoon Fela Kuti opgetree. Hy was een van die dryfvere agter die Broadway-musiekblyspel Sarafina!, waarvoor hy nog ’n Grammy-benoeming gekry het. Hy het ook by verskeie anti-apartheidskonserte opgetree, waarvan die Nelson Mandela Tribute-konserte in Wembley-stadion (Engeland, 1988 en 1990) seker die bekendstes is. By laasgenoemde was hy deel van ’n lys van kunstenaars wat George Michael, Sting, Stevie Wonder, Dire Straits en Whitney Houston ingesluit het.

In ’n tydperk waartydens uitgesproke weerstand binne Suid-Afrika moeilik en beslis lewensgevaarlik was, was dit belangrik om internasionaal druk te plaas op Suid-Afrika om politiese verandering teweeg te bring. Veldtogte is geloods om die internasionale gemeenskap bewus te maak van die politiese toestande en onderdrukking in Suid-Afrika, en uitgeweke musikante soos Masekela, wat reeds in die internasionale kalklig was, was ideaal geplaas om hierdie rol te vervul.

Masekela het in die middel-’80’s na Botswana teruggekeer, waar hy ’n musiekskool begin het en nou saamgewerk het met die ANC se kultuurgroep die Medu-ensemble (gelei deur Jonas Gwangwa). Met die einde van apartheid in sig, het hy uiteindelik in die vroeë 1990’s teruggekeer na Suid-Afrika, alhoewel hy daarna steeds gereeld na die buiteland gereis het vir opnames en konserte.

Wat sy musiek betref, is dit moeilik om te verwys na “die styl van Hugh Masekela”, want daar was inderwaarheid vele style. Masekela was ’n kunstenaar wat homself gereeld vernuwe het, en daarmee saam het hy ’n oor gehad vir ’n catchy tune en ’n groove wat jou kwalik laat stilstaan. Toe hy op die toneel gekom het in Suid-Afrika in die 1950’s, was sy musiek, soos dié van die meeste Suid-Afrikaanse jazzspelers van die tyd, geïnspireer deur Amerikaanse jazz. Toe hy egter naam gemaak het vir homself in die VSA in die 1960’s, was dit met ’n mengsel van mbaqanga (sogenaamde township jazz) en die Amerikaanse jazz van die tyd, vernaam die musiek van Miles Davis, wat hy bewonder het. In die 1970’s is daar invloede van pop en rock wat in sy musiek deurskemer, terwyl die Afro-funk-klanke van kontinentale Afrika weerklink in sy album met die Ghanese groep Hedzoleh Soundz en sy gewilde weergawe van Fela Kuti se “Lady”. Sy opnames in Botswana in die 1980’s keer egter terug na ’n meer direkte popstyl, wat tot die apartheidstryders van die tyd gespreek het. Liedjies soos “Bring him home” en “Soweto blues” was deel van die klankbaan van die stryd teen apartheid.

Op die verhoog was Masekela ’n kunstenaar met groot charisma en ’n vlymskerp sin vir humor. Hy was ’n “entertainer” in die diepste sin van die woord: hy kon ’n gehoor fyn lees en hul in die palm van sy hand hou. Sy optredes by die Barbican en Southbank Centre in Londen wat ek bygewoon het, het telkens vol sale gelok en het selfs die mees ingetoë Engelse singend en dansend op hul voete gehad teen die einde van die aand. Dis ook daar waar ek verstaan het wat sy internasionale statuur as kunstenaar was. Die foyers voor sy konserte was soos ’n Verenigde Nasies-skemerkelkie, met mense van feitlik elke ouderdomsgroep en agtergrond.

Dat dit vir Masekela belangrik was om sy ervaring terug te ploeg in jong Suid-Afrikaanse talent is duidelik uit sy bekendstelling van opkomende kunstenaars soos Thandiswa Mazwai, asook die blootstelling wat hy gegee het aan die jong lede van sy band tydens optredes. In sy werk as musiekregisseur van produksies soos die onlangse Songs of migration het hy geleenthede geskep vir jong musikante om hul talente te slyp.

Masekela was in wese ’n aktivis. In die eerste drie dekades van sy loopbaan was sy aktivisme teen apartheid op die voorgrond, maar hy het hom ook beywer vir ander sake wat hom na aan die hart gelê het: hy het ’n stigting begin om musikante te help met dwelm- en alkoholverslawing (waarmee hy self vir lang tye geworstel het), en tydens sy eie stryd met prostaatkanker het hy veldtogte van stapel gestuur om mense aan te moedig om hulle vir prostaatkanker te laat toets.

Masekela se lewe is gedokumenteer in sy outobiografie, Still grazing (Crown Uitgewers, 2004), vernoem met verwysing na sy eerste groot treffer. Maar die grootste dokument van ’n merkwaardige kunstenaar wie se kuns nou verband gehou het met ’n seminale periode in Suid-Afrika se geskiedenis, is sy musiek. Ek sluit dus af met ’n speellys wat ’n blik gee op die musikale reis, vele fasette en kunstenaarskap van Hugh Masekela.

1. “Dollar’s moods” – uit die baanbrekeralbum van die Jazz Epistles, Verse 1 (1959). Gepen deur Hugh Masekela, in die bebop-styl van Amerikaanse jazz uit die 1940’s. Abdullah Ibrahim het op daardie stadium nog Dollar Brand geheet.

2. “Grazing in the grass” (1968) – die opname wat Hugh Masekela bekend gemaak het in die VSA, ook benoem vir die 1968 Grammy vir “Best Pop Performance”.

3. Masekela se polities-gelaaide “Stimela” (die eerste keer opgeneem in 1974) is waarskynlik een van sy bekendste liedere. Veral die konsertopnames van “Stimela” (soos hierdie optrede tydens Paul Simon se Graceland-toer in 1987) vertoon wat Hugh Masekela so boeiend gemaak het as verhoogkunstenaar en so effektief as ’n aktivis: sy charisma, en sy fyn aanvoeling vir retoriese effek, die musiek se meesleurende groove en eenvoudige, treffende melodie.

4. Masekela se weergawe van Fela Anikulapo Kuti se “Lady”, uit die Afro-funk-era van die 1970’s.

5. “Soweto blues”, geskryf deur Hugh Masekela en gesing deur Miriam Makeba by die legendariese 1988-Mandela Tribute-konsert (Wembley-stadion, Londen). Masekela speel op hierdie opname die flügelhorn.

6. Die volgende generasie: Thandiswa Mazwai sing “Umhome”, wat bekend gemaak is deur Miriam Makeba, met Hugh Masekela, Lira en Vusi Mahlasela.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top