
Douglas Davis (Foto verskaf)
Dit is met die diepste seer dat ons moes afskeid neem van Douglas D’Barcayce Davis – geliefde en gevierde pa, oupa, eggenoot, kollega en vriend.
Douglas het na ’n skielike, kort siekbed op die ouderdom van 80 heengegaan op Sondag 28 Julie waar hy in Stellenbosch Mediclinic-hospitaal opgeneem is.
As joernalis en nuusredakteur het hy in sy loopbaan ’n groot bydrae gelewer tot die Suid-Afrikaanse mediabedryf, so ook gedurende sy tyd (wat oor vier dekades gestrek het) waar hy werksaam was in openbare betrekkinge aan die Universiteit Stellenbosch.
Douglas, seun van Eerste en Tweede Wêreldoorlog-veteraan, kapt Herbert Augustus, en Robina Davis, is gebore in Johannesburg en het sy kinderjare in Vrede en Villiers, Vrystaat deurgebring – ’n tydperk wat vir hom altyd vreugde en mooi herinneringe opgeroep het (al sou hy graag met kleur vertel dat daardie jare nie maklik was as een van die enigste souties in die Vrystaat nie!).
Douglas het as jong student ná sy Tukkie-opleiding in die nuuskantoor van die SAUK in Johannesburg begin werk in die laat sestigerjare, waar hy met sy boesemvriend, die wyle sanger en liedjieskrywer, Koos du Plessis, ’n woonstel gedeel het.
Daarna was hy in die begin sewentigerjare nuusredakteur in die SAUK se Durbanse nuuskantoor, waar hy ook deeltyds nuus gelees het voordat hy na Oggendblad-koerant as assistent-nuusredakteur onder Harald Pakendorf begin werk het.
In 1975 het hy by die Universiteit Stellenbosch se Departement Ontwikkeling aangesluit. By die US was hy onder meer die universiteit se mediawoordvoerder vir baie jare, het hy in die rektor se kantoor gewerk, en was hoof van publikasies. Hy het ook deeltyds nuus gelees vir Radio Helderberg.
Gedurende sy tyd by die US het hy honderde studente op allerlei vlakke gehelp en gereeld ’n tweede en selfs derde myl saam met hulle gestap. Dit was sy grootste plesier as hy ander mense kon help.
Ná sy aftrede in 2004 het hy steeds betrokke gebly by die US. Sedert 2016 het hy, saam met sy vrou Heloïse, as TV-nuusskrywer- en -samesteller vir die Expresso Morning Show-program op SABC3 opgetree, waar sy dogter Vicky as aanbieder en vervaardiger ook betrokke was. Hy sou altyd spot en sê hy het inderdaad sy loopbaan in ’n SAUK-nuusnagkantoor begin en geëindig!
Daar was min mense so gelief soos Douglas – sy sag en joviale natuur en onmiskenbare sin vir humor en storievertellingvermoë was aansteeklik, en hy het geeneen wat oor sy pad gekom het, onaangeraak gelaat nie. Sy kennis van die geskiedenis, nuus en politiek was merkwaardig en sy liefde vir literatuur en film (veral Westerns en oorlogsdramas) enorm.
Daar was min mense so tweetalig – hy was immers die go-to vir baie as daar ’n Engelse brief geskryf, vertaal of geredigeer moes word, ’n talent wat hy tog toegeskryf het aan die feit dat hy met sy grootwordjare een van die enigste souties in die Vrystaat was…
Douglas word ook veral onthou vir sy roerende bydraes en vertellinge in huldeblyke aan sy vriend Koos du Plessis – mees onlangs in die dokumentêr, En tog die deuntjie draal: die Koos du Plessis verhaal (2021). Vir Koos en hul vriende het hy as “Duif” bekendgestaan, ’n bynaam wat al die jare behoue gebly het.
Hy was die beste pa en oupa en ’n rots van ’n eggenoot. Hy laat vir sy naastes ’n leemte en gemis wat in grootheid nog onwerklik en onverstaanbaar is.
Hy word oorleef deur sy vrou Heloïse, kinders Burt, Linky en Vicky en kleinkinders Alex, Gabby, Josh, Lira en Jean-Luc, plus ’n groot groep fans.
Requiescat in pace. ’n Groot man het geval (6’4 om presies te wees).
*
Details oor ’n gedenkdiens sal in die nabye toekoms deur die familie bekendgemaak word.


Kommentaar
When one man dies one chapter is not torn out of the Book, but translated into a better language.
God employs several translators ...
some are translated by age
some by sickness
some by war
some by justice
but God’s hand is in every translation
(John Donne)
I remember Douglas with enormous affection - his warmth, cheerful willingness to help, and even the slightly cyncal twinkle in his eyes at what he was sometimes asked to do by the Broeders running the university at the time. Heartfelt condolences to Heloïse and Vicky and the rest of the family.