’n Historiese roman, met Gotiese elemente: ’n resensie van Pandora deur Susan Stokes-Chapman

  • 0

...
Volgens die legende van Pandora is sy die eerste menslike vrou wat deur die Griekse gode geskep is – ’n mens kan amper sê die Eva van die antieke Griekse tyd. Sy word geskep deur Hefaistos om Prometheus mee te straf omdat hy vuur van die gode gesteel en dit aan die mens gegee het.
...

Titel: Pandora
Skrywer: Susan Stokes-Chapman
ISBN: 9781787302891
Uitgewer: Penguin

Pandora is ’n historiese roman, maar dit bevat ook Gotiese elemente, wat daarvan ’n lekkerleesboek maak as jy van hierdie twee genres hou. Die boek voer jou terug na die vergange Georgiaanse era, maar dit trek ook die lus stywer met spanningsvolle elemente van ’n mitiese en magiese aard.

Die skrywer, Susan Stokes-Chapman, noem in haar bedankings dat sy die boek in 2020 te midde van die inperkings geskryf het. Volgens haar het haar angs en dikwels lang, eensame tye voor haar rekenaar juis van Pandora die boek gemaak wat dit is.

Die boek skop af in 1799-Londen met sy groot kontras tussen die armes en die rykes, die vuil dokke besmet met menslike afval en die manjifieke villas van die adellikes, sowel as die teenoorgestelde wêrelde van die wetenskap en mites en die magiese sfeer.

Die boek vertel die storie van Dora Blake, wie se argeoloog-ouers tragies sterf as ’n argeologiese opgrawing ineenstort.

Sy bly by haar oom in haar ouers se antiekwinkel, maar onder sy gierige beheer is daar omtrent niks meer van die winkel se outentieke ware en reputasie oor nie. Haar oom verkoop grootliks vervalste ware, maar dan ontdek sy ’n uiters waardevolle en outentieke Griekse vaas in die kelder. Met die hulp van Edward Lawrence, ’n jong man wat oudhede bestudeer, probeer sy om die geheim van hierdie vaas te ontknoop – met allerhande gevolge.

Dora is ’n antiheldin: Sy is nie besonder mooi nie, en hopeloos te slim vir ’n tipies romantiese heldin; en boonop het sy ’n ekster (magpie) as ’n troeteldier. Dora se omgewing, Georgiaanse Londen, is aan die hand van deeglike navorsing deur Stokes-Chapman herskep.

Die werklike historiese gebeurtenis wat sy as beginpunt vir haar roman gebruik, is die aangetekende voorval waar die HMS Colossus gesink het met die diplomaat William Hamilton (wat dan ook ’n karakter in die boek is) se waardevolle versameling antieke Griekse erdewerke aan boord.

Die eintlike hoofkarakter is natuurlik die antieke Pandora-kruik wat in die boek se fiktiewe weergawe aan boord van die Colossus is en wat Dora later in die kelder vind.

Stokes-Chapman wyk af van die tradisionele “Pandora se boks” deur dit ’n kruik te maak. Die rede hiervoor is dat sy tydens haar navorsing afgekom het op teorieë wat daarop dui dat die filosoof Erasmus se voorstelling van ’n Pandora-boks dalk verkeerd is en dat dit heel moontlik eerder ’n kruik is.

Volgens die legende van Pandora is sy die eerste menslike vrou wat deur die Griekse gode geskep is – ’n mens kan amper sê die Eva van die antieke Griekse tyd. Sy word geskep deur Hefaistos om Prometheus mee te straf omdat hy vuur van die gode gesteel en dit aan die mens gegee het. Die gode gee dan geskenke aan Pandora, waaronder ’n groot kruik vol booshede en siektes wat sy onder geen omstandighede mag oopmaak nie. Natuurlik luister Pandora nie na die gode se vermaning nie en lig sy die kruik se deksel op, wat al wat siekte en boosheid is, vrylaat.

Dis nogal ironies, of dalk juis gepas, dat hierdie legende tydens ’n pandemie as tema deur die skrywer gebruik word. Maar anders as die legende, bied die kruik juis ’n oplossing aan Dora. Al wat sy moet doen, is om presies vas te stel wat haar oom se doel met die kruik is, want die kruik bied die sleutel tot haar verlossing.

’n Gotiese, angstige kleur word aan die roman verleen deur ’n moontlike vloek wat oor die karakters hang, die geheimsinnige verskyning van ’n man en die voorbodeagtige gefladder van Dora se ekster. Bene en arms wat afvrot, lyke van grusaam vermoorde mense en die moontlikheid dat Dora se lewe in gevaar verkeer, saam met opbouende passie tussen die stowwerige potte in die kelder, sorg dat Pandora nie ’n vervelige roman is nie.

Gemeet aan die genre, en boonop met die Gotiese geurtjie, sal liefhebbers van historiese spanningsromans  nie teleurgesteld wees nie.

Hier is jou naaste tak van Bargain Books

As jy nie die boek sien nie, vra gerus die personeel om dit te bestel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top