“Mý vader het ’n groot bôrdienghuis,” skryf Breyten Breytenbach in een van sy gedigte. Vandag staan dié huis in die Bolandse dorp Wellington waarin die Breytenbachs gewoon het, se deure oop vir die hele gemeenskap. Die Breytenbach Sentrum is veel meer as ’n kuns-en-kultuursentrum. Die bordienghuis het vir baie minderbevoorregte mense ook ’n veilige hawe van selfontdekking geword.
Alles is die gevolg van ’n saadjie wat jare gelede deur die destydsde onderburgemeester van die dorp, Kobus Victor, tydens ’n toespraak geplant is. Hy het op die ingewing van die oomblik voorgestel dat die Breytenbachs se huis omskep word in ’n lewende monument vir Breyten. Jean Oosthuizen het die uitvoerende bestuurder van die Breytenbach Kultuursentrum, Theo Kemp, uitgevra oor hierdie droom wat waar geword het.
Die Breytenbach Sentrum is die resultaat van ’n lang droom wat waar geword het. Hoe en by wie het die droom ontstaan?
Dit was in die vroeë ’90’s rond toe ’n groep Wellingtonners, onder wie Manie en Winnie Rust, Eugenie Wiggins en Johan Conradie, besef het dat die historiese Grevilleas-gebou in die dorp, wat onder andere ook die losieshuis was wat Breyten Breytenbach se ouers bedryf het, ten gronde gaan. Hulle het die visie gehad dat hierdie gebou gerestoureer moet word en dat dit ’n multidimensionele kultuursentrum kan word, ten bate van die hele gemeenskap. Hulle het met Breyten en die familie gesels, wat dadelik inskiklik was, en met die koop- en restourasieproses begin.
Hierdie plek is destyds letterlik vir tien rand van die Drakenstein Munisipaliteit gekoop! Naspers, die Nasionale Lotery en Johann Rupert het ontsaglik baie beteken om die Breytenbach Sentrum op die been te kry. Die Breytenbach-familie was dit ook van die begin af eens dat die gebou nie oor hulle moes gaan nie, alhoewel dit die naam dra, maar dat die plek vir almal moet wees. Dit is dus nie ’n museum nie, maar ’n sentrum waar ons die kunste onder een dak wil huisves. Dit is interessant, want die gebou se geskiedenis vertel ons dat hierdie plek van die begin af hier is om te akkommodeer en te dien. Dit was sowat 150 jaar gelede gebou as ’n hotel, op ’n stadium was dit ’n daghospitaal, ’n studentehuis en ’n losieshuis.
![]() |
|
Theo Kemp, uitvoerende bestuurder van die Breytenbach Kultuursentrum
|
![]() |
Sulke drome word nie oornag waar nie. Dit moes seker baie tyd, geduld en deursettingsvermoë gekos het om te kom waar julle vandag is?
Ja, dit was inderdaad baie jare se beplanning. Daarvoor sal ek altyd die trustees bewonder, dat hulle nooit moed opgegee het nie. Dit was regtig ’n moeilike pad om te loop, en dit het lank geneem om geld in te win. Toe ek in 2008 hier begin werk het, was die gebou opgeknap, maar was daar nog geen projekte nie. Daar was wel iemand wat die foon geantwoord het. Ek sal nooit vergeet hoe ek in die hitte van die Wellingtonse Februarie hier op die houtvloere gesit en wonder en myself verwonder het, oor wat alles hier moet gebeur nie. Dit was waarskynlik die uitdagendste ding wat ek nog ooit gedoen het – om lewe te help skep en mense te laat inkoop. Daar was van die begin af soveel energie, soveel potensiaal, soveel mense wat werklik omgee om ’n verskil te maak.
Vertel so bietjie iets van die gebou self. Is dit die dieselfde “bôrdienghuis” waaroor Breyten so mooi gedig het?
Ja, dit is. Aan die agterkant van die hoofgebou is die klein teaterkafee vandag, wat ons Die Bordienghuis gedoop het. Hier, vertel ons graag vir besoekers, op die verhoog, was Breyten se slaapkamer!
Dit kos baie geld kos om so ’n projek te finansier. Waar kry julle die nodige fondse vandaan?
Dit is ’n baie moeilike situasie, en ek vermoed die meeste niewinsgewende organisasies is in dieselfde bootjie. Ons moet elke jaar die wiel van vooraf ontwerp en weer en weer vra vir geld. Ons het baie getroue borge, soos Die Dagbreek Trust, LW Hiemstra Trust, Naspers, die Het Jan Marais Nasionale Fonds, die Drakenstein Munisipaliteit, die Wes-Kaapse regering se Departement van Sport en Kultuursake, die Rupert Musiekstigting, Nasionale Kunsteraad en die Distell-stigting. Dis ’n lang lys en ons is baie dankbaar, maar daar is min borge wat vir die oorhoofse kostes – die krag en water – wil betaal! Borge soos die Nasionale Lotery se wiele draai baie stadig. Dus is ons nooit in die gemaksone nie, wat ’n mens dwing om kreatief te dink oor volhoubaarheid!

Die bordienghuis het vir baie minderbevoorregte mense ook ’n veilige hawe van selfontdekking geword.
Vanweë die bouvallige toestand van die gebou was dit aanvanklik nie moontlik om op groot skaal aktiwiteite aan te bied nie. Is die gebou nou al ten volle gerestoureer en watse tipes aktiwiteite bied julle aan?
Die gebou is ten volle gerestoureer, maar soos dit maar is met ou geboue, kort dit voortdurend ’n hand daarop. Ons het, met die groot ondersteuning van die Drakenstein Munisipaliteit, die aangrensende gronde verkry. Hierdie gronde was oorspronklik deel van die sentrum (toe nog Grevilleas-huis), en daar is die mooiste ringmuur om die gronde.
Ons nuwe droom is om hier ’n moderne gebou op te rig – wat uiteraard die ou geboue op die perseel sal komplementeer. In die nuwe gebou wil ons ’n groot teater skep en nog opleidingslokale. Ons bars uit ons nate en kort groter geriewe. Tyd sal leer hoe ons daarby sal uitkom.
Wat is julle grootste aktiwiteite by die Sentrum?
Ons grootste aktiwiteite is op die gebied van bemagtigingswerk. Ons fokus op vaardigheidsontwikkeling in die kunste, met verskeie projekte in die uitvoerende kunste. Ons het onder meer ’n dramagroep wat werk aan ’n poppekas wat na skole en geïsoleerde gemeenskappe geneem word. Ook ’n naaldwerk- en tekstieldrukgroep wat nou voltyds werk aan produkte vir verskeie markte en instansies, soos Kamersvol Geskenke. Dan het ons ’n skryfskool waar Diana Ferrus en Rachelle Greeff klasse aanbied in onderskeidelik die skryf van gedigte, kortverhale en toneelstukke. Dan is hier ’n Wellingtonse jeugorkes wat ons saam met die Kunstekaap op die been gebring het, ’n pottebakkerskursus, leesprojek vir kinders ... So kan ek aangaan.

Die Sentrum se grootste aktiwiteite is op die gebied van bemagtigingswerk. Hulle fokus op vaardigheidsontwikkeling in die kunste.
Daar is ook ’n tweedehandseboekwinkel by die sentrum wat baie gewild is. Hulle sê as mens op soek is na ’n tweedehandse boek wat jy nêrens kan opspoor nie, sal The Book Traders dit vir jou in die hande kry as hulle dit nie self het nie. Hoe gaan dit deesdae met die boekwinkel?
Dit gaan baie goed met The Book Traders – in ’n tyd waarin boekwinkels dalk minder goed doen. Ek dink die geheim is dat hulle pryse regtig baie billik is en dat hulle in versamelingsitems spesialiseer – soos jy sê.
|
Ek sal sterf en na my vader gaan ek sal sterf en na my vader gaan die son sal in die aarde klop vriende, medesterwendes, © Breyten Breytenbach |
Wat kan ’n dagbesoeker aan die Sentrum verwag om te sien?
Ons het ’n kunsgalery waar daar voortdurend nuwe uitstallings is, ’n geskenkwinkel, T-aansluiting-teewinkel met verskeie tees en gebak, ’n digterstuin waar jy tussen malse plante jouself kan verlustig aan Afrikaanse gedigte wat in die tuin opgerig is; die boekwinkel is hier, die teaterkafee (wat meestal net saans oop is). Wellington Toerismekantoor het ook intussen by ons nes kom skrop.
Deel van die Breytenbach Sentrum se visie is kultuur as basiese bousteen van volledige menswees. Hoe vestig julle hierdie waarde en hoe leef julle dit in die praktyk uit?
Ons glo dat die blootstelling aan kultuur- en kunsaktiwiteite jou horisonne noodwendig verbreed. Ons wil die veelvlakkigheid van die kunste hier bevorder, dat mense op dieselfde manier vermaak word as wat hulle kreatief oopgestel word. Hoe ook al, ons wil niemand ooit onaangeraak by ons deure laat uitstap nie.
Julle bied ook unieke kultuurprogramme aan om individue, groepe en gemeenskappe te bemagtig. Vertel so ’n bietjie meer.
Ons bied opleiding aan in die kunste, vir jongmense en volwassenes, uit meestal armkansige gemeenskappe. Ons glo nie dat ons deur ons skryf-, drama-, visuelekunste- en musiekprojekte noodwendig van mense grootse kunstenaars gaan maak nie. Dit gebeur ook uiteraard, maar wat ons sien gebeur, is dat daar op ’n dieper vlak ’n ontsluiting plaasvind van wie die werklike ek is.
Bedoel jy dit is meer as net opleiding in die kunste?
Dit klink alles so esoteries, maar as jy mense blootstel aan ’n diverse groep – mense wat almal besig is met aktiwiteite waaraan hulle nie voorheen blootgestel was nie – gebeur daar iets. Die kunste is dus ’n voertuig dikwels om by iets anders uit te kom. Ons fasiliteerders is knap mense wat moet ma en pa speel, sielkundige en vriend.

Die Breytenbach Sentrum wil ’n neutrale, maar ook koesterende, omgewing skep waarin almal die vryheid het om hulself te kan uitdruk in die taal van hul harte.
Dit klink vir my na baie meer as net opleiding en kunsbemagtiging. Eerder na ’n bordienghuis weg van die huis waar mense veilig kan voel.
Die lyne tussen kunsbemagtiging en die sosio-ekonomiese ellende waarmee jy te doen kry, is bitter dun. Wat maak jy as een van die vroue in jou kunsklas met dikgeslaande oë kom sit? Of kinders wat kom leer lief raak vir boeke, vertel dat hulle verkrag word? As jy aandag gee aan mense, en hulle begin vertrou, kom dinge los wat andersins nie sou gebeur het nie. Dit gaan oor omgee en uiteindelik ontdek mense hulle talent, wat hoop gee om los te breek en kop op te lig.
Dit moet seker ’n lekker ervaring wees om te beleef hoe mense hulleself ontdek?
Dit is sekerlik die lekkerste ervaring om te beleef. En dit gaan nie oor ons wat oulik is nie, ons fasiliteer net. Dit gaan oor die individu wat gekies het om uit totale wanhoop, hoop te skep. Daar is nie baie wat dit kan regkry nie. Baie mense verloor jy weer, hulle sak terug, na intense opleiding van ’n jaar lank. Ons glo nie aan groot getalle bereik nie; ons wil ’n pad stap met individue wat werklik ’n onblusbare wil het. Dit is hulle wat my helde is. Daar is ook nooit ’n einde aan die onvoorspelbare nie. Deel van al ons projekte is om die deelnemers te neem na plekke – baie van hulle was nog nooit buite Wellington nie. Ons neem byvoorbeeld die dramaskool na groot teaters toe. Ek sal nooit vergeet hoe ons een keer met groot opwinding die groep geneem het om ’n film te gaan kyk nie. Ons het gedink die film gaan hulle koppe oopblaas – wat dit wel gedoen het. Maar die groot “treat” was toe eintlik om op en af op die roltrappe te gaan! Goed wat ons as vanselfsprekend aanvaar.

Die kunsgalery, waar daar voortdurend nuwe uitstallings is.
Met ander woorde, dit is eintlik ’n multidissiplinêre kultuursentrum wat beeldende kunste, musiek, drama en skryfkuns insluit en selfs meer? Dit is nogal omvattend. Hoe groot is julle personeel en hoe hou julle by?
Ons is maar ’n bietjie van ’n one-horse town. Ons is drie vaste personeellede – ek as uitvoerende bestuurder, Olivia Ockhuis, kantoorbestuurder en ontvangs, asook Petronella Eprahim, wat die opsigter is. Ons het darem ’n boekhouer, Jeanne-Mari Gerber, en algemene assistent, Sune, wat op ad hoc-basis werk. Maar dan het ons fantastiese fasiliteerders wat die onderskeie projekte aanbied.
Vryheid van spraak is ook een van julle waardes. Ons leef in ’n tyd waar spraakvryheid dikwels onder druk is. Hoe belangrik is vryheid van spraak vir die Sentrum en waarom is juis dit een van julle waardes?
Ons wil ’n neutrale, maar ook koesterende, omgewing skep waarin almal die vryheid het om hulself te kan uitdruk in die taal van hul harte. Die enigste reël is dat dit nooit sonder respek vir die ander mag gebeur nie. Al is gesprekke soms hoe ongemaklik, moet ons meer praat. Ons is in vennootskap met PEN Afrikaans, en ons beplan juis vir vanjaar ’n reeks gesprekke waarin ons openhartige diskoers wil moontlik maak.
Iemand het by geleentheid gesê Wellington is die bes-bewaarde geheim. Het julle enige spesifieke bewusmakingsprogramme om die “geheim” te deel en meer mense na die dorp te lok?
Dit is absoluut so. Wellington is nog ’n ware Bolandse dorpie wat nog nie uitgelewer is aan kommersiële ontwikkelings en dies meer nie. Hier is niks blink gepoets nie; die wynplase het almal so ’n outydse sjarme, mooiste natuur, lekker mense. Hier is ook nie net Afrikaanse mense nie; dit is regtig nogal ’n geïntegreerde dorp. En die prokureur en die mechanic kan saam ’n dop in die teaterkafee kom drink – dit vind jy nie maklik elders nie! Die toerismekantoor doen baie om mense te lok; ons het byvoorbeeld die Oesfees wat mense trek. Ons probeer ook met projekte soos die Tuin van Digters-fees wat mense van elders lok. Maar die geheim kan maar nog ’n bietjie bewaar bly ook!
Die Breytenbach-kinders is, behalwe Breyten self, almal interessante mense. Tot watter mate was hulle by die projek betrokke en het julle nog kontak met hulle?
Die trustakte van die Breytenbach Trust bepaal dat daar altyd ’n Breytenbach op die raad moet wees. Tans is dit Cloete en Rachel, Breyten se broer en suster. Hulle was van die begin af almal baie positief oor die idee om ’n kultuursentrum te begin, maar meng regtig nie in in die besluite wat geneem word of is betrokke by ons aktiwiteite nie. Dit is wel wonderlik dat hulle die projek ondersteun en almal lief is om hier te kom rondloop en hul grootwordhuis te onthou.

Deel van die Breytenbach Sentrum se visie is kultuur as basiese bousteen van volledige menswees.
Wat is op die oomblik julle grootste behoeftes en is daar nog nuwe drome in die pyplyn?
Geld is ons grootste behoefte, uiteraard! Hoe meer befondsing, hoe meer kan ons doen. Ons droom daarvan om ’n nuwe gebou op die perseel op te rig. Ek droom ook daarvan om ’n model te skep om nog kultuursentrums soos hierdie in die land te kan oprig. Kan jy jou voorstel hoeveel mense bereik sal kan word, hoeveel kulturele ontwikkeling sal plaasvind? Ek glo dat sulke sentrums ’n baie groot behoefte is – veral op die platteland waar daar min blootstelling is.
- Besoek die Breytenbach Sentrum se webwerf vir meer inligting en nuus oor die jongste aktiwiteite wat daar aangebied word: www.breytenbachsentrum.co.za, of volg hulle op Facebook www.facebook.com/BreytenbachSentrum of twitter www.twitter.com/BreytenbachSent.
- Foto's deur Charl du Preez (www.inheritancemg.com) en Madelie Coetzee (www.blackballoonphotography.com)



