’n “Fratsongeluk” is selde regtig ’n “frats”

  • 0

jutalaw600

Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik.  Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskikking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za

 

’n Mens hoor dikwels dat iemand sê dat so en so beseer is (of selfs gedood is) in ’n "fratsongeluk". Gewoonlik word dan bedoel dat die persoon op ’n baie sonderlinge manier beseer of gedood is.

Die reg erken nie juis so iets soos ’n fratsongeluk nie. Indien ’n persoon in só ’n tipe ongeluk beseer of gedood is, sal daar gewoonlik geen skadevergoedingseis wees nie, en sal die eeue oue beginsel geld dat die skade rus waar dit val.

Baie van die sogenaamde fratsongelukke beland uiteindelik tog wel in ons howe sodat besluit kan word of daar tog nie maar êrens in die ketting van gebeurtenisse iemand was wat in een of ander opsig nalatig was nie.

’n Goeie voorbeeld is die saak van Grobler v Santamversekering. Die hooggeregshof in Pretoria het gedurende die winter van 1994 in dié interessante saak uitspraak gelewer.1

’n Sekere mnr Stubbs het vroegoggend, terwyl dit nog donker was, tussen die destydse Pietersburg (nou Polokwane) en Louis Trichardt (deesdae Makhado) gereis. Ongeveer 12 km van Polokwane af het hy teen ’n rondloperperd gebots.

Aangesien mnr Stubbs nie by die regterdeur van sy voertuig kon uitklim nie – dit is ernstig in die botsing beskadig – het hy ’n werknemer wat saam met hom in die voertuig was gevra om te gaan kyk wat met die perd gebeur het. Die handlanger het teruggekom en gesê dat die perd dood is. Hy het ook vir mnr Stubbs vertel dat daar vier voetgangers langs die pad was en op sy voorstel het Stubbs vir hom R5 (darem ook nie kléingeld in 1994 nie!) gegee om hulle te vra om die perd van die pad te verwyder. Die vier vreemdelinge het vir Stubbs se werknemer belowe dat hul die perd uit die pad sou verwyder, maar hulle het dit nooit gedoen nie. Mnr Stubbs het self niks verder gedoen nie: Hy het – waarskynlik dik die duiwel in – eenvoudig aangery en nie eens die botsing aan die polisie in Polokwane gerapporteer nie.

Ongeveer ’n halfuur later het ’n ander voertuig, bestuur deur ene mnr Van der Bergh, teen die dooie perd gebots. Mnr Van der Bergh se passasier, mnr Grobler, is ernstig in die botsing beseer. Grobler het daarna ’n derdeparty-eis teen Santamversekering – as agent van die Padongelukfonds – ingestel waarin hy meer as R200 000 aan skadevergoeding geëis het. (In vandag se geldwaarde is 1994 se R200 000 – nes die R5-fooitjie vir die vier vreemdelinge – natuurlik heelwat méér.)

Ten einde met ’n derdeparty-eis te kan slaag moet die eiser onder meer bewys dat sy liggaamlike beserings, in die woorde van die betrokke wet“veroorsaak is deur of voortgevloei het uit die bestuur” van ’n motorvoertuig, asook dat die beserings te wyte is aan dienalatigheid van die persoon wat die motorvoertuig bestuur het.

Sien jy die probleem? Ten einde te kon slaag met sy eis moes mnr Grobler bewys dat mnr Stubbs nie alleen nalatig was nie, maar dat Grobler se beserings voortgevloei het uit die bestuur van Stubbs se voertuig!

Die regter wat die saak verhoor het, het eerstens ondersoek ingestel na laasgenoemde vraag, met ander woorde of Grobler se beserings voortgevloei het uit die bestuur van Stubbs se voertuig.

Die regter het verskeie hofuitsprake oor die begrip "voortvloei uit die bestuur van ’n voertuig" ondersoek. Onder meer het hy verwys na ’n appèlhofuitspraak2 van ’n paar jaar vantevore waar die hof bevind het dat selfs in die geval van onberispelike bestuur van ’n motorvoertuig iemand se besering of dood daaruit kan voortvloei, byvoorbeeld as gevolg van ’n wiel wat uitval. As die uitval van die wiel aan die nalatigheid van die eienaar van die voertuig te wyte is – hy het byvoorbeeld nie die wiel behoorlik vasgebout nie – is die derdepartyversekeraar van die betrokke voertuig tog aanspreeklik, ondanks die feit dat die voertuig op ’n onberispelike manier bestuur is. Dit is so omdat die dood of besering van iemand immers voortgevloei het uit die bestuur van die voertuig.

Die regter was dus tevrede dat die feit dat die dooie perd in die pad was, voortgevloei het uit die bestuur van Stubbs se voertuig.

Nou moes die hof ondersoek instel na die tweede been van die vraag, en dit is naamlik of Stubbs nalatig was. Die partye was dit eens dat hy nie nalatig was toe sy voertuig teen die perd gebots het nie. Sy nalatigheid was egter dáárin geleë dat hy versuim het om ’n potensieel gevaarlike voorwerp van die padoppervlak te verwyder. (Jy onthou mos dat hy R5 aangebied het aan vier vreemdelinge om die perd uit die pad te sleep, maar nie toegesien het dat hulle dit wel doen nie.)

Die hof het uiteindelik bevind dat sónder die bestuur van die versekerde voertuig deur mnr Stubbs die perd nie in die pad sou gelê het nie. Mnr Grobler se beserings het voortgevloei uit die bestuur van Stubbs se voertuig, en laastens was die beserings wat Grobler opgedoen het te wyte aan die nalatigheid van Stubbs deurdat laasgenoemde versuim het om die perd uit die pad te sleep of te laat sleep.

Grobler se eis van meer as R200 000 teen die agent van die Padongelukfonds is gevolglik deur die hof toegestaan.

1 Grobler v Santamversekering Beperk 1996(2) SA 643 (TPA)

2 Santamversekeringsmaatskappy Bpk v Kemp 1971(3) SA 305 (A)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top