’n Fenisiese omvaart om die Kaap in die 6de eeu vóór Christus

  • 1

Die antieke mens van die Middellandse seegebied, Egiptenaar, Pers, Arabier, Griek en Romein kon nooit oor land ’n weg vind na Sentraal en Suidelike Afrika nie. Die magtige Sahara [Arabies să’hā-ră, wat “woestyn” beteken], by verre die grootste woestyn in die wêreld met ’n oppervlakte van 8 400 000 vierkante kilometer, het hulle vir eeue lank gekeer. Hulle moes lank gewonder het waar die water van die seisoenale vloede van die Nyl in Benede-Egipte vandaan gekom het. Ons weet vandag dat die Nyl ’n samevloeiing by Khartoem in die Soedan is van die Wit Nyl (wat in die Albert en Victoria Mere in Uganda ontspring), en die Blou Nyl (wat uit Ethiopië kom). Die Nyl, op sigself, is weer die langste rivier (6 671 kilometer) in die wêreld. Die oorsprong van die Nyl het vir eeue lank vir die antieke mens ’n raaisel gebly. Daar is selfs gemeen dat dit in die Ooste sy oorsprong gehad het (waar dit by die Indus in Indië sou kon aangesluit het).

Homerus (9de eeu voor Christus) het die Nyl geken as ho Aíguptos, en Egipte self as hê Aíguptos – met die manlike bepaalde lidwoord in die eerste geval, en die vroulike vorm daarvan in die tweede geval. Hesiodos (ook ’n vroeë Griekse digter van 8ste eeu voor Christus) was die eerste Griek om hierdie rivier ho Neîlos te noem uit die Arabiese naam Bahr el Nil. Kambuses, die Persiese koning, het tot sover Suid in die Nyl gekom as by Koroska teen 525 vC. Die vroeë Griekse geskiedskrywer Herodotos het van die Nyl niks kon rapporteer verder Suid as Meroë nie, dws nog ver duskant die samevloeiing van die Wit en Blou Nyl by Khartoem. En niemand kon ’n verklaring bied vir die someroorstromings van hierdie magtige rivier in die Egiptiese Delta nie. Die oud-Griekse vóór-Sokratiese natuurfilosoof Anaxagoras het geraai dat dit die gevolg was van sneeu wat hoër op ten Suide in “Libië”(Afrika) elke keer gesmelt het.  

In (die Bybelse) mitologiese tye, was die vier riviere wat in die Tuin van Eden (dit is die Paradys < Persies paridaeza) in die OT Genesis-verhaal (Genesis 2:11-14) sou ontspring het, benoem as die Gihon, Pison, Hiddekel (Assiries Idiklat, Persies Tigra vir Tigris) en die Frat/Eufraat (< oud-Persies Oefrata, Grieks Euphrtatês), en daar is selfs gemeen dat die Gihon met die Nyl in die land Kus, dit is Ethiopië, geïdentifiseer moes word. Maar dit was later eerder as ’n verlenging van die Indus in Indië beskou. Alexander die Grote, met sy oorwinningstogte van die laat-4de eeu voor Christus in die Ooste, het dit egter finaal as verkeerd bewys. Ek kan ook hier net opmerk dat Friedrich Delitzsch (Wo lag das Paradies?) reeds in 1881 tot die gevolgtrekking gekom het dat die OT Paradys sowat 100 kilometer Suid van die Swart See gelê het – ’n lappie aarde waar daar deesdae meedoënloos oorlog gevoer word.

Juba, koning van Numidië, en later Mauritanië in Noord-Afrika, het aan die einde van die eerste eeu voor Christus nog gemeen dat die Nyl weer uit die Weste kom, en uiteindelik wel uit die Atlas-gebergte in die teenswoordige Marokko. Daarvandaan sou dit Ooswaarts ondergronds gevloei het totdat dit, na ’n lang stroming onder die woestynsand deur, in Oos-Sudan na die oppervlakte gekom het. Dit sou ook die oasisse (uit Grieks óasis, soos by Herodotus, ’n Egiptiese leenwoord vir ’n waterfontein in die woestyn) in die Suidelike Sahara-woestyn kon verklaar het waar die water na die oppervlakte geborrel het.

Ontdekkingsreisigers onder die Romeinse keiser Nero het wel gevorder tot by die samevloeiing van die Wit en Blou Nyl. In 100 AD het ’n sekere Diogenes (vgl Ptolemaios, Geographiká 1.9.3-4) vanaf die Oos-Afrikaanse kus gerapporteer dat daar na die binneland sneeubedekte “Berge van die Maan” twee mere vul, waaruit die Nyl sou ontspring het. En dít was sekerlik die hedendaagse Albert en Victoria Mere in Uganda: vgl hier EH Warminton, Greek Geography (1934) en H Berger, Geschichte der wissenschaftlichen Erdkunde der Griechen (2de uitg, 1903). Maar die hart van Sentraal-Afrika en Suider Afrika het nog ’n donker en geslote boek gebly.

Die antwoord van hierdie antieke raaisel lê waarskynlik opgesluit in Herodotus (ong 480-425 vC) se “Geskiedenis van die Persiese Oorloë”(4.42), deur JPJ van Rensburg vertaal as “Die Ooste teen die Weste” (wat eers 20 jaar na sy dood uitgegee is deur Hans Kirsten Uitgewery, Menlopark, 1994). Ons lees hier dat koning Nekos [Egiptiese Neku II, of eerder Wehimbre Nekao], die seun van Psamatichos [Psammatik] wat in 612 vC koning van Egipte geword het (hy sterf in 596 vC) ’n kanaal laat grawe het om die Nyl met die Arabiese Golf te verbind. Dit was, kan ons net hier opmerk, die einste koning Psamatichos, so vertel Herodotus ons ook, wat “eksperimenteel” bewys het dat die Frigies van Klein-Asië die oudste taal in die wêreld sou wees. Hy het naamlik twee kinders sedert hul geboorte afgesonder om te kan hoor met watter woord hulle die eerste voor die dag sou kom. Dit was toe die Frigiese woord “bekos”, wat in Frigies “brood/kos” beteken, toe hulle om kos by hulle bewaarders gevra het. Nietemin, die kanaalprojek waarna verwys is, was deur sy seun Nekos aangepak. Hierdie was ’n projek wat Seti I en Ramses II reeds vroeër ook wou onderneem het. Koning Nekos het egter dié onderneming ook al gou laat vaar toe ’n orakel (waarvan Herodotus nie melding maak nie) hom gewaarsku het dat hy daarmee die pad sou oopmaak vir die intog van ’n “barbaarse veroweraar” (waarskynlik uit die Ooste). Hy stuur toe maar eerder ’n groepie Fenisiese (Libanese) seevaarders, bekend vir hulle seilvernuf, wat by hom in diens was, met vragbote om ’n Periplus (uit die Griekse perìploos, dws “omvaart”) van Afrika te onderneem. Ons kan vandag nogal hierdie gegewe heel aanvaarbaar rekonstrueer. Herodotus (in sy aangehaalde passasie) sê hier: “Dit is duidelik dat Libië (dit is Afrika) deur water omring word , behalwe so veel daarvan as wat aan Asië grens”. Nekos het die Fenisiese seelui opdrag gegee om op hulle terugtog deur die Pilare van Herakles (tussen Calpe en Abyla, Marokko en Spanje, wat die Middellandse See met die Atlantiese Oseaan verbind) te vaar om só weer in die Noordelik Middellandse See by Egipte uit te kom. In sy vertelling spring Herodotus die resultaat van hul vaart hier egter vooruit. Herodotus vertel dat die Fenisiërs toe van die Rooi See af vertrek het en oor die Suidelike see gevaar het. So dikwels as dit herfs geword het, het hulle gereeld aan land gegaan en gesaai, waar in Libië (dws Afrika) hulle ook al elke keer aangekom het; en dat hulle dan gereeld eers vir die oes gewag het. En as hulle die koring geoes het, het hulle weer voortgevaar, sodat hulle, na verloop van twee jaar, in die derde jaar die draai regs, by die Pilare van Herakles (vandag die straat van Gibraltar) gemaak het om weer in Egipte aan te kom. “En,” sê Herodotus (sien JPJ van Rensburg se vertaling van Herodotus, p 212), “hulle het vertel – ek glo dit nie, maar iemand anders kan dalk! – dat hulle die son toe aan die regterkant gehad het toe hulle óm Libië (Afrika) gevaar het.” Natuurlik sou Herodotus dit nie kon glo nie want, soos die Jode in die Ou Testament dit ook gehad het, was die aarde vir hom nog plat (gegrondves op sy grondveste/pilare, Psalm 104:5). Selfs die groot Alexandrynse sterrekundige Claudius Ptolemaeus het in die tweede eeu AD nog hierdie siening gehandhaaf. Dit was eers Johannes Kepler en Nicolaus Copernicus wat in die 15de eeu sou bewys dat die aarde rond is, om sy eie as draai, en dit deel uitmaak van ’n heliosentriese, en nie geosentriese, heelal nie.

Die argumente wat aangevoer kan word dat hierdie vaart om Afrika deur Nekos se Fenisiese seelui, en derhalwe om Kaap die Goeie Hoop, wel kon plaasgevind het, is die volgende: (1) Die vaart was lank genoeg – tot in die derde jaar; (2) Die strominge, en veral die Suidelike passaatwinde was gunstig daarvoor – soos ook vir latere skeepvaart om die Kaap; (3) Herodotus se eie notering, naamlik dat die Fenisiërs die Pilare van Herakles, by die Westelike toegang tot die Middellandse See, op pad (terug) na Egipte, “die son aan die regterkant gehad het” bevestig juis die wonder van hul omvaart (wat hulle helaas self nie besef het nie) wat plaasgevind het; (4) Die vaart was vir plaaslike praktiese redes aanvanklik onderneem, en wel om die pad oop te stel tussen die Middellandse seebekken en die Rooi See – die weg van die Suezkanaal van vandag. Toe hulle met die Arabiese See afgevaar het moes hulle dus die son aan hulle linkerkant sien opkom het. Eduard Meyer, in sy Geschichte des Altertums, vol iii p 60, twyfel nie aan hierdie rekonstruksie nie. JH Thiel, De vaart om de Zuid in de Oudheid (Brussel, 1948, oordruk uit L’Antiquité Classique, tomus XVII: Miscellanea Philologica, Historica et Archaelogica in honorem Huberti Van De Weert) het hierdie gebeurtenis ook in enige detail uitgewerk.

Volgens die antieke geograwe kon/het hierdie omvaart nie plaasgevind nie. Aristoteles (Meteorologia 2.1.353) was van mening dat daar nie ’n see rondom Afrika (Libië) gevloei het nie, en dat dit eerder deel van Asië was. Posidonius (135-51 vC), laaste groot wetenskaplike van die Griekse Ou Wêreld (vgl Michael Rostovtzeff), het, volgens Strabo (98), dié omvaart verwerp net soos Strabo self (wat ook ’n groot geograaf was). Polubios (3.37) het dit eweneens nie aanvaar nie. Maar dit alles sê vir ons vandag niks. Hulle oordele was op totale onkunde gegrond; dit het Kepler en Copernicus ons later bewys.

Ons moet derhalwe tot die gevolgtrekking kom dat die Kaap reeds in die 6de eeu voor Christus deur Fenisiese seevaarders besoek is. En dat hulle dalk in die Swartland ook koring kon gesaai het met saad wat hulle al die pad saamgebring, of langs die pad geoes het. Dit was dus meer as 20 eeue voordat Jan van Riebeeck en sy opvolgers in 1652 AD vanuit Textel in Holland hier geland het om ’n halfwegstasie vir handel met die Ooste te stig.

Herodotus het ons van hierdie Periplus in sy groot “Geskiedenis” van nege boekdele vertel eers 120 jaar nadat dit plaasgevind het – al het hy dit self nie geglo nie. Reeds toe was daar al ’n neteldoek getrek oor die merkwaardige prestasie van die Fenisiese seevaarders. Hulle het met hulle vernuf seë aangedurf waarvoor ander nie kans gesien het nie. Ons is vandag oneindig dankbaar dat Herodotus ons hierdie “apokriewe” storie vertel het waarin hy self nie geglo het nie. Hy kon dit net so goed as té naïef verswyg het, want hy het wel probeer om wetenskaplik te skryf, al was dit wydlopig. Ons kan maar gerus vandag hierdie bladsy in ons geskiedenisboeke inskryf.

In 1906 is twee papirusfragmente aan die Franse Académie voorgelê wat hierdie omvaart sou herdenk. Berlynse Egiptoloë het dit egter as vervalsings verwerp. Tog, die tradisie bly.

In sy “Lewe van Alexander die Grote” vertel Ploutrachos (uit te spreek as Ploetarchos) ons dat Alexander ook gemeen het dat as hy vanaf die monding van die Indus in Indië met ’n kortpad terug sou wou keer na Macedonië, hy om Suidelike Afrika (die ou Libië) sou moes vaar in plaas van weer oor land terug te trek.

Eratosthenes van Cirene, wat Zenodotos opgevolg het as hoof van die groot Alexandrynse Biblioteek teen die tweede helfte van die 3de eeu voor Christus, groot geograaf wat hy was, het selfs gemeen dat die landmassa van Afrika (Libië) nie verder sou strek as Kaap Hoorn nie. Tog het hy destyds bitter na aan die korrekte berekening van die omtrek van die “bolvormige” aarde gekom. Nadat hy uitgevind het dat die son op die middag van die somersonstilstand vertikaal by Suene (die teenswoordige Aswan) in Egipte skyn, het hy die hoekafstand van die son van Alexandrië op dieselfde middag gemeet, en gevind dat dit een-vytigste van ’n sirkel is. Deur die afstand tussen Suene en Alexandrië, wat hy op 5 000 stadia gestel het, met 50 te vermenigvuldig (om die sirkel te voltooi), het hy bereken dat die omtrek  van die aarde 250 000 stadia moes wees, ’n syfer wat hy later, op grond van meer akkurate metings, tot 252 000 stadia vermeerder het – dws slegs 200 myl uit op die hedendaagse korrekte meting.

Daar moes eers lank gewag word om (eweneens histories) werklik die suidpunt van Afrika te omseil. Bartholomeu Diaz het die Kaap eers op 12 Maart 1488 bereik, en daarmee die seeroete na Indië en die Verre Ooste oopgestel. Die hart van Afrika is eers so onlangs as teen die einde van die 19de eeu deur Europeërs soos John Hanning Speke, David Livingstone en Henry Morton Stanley bereik in ’n poging om die oorsprong van die Nyl te vind – juis die langste rivier in die wêreld.

Interessant is dat die naam van hierdie eens donker kontinent, naamlik “Afrika”, etimologies  af te lei is as “die land sonder wapens” – die land wat nie oorlog maak nie. Die Romeine het dié naam van ons kontinent Afrika geërf by die Karthagers en wel deur die Griekse vorm darvan, naamlik hê Áfrikê, waar die “a/A” dan ’n alpha-privativum vorm, soos by A-fer , “wat nie [wapens] dra (‘ferro’)” nie ,“wat nie oorlogsugtig is nie”: vgl. Lewis & Short, A Latin Dictionary (Oxford, 1989, sub voces).

  • 1

Kommentaar

  • Ek is verheugd om ‘n artikel oor hierdie onderwerp in Afrikaans te vind. Te dikwels is soortgelyke inligting slegs in ander tale beskikbaar. Ook die inligting dat Herodotus in Afrikaans beskikbaar is, is vir my ‘n aangename verassing.
    Daar is egter ‘n paar vlooie om te vang.
    “Volgens die antieke geograwe kon/het hierdie omvaart nie plaasgevind nie. Aristoteles (Meteorologia 2.1.353) was van mening dat daar nie ’n see rondom Afrika (Libië) gevloei het nie, en dat dit eerder deel van Asië was. Posidonius (135-51 vC), laaste groot wetenskaplike van die Griekse Ou Wêreld (vgl Michael Rostovtzeff), het, volgens Strabo (98), dié omvaart verwerp net soos Strabo self (wat ook ’n groot geograaf was). Polubios (3.37) het dit eweneens nie aanvaar nie. Maar dit alles sê vir ons vandag niks. Hulle oordele was op totale onkunde gegrond; dit het Kepler en Copernicus ons later bewys.”
    In wat volg verwys ek na JO Thompson se Classical Atlas, Everyman, Dent & Sons (1966).
    Ek is nie seker dat die verwysing na Kepler en Copernicus die saak verder voer nie: Of Afrika omseil is of nie, hang tog nie daarvan af of die wêreld rond is, of die middelpunt van die heelal is nie. Daar is wel ook kaarte van Hecataeus (500 vC) en selfs Heredotus wat toon dat ten minste sommige van die wyshere van toeka ‘n see suid van Afrika gewys het (p1 & p2).
    Ek dink dit word ook dikwels oorgesien dat daar wel persone uit die antieke geskiedenis was wat geglo het dat die aarde ‘n bol is. Die artikel self verwys na Eratosthenes:
    “Eratosthenes van Cirene [gebore 276 vC], wat Zenodotos opgevolg het as hoof van die groot Alexandrynse Biblioteek teen die tweede helfte van die derde eeu voor Christus, groot geograaf wat hy was, het selfs gemeen dat die landmassa van Afrika (Libië) nie verder sou strek as Kaap Hoorn nie. Tog het hy destyds bitter na aan die korrekte berekening van die omtrek van die “bolvormige” aarde gekom.”
    Die noem van ‘n bolvormige aarde skyn Kepler en Copernicus vooruit te loop. Sy berekeninge was slegs 200 myl te kort (p xxxi).
    Selfs nog vroeër is Anaximander (p xxiii) – 600 vC. Sy aarde was weliswaar ‘n “pillar-drum” wat in die middel van die heelal geswaai het (p xxiv).
    Daar was die ook wat die aarde as ‘n plat (of “slightly concave”) skyf gesien het (ibid).
    Aristoteles meld dat Pythagoras (of sy volgelinge) in sowat 500 vC die aarde as ‘n bol beskou het wat saam met ander liggame in sirkels om ‘n vuur beweeg het (p xxv). Hy self aanvaar die aarde as ‘n bol (p xxvi). Sy aarde is nog die middelpunt van die heelal.
    Plato se skrywes gee gewig aan die idee van die aarde as ‘n bol sentraal in die heelal (ibid). Eudoxus van Cnidus (370 vC) beskryf ook ‘n stelsel van bolle. Sy syfer vir die omtrek van die aarde (400 000 stades) was miskien die eerste sodanige syfer (p xxvi).
    Archimedes noem dat iemand (miskien Dicaearchus) ‘n nuwe berekening vir die omtrek van die aarde het (300 000 stades) (p xxx). Dit mag ook wees dat die persoon Aristarchus van Samos was. Die persoon se aarde het om die son beweeg.
    Dit is so dat al hierdie goeie werk, soos beskryf, nie algemeen bekend was nie, maar die stoïsyne (Stoics), ten minste, het die aarde as ‘n bol aanvaar (p xxxii).Die stoïsyn Posidonius het ook die aarde se omtrek bereken (p xxxv) – nie baie akkuraat nie.
    Cicero verwys in sy skrywes na die Crates se aardbol (p xxxvi). Ook Strabo aanvaar Eratosthenes se werk (en by implikasie seker die aarde as ‘n bol) (p Xl). Ptolemy verduidelik hoe om die aarde op ‘n bol te wys (pxlii).
    Die opkoms van Christendom dra by dat die idee van die aarde as ‘n bol ondergrawe word (p xlviii) en ons is terug by ‘n plat skyf (p xlviii).
    Daar was ook feitlike bewyse aangevoer deur bv Aristoteles, dat die aarde ‘n bol is. (p xxvi)

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top