’n Fees vir Adam Small: Pniël se tafels was vol gedek

  • 0

Oor Pniël bestaan daar ’n meningsverskil wat seker nooit opgeklaar sal word nie. Naamlik: hoe spreek ’n mens dié naam uit? Is dit Pniél of Pe-niël? Wat egter ’n feit is, is dat dit “die aangesig van God” beteken. En waaroor geen mens sal verskil nie, is dat dit ’n gepaste naam is vir die verruklik-mooi, idillies-rustige plek is; ’n dorp-in-’n-borrel, skynbaar magies beskerm van die wêreld se gejaagheid; en hier is die newels van besoedeling én misdaad ooglopend afwesig. Breyten Breytenbach, wat daar rondloop in rooi skoene en ’n cerisepienk langbroek, glo ook so en sê ook so. Waaragtig, die goedheid vloei sommer deur die dorp; jy baai sommer daarin soos ’n gloed direk van Bo. Mense groet mekaar vriendelik en spontaan en noem mekaar “oom” en “tannie”; selfs vreemdelinge word so aangespreek. En jy dink magtag, kan die hele Suid-Afrika nie hier kom leer hoe om te wéés nie?

By hierdie Bolandse dorpie is vanjaar sy eerste boekefees aangebied en het feesgangers van Vrydag 24 Februarie tot Sondag 26 Februarie rondgedrentel tussen die Congregational Kerk, die saal langsaan, die museum en sy ontspanningsareas, insluitende die Stegmann-tuin en teekamer, en die Dwarsrivier-toerismesaal in die munisipale kompleks, waar ook praatjies gehou is. Altesaam 32 sulke items is aangebied, oor ’n wye spektrum van onderwerpe, maar hoofsaaklik is op Adam Small gefokus, dalk die grootste bruin Bolandse boorling – hoewel hy sekerlik nie daardie onderskeid sou wou tref nie – oorspronklik van Wellington. Dit was regtig asof sy rustige, sagmoedige self daar was, goedkeurend, om gade te slaan hoe mense van verskillende gemeenskappe wat Afrikaans in al sy tongvalle koester, byeengekom het soos hy dit altyd wou hê.

Darryl David

Ek self het al ’n hele paar maal na Pniël gekom – dis immers skaars 20 minute se ry van my huis af langs Bottelary en oor Helshoogte, en altyd ’n plesier, veral om met Matthew Cyster, Pniël se voorvat-yster en die man wat saam met Darryl David verantwoordelik is vir die fees, te kuier. Hy het my vroeg vanjaar al oorgenooi en ons het onder die bome by die teekamer langs die museum gesit en praat oor feeste en boeke en Pniël se potensiaal om so ’n geleentheid suksesvol aan te bied. Darryl David, voormalige dosent in Afrikaans en bekende feesorganiseerder, het met die idee na Matthew gekom. En nie lank daarna nie, was dit ook sulke tyd en het hy dinge “op die grond” aan die gang gekry, terwyl Darryl, wat in KwaZulu-Natal woon en werk, met sy aansienlike ervaring van boekfeeste ’n paar groot name ingekatrol het om te kom deelneem. Mense wat direkte bande met Adam Small gehad het, soos Hein Willemse, Michael de Cordeur en Steward van Wyk, Braam de Vries, Breyten Breytenbach, Wium van Zyl, Etienne van Heerden, Daniel Hugo, asook Willie Bester en Amanda Botha, almal mense wat Small as persoon geken het en/of sy werk ken. ’n Formidabele lys, en Darryl verdien groot applous vir wat hy in so ’n kort tydperk kon vermag.

Saam met Breytenbach en sy vrou Yolande het Albie Sachs en Helen Zille op informele wyse skouers geskuur met “gewone” mense en handtekeninge uitgedeel saam met opmerkings oor die weer, herinneringe uit die struggletyd of raad vir die toekoms, meestal polities gesproke. Die meeste van hierdie samesyn het in die ruimte rondom die museum plaasgevind en die personeel en vrywilligers uit die gemeenskap het reggestaan om verversings aan te bied. In die voorportaal van die museum was boeke te koop en ek kon ’n eksemplaar van Leap year (Penguin, 2011-uitgawe) daar kry, spotgoedkoop en dit boonop deur die outeur, Etienne van Heerden, laat teken.

Maar meer oor die program en wat daar bespreek is. Nadat Leon Klate, die plaaslike leraar wat ook oral te sien was om hand by te sit, die verrigtinge om nege-uur Vrydagoggend geopen het, was die eerste item aan bod, naamlik ’n dokumentêr oor Small aangebied deur sy ou vriend en mede-Sestiger Braam de Vries. Kunstenaar Willie Bester het toe oor sy vormingsjare en sy werk as skilder en beeldhouer gepraat, oor sy stryd om ’n eie identiteit en sin vir selfwaarde te bekom, gerugsteun met visuele materiaal van sy werk en werkplek. Willie se storie het die aanwesiges aangegryp en baie van hulle kon hul vereenselwig met sy worsteling as iemand wat ’n eie stem moes ontwikkel, hoewel Willie se omstandighede in Montagu tog van dié van Pniël verskil het in die opsig dat die Pniël-gemeeenskap ’n besonder hegte samesyn en eiewaarde het, as’t ware een groot familie is, al sedert die dorp in 1843 as ’n sendingstasie gestig is – hier het die kerk waaragtig wonderlike werk gedoen en dis inspirerend om te sien hoe steeds op daardie fondament gebou word.

En so het die eerste segment van die fees dan afgeskop. Eers het Janet Hodgson, Jolyn Philips en Diana Ferrus hulle praatjies gelewer oor kuns en literatuur. Ná middagete was Wium van Zyl, Menán van Heerden, Daniel Hugo en Gaireyah Fredericks onderskeidelik aan die beurt oor Small se werk en die taal wat hy sy lewe lank liefgehad en bevorder het. Juis daarop het die sprekers almal nadruk gelê. En dat Kaaps ’n taal op sy eie is, en Small het meer as enigiemand anders daaroor geskryf, en ook daarin geskryf. Ek het Loit Sols se sanguitvoering van getoonsette digkuns as afsluiting van die dag se verrigtinge misgeloop, tot my spyt – ek hoor dit was uitstekend.

Saterdagoggend kom ek weer vervaard oor Helshoogte – iemand het my kat se stert in ’n deur vasgeslaan en die gevolglike amputasie het komplikasies tot gevolg gehad. So, van die veearts na die fees, en ek mis toe onder andere Hein Willemse se praatjie oor Small en dié se verbondenheid met die Kaapse Vlakte, en land op die stertkant van Roger Field se lesing oor Alex la Guma wat in die kerksaal aangebied is.

Daarna het Michael de Cordeur oor die bundel Ons kom van vêr (Naledi, 2016), wat hy en Wannie Carstens saamgestel het, gepraat. Die boek bestaan uit bydraes oor bruin Afrikaanssprekendes se rol en ontwikkeling van Afrikaans – so sê die voorblad onomwonde. Hulle voorsien ’n tweede boek, want nou is die sluise oop en die mense wil skryf; in ’n tydperk van droogte is daar ’n massa woorde van lankal af al opgedam.

Toe migreer ons almal oor die pad na die teetuin, waar André Brink se weduwee (die Sestigers raak nou min, maar ’n paar, soos De Vries, Breytenbach, Etienne Britz en Fanie Olivier is nog hier in lewende lywe), Karina Szczurek, met Rachel Zadok en Bongani Kona gepraat het wat saam met haar betrokke is by projekte wat aan Afrika-skrywers stemme gee, soos die boek Migrations: new short fiction from Africa (New Internationalist, 2017), wat ook hier bespreek is. Direk daarna, terwyl ’n stewige bries lafenis gebring het, het Darryl David met Etienne van Heerden gepraat oor sake soos die ontstaan en werking van LitNet en die invloed van die snelveranderende tegnologie – van die geskrewe woord (grafosfeer) na die beeld-era (videosfeer), van briewe in koerante na die sosiale-media-fase, waar Jan en San Allemens aanbevelings uitdeel, nie meer aangestelde kenners/meningsvormers nie. Hierdie nuwe wêreld, sê die uitgetrede professor, is beide uitdagend en opwindend.

Nadat Shirmoney Rhode ons vergas het met voorlesings uit haar digbundel Nomme 20 Delphistraat, het almal eers produkte uit die Bolandse spens geniet – smaaklike wyn, vrugte, groente, vleis – om reg te wees vir ’n gesprek tussen Kirby van der Merwe en Suzette Myburgh oor die kuns van vertaling. En toe was dit Daniel Hugo, die digter met die fluweelstem en self ’n uitstaande vertaler, se beurt om oor die poësie van onder meer Dirk Opperman te gesels.

Gedurende die res van die dag was daar besprekings van hoofsaaklik Adam Small se werke, terwyl Sharlene Swartz en Tom Dreyer ook interessante lesings gelewer het.

Kort voor lank was die son anderkant die berg en het die feesgangers eers koers gekry na hulle oornagplekke, maar met die vooruitsig van nog ’n dag vol woorde en beelde wat wag.

Sondagoggend is ek vroeg daar. Dis nogmaals ’n helder sonskyndag, en tydelik word bekommernisse van waterskaarste saam met ander onheilighede soos SARS wat wag en dalk ’n spoedkaartjie of twee in my geval, opsy geskuif. Nege-uur is ons weer daar. Die verrigtinge begin in die Dwarsrivier-toerismesaal by die munisipale kompleks, so 200 treë van die museum af. Eers is dit tyd vir Steward van Wyk, kenner van Adam Small se werk, om sy lesingsvaardighede ten toon te stel, en hy doen dit ook uitstekend. So vra iemand wat beteken “sjibbolet” (verwysend na Small se bundel Sê Sjibbolet van 1963) en die professor verduidelik dadelik dat dit ’n soort wagwoord uit die Bybelse tyd was: as jy dit korrek kon uitspreek was jy ’n local ou, anders, ’n spioen, en is jy tereggestel. Korrekte uitspraak was dus ’n saak van lewe en dood – amper soos of jy Afrikaans of Kaaps praat, wit of bruin mag wees – vir sommiges is dit allerbelangriks.

Steward van Wyk

Terwyl hy praat, sien ek Darryl loer kort-kort oor sy skouer en toe die volgende spreker opdaag, sê hy ook dat hy bekommerd was dié sou laat kom – “dié” is Carel van der Merwe met sy reeds bekende boek Donker stroom (Tafelberg, 2015) in die hand. Hy vertel ook sommer so uit die vuis van sy spoorvat van Eugène Marais, van sy aanvanklike planne om ’n roman te skryf wat verander het omdat feite toe vreemder as fiksie was, van mites en ikoonskeppings – by name die enigmatiese Marais self, Percy “Jock of the Bushveld” FitzPatrick en Paul (ook maar lekker korrup gewees) Kruger. Helaas, so het volke helde nodig, veral in onseker tye, en veel later word hulle dan ontmasker en afgebring tot mensgrootte.

Darryl David, feesinisieerder extraordinaire, het toe vertel oor sy drie fotoboeke wat etlike van die mooiste kerke in die land insluit, hoe hy en sy vriend Philippe Menache gestoei het oor wie se foto’s geplaas sou word en hulle stryd om uitgewers te vind, asook hoe hy soms se lewe gewaag het om daardie één foto van ’n kerk iewers in die boendoes te kry.

Ek self was volgende, hasie-in-die-kalklig, om te vertel van my jeugroman Een teen Adamastor (Pearson, 2013), wat oor slawerny in die 1800’s handel, en by Pniël se eie ontstaansgeskiedenis aansluit.

Die program het skielik in ’n hoër rat oorgeskakel, want die volgende item was in die kerk teen die heuwel, die laaste een voor middagete en met niemand anders nie as Helen Zille, Wes-Kaapse premier wat met Darryl David in gesprek sou wees.

Die kerk het vinnig vol geraak – ons moes net wag dat die ware kerkgangers uitkom, nadat hulle ’n oesdiens gehou het – ’n uitstalling van plaaslike vrugte het op die verhoog gepryk, ’n kleurvolle, geurige agtergrond vir die praatjie – en Darryl het die ys gebreek met die stelling dat “Zille dalk nie kan dans nie, maar sy kan skryf ”, wat deur die aanwesiges, Helen Zille self ook, geniet is. Sy het saamgestem dat haar joernalistieke opleiding haar as politikus help vorm het, maar dat haar ontembare geaardheid al van tienerdae af gemaak het dat sy eendag haar eie pad sou vind en volg.

Sy het vertel van die vreemde wyse waarop sy burgemeester van Kaapstad geword het, dat sy al dagga gerook het, van haar man die individualistiese akademikus, van FW de Klerk se rol in die huidige politieke bestel, oor onrealistiese grondeise, en dat sy nog ’n boek beplan. Sy het ook op patrone in menslike gedrag gewys: dat die geskiedenis homself herhaal – die ou Natte het ras as hefboom vir hulle aspirasies gebruik en so maak die huidige regering ook. Waar sommige dinge nou slegter is as tevore, is daar ander wat beter is, reken sy, en daarom het sy altyd hoop.

Helen Zille en Darryl David

Middagete was weer langs die teekamer, feestelik soos dit die Boland betaam, maar wat ook op die Franse of Italiaanse platteland kon wees: die atmosfeer en milieu kon inderdaad beskrywings so reg uit Peter Mayle se A year in Provence of Under the Tuscan sun deur Frances Mayes wees – jy moet inderdaad sinies verby wees om nie die romantiek van die okkasie te geniet nie. Ek het inderdaad so lekker gekuier dat ek vergeet het om me Zille te vra om my eksemplaar van haar boek te teken.

Die Stegmann-tuin

Nietemin, daar was nog drie sprekers wat die fees sou afrond: Breyten Breytenbach, Albie Sachs en John Matisonn – en nadat Matthew Cyster die bedankings, met tradisionele Pniël-geskenke van blomme en vrugte afgehandel het, was dit sulke tyd. ’n Hoogtepunt in die geskiedenis van die historiese Pniël is dus op ’n hoë noot afgesluit en menige feesganger is daar weg met die vaste vertroue dat hulle volgende jaar weer so vermaak sal word. En hoekom nie? Die geskiedenis is mos veronderstel om homself te herhaal.

Met die terugryslag verbeel ek my dat ek ’n skraal man met ’n spierwit krulkop in my truspieël sien. Miskien het Adam Small vir ’n langnaweek afgekom aarde toe, om sy vingers deur die rooi grond te trek en die soepel klanke van ’n meerstemmige taal op die windjie te hoor. “Pniël, Piniël, Pniél,” klink dit op, en dan lag iemand sag – en roep: “Sê, sê, sê ... sê sjibbolet!”

Ek trek af en kyk om. Niks. En ek wonder skielik: Kry ’n mens kaalgatperskes in die hemel?

Foto's: Francois Verster

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top