|
Opsomming
Hierdie artikel lewer verslag oor ’n studie wat onderneem is oor die evaluering van die Pharos Junior Tweetalige Skoolwoordeboek aan die hand van die Departement van Basiese Onderwys (2011) se Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (KABV). Dié woordeboek is in 2018 vrygestel en dui op die voorblad aan dat dit “KABV-geskik is vir Laerskool”. Die doel van die artikel is om te kyk hoe ’n tweetalige skoolwoordeboek kan help met die aanleer van Afrikaans as addisionele taal vir graad 4- tot 6-leerders. Om hierdie doel te kan bereik, moet die volgende navorsingsvrae beantwoord word. Die eerste navorsingsvraag is, “Watter vereistes word deur die KABV gestel ten opsigte van die gebruik van ’n tweetalige woordeboek vir die leer en onderrig van Afrikaans as Eerste Addisionele Taal vir graad 4 tot 6?” Die tweede navorsingsvraag is, “In watter mate voldoen die Pharos Junior Tweetalige Skoolwoordeboek aan bogenoemde vereistes wat deur die KABV gestel is?” Alhoewel daar telkemale na ’n woordeboek in die KABV-dokument verwys word en dit ook as kernleermateriaal gesien word, word daar nie na ’n spesifieke woordeboek verwys wat in addisioneletaalklaskamers gebruik moet word nie. Dit sal sekerlik voordelig wees om ’n spesifieke woordeboek vir laerskoolleerders aan te beveel. Die onderwyser kan dan seker wees dat die woordeboek wat tydens lesse geraadpleeg word, wel aan die KABV-vereistes voldoen. Die kans is beter dat leerders makliker met ’n woordeboek wat op hulle ouderdomsgroep gemik is, sal kan werk, aangesien dit aan die vereistes van laerskoolleerders voldoen. Ek ondersoek dus of Pharos wel aan die KABV-vereistes voldoen en daarom geskik is vir laerskool-addisioneletaalleerders. ’n Kwalitatiewe beskrywende navorsingsontwerp met dokumentontleding as die metodologie is gebruik om die navorsingsvrae te beantwoord. Met behulp van dokumentontleding is ondersoek ingestel na die vereistes wat in die KABV-dokument gestel is oor die aanleer van Afrikaans as Eerste Addisionele Taal – met die fokus op die senior primêre fase (graad 4 tot 6). Hierdie Pharos-woordeboek is met behulp van inhoudsontleding ondersoek om vas te stel of dit wel voldoen aan die vereistes wat in die KABV-dokument genoem word. Die hoofbevinding is dat hierdie woordeboek wel voldoen aan die vereistes wat in die KABV gestel word en dit is dus ’n geskikte woordeboek vir laerskool-addisioneletaalleerders. Daar sal ook ten slotte ’n lesplan vir onderwysers voorgestel word oor hoe om woordeboeke aan leerders in die klaskamer bekend te stel.
Trefwoorde: Afrikaans as Eerste Addisionele Taal (EAT); dokumentontleding; inhoudsontleding; Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (KABV); Pharos Junior Tweetalige Skoolwoordeboek; senior primêre fase; tweetalige woordeboek
Abstract
An evaluation of the Pharos Junior Bilingual Dictionary according to CAPS requirements
This article reports on the evaluation of the Pharos Junior Bilingual Dictionary based on the Department of Basic Education’s (DBE) Curriculum and Assessment Policy Statement (CAPS). The CAPS document was released in 2011. The Pharos Dictionary was released in 2018 and indicates on the cover page that it is “CAPS suited for Primary School”. The aim of this article is therefore to answer the following questions, “What requirements are stated in the CAPS document regarding the use of a bilingual dictionary for learning and teaching Afrikaans as a First Additional Language?” and “To what extent does the Pharos Junior Bilingual Dictionary fulfil the requirements of the CAPS document?”
Although the use of a dictionary is mentioned numerous times in the CAPS document and is also seen as core learning material for school learners, there is no reference to a specific dictionary that is needed in an additional language classroom. My opinion is that it would be beneficial to recommend a specific dictionary to primary school additional language learners. By doing this, the teacher can be sure that the dictionary that is consulted during lessons does fulfil the requirements of the CAPS document. It would be more likely that the learners will be able to use this dictionary with greater ease, as it meets the requirements of the CAPS document. I am therefore researching whether this Pharos Dictionary meets the requirements set in the CAPS document and whether it is suited for primary school additional language learners.
This study makes use of a qualitative descriptive methodology. With document analysis, an investigation is launched into the requirements stated in the CAPS document with regard to the learning of Afrikaans as a first additional language (FAL). The focus of this study will be on the language learning of senior intermediate phase learners (Grades 4–6). Thereafter, the Pharos Dictionary is studied through content analysis to determine whether this dictionary meets the requirements set in the CAPS document.
The CAPS document can be seen as a guideline for teachers that they can use to plan their content for class lessons. There are four sets of skills according to which an Afrikaans EAT curriculum must be planned: listening and speaking, reading and viewing, writing and presenting, and language structures and conventions.
According to the CAPS document, a dictionary is needed to capture the order of the alphabet, the spelling of certain words and the meaning of difficult words, and to expand the vocabulary of the learners. The use of a dictionary in a classroom will make learners more confident in using a dictionary in the future and it will also promote a dictionary culture among the learners in the classroom.
The Pharos Dictionary states that it primarily focuses on primary school learners (Grades 4 to 7). It is, however, not limited to this group of learners, as home language learners and older learners will also benefit from using this dictionary, which contains 5 000 words in their most recent form. This is to ensure that when learners use the dictionary, they are introduced to words as they are used in everyday life. The user guide of the dictionary gives a step-by-step directive to show the user how the dictionary works. It also lists all the elements that appear in the dictionary. These elements are linguistic elements such as homonyms, homophones, syllables, intensive form, cross-referencing, keywords, word families, abbreviations, collective nouns, and example sentences.
One of the requirements mentioned in the CAPS regarding language learning is that a dictionary should primarily help learners to capture the order of the alphabet. The words in Pharos are presented alphabetically. This presentation contributes to learners being able to grasp the alphabet system, as required by CAPS. CAPS further requires that learners must consult a dictionary if they are unsure about the spelling of certain words. Pharos mentions that the dictionary contains information boxes with grammatical and language usage tips, which offer learners the opportunity to eliminate confusion between words. Pharos also presents example sentences in the dictionary articles to show learners in which context the word can be used. This helps learners to understand the meaning of an unknown word, as well as experiencing the context in which this word would be used. The learners’ vocabulary is therefore improved by mastering unfamiliar words. An improved vocabulary is another requirement set by the CAPS document. The CAPS document suggests that each learner sets up his/her own dictionary in Grade 4 and continues to supplement it until Grade 6. This can help to create and establish a dictionary culture among the learners. By creating their own dictionary, learners learn how a dictionary works, how to work with a dictionary and to enhance their dictionary skills. The learner will be able to use the dictionary with ease in the future, as he/she knows how a dictionary works.
From the analysis of the Pharos Dictionary, it is clear that the dictionary is an excellent resource for learners in an EAT classroom. The dictionary offers the user a well-structured user guide that ensures that all the elements that may appear in a dictionary article are described. The main finding is that the Pharos Dictionary meets the requirements set out in the CAPS document. This dictionary is suitable for primary school Afrikaans first additional language learners.
A lesson plan that teachers can use is also presented. This lesson plan aims to contribute to introducing dictionaries to primary school learners in the classroom. This plan was developed according to the task-based approach, which consists of a pre-task, a task cycle and post-task (Willis 1996:155). The lesson consists of an introduction and a discussion of the different types of dictionaries, a practical exercise and then a short discussion to make sure that the learners understand what they have learned. In the last part of the article, a conclusion is provided as to whether the Pharos Dictionary does meet the CAPS requirements regarding language learning for Afrikaans EAT for Grades 4 to 6 learners.
Keywords: Afrikaans First Additional Language (FAL); bilingual dictionary; content analysis; Curriculum and Assessment Policy Statement (CAPS); document analysis; Pharos Junior Bilingual Dictionary; senior primary phase
1. Inleiding
Leerders in Suid-Afrikaanse skole word sterk aangemoedig om Afrikaans as addisionele taal aan te leer, aangesien dit een van Suid-Afrika se elf amptelike tale is en dit sodoende meertaligheid en suksesvolle kommunikasie bevorder (Adendorff 2017:499).
Die artikel lewer verslag oor ’n studie wat deur (Brewis 2023) onderneem is. Die doel is om te kyk hoe ’n tweetalige skoolwoordeboek kan help met die aanleer van Afrikaans as addisionele taal vir graad 4- tot 6-leerders. Ek het die Pharos Junior Tweetalige Skoolwoordeboek (voorts afgekort as Pharos-woordeboek) ondersoek en gekyk of dit aan die Departement van Basiese Onderwys (DBO) se Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (KABV) se vereistes ten opsigte van die aanleer van Afrikaans as addisionele taal voldoen. Ek het juis op hierdie woordeboek besluit omdat dit in 2018 gepubliseer is en omdat dit ’n onlangse en relevante woordeboek is om te ondersoek. Hierdie woordeboek verklaar ook op die voorblad dat dit “KABV-geskik vir Laerskool” is. Ek wou gevolglik, as deel van my ondersoek, vasstel of hierdie woordeboek wel aan die KABV-vereistes voldoen of nie.
In die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel word die term addisionele taal gebruik wanneer daar ’n taal aangeleer word wat nie die huis-/moedertaal van die leerder is nie. In die KABV word die term huistaal gebruik as die taal wat die leerder eerste verwerf. Adendorff (2017:501) beweer dat ’n eerste addisionele taal (EAT) die taal is wat ná die huistaal verwerf word. Dit is belangrik dat die EAT optimaal aangeleer word, aangesien baie leerders hulle EAT wil gebruik as hulle taal van onderrig en hierdie taal dus bydra tot die leerders se akademiese taalvaardigheidsvlak. ’n Tweede addisionele taal (TAT) is die derde of vreemde taal wat die leerder kan verwerf – dikwels met die doel om sy/haar meertaligheid te verbeter. Die kans is goed dat die leerder geen kennis van dié taal het nie. Hierdie TAT word gewoonlik net aangeleer vir kommunikasiedoeleindes in ’n gemeenskap en dra dus by tot leerders se basiese interpersoonlike kommunikasievaardigheidsvlak (Adendorff 2017:501). In hierdie artikel word die term addisionele taal gebruik, aangesien dit die term is wat in die KABV gebruik word en omdat die doel van die artikel is om te kyk hoe ’n tweetalige skoolwoordeboek kan help met die aanleer van Afrikaans as addisionele taal.
Volgens Carstens (1995:106) is daar nie genoegsame navorsing gedoen oor die effek wat woordeboeke op taalaanleer kan hê nie en die situasie het waarskynlik sedertdien nie verander nie. Nie net is woordeboeke voordelig vir taalvaardighede nie; dit lewer aldus Claassen (2015:1) ’n groot bydrae tot die taalverwerwingsproses. Carstens (1995:114) is van mening dat woordeboeke een van die kernbronne is wat gebruik word om ’n nuwe taal aan te leer, maar die bron kan nie benut word nie indien ’n leerder nie weet hoe om met ’n woordeboek te werk nie. Dit is om hierdie rede belangrik dat leerders vroeg genoeg leer hoe woordeboeke werk om sodoende die nodige woordeboekvaardighede te kan toepas.
Die KABV-dokument vir Afrikaans Eerste Addisionele Taal (EAT) graad 4 tot 6, wat ook bekendstaan as die senior primêre fase, gebruik by verskeie geleenthede die term woordeboek. ’n Woordeboek word in hierdie dokument (DBO 2011:15) as een van die kernleermateriale ten opsigte van taalaanleer beskou. Die vraag ontstaan of leerders wel woordeboeke tydens klasse gebruik. Ek vermoed dat leerders nie altyd woordeboeke gebruik nie omdat hulle nie weet hoe om daarmee te werk nie en omdat daar nie geleentheid tydens lesse vir woordeboekgebruik geskep word nie. Die onderwyser speel in hierdie verband ’n belangrike rol. Indien die onderwyser nie tyd maak vir woordeboekgebruik in klasse nie, sal leerders nie weet hoe om ’n woordeboek te gebruik nie, of dit nie wil raadpleeg indien hulle onseker is oor die spelling of die betekenis van ’n woord nie. Sodoende sal ’n woordeboekkultuur ook nie in die klaskamer heers nie.
Die doel van hierdie artikel is om te bepaal hoe ’n tweetalige skoolwoordeboek kan help met die aanleer van Afrikaans as EAT vir graad 4- tot 6-leerders. In die artikel word die algemene kenmerke en vereistes van tweetalige woordeboeke genoem. Daarna word die vereistes wat die KABV ten opsigte van taalaanleer stel, bespreek. Die KABV word deur middel van ’n dokumentontleding ondersoek, om sodoende vas te stel wat vereis word vir die aanleer van Afrikaans as EAT by leerders in die senior primêre fase (graad 4 tot 6). Met hierdie dokumentontleding word daar gepoog om die eerste navorsingsvraag te beantwoord: “Watter vereistes word deur die KABV gestel ten opsigte van die gebruik van ’n tweetalige woordeboek vir die leer en onderrig van Afrikaans as Eerste Addisionele Taal vir graad 4 tot 6?” Daar word ook gekyk na die Pharos-woordeboek om vas te stel of dit eerstens geskik is vir laerskool- EAT-leerders, en tweedens of dit voldoen aan die vereistes wat deur die KABV gestel word ten opsigte van taalaanleer.
Vervolgens word die Pharos-woordeboek deur middel van inhoudsontleding ondersoek. Hierdie ondersoek poog om vas te stel watter elemente wat in die KABV vereis word, wel in dié woordeboek voorkom. Hiermee word gepoog om die tweede navorsingsvraag te beantwoord: “In watter mate voldoen die Pharos-woordeboek aan die bogenoemde vereistes wat deur die KABV gestel is?”
Laastens word daar ook ’n lesplan vir onderwysers aangebied wat handel oor hoe om woordeboeke aan leerders in die klaskamer bekend te stel. Die lesplan is uitgewerk volgens die taakgebaseerde benadering, wat bestaan uit ’n pretaak, taaksiklus en taalfokus (Willis 1996:155). Die lesplan bestaan uit ’n bekendstelling en ’n bespreking van die verskillende soorte woordeboeke, ’n praktiese oefening en dan ’n kort bespreking om seker te maak die leerders verstaan wat hulle geleer het. In die laaste gedeelte van die artikel word ’n gevolgtrekking verskaf oor of die Pharos-woordeboek wél voldoen aan die KABV se vereistes ten opsigte van taalaanleer vir Afrikaans EAT vir graad 4 tot 6-leerders.
2. Metodologie
’n Kwalitatiewe beskrywende navorsingsontwerp word in hierdie artikel gebruik om ’n omvattende beskrywing van die KABV-dokument sowel as van die Pharos-woordeboek te verskaf. ’n Kwalitatiewe beskrywende metode is volgens Nassaji (2015:129) ’n versameling data vanaf verskeie bronne om sodoende ’n dieper begrip oor sekere verskynsels te hê. Die doel van die metode is aldus Lambert en Lambert (2012:225, 256) om ’n omvattende beskrywing van die data te kan gee. Sekere teorieë in die veld van leksikografie word verken, beskryf en verklaar.
’n Dokumentontleding word as metode gebruik vir die ontleding van die KABV. Die dokument word noukeurig ontleed en hierdeur word bepaal watter vereistes in die KABV gestel word ten opsigte van die aanleer van Afrikaans as Eerste Addisionele Taal in die senior primêre fase (graad 4 tot 6-leerders). Vervolgens is inhoudsontleding gebruik om te ondersoek of die Pharos-woordeboek ’n geskikte woordeboek vir laerskool- EAT-leerders van Afrikaans is. Daardeur word gepoog om vas te stel of die Pharos-woordeboek wel aan die vereistes ten opsigte van taalaanleer voldoen.
Voorts ontwerp ek ’n lesplan wat aan onderwysers voorgestel kan word ter vestiging van ’n woordeboekkultuur in klaskamers, veral in Afrikaans-addisioneletaalklasse. Hierdie navorsing en voorstelling is praktykgerigte navorsing, aangesien die les die potensiaal het om die taalonderrigpraktyk te verbeter deur ’n woordeboekkultuur in addisioneletaalklasse te skep.
3. Tweetalige (skool)woordeboeke
Tarp (2011:221) definieer pedagogiese woordeboeke as ’n soort woordeboek wat spesifiek ontwerp is om leerders met taalaanleer en ander verwante taalaspekte te help. Volgens Burger (2020:16) kan tweetalige woordeboeke as pedagogiese woordeboeke gesien word. Die primêre funksie van ’n tweetalige woordeboek is om vir een taal (brontaal) ’n vertaalekwivalent1 in ander tale (doeltaal) te voorsien (Gouws en Prinsloo 2005:52). Deur vertaalekwivalente vir sekere woorde in ’n ander taal te soek, vind daar blootstelling aan ander tale plaas (Gouws en Prinsloo 2005:53). Die doel van ’n tweetalige woordeboek is om as ’n soort ondersteuningsmateriaal vir tweede- of vreemdetaalaanleerders2 te dien (Burger 2020:29). Tweetalige woordeboeke kan gevolglik gebruik word vir die aanleer van ’n addisionele taal.
Die term skoolwoordeboek word deur Tarp en Gouws (2010:469) gedefinieer as enige woordeboek wat spesifiek saamgestel is om in skole gebruik te word. Die doel van hierdie woordeboek moet wees om hulp te verleen vir die aanleer van ’n nuwe taal of vakgebied, of net bloot die vaslegging van ’n huistaal. Koen (2008:35) noem dat woordeboeke vanaf ’n jong ouderdom aan leerders bekendgestel moet word om sodoende hulle woordeboekvaardighede in ’n vroeë stadium te ontwikkel. Volgens Van der Merwe (2009:298) moet dit reeds tydens die grondslagfase (graad 1–3) bekendgestel word. Vir Claassen (2015:81) is dit noodsaaklik vir woordeboekgebruikers om opleiding te ontvang oor hoe om met ’n woordeboek te werk. Gebruikers moet ook die nodige vaardighede ten opsigte van spesifieke woordeboeke aanleer, om sodoende presies te weet hoe om die woordeboek te raadpleeg.
Woordeboekvaardighede sluit aldus Koen (2008:35) die vermoë in wat leerders aanleer om te alfabetiseer, om gidswoorde te gebruik en om woorde in ’n woordeboek te kan naslaan, in. Leerders wat weet hoe die alfabetstelsel werk, sal die naslaanstelsel gemaklik en effektief kan gebruik. Volgens Van der Merwe (2012:364) kan woordeboekvaardighede leerders help met woordeskat, betekenis van woorde, spelling en verwysingsvaardighede. Hierdie woordeboekvaardighede kan voorts kennis van die woordeboekstruktuur bevorder (Van der Merwe 2013:429). Carstens (1995:106) beweer dat leerders wat voldoende kennis oor woordeboeke het, baie beter presteer in taalvaardighede as dié wat nie weet hoe woordeboeke werk nie wat aldus Van der Merwe (2009:301–2) tot beter kommunikasie lei.
Van der Merwe (2009:308) beweer dat kommunikasievaardighede in die Nasionale Kurrikulumverklaring (NKV) beklemtoon word sodat leerders “goeie verbale kommunikeerders” is. Deur die fokus op kommunikasie (praat) te plaas, geniet die ander taalvaardighede soos skryfvaardighede (met die fokus op spelvaardighede), minder aandag. Sy beweer ook dat woordeboekonderrig3 reeds op laerskoolvlak ’n bydrae lewer tot leerders se begrip van die waarde van woordeboeke. Deur gebruik te maak van woordeboeke kan die fokus weer teruggebring word na basiese skryfvaardighede, veral leerders se spelvaardighede.
4. Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (KABV)
Die Departement van Basiese Onderwys (DBO) se Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (KABV) vir graad 4 tot 6 Afrikaans Eerste Addisionele Taal (EAT) is in 2011 vrygestel. Hierdie dokument word deur onderwysers in dié vakgebied gebruik as ’n riglyn vir watter inhoud in die klasse aangebied moet word. Brewis (2022:20) beskryf dit as “’n raamstruktuur wat onderwysers kan gebruik om klasse mee te beplan”.
Die dokument dien as ’n beleidsverklaring wat gebruik moet word vir die “leer en onderrig in Suid-Afrikaanse skole” (DBO 2011:3, 4) en word ook deur die KABV as ’n noodsaaklike bron gesien om die nodige waardes, kennis en vaardighede aan die leerders te leer. Dit sal dan verder, volgens die KABV (DBO 2011:4), verseker dat die nodige vaardighede en kennis verwerf word wat leerders sodoende op ’n betekenisvolle manier in hulle lewens kan toepas.
Na ontleding van die KABV-dokument kan die volgende aspekte vir die doel van hierdie studie uitgelig word. In die KABV vir Afrikaans EAT-leerders van graad 4 tot 6 word daar verskeie kere verwys na die gebruik van ’n woordeboek – die term woordeboek kom onder meer 84 keer in die KABV voor. ’n Woordeboek word ook in die KABV as ’n kernleermateriaal vir die onderrig van Afrikaans EAT beskou (DBO 2011:15). Taalonderwysers word verder aangeraai om minstens ’n tweetalige en ’n verklarende skoolwoordeboek, ’n tesourus en ’n sinoniemwoordeboek in die klaskamer te hê (DBO 2011:16). Een van die KABV se doelwitte is dat leerders deur middel van hulle taalvaardighede doeltreffend kan kommunikeer (DBO 2011:5). Daar word in ’n tydstoekenning vir al drie fases (grondslag-, intermediêre en senior fase) aangedui dat die tyd wat aan tale gewy/bestee moet word, meer is as dié van die ander vakke (DBO 2011:6–8).
Daar is vier stelle vaardighede waarvolgens ’n Afrikaans- EAT-kurrikulum beplan moet word (DBO 2011:31):
- Luister en Praat
- Lees en Kyk
- Skryf en Aanbied
- Taalstrukture en -konvensies
In die afdeling “Inhoud en Onderrigplanne vir Eerste Addisionele Taal” word woordeboekgebruik soos volg aanbeveel. Onder die “Lees en Kyk”-afdeling (by graad 4 spesifiek) word die gebruik van ’n woordeboek aanbeveel om die alfabet se volgorde vas te lê (DBO 2011:32). Onder die afdeling “Taalstrukture en -konvensies” word daar verder aanbeveel dat ’n woordeboek ook gebruik moet word om die regte spelwyse van woorde na ta slaan (DBO 2011:32). Deur die woordeboek te gebruik om die spelwyse van sekere woorde na te slaan, word leerders se “skryf-en-aanbied”-vaardighede verbeter (DBO 2011:33).
Onderwysers word ook deur die KABV (DBO 2011:32) aangemoedig om leerders te help om hulle eie woordeboek te ontwerp en te skep, byvoorbeeld deur die letters van die alfabet aan die bokant van elke bladsy te skryf en dan woorde met hulle betekenisse op die bladsy wat met daardie woord se letter begin, te skryf. Hierdie sogenaamde woordeboek kan tot en met graad 6 aangevul word (DBO 2011:33, 75). Dié aktiwiteit behoort leerders te help om te leer hoe ’n woordeboek werk. Leerders kan die woorde waarmee hulle gesukkel het in hulle eie woordeboek neerskryf. Sodoende lê die leerder die moeilike/onbekende woord vas deur dit neer te skryf en die leerder vul ook sy/haar woordeboek se inhoud aan.
Die KABV (DBO 2011:11) stel verder voor dat daar ’n paar ruspouses tydens leeslesse gebied word sodat die onderwyser kan seker maak dat die leerders verstaan wat hulle lees. Party leerders is skaam en onseker en sal daarom nie sommer uit hulle eie sê dat hulle nie verstaan wat ’n woord beteken nie. Wanneer daar ’n onbekende woord in die leesstuk voorkom, moet die onderwyser, volgens die KABV (DBO 2011:11), verkieslik van die inhoud wat gelees is, gebruik om die onbekende woord te verduidelik. Indien die onderwyser nie daarin slaag om die betekenis suksesvol oor te dra nie, kan ’n woordeboek gebruik word om die betekenis na te slaan. Die woordeboek word hier dus as ’n laaste uitweg gebruik om betekenis oor te dra en sodoende taal aan te leer.
Een manier om woordeboekgebruik meer prominent tydens lees te maak, is om seker te maak dat daar reeds ’n paar woordeboeke tussen die leerders lê sodat hulle dadelik ’n woord kan naslaan indien hulle onseker is oor die betekenis. Hierdie aktiwiteit behoort die leerders se woordeskat, sowel as hulle woordeboekvaardighede te ontwikkel. ’n Woordeboekkultuur4 word ook sodoende in die klaskamer onder leerders geskep. Uiteindelik behoort die aktiwiteit leerders te leer hoe om met woordeboeke om te gaan en om hulle te motiveer om dit as ’n hulpmiddel te gebruik wanneer hulle onseker is oor sekere woorde se betekenisse.
Alhoewel daar in die KABV 84 keer melding gemaak word van die term woordeboek en dit ook as “kernmateriaal” bestempel word, is dit na bogenoemde bespreking van die KABV se onderafdeling duidelik dat die verwysing na woordeboeke slegs oppervlakkig is, aangesien daar nêrens na ’n spesifieke woordeboek verwys word nie. Claassen (2015:4) lig ook in haar studie “’n Aanleerderwoordeboek vir nultaalsprekers in ’n Afrikaanse taalverwerwingskursus op universiteitsvlak” uit dat daar nêrens in die KABV na ’n spesifieke woordeboek verwys word nie en dat daar ook nie verduidelik word hoe om ’n woordeboek te gebruik nie. Dit sal voordelig wees indien die KABV ’n spesifieke woordeboek vir onderwysers aanbeveel om in hulle klaskamers te hê. Dié voorgeskrewe woordeboek sal dan op standaard wees en sal voldoen aan al die vereistes wat in die KABV gelys word. Leerders behoort baie gemakliker te wees om ’n woordeboek te gebruik; hulle behoort ook voldoende woordeboekvaardighede hê en hulle behoort ’n woordeboek gemaklik ter ondersteuning van taalaanleer te kan gebruik.
Claassen (2015:4) noem dat woordeboekgebruik in klaskamers deur die KABV aanbeveel word, aangesien dit deur onderwysers as raamstruktuur gebruik word vir die inhoud wat in die klaskamer aangebied word. Die lesse wat in die klas aangebied word, word rondom die kurrikulum beplan. Meer gereelde woordeboekgebruik in klaskamers behoort voorts tot ’n woordeboekkultuur onder leerders te lei. Dit behoort daartoe te lei dat leerders woordeboeke met meer gemak kan gebruik, aangesien dit nie ’n vreemde verskynsel vir hulle sal wees nie. Indien woordeboeke nie in die klaskamer geraadpleeg word nie, kan dit daartoe lei dat ’n hele generasie woordeboekgebruikers daarmee heen is.
Dit is daarom belangrik dat die aanbevelings wat in die KABV oor woordeboekgebruik gemaak word, toegepas word. Dit kan ’n positiewe bydrae lewer tot die skep van ’n woordeboekkultuur onder leerders, wat voordelig sal wees vir die aanleer van Afrikaans in ’n EAT-klaskamer.
5. Ontleding van die Pharos-woordeboek
Ek het besluit om die Pharos Junior Tweetalige Skoolwoordeboek as woordeboek te gebruik vir die studie, omrede die woordeboek in 2018 gepubliseer is en dit dus relevant sal wees om hierdie onlangse woordeboek te ondersoek. Soos in die inleiding genoem is, word daar op die voorblad van die Pharos-woordeboek duidelik vermeld dat die woordeboek “KABV-geskik vir Laerskool” is.
Aangesien daar op die voorblad van die Pharos-woordeboek vermeld word dat die woordeboek “KABV-geskik vir Laerskool” is, maak hierdie stelling dit juis die ideale woordeboek om te ondersoek en te evalueer, aangesien my studie fokus op die KABV-vereistes vir ’n woordeboek ten opsigte van taalaanleer.
Die voorblad van die woordeboek dui voorts aan dat dit gebruiker- en situasiespesifiek is – gebruikerspesifiek omdat dit aandui dat die woordeboek op laerskoolleerders gemik is, en situasiespesifiek omdat dit aandui dat dit ’n tweetalige skoolwoordeboek is (Pharos 2018). Hierdie woordeboek is voorts kommunikatief georiënteer, aangesien die doel van ’n tweetalige woordeboek is om kommunikasie (en taalgebruik) te fasiliteer en ook te verbeter (Brewis 2022:14; Tarp 2000:196). Die taalmedium word ook op die voorblad aangedui: Afrikaans-Engels en Engels-Afrikaans.
Op die agterblad van die Pharos-woordeboek (2018) word daar genoem dat die woordeboek maklik is om te gebruik; dat die gebruikers taalleiding in die woordeboek sal kry en ook dat hulle hul woordeskat sal kan uitbrei. Op al drie hierdie eienskappe van die woordeboek word daar dan verder uitgebrei. Daar word onder andere genoem watter elemente die gebruiker in die woordeboek kan verwag. Onder “Maklik om te gebruik” word daar genoem dat die woordeboek vertalings en voorbeeldsinne bevat. Onder “Kry taalleiding” word daar ’n paar elemente gelys: woordverdeling en hoofklem, verlede tyd van werkwoorde, verkleining en meervoude, woordsoorte en trappe van vergelyking. Die derde eienskap, “Brei jou woordeskat uit”, noem dat die woordeboek die volgende elemente bevat: manlik en vroulik, intensiewe vorme, homonieme en homofone, sinonieme en antonieme en uitdrukkings en woordfamilies (afleidings). Hierdie inligting wat op die agterblad van die woordeboek gelys word, dien as ’n nuttige hulpmiddel vir die woordeboekgebruiker om seker te maak dat die woordeboek aan die inligting voldoen.
In die voorwoord van die woordeboek word daar genoem dat die teikengroep daarvan graad 4- tot graad 7-leerders is (Pharos 2018). Die woordeboek is egter nie uitsluitlik net op hierdie groep leerders gefokus nie. Ouer leerders kan ook daarby baat vind. Hierdie woordeboek is ook nie net vir addisioneletaalsprekers van Afrikaans of Engels nie. Dit word ook as die ideale woordeboek vir beide moedertaal- en Afrikaanse of Engelse EAT-leerders beskou.
Die 5 000 woorde wat in die Pharos-woordeboek opgeneem is, is die mees gebruiklike vorm van die woorde wat opgeneem is (Pharos 2018:iii). Die doel hiermee is dat die gebruikers daarvan blootgestel word aan die woorde soos hulle alledaags gebruik word. Die woordeboek bevat ook inligtingskassies om verwarring tussen sekere woorde uit te skakel en spelling te bevestig, asook voorbeeldsinne om aan die gebruiker te wys in watter konteks die woord tipies sou voorkom.
Na die voorwoord is daar uitgebreide gebruikersriglyne5 van drie bladsye in Afrikaans en drie bladsye in Engels om die gebruiker stap-vir-stap deur die bladuitleg te lei (Pharos 2018:iv–x). Langsaan elke Afrikaanse bladsy is daar ’n identiese Engelse bladsy wat dieselfde inligting in Engels verduidelik. Dit maak dit maklik vir ’n taalaanleerder om seker te maak van ’n term in sy/haar moedertaal, soos die term homonyms, en dan homonieme na te slaan in die teikentaal, aangesien die ooreenstemmende bladsynommer reg langsaan is.
In die woordeboek se gebruikersriglyn word al die verskillende taalelemente wat in die woordeboek voorkom, aangedui en ook beskryf. Hierdie elemente is taalverskynsels soos homonieme, homofone, lettergrepe, intensiewe vorme, kruisverwysings, trefwoorde, woordfamilies, afkortings, versamelname en voorbeeldsinne. Die etikette wat gebruik word, word ook in die gebruikersriglyn gelys. Daar is verder ’n bladuitleg in beide Afrikaans en Engels wat aan die woordeboekgebruiker stap vir stap wys wat alles in die woordeboekinskrywing voorkom en hoe die bladuitleg werk (Pharos 2018:iv–x).
Uit die bogenoemde ontleding van die Pharos-woordeboek blyk dit dat die woordeboek geskik is vir beide Afrikaanssprekende of Engelssprekende moedertaalleerders, asook Afrikaans EAT-laerskoolleerders. Die woordeboek bevat goed uiteengesette gebruikersriglyne, wat presies vir die woordeboekgebruikers wys hoe om na ’n spesifieke woord te soek en watter ander elemente ook in ’n woordeboekartikel mag voorkom. Dit word ook op ’n eenvoudige manier verduidelik, met maklike terminologie en pyltjies na die voorbeelde toe, sodat die laerskoolleerders sal verstaan hoe om die woordeboek te gebruik.
Die woordeboek kan deur beide EAT- en moedertaalsprekers van Afrikaans en Engels gebruik word. Alhoewel die hooffokus op graad 4 tot 7 is, is dit nie uitsluitlik vir hierdie groep leerders nie. Ouer leerders word ook aangemoedig om die woordeboek te gebruik, aangesien hulle ook daaruit sal voordeel trek. Dit maak gevolglik die woordeboek gepas vir ’n groter gebruikersgroep, aangesien dit vir beide leerders en volwassenes geskik is.
6. Bevindinge
In hierdie afdeling word vervolgens bespreek of die Pharos-woordeboek wel aan die KABV-vereistes voldoen, soos dit op die voorblad van die woordeboek aangedui is. Die afleiding word gemaak aan die hand van parallelle lyne (ooreenkomste) wat getrek word tussen die KABV-vereistes en die Pharos-woordeboek.
Soos gesien kan word in die ontleding van die Pharos-woordeboek, is die woordeboek ’n uitstekende hulpmiddel vir leerders in ’n graad 4- tot 6- Afrikaanse EAT-klaskamer, of selfs vir leerders in ’n Afrikaanse of Engelse moedertaalklas. Dit is nie uitsluitlik ontwerp vir laerskoolleerders wat Afrikaans as EAT neem nie. Die Pharos-woordeboek bied aan die gebruiker ’n goed gestruktureerde gebruikersriglyn wat seker maak dat al die elemente wat moontlik in ’n woordeboekartikel kan voorkom, beskryf word. Sodoende probeer die samestellers van Pharos seker maak dat die woordeboekgebruiker sal verstaan hoe om met die woordeboek te werk, indien hy/sy ’n woord sou wou naslaan. Dit word ook op ’n eenvoudige wyse verduidelik, wat dit maklik verstaanbaar maak. Dit is noodsaaklik dat dit eenvoudig aangebied word, aangesien die woordeboek op laerskoolleerders fokus en dat dit daarom belangrik is dat hulle dit verstaan.
Die verskeie taalelemente wat in die woordeboekartikel voorkom, soos die lettergrepe en homofone wat vroeër vermeld is, dra ook by tot die woordeboek se geskiktheid vir enige vorm van taalaanleer in die EAT-klas. Daar word meer taalkundige aspekte behandel, soos spelwyse, homonieme en lettergrepe, afkortings en verbuigingsvorme.
Daar kom ook kruisverwysing, inligtingskassies en woordfamilies in die woordeboekartikels voor, sodat die gebruiker van die woordeboek seker kan wees dat die regte vertaalekwivalent gevind word.
Kruisverwysing vind plaas wanneer die gebruiker deur een woordeboekinskrywing gelei word na ’n ander woordeboekinskrywing (Du Plessis 2016:46). Kruisverwysing kan ook slegs binne ’n enkele inskrywing plaasvind. Woorde soos “Sien ...” en “Kyk ook ...” word dikwels gebruik om kruisverwysing te bewerkstellig en die woordeboekgebruiker sodoende na die ander inskrywing te lei.
’n Voorbeeld van kruisverwysing uit Pharos (2018:119) is:
Die bogenoemde voorbeeld is ’n voorbeeld van ’n woordeboekartikel wat kruisverwysing bevat, aangesien die sin “Kyk ook MM, GRAM.” die gebruiker vanaf die woordeboekinskrywing oor “millimeter” wil lei na die afkorting van millimeter “mm” of na “gram”. Dit beteken dat die oorspronklike woordeboekartikel, asook die een waarna die woordeboekgebruiker gelei word, op ’n manier aan mekaar verwant is.
Alhoewel hierdie Pharos-woordeboek ’n tweetalige woordeboek is en die hoofdoel van so ’n woordeboek is om ’n vertaalekwivalent te verskaf, verskaf dié woordeboek ook voorbeeldsinne in die woordeboekartikels om die gebruiker vertroud te maak met die konteks waarin die lemma gebruik word.
’n Voorbeeld uit Pharos (2018:22) is:
Een van die vereistes wat in die KABV oor taalaanleer genoem word, is dat ’n woordeboek hoofsaaklik vir leerders moet help om die alfabet se volgorde vas te lê (kyk afdeling vier) (DBO 2011:32). Die alfabet se volgorde is een van die eerste taalkomponente wat leerders op skool leer. Die Pharos-woordeboek se lemmas word alfabeties aangebied, van A tot Z. Hierdie aanbieding van die alfabet dra sodoende daartoe by dat leerders die alfabetstelsel kan vaslê, soos deur die KABV vereis word.
Die KABV vereis vervolgens dat ’n leerder ’n woordeboek moet raadpleeg indien die leerder onseker is oor die spelling van sekere woorde (DBO 2011:33, 53). In die Pharos-woordeboek se voorwoord word daar genoem dat daar inligtingskassies in die woordeboek voorkom wat vir leerders die geleentheid gee om verwarring tussen sekere woorde uit te skakel. Inligting oor grammatika en taalgebruik van die spesifieke woorde word ook in die inligtingskassies aangedui (Pharos 2018:viii). Die lemmas in die woordeboek is uit die aard van die saak reg gespel. Leerders kan dus die woordeboek in sy geheel gebruik om seker te maak van die spelwyse van ’n woord.
’n Voorbeeld van ’n inligtingskassie uit Pharos (2018:180) is:
Die bogenoemde inligtingskassie poog om enige verwarring te vermy wat moontlik met die verskillende spelling of betekenisse van die woord “spuit” kan voorkom. Die leerder kan dus seker wees van die spelling van die lemma “spuit” en ook seker wees dat hy/ sy dit nie omruil met “spyt” nie.
Dit is weer eens belangrik dat leerders hier die nodige woordeboekvaardighede besit om seker te maak oor die homonieme en homofone van woorde wat in hierdie inligtingskassies voorkom. In die Pharos-woordeboek gee die gebruikersriglyn ’n bondige beskrywing om aan die woordeboekgebruiker te wys hoe homonieme en homofone in die woordeboek se woordeboekartikel voorkom.
Hier volg twee voorbeelde waar daar homonieme en homofone onderskeidelik aangewys word.
’n Voorbeeld van ’n homoniem (Pharos 2018:102):
’n Voorbeeld van ’n homofoon (Pharos 2018:116):
Die bogenoemde twee voorbeelde wys dat inligtingskassies ook gebruik kan word om homonieme en homofone aan te dui. Die eerste voorbeeld, “kus”, dui vir die leerder aan dat sekere woorde dieselfde klink en gespel word, maar verskillende betekenisse het. Dit is ’n homoniem. Die tweede voorbeeld, “Mei” en “my”, wys aan leerders dat sekere woorde dieselfde klink, maar verskillend gespel word. Hierdie woorde het ook verskillende betekenisse. Dit is ’n homofoon. Soos vroeër genoem, poog die inligtingskassies om enige verwarring wat met die verskillende spelling of betekenisse kan voorkom, uit te klaar.
Soos vroeër vermeld, word leerders aanbeveel om ’n woordeboek tydens ’n leesperiode te raadpleeg indien hulle ’n onbekende woord teëkom (DBO 2011:11). Hierdie aanbeveling word ook vir woordraaiseloefeninge aangeraai (DBO 2011:78).
Pharos gee voorbeeldsinne in die woordeboekartikels om sodoende vir leerders te wys in watter konteks die lemma sal voorkom. Die lemma se woordfamilies, versamelname en uitdrukkings waarin die lemma voorkom, word ook in ’n woordeboekartikel gegee. Al die inligting help leerders om ’n onbekende woord se betekenis te verstaan, asook om te sien in watter konteks hierdie woord tipies gebruik sou word. ’n Leerder se woordeskat word dus verbeter wanneer hy/sy onbekende woorde baasraak. ’n Ontwikkelende woordeskat is ’n vereiste wat deur die KABV gestel word (DBO 2011:78).
7. Lesplan oor woordeboeke vir onderwysers
’n Goeie woordeboek verseker nie die sukses van taalaanleer indien die leerder geen kennis dra oor hoe om met ’n woordeboek te werk nie. Dit is juis om dié rede dat dit noodsaaklik is dat daar van ’n jong ouderdom af lesse in skole aangebied word sodat leerders leer hoe om die woordeboek optimaal te benut.
Willis (1996) se taakgebaseerde lesplan word gebruik as basis vir die les wat ek uitgewerk het. Die taakgebaseerde raamwerk, soos deur Willis (1996) saamgestel is, bestaan uit ’n pretaak, ’n taaksiklus en ’n taalfokus, wat ook bekendstaan as die posttaak. Tydens die pretaak word die onderwerp aan die leerders bekendgestel. Tydens die taaksiklus kry die leerders ’n taak wat hulle moet voltooi. Die taak word daarna met die res van die klas bespreek waar die leerders vir mekaar kan vrae vra en sodoende by mekaar kan leer. Tydens die taalfokus word die fokus op betekenis geskuif na ’n fokus op vorm (uitspraak) (Willis 1996). Hier help die onderwyser vir die leerders met die dele van die werk waarmee hulle gesukkel het.
Die volgende lesplan is aangepas uit my honneurswerk se lesplanne wat ontwerp is vir die bekendstelling van woordeboeke, gebruikersriglyne en woordeboekstrukture. Die les wat hier aangebied word, handel oor die bekendstelling van woordeboeke aan leerders. Volgens Klein (2007:418) is dit belangrik om leerders in te lig oor die beskikbaarheid van woordeboeke. Die les bestaan uit ’n bekendstelling en ’n bespreking van die verskillende tipes woordeboeke, ’n praktiese oefening en dan ’n kort bespreking om seker te maak die leerders verstaan wat hulle geleer het.
Tabel 1. Lesvoorbeeld
Les: Woordeboekbekendstelling aan laerskoolleerders
Lesdoelwitte |
|
Lesuitkomste |
|
Beskrywing van leerdergroep |
|
Materiaal wat benodig word |
|
Openingsgesprek |
Vrae wat aan leerders gevra kan word (Die doel is om leerders te motiveer om te antwoord):
|
Bespreking van woordeboeke |
|
Praktiese oefening in klas |
|
Vrae en afsluiting |
|
Bogenoemde lesplan fokus op die bekendstelling van woordeboeke en die aanleer van die nodige woordeboekvaardighede om ’n woordeboek suksesvol te kan gebruik. Tydens die les word daar gepoog om ’n positiewe gevoel teenoor beide woordeboekgebruik en die doeltaal te kweek. Al is die fokus van hierdie studie spesifiek die Pharos Junior Tweetalige Skoolwoordeboek, is woordeboekvaardighede noodsaaklik vir leerders om sodoende enige woordeboek suksesvol vir taalaanleer te raadpleeg. Die fokus van hierdie intervensielesplanne is om leerders bekend te stel aan woordeboeke, om hulle die nodige vaardighede aan te leer om in ’n woordeboek te kan naslaan en om hulle daaraan gewoond te maak om ’n woordeboek as ’n nuttige naslaanbron te waardeer.
Dit is belangrik dat die onderwyser ’n positiewe gesindheid teenoor woordeboeke het, veral teenoor woordeboekgebruik in klaskamers. Die onderwyser behoort leerders aan te moedig om woorde in die woordeboek op te soek, eerder as om vir die onderwyser te vra wat dit beteken of hoe die woord gespel word. Weeklikse speltoetse kan ook aangepas word waar leerders die woord reg moet spel, asook ’n kort betekenis van die woord moet neerskryf. Elke maand kan daar ’n wenner aangekondig word wat die “woordeboekwurm” van die maand is. Woordeboekspeletjies kan ook in die klas gespeel word waar die onderwyser ’n woord in die woordeboek kies en die leerders moet sê wat die woord beteken. Sodoende sal leerders se woordeskat uitbrei en hulle sal ’n positiewe houding teenoor woordeboeke ontwikkel.
8. Gevolgtrekking en slot
Alhoewel daar volgens Claassen (2015:111) nie ’n spesifieke woordeboek voorgeskryf word vir Afrikaans- EAT-laerskoolleerders nie en daar ook nêrens in die KABV na ’n spesifieke woordeboek verwys word nie, beveel ek die Pharos Junior Tweetalige Skoolwoordeboek hoog aan. Dit bevat goed gedetailleerde gebruikersriglyne wat presies vir die gebruiker wys hoe om die woordeboek te gebruik. Dit is gebruikersvriendelik en poog om graad 4- tot 6-leerders te help met taalaanleer. Dit is maklik om te gebruik en bevat die mees relevante vorm van die woord wat dit ’n goeie, resente (?) hulpmiddel maak. Die woordeboek bevat ook al die vereistes, naamlik spelling, woordeskat, alfabetstelsel en onbekende woorde, wat deur die KABV voorgestel word. Dit voldoen daarom aan al die vereistes wat deur die KABV gestel word en word sterk aanbeveel om in skole gebruik te word.
Uit die bespreking van die ontleding van die KABV se vereistes oor woordeboekgebruik in ’n Afrikaans- EAT-klaskamer vir graad 4 tot 6-leerders, is dit duidelik dat ’n woordeboek wel as ’n waardevolle bron vir taalaanleer gesien word. Dit word egter meer as ’n laaste opsie gesien, as wat dit as ’n primêre bron gesien word. Dit is na my mening belangrik dat onderwysers dadelik ’n woordeboek raadpleeg, of die leerder aanmoedig om ’n woordeboek te raadpleeg indien hulle ’n woord teëkom waarvan die betekenis by beide persone ontbreek. Sodoende behoort leerders die gewoonte te vestig om met woordeboeke te werk en gevolglik kan daar ’n woordeboekkultuur in die klaskamer heers.
Indien onderwysers wel besluit om die aktiwiteit te doen waar elke leerder sy/haar eie woordeboek skep, soos dit deur die KABV vereis word, kan dit help om sodoende ’n woordeboekkultuur onder die leerders te skep en te vestig. Deur elkeen hulle eie woordeboek te skep, leer leerders hoe ’n woordeboek werk, hoe om met ’n woordeboek te werk en sodoende word hulle woordeboekvaardighede ook opgeskerp. Verbeterde woordeboekvaardighede is voordelig vir die leerder vir wanneer hy/sy in die toekoms ’n woordeboek moet gebruik. Die leerder sal in die toekoms die woordeboek met gemak kan gebruik, aangesien hy/sy weet hoe ’n woordeboek werk. Die onderwyser kan die Pharos-woordeboek as hulpmiddel gebruik om vir leerders ’n maklike manier te wys om woordeboekinskrywings te identifiseer. Die leerders se vertroudheid met hierdie woordeboek sal derhalwe waarde toevoeg tot die skep van hulle eie woordeboeke, aangesien hulle sal weet watter inligting in ’n woordeboek moet verskyn.
Uit die bespreking van die ontleding van die Pharos-woordeboek is daar vasgestel dat die woordeboek goed uitgebreide gebruikersriglyne bevat wat vir die woordeboekgebruiker stap vir stap uiteensit hoe om die woordeboek te gebruik. Die woordeboekinskrywings bevat ook ekstra inligting, soos om te sê watter woordsoort die inskrywing is, ’n voorbeeldsin om die konteks aan te dui waarin die sin gebruik kan word, asook soms die meervoudsvorm, verkleiningsvorm en homoniem of homofoon van die woord om sodoende verwarring te voorkom.
Die lesplan wat opgestel is, dra by tot die ideaal om woordeboeke reeds vanaf ’n jong ouderdom af aan leerders voor te stel. Die les poog om leerders in te lig oor woordeboeke, die verskeie soorte en die beskikbaarheid daarvan. Onderwysers kan hierdie lesplan reeds op laerskoolvlak aan leerders voorstel. Onderwysers word aangemoedig om kreatief te werk te gaan met die bekendstelling en aanmoediging van woordeboekgebruik in klaskamers, sodat leerders gewoond raak daaraan om ’n woordeboek te raadpleeg wanneer hulle onseker is oor ’n woord se spelling, of die betekenis van ’n woord wil naslaan.
Die gevolgtrekking waartoe gekom word, is dat die Pharos-woordeboek wel aan die KABV-vereistes voldoen en ook sodoende geskik is vir ’n EAT-klas. Die KABV is in vier dele verdeel waarvoor ’n woordeboek geraadpleeg moet word. Hierdie vier dele is onder meer alfabetvaslegging, spelling, onbekende woorde en woordeskat. Tydens die ontleding van die Pharos-woordeboek het dit geblyk dat die woordeboek aan al hierdie vier vereistes voldoen. Die woordeboek is boonop gebruikersvriendelik, aangesien die volledige gebruikersriglyn wat aan die gebruiker verskaf word, nuttig is.
Van der Merwe (2009:311) beveel aan dat daar meer bewusmaking van die gebruik van woordeboeke moet plaasvind, asook dat daar ’n opleidingsveldtog vir woordeboekonderrig geloods moet word. Dit is belangrik dat onderwysers deeglike kennis oor woordeboeke het om dit met selfvertroue te kan gebruik en ook om vir leerders te leer en aan te moedig om woordeboeke te gebruik. Bewusmaking van woordeboeke en woordeboeke se gebruikersriglyne is belangrik om suksesvolle gebruik van woordeboeke vir taalaanleer te verseker.
Bibliografie
Adendorff, E.M. 2017. Taalverwerwing en taalonderrig. In Carstens en Bosman (reds.) 2017.
Brewis, N. 2023. ’n Evaluering van Pharos Junior Tweetalige Skoolwoordeboek en die gebruik daarvan vir die aanleer van Afrikaans as addisionele taal. Honneurswerkstuk, Universiteit Stellenbosch.
Burger, L. 2020. ’n Empiriese ondersoek na die bydrae van tweetalige skoolwoordeboeke en werkboeke by graad 11-leerders. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.
Carstens, A. 1995. Language teaching and dictionary use: An overview. Lexikos, 5:105–16.
Carstens W.A.M en N. Bosman (reds.). 2017. Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde. Tweede uitgawe. Pretoria: Van Schaik Uitgewers.
Claassen, D. 2015. ’n Aanleerderwoordeboek vir nultaalsprekers in ’n Afrikaanse taalverwerwingskursus op universiteitsvlak. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.
Departement van Basiese Onderwys [DBO]. 2011. Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (KABV). Afrikaans Eerste Addisionele Taal, Intermediêre fase, Graad 4–6. Pretoria: Staatsdrukker.
Du Plessis, A.H. 2016. ’n Analise van die selfoon-WAT: ’n Grondslag vir die verbetering van selfoonwoordeboeke. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.
Gouws, R.H. 2017. Leksikografie. In Carstens en Bosman (reds.) 2017.
Gouws, R.H. en D.J. Prinsloo. 2005. Principles and practice of South African lexicography. Stellenbosch: African Sun Media.
Hartmann, R.R.K. en G. James. 1998. Dictionary of Lexicography. https://nubip.edu.ua/sites/default/files/u5/r_r_k_hartmann_gregory_james-dictionary_of_lexicography-routledge_1998.pdf (11 Januarie 2024 geraadpleeg).
Klein, J. 2007. Implementing a dictionary culture in South Africa: An attempt at a general framework for the African Languages. Lexikos, 17:16–23.
Koen, M. 2008. Bemagtig opvoeders vir onmiddellike mobilisasie van grondslagfase-leerders se geletterdheid. LitNet Akademies, 5(2):27–45. https://www.litnet.co.za/bemagtig-opvoeders-vir-onmiddellike-mobilisasie-van-grondslagfase-leerders-se-geletterdheid/ (11 Januarie 2024 geraadpleeg).
Lambert, V.A. en Lambert, C.E. 2012. Qualitative descriptive research: An acceptable design. Pacific Rim International Journal of Nursing Research, 16(4):255–6.
Nassaji, H. 2015. Qualitative and descriptive research: Data type versus data analysis. Language Teaching Research, 19(2):129–32.
Pharos Junior Tweetalige Skoolwoordeboek/ Junior Bilingual School Dictionary Afrikaans-Engels/ English-Afrikaans. 2018. Kaapstad: Pharos Woordeboeke.
Tarp, S. 2000. Theoretical challenges to practical specialised lexicography. Lexikos, 10:189–208.
—. 2011. Pedagogical lexicography: Towards a new and strict typology corresponding to the present state-of-the-art. Lexikos, 21:217–31.
Tarp, S. en Gouws, R. 2010. Skoolwoordeboeke vir huistaalleerders van Afrikaans. Lexikos, 20:466–94.
Van der Merwe, M. 2009. Die opvoedkundige waarde van woordeboeke: Voorstelle vir woordeboekonderrig in Suid-Afrika. Lexikos, 19:297–313.
Van der Merwe, M.F. 2012. A study of the use of the HAT Afrikaanse Skoolwoordeboek by primary school children. Lexikos, 22:352–66.
—. 2013. Die rol van taalleeronderrig in Afrikaanse woordeboekwerkboeke. Lexikos, 23:426–39.
Willis, J. 1996. A framework for task-based learning. Londen: Longman.
Eindnotas
1 Gouws (2017:458) definieer vertaalekwivalent as die doeltaalvorm van ’n woord wat opgesoek word. Dit is dus nie die betekenis van die woord nie, net die woord in ’n ander taal.
2 Taalaanleerders is die oorkoepelende term wat alle persone (kinders en volwassenes) wat ’n nuwe taal aanleer, insluit. Ek gebruik die term leerders in my studie, aangesien ek fokus op laerskoolleerders wat Afrikaans as EAT in graad 4–6 neem.
3 Woordeboekonderrig word beskryf as “die onderrig van primêre en sekondêre naslaanvaardighede” wat spesifiek is aan ’n woordeboeksoort, asook die “onderrig van woordeboektipologie” (Van der Merwe 2009:300). Dit is nie die hooffokus van die artikel nie.
4 Woordeboekkultuur word deur Hartmann en James (1998:41) gedefinieer as die bewustheid van woordeboeke se waarde en beperkings, asook ander verwysingswerke in ’n sekere gemeenskap.
5 Die woord gebruikersgids word ook in hierdie artikel gebruik om afwisseling tussen die twee woorde te bied.
LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHET) en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys van goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of approved journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel en kan kwalifiseer vir subsidie deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding. |