’n Energieke nuwe bries: Dekolonialiserende taalteorie op die 2020-ILAF-webinaar oor taal en die strafregstelsel

  • 0

.......

‟Terwyl geregtelike tolking ’n kernrol speel om toegang tot geregtigheid in gemeenskapstale te anker, betreur Docrat die tekort aan regulering van tolkdienste. Dit maak dit moeilik om met kernrolspelers in daardie bedryf saam te werk, en stigmas oor oneerlike tolking word aangewakker.”

.......

In ’n verrassende wending, op ’n belangrike webinaarplatform, het ek die verfrissende geleentheid gekry om te luister na uitgesproke denkers wat van ’n daadwerklik meertalige Suid-Afrikaanse staat droom.

Gewoonlik verveel hierdie tipe geleenthede my. Meer dikwels rol ek my oë en suiker weg vir koffie. Die rede vir my verstek-ongeduld is juis dat Suid-Afrikaanse gesprekke oor meertaligheid na die volgende formule neig: Die openingsprekers skop af met soetsappige moralistiese geselsies oor “hartstale” en “ewige erfenis” en “sprekers se verantwoordelikhede”. Daarna word hartstogtelike klaagliedere en persoonlike verontskuldigings geopper oor waarom meertaligheid onprakties is, wat ’n mens opreg laat wonder oor hoe sinies die hogere denkers werklik is oor Suid-Afrikaners se vermoë om wen-wen-oplossings te bedink.

Hierdie keer is my indrukke geheel anders, en nie slegs omdat die ideologiese oorval teen ’n nuwe hoek kolf nie.

Wat hier van vorige meertaligheidsgesprekke verskil, is die aandrang op ’n vars beraming van Suid-Afrika se taalsituasie, asook die erkenning dat taal nie bloot erfenis is nie, maar ’n integrale deel van die groter infrastruktuur van die demokratiese staat. Die Indigenous Languages Action Forum (ILAF) funksioneer ter ondersteuning van Suid-Afrika se groter taalinfrastruktuur, te wete PANSATR oftewel die Pan Suid-Afrikaanse Taalraad. ILAF werk saam met die Afrikaanse Taalraad, wat aan Afrikaanssprekendes die geleentheid gee om met sprekers van ander landstale aan taalbeleidskwessies saam te werk. Die 25 September-geleentheid het van groot name in die wêreld van taalbeleid en toegepaste linguistiek gebruik gemaak om te besin oor die rol van taal in Suid-Afrika se strafregstelsel. Zakeera Docrat van Rhodes-universiteit is ’n spesialis op die gebied van tale van rekord in die Suid-Afrikaanse howe. Haar doktorale verhandeling van November 2019 het fundamentele kritiek gelewer op die voortmarsjering na Engelse enkeltaligheid in ons howe en universiteite. Monwabisi Ralarala van die UWK is ’n kenner van taal as mensereg en beywer hom spesifiek vir talige geregtigheid in die strafregstelsel. Laastens is ook Johann Kriegler, ’n afgetrede regter van die Konstitusionele Hof, betrek om vanuit praktyksoogpunt ’n inset te lewer.

What are the benefits of using English as the language of record and proceedings in the criminal justice system? What...

Posted by Indigenous Languages Action Forum on Tuesday, September 22, 2020

 

Reeds gedurende die openingsgesprekke kon ’n mens die kloof tussen Kriegler se benadering tot taal en die ander paneellede s’n oplet. Vir Kriegler is die verengelsing van die strafregstelsel ’n noodsaaklike euwel. As voormalige praktisyn sien hy nie in hoe die berge getuienis wat dikwels reeds op landdroshofvlak versamel, enigsins prakties gesproke vertaal kan word in die geval van ’n appèl voor ’n regter wat nie die oorspronklike taal van rekord verstaan nie. Kriegler meen ook die situasie is soveel erger, aangesien daar 11 amptelike landstale is. Selfs al is die meeste regters in twee tale opgelei, wat van die ander nege amptelike tale? Hoe kan ’n mens konsekwentheid en praktiese uitvoerbaarheid versoen? Kriegler beklemtoon dat dit vir hom hartseer is om te sien dat sy moedertaal, Afrikaans, toenemend op amptelike vlak gemarginaliseer word ter wille van Engels, ook in die strafregstelsel. Hy beskou dit egter as ’n ongelukkige noodsaaklikheid.

Kriegler se benadering weerspieël dalk ’n oorblyfsel van baie verligte Afrikaners uit die onderhandelingsjare se houdings jeens taal in die nuwe Suid-Afrika. Terwyl die ANC en NP ’n taalklousule uitgestoei het wat beide inklusief en ’n kompromie is, is dit baie waarskynlik dat lede van die Afrikaanse en Engelse wit liberale establishment die ou SAP- (oftewel Smutsiaanse) houding teenoor meertaligheid aangehang het. Hierdie ingesteldheid is een wat deurspek is met ’n koloniaalgeïnspireerde houvas aan Engels as taal van die Empaaier waaroor die son nooit sak nie, of ons daarvan hou of nie. Die ongelukkige keuse is dus tussen chaotiese meertaligheid en ordelike, stigtelike Engelse enkeltaligheid wat boonop die deure van Anglokapitalisme vir ons oopgooi. Vandag het daardie taalbenadering wyd in die Afrikaanse kommersiële en hoëronderwysomgewing posgevat. In die regsberoep het net ’n handjievol praktisyns en belanghebbers tot dusver kommentaar gelewer op die Regshulpraad se slegs-Engels konseptaalbeleid.

Dit is hierdie aandrang op praktiese haalbaarheid en skynbare realpolitik oor die rol van Engels waaroor Docrat en Ralarala skepties is. Ralarala het beklemtoon dat die oorgrote meerderheid strafsake op landdroshofvlak aangehoor en ’n vonnis gevel word. Beskuldigdes word in hul distrikte en streke verhoor, waar Engels tien teen een ’n derde of selfs vierde taal vir die meeste mense is. ’n Algemene of eenvormige benadering tot tale van rekord op plaaslike vlak is onsinnig. Op ’n vraag uit die gehoor oor die toetsbaarheid van meertaligheid in strafhowe sê Ralarala hy betreur die neiging om gesprekke oor taalgeregtigheid te “kanselleer” met lui towerfrases soos “prakties onuitvoerbaar”, terwyl daar nog geen grootskaalse toetsgeleenthede was nie. Docrat draai nie brieke aan in haar kritiek teen die verskoning van “praktiese onuitvoerbaarheid” nie. Sy stel dit prontuit dat “praktiese onuitvoerbaarheid” hoogs problematies is, omdat dit van meertaligheid as ’n regstellende daad vergeet. Deur aan Engels vas te klou in die nuwe bestel is so goed as om van sistemiese rasse-ongelykheid te vergeet en die voortgesette onregte van die verlede te ignoreer omdat die nuwe staatsbestel formele gelykheid daarstel.

.......

‟Op ’n vraag uit die gehoor oor die toetsbaarheid van meertaligheid in strafhowe sê Ralarala hy betreur die neiging om gesprekke oor taalgeregtigheid te ‘kanselleer’ met lui towerfrases soos ‘prakties onuitvoerbaar’, terwyl daar nog geen grootskaalse toetsgeleenthede was nie.”

.......

Om 11 amptelike tale te proklameer sonder daadwerklike, voetsoolvlakontwikkeling van openbare toepassingsgeleenthede vir meer tale, is geen regstelling nie. Terwyl geregtelike tolking ’n kernrol speel om toegang tot geregtigheid in gemeenskapstale te anker, betreur Docrat die tekort aan regulering van tolkdienste. Dit maak dit moeilik om met kernrolspelers in daardie bedryf saam te werk, en stigmas oor oneerlike tolking word aangewakker. Docrat meen dat grootskaalse talige regstelling moontlik is slegs as alle sektore – onderwys en opleiding, justisie en die georganiseerde regsberoep – hande vat en meertaligheid op alle vlakke aanmoedig en internaliseer. Nie Docrat of Ralarala is ten gunste van die uitwis van Engels in die openbare omgewing nie. Inteendeel, Engels kan ’n belangrike rol speel as lingua franca en doen dit reeds. Die probleem is dat die wêreldwye bevoorregting van hierdie taal as amptelike taal in talle lande en in die handelswêreld neig om weinig ruimte vir inheemse tale te laat. Gevolglik word die hegemoniese verhouding van Engelsheid teenoor inheemstaligheid voortgesit, en word stereotipes “bevestig” oor die onvermoë van inheemse tale en hul sprekers om reg en geregtigheid plaaslik te laat geskied.

Tydens die res van die gesprek het dit geblyk dat Kriegler en die twee akademici verby mekaar praat. Docrat en Ralarala neem ’n kritiese stelling in teenoor Engelstalige oorheersing op grond van die oortuiging dat sprekers van inheemse tale ook ’n suksesvolle, veelsydige en openbaar-funksionele inheemsetaalomgewing kan skep. Kriegler het simpatie vir meertaligheid, maar besef blykbaar nie hoe Engels allermins ’n neutrale rolspeler in Suid-Afrika se taalomgewing is nie. Ongelykheid tussen tale bestaan hoofsaaklik weens die strukturele ongelykhede van die koloniale verlede, waar Engels wêreldwyd ’n verdrywer van inheemstaligheid was en steeds is. Om regstelling hiervan van stapel te stuur sal verseker dat die formele taalgelykheid in die Grondwet wesenlike neerslag in die openbare omgewing vind.

In ons strafregstelsel, lui die konsensus, is daar nie net groot skade weens die Zuma-era se vernietiging van die NVG se vervolgingskapasiteit nie. Daar is ook ou wonde weens die indruk dat die stelsel gedienstig teenoor apartheids- en koloniale politiek gestaan het. Strafregpleging was en is steeds ’n baie paternalistiese skepping met diep wortels in die Engelse strafregtelike model. Een van die pilare hiervan is die gebruik van hovaardige Hofengels, wat op plattelandse en provinsiale vlak vir die meeste beskuldigdes ’n enigmatiese en ontoeganglike elitewêreld vergestalt. Vir toegang tot geregtigheid om die Grondwet werd te wees, moet regspleging ons gemeenskapstale op betekenisvolle wyse betrek en aanmoedig. Dit sal ons verbintenis tot gelykheid en menswaardigheid in ’n sigbare, bruikbare vorm bevestig.

Hierdie artikel is ook in Engels beskikbaar:

Winds of change: Decolonialising language theory at the 2020 ILAF webinar on language and the criminal justice system

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top