US-taalbeleid en 'n eerbare nuwe idee

  • 11

Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies (Opvoedkunde) se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.

This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.

Die raad van die Universiteit Stellenbosch hou Woensdag ‘n vergadering waarop ‘n nuwe taalbeleid goedgekeur moet word. Die besluite wat daar geneem gaan word, sal bepaal of Afrikaans as ‘n volwaardige akademiese onderrigtaal sal bly voortbestaan en of ‘n uitfaseringsproses voorlê wat die universiteit toenemend sal verengels, tot nadeel van die oorwegend Afrikaanse taalgemeenskap waarin die US hom bevind.

‘n Vroeëre laagtepunt in die beoogde verengelsing van die US is verlede November bereik toe die rektor se bestuurspan (RBS) ‘n nuwe taalbeleid afgekondig het waarvolgens Engels voortaan die taal van onderrig, administrasie, kommunikasie en selfs koshuisvergaderings sou wees.

Die verengelsingsplanne is toe weens die hewige openbare reaksie tydelik gestuit. In hofstukke het die US erken dat daar in 268 modules in sewe fakulteite van die bestaande taalbeleid afgewyk is. Dosente in fakulteite waar dienstigheid floreer, het klaarblyklik op groot skaal na Engels-alleen oorgeslaan. In die hofskikking is die US gedwing om sy eie taalbeleid toe te pas.

Die RBS het toe in Februarie aan ‘n nuwe taalplan begin werk, sonder om – soos die raad in die hof onderneem het – ‘n werklik onafhanklike taalkenner te raadpleeg. Intussen is in al die maande sedert daardie berugte November-episode geen kik van die voorste US-ampsdraers gehoor om Afrikaanssprekendes te verseker dat hulle steeds welkom op die Stellenbosse kampus is nie.

Nou is ‘n finale konseptaalbeleid opgestel wat die RBS-planne wel effens verwater, maar steeds aan Engels voorkeur gee. Alle verpligte studiemateriaal gaan byvoorbeeld in Engels wees, en in talle modules is Afrikaans ondergeskik aan Engels. Afgesien hiervan word reeds in aanstellings van dosente voorkeur aan Engelssprekendes gegee. Dieselfde geld vir werwing van studente, nadat die rektor reeds verlede jaar trots verklaar het dat die Engelse komponent van studente verder gaan toeneem. Wat veeltaligheid betref, word nie van eentalig-Engelse dosente en studente verwag om hulle in Afrikaans te bekwaam nie.

Die nuwe konsep sal die proses van verengelsing waarskynlik bowendien versnel, want die taalbeleid word nou afgewentel na die fakulteite, dus daar waar onlangs so drasties van die taalbeleid afgewyk is.

Dit is juis die fakulteite waar dosente hulle bevind wat beweer dat “bloed aan die taal kleef”. Maar soos al so dikwels gesê is, kan ‘n taal tog nooit misdadig wees nie, net mense – anders sou Engels, Mandaryns, Russies, Duits, Spaans en Frans almal van misdade teen die mensdom aangekla moes word.

Dis ook die fakulteite waar dosente hulle bevind wat Afrikaans as ‘n struikelblok vir “wêreldklas” uitmuntendheid beskou, nie as ‘n kompeterende voordeel nie, en wat hulle vir ‘n lêplekkie vir US op die ranglys van die talle Engelse universiteite in die land beywer. Hierdie Engels-manie verseker slegs dat wit moedertaal-Engelssprekendes, ‘n absolute minderheid in die land, en die 2,9% van swartes wat Engels as huistaal aandui, die meeste deur die uitermatige bevordering van Engels as onderrigtaal bevoordeel gaan word.

‘n Taal wat ‘n eeu lank geslagte van Afrikaans- en Engelssprekende Maties tot uitnemendheid in hul beroepe kon oplei, is nou skielik vir die huidige universiteitsowerhede nie goed genoeg nie.

Dit gebeur ondanks die protestasies van die US-raad se voorsitter dat “ons [...] Engels en Afrikaans as volwaardige onderrigtale van die US [beskou]”. Hy het dit verklaar nadat hy aandadig was aan die verwerping van ‘n mosie in die raad dat die twee tale gelyke status moet behou. Gelyke status sou volgens hom tot gevolg hê dat “die universiteit sal brand”; volwaardige onderrig (wat blykbaar hermeties van gelyke status onderskei kan word) dat dit nie sal “brand” nie!

Sulke woordspeletjies is blote huigelary, des te meer omdat die jongste konseptaalbeleid dit duidelik maak dat Afrikaanssprekendes se taal en hul kultuur as minderwaardig beskou word. Dit is hierdie beskouing van minderwaardigheid wat emeritus professor Pierre du Toit en ook die opvoedkundige Ria Smuts glashelder uiteengesit het.

Die voorneme in die konsep om die taalbeleid moontlik jaarliks te hersien, verseker boonop dat die “brandgevaar” voortaan slag op slag ingespan sal word as daar aandrang op “volwaardige” Afrikaans is, en dat die US dan elke keer voor geweldsdreigemente sal moet swig.

Die persepsie dat die US besig is om te verengels dra reeds by tot taalverskuiwing in sommige Afrikaanse skole, wat boonop ‘n aanslag van ideologies-behepte politici beleef. Diegene wat aan die wegvat van ‘n verworwe reg meedoen, moet egter besef dat ook ander regte bedreig sal word. Vandaar die vervreemding onder ‘n belangrike deel van die Afrikaanssprekendes.

As iemand se taal aangetas word, word ook sy menswaardigheid geminag. Daardeur word die kultuuroordrag versaak wat een van ‘n gemeenskapsgerigte universiteit se groot take behoort te wees. Die filosoof Pieter Duvenage reken dat wanneer jy ‘n taal versmoor, jy ‘n hele kultuur doodmaak. So verarm jy nie net ons wêrelderfenis in sy geheel nie, maar kortwiek jy ook die potensiaal van individue om meer afgeronde mense te word – as jy ‘n taal leer, leer jy ook ‘n nuwe kultuur ken.

Ons weet wat beskouings van minderwaardigheid reeds in ons geskiedenis veroorsaak het. Sulke dinge het gevolge, des te meer aan ‘n akademiese instelling wat sy eie taalgemeenskap en taalkundige en pedagogiese oorwegings in die wind slaan. Stemme soos dié van Danie van Wyk uit die bruin gemeenskap, die grootste groep Afrikaanssprekendes in die Wes-Kaap, wys tereg daarop dat ‘n nuwe onreg gepleeg word teenoor ‘n groep taalgenote wat na tersiêre onderrig in hul moedertaal smag.

 Al hierdie dinge gebeur aan die vooraand van die eeufees van die universiteit, wat in 1918 tot stand gekom het danksy die enorme skenking van £100 000 van die weldoener Jannie Marais, wat as uitdruklike voorwaarde gestel het dat Hollands-Afrikaans “geen mindere plaats” aan die universiteit moet beklee nie.

Klaarblyklik ag die huidige universiteitsowerhede hulleself onder geen etiese of morele verpligting om te voldoen aan die stigtingsvoorwaarde dat Afrikaans “geen mindere plaats” aan die universiteit moet beklee nie.

Sulke etiese en morele laksheid durf egter nie geld vir alle instansies wat met die US te doen het nie. Soos in die geval van die trustees van die twee steeds bestaande Marais-fondse. Het Jan Marais Nationale Fonds en Het Jan Marais Fonds het oor die jare miljoene rande tot die universiteit bygedra, in die besonder om Afrikaans te ontwikkel tot een van net vier moderne tale wat die hoogste vlak van akademiese en wetenskapstaal bereik het.

Hierdie trustees het nie net ‘n morele verpligting rakende die bedrae onder hul beheer nie, maar ook fidusiêre verpligtinge. Hulle behoort in die openbaar te verklaar wat hulle gaan doen noudat die US-owerhede begin het om Afrikaans af te skaal, met die voorsienbare gevolg dat as die huidige afgraderingsprosesse voortgesit word, die taal uiteindelik aan US uitgefaseer gaan word. Hierby moet ingereken word die gevolge vir onder meer Afrikaanse skole, letterkunde, uitgewerye, joernalistiek en die hoogkultuur in die openbare domein.

Hierdie uitfaseringsmoontlikhede durf nooit die Nuwe Idee wees waarvoor Stellenbosch staan nie. Daarom is dit belangrik dat so ‘n universiteit ‘n krag vir die ontwikkeling van sy gemeenskap moet wees. Kennis bestaan nie om kennis se onthalwe nie – selfs in die sogenaamde basiese wetenskappe moet dit iets doen aan die insig, begrip en wysheid van samelewings. Met ander woorde, aan daardie kennisvlakke wat noodsaaklik is om goeie samelewings deur kulturele ontwikkeling te bou.

Die werklike betekenis van ‘n Nuwe Universiteit van Stellenbosch lê daarin dat dit deur uitstaande voortreflikheid `n uitstaande samelewing in sy bedieningsgebied moet bou. Gelykwaardige parallelmediumonderrig kan verseker dat die huidige Afrikaanse taalgemeenskap in daardie bedieningsgebied ‘n eerbare en diensbare plek inneem om ‘n beter Suid-Afrika te help opbou. Dit sluit niemand op grond van ras of taal uit nie, en boonop dien die volgehoue ontwikkeling van Afrikaans as akademiese en wetenskapstaal as wegwyser vir die ontwikkeling van die ander inheemse tale.

Gaan die US oor ‘n dekade of twee daarop roem dat die nodige empatie en kreatiwiteit ontbreek het om dit moontlik te maak?

  • Ebbe Dommisse skryf in sy hoedanigheid as deelnemer aan #GelykeKanse.
  • 11

Kommentaar

  • Hannetjie Jansen

    Ek weier om aan Afrikaans se begrafnis deel te neem. Dankie aan almal wat werk aan die behoud van Afrikaans.

  • Ek dink alle "Afrikaanse geldkrane" moet sonder verwyl toegedraai word insluitende trust- en beleggingsgeld van Afrikaanse kant.

  • Rietha Swanepoel

    Afrikaans is een van ons kosbaarste kulturele skatte,wat almal in hierdie land met liefde omarm. Sonder die taal sal ons veel armer wees aan enige ander taal en kulturele ontwikkeling.

  • Theresa Papenfus

    Uitstekend. Baie dankie! Ek het lankal gewonder wanneer die kwessie van die befondsing deur Jan Marais, en die voorwaardes daarvoor, in die openbaar genoem gaan word.

  • Henrietta Klaasing

    Inderdaad baie SLIM! Goeie redenasies. Soos baie ander, besef hy dat dit blote politiekery is. Sê nou hierdie is waar: dat "Afrikaans ( of watter taal ook al - my invoeging) as ’n struikelblok vir “wêreldklas” uitmuntendheid beskou word..." ... dan moet elke liewe land wat streef na sogenaamde "wêreldklas uitmuntendheid" mos direk oorskakel na Engels, die sogenaamde wêreldtaal. En dit gebeur in geen land nie, behalwe hier!

  • Ebbe, dit lyk my dat die meerderheid Stellenbosse akademici nie vir rasionele argumente - soos wat jy hierbo glashelder uiteensit - vatbaar is nie. Een van die teenargumente is natuurlik dat parallelle onderrig in Afrikaans en Engels te duur is, aangesien die meeste studente Engels as onderrigmedium verkies. Daar is sekerlik genoeg Afrikaanse instansies wat sal kan help betaal om parallelle onderrig in stand te hou - onder meer daardie einste Jan Marais Fonds. Daar sal sekerlik ook privaat donateurs te voorskyn kom as daar so 'n beroep op hulle gedoen word. Verder wantrou ek die betroubaarheid van die wyse waarop studente se taalvoorkeur bepaal word. Onder watter verifieerbare omstandighede vind dit plaas? Wat ek wel weet, is dat dit gebeur in 'n atmosfeer van minagting vir en ideologiese beswaddering van Afrikaans. Daarvoor moet die Stellenbosse professore en bestuur die skuld kry - daardie mense wat hulle flou skrik vir 'n handjie vol brandstigters op die kampus. En die Engelse kampusse brand ook, maar sekerlik nie oor Afrikaans nie. Terwyl ek hier skryf oorval 'n groot moedeloosheid my. Al hierdie dinge is al oor en oor uitgewys deur kundige en ingeligte mense, maar Stellenbosch bly horende doof en siende blind.

  • Leon de Vries

    Parallelmediumonderrig is al wat Afrikaans op die Universiteit Stellenbosch, my Alma Mater, kan red. Dubbelmediumonderrig is nie prakties nie. Daar is net een student wat sê dat hy of sy nie verstaan as iets in Afrikaans verduidelik word nie en die dosent, onder tydsdruk, slaan oor na Engels. Uiteindelik is alles maar net Engels.

  • Leon de Vries

    Ek stem met Koos Reyneke saam. My Alma Mater sal dalk / hopelik tot besinning kom as die Afrikaanse geldkraantjie toegedraai word. Akademia wag gretig.

  • Johannes Comestor

    Ek is dankbaar dat 'n oudredakteur van Die Burger so uitmuntend vir Afrikaans in die bres tree. Ek bewonder die werk wat Jan Heunis ten bate van Afrikaans aan die US doen. Maar waar is die openbare ondersteuning van Afrikaans van die ander US-raadslede? Die opset by die twee Jan Marais-fondse sal weens die verengelsings beWIMpeling ingrypend moet verander. Die een fonds sal heeltemal uit US-beheer bevry moet word en die ander fonds se raad van trustees sal deurgaans uit nie-US-personeel moet bestaan.

  • Dankie Ebbe vir jou weldeurdagte en nugter redenasie vir die behoud van iets wat noodsaaklik is vir die voortgesette ontwikkeling van jong Afrikaanssprekendes tot hul volle potensiaal as nuttige landsburgers. As die US Raad dit nie verstaan en ag slaan daarop nie, wil hulle dit nie verstaan nie. Daar is niemand so doof soos diegene wat nie wil hoor nie.
    Die bewering dat die meeste Afrikaanssprekende studente daarop aandring om in Engels opgelei te word, het so ver ek weet, geen wetenskaplike basis nie. Daar moet so spoedig moontlik en so breedvoerig moontlik wetenskaplike navorsing gedoen word onder bestaande EN voornemende Afrikaanssprekende studente, wat hul opregte taalvoorkeur is, asook die werklike redes daarvoor.
    As dit te lank gaan neem, moet daar 'n algemene oproep tot 'n vreedsame optog vir die gelyke handhawing van Afrikaans naas Engels op US gemaak word. Sodoende kan die behoefte daarvoor op 'n sigbare wyse gedemonstreer word. Daar kan ook elektronies 'n petisie gesirkuleer word reg deur SA om die behoefte aan Afrikaanse tersiêre opleiding te bevestig. Hoekom het US nie hierdie navorsing reeds lankal gedoen nie?
    As die US Raad hierdie week die verkeerde besluit neem, gaan die rooigety op Stellenbosch moeilik gestuit word. Al wat ek ook weet, is dat dit beslis nie die einde van Afrikaans gaan beteken nie. Daarvoor is daar te veel onkruidgeid in ons gene - iewers sal ons weer uitslaan - dalk op plekke waar ons 'n groter irritasie gaan wees vir die wat ons so ywerig probeer uitskoffel en dalk daar waar hul nie so maklik kan krap nie.
    Die besluit wat die US Raad gaan neem, gaan grootliks bepaal hoe welkom Afrikaanssprekendes in die toekoms op Stellenbosch gaan voel. Dit gaan dus tot 'n groot mate bepaal of baie Afrikaanssprekendes hul droom om in hul moedertaal op Stellenbosch opgelei te word, sal kan uitleef, of dit eerder moet vervang met dieselfde droom maar net op 'n ander plek. As hul nog die deur in ons gesig toemaak, kon ons dit dalk nog verstaan het maar om die Afrikaanssprekende by die agterdeur uit te sit, uit 'n plek wat eens ons tuiste was, sal as erg vernederend ervaar word en baie onnodige negatiewe energie opwek.
    Ons doen dus 'n ernstige beroep op die Raad om wat hierdie kwessie betref, werklik in landsbelang en regverdig op te tree, deur 'n volhoubare, regverdige en gelyke ruimte vir die langtermyn voortbestaan van Afrikaans naas Engels op Stellenbosch te verseker. Moet ons asseblief nie uitsit in die koue nie! Die Engelse spreekwoord sê nie verniet: " Measure twice, cut once" nie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top