’n Bymekaarkom ter viering van vrouekrag

  • 0

Die Afrikaanse Taalraad (ATR) bied op 9 Augustus ‘n Vrouedag-geleentheid aan onder die tema Vrouedag, Vrouekrag!  Dit vind plaas by die Studentesentrum van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie in Wellington, ’n hanetreetjie vanwaar die ATR vyf jaar gelede tot stand gekom het.  Die soeklig sal val op die rol van die vrou as vennoot in die verwesenliking van die ATR se missie - om Afrikaans en Afrikaanssprekers te bemagtig, bevorder en beskerm.  Die geleentheid sal ook benut word vir ’n blik op die pad waarlangs die ATR die afgelope vyf jaar gekom het.

Nagenoeg 150 vroue van ledeorganisasies en ander instansies, waaronder twee plaaslike bejaardesorgsentrums, kan uitsien na ’n genoeglike dag.  Die spesiale gas by die geleentheid is Lynette Francis, bekende mediapersoonlikheid.

Volgens die voorsitter van die ATR, Michael le Cordeur, geskied hierdie bymekaarkom rondom die vrou se rol in die verwesenliking van die ATR se strewe, in dieselfde gees van daadkrag en saamstaan wat gelei het tot die viering van Vrouedag jaarliks op 9 Augustus.  ’n Paneelbespreking met die tema Vrouekrag in aksie!, onder leiding van Christa van Louw, wat ’n belangrike rol gespeel het in die totstandkoming van die Afrikaanse Taalraad, sal ’n platform bied vir interaktiewe bespreking oor die vrou se rol in gemeenskappe ten opsigte van die volgende kwessies:  maatskaplike opheffing; taalaktivisme, voorlees vir kleuters; en die benutting van die digkuns vir vrouebemagtiging.  Laasgenoemde onderwerp sal ingelei word deur Diana Ferrus, bekende Kaapse digter, wat ook poësievoorlesings sal doen.  As demonstrasie van vrouekrag sal ’n aksieplan geformuleer word om uiteindelik ’n vrouenetwerk tot stand te bring om onder die vaandel van die ATR te  help om prakties gestalte te gee aan die organisasie se missie.

Die program maak ook voorsiening vir ligte musiek, poësievoorlesings, gelukkige trekkings en allerlei verrassings.  Marzanne Fritz van Superstars, ‘n klopsetroep van Wellington, en Luna Paige, Afrikaanse sangeres bekend vir haar musikale verwerking van Afrikaanse prosawerke, sal by die geleentheid optree.  Interessante uitstallings , wat op vrouebemagtiging sal fokus, sal besigtig kan word.  Handwerkitems ten bate van ’n plaaslike vroue-entrepreneursgroep wat uit hul winste ’n sopkombuis bedryf, sal te koop aangebied word.  Die gaste sal by die geleentheid ook bestanddele vir sop kan skenk.

Die ATR-Vrouedag word moontlik gemaak deur die vriendelike medewerking van die volgende borge en ondersteuners: Het Jan Marais Nationale Fonds, Dagbreektrust, Hiemstra Trust, Naspers, ATKV, Vriende van Afrikaans, AfriForum, Die Dameskring, Afrikaanse Taalmuseum en –monument, Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans, SA Akademie, Breytenbachsentrum, Westfalia en Kuier.  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top