Beste Gerrit
Vergun my asseblief om met ’n verskoning te begin: Ek is jammer ek het jou nie op jou laaste aardse Saterdag geskakel om te groet nie, al het iets ’n paar keer die dag vir my gesê ek moet. Eintlik wou ek Lucia vra of ek maar ’n groetebrief aan haar kan stuur om vir jou voor te lees, want of jy nog oor die foon sou kon gesels het, was ek nie seker nie. Nou skryf ek maar die brief, vas in die geloof dat waar jy nou is, jy my brief moeiteloos sal kan lees.
’n Kwarteeu. Dis ’n kwarteeu sedert ons mekaar in die teologieklas by Tukkies as eerstejaars leer ken het. Skaars daar aangeland, het die Voëlvrytoer ook, in die Masker-teater. Onthou jy nog Bernoldus Niemand se verbysterende weergawe van die “Oosrand-blues”? Kerkorrel met sy Oom Paul-T-hemp wat sy klawerbord manies tokkel en aan ons die stem gegee het waarna ons gesoek het? Hoe ons daarna in ons fakulteit en op die breër kampus self bykans voëlvry verklaar is omdat ons vir die Voëlvryers ingetree het? Daarna Spes, die kortstondige organisasietjie wat ons gestig het om oor rassegrense heen uit te reik? En hoe ek julle in die steek gelaat het toe my geloof my tydelik verlaat het? Onthou jy nog Pretoria in daardie tyd van hergeboorte, toe ons met jeugdige naïwiteit gedink het ’n nuwe land breek aan? Hoe gelukkig was ons nie om die lewe ná skool onder PW te ontdek toe die stad uit haar lang apartheidslaap ontwaak het nie – Christoff Mans se voortreflike Exclusive Books in Sunnypark, die musiek in Esselenstraat, die koffie en gebak by die Grapevine. Pretoria se boheemse lente. Hoe gelukkig was ons om daar te wees, hoe min het ons geweet hoe kortstondig dit sou wees.
Ons is elkeen ons rigtings in. Jy saam met Lucia na Nederland, ek na die Franse. Dit klink vandag seker pretensieus, maar destyds was dié afskeid en vertrek noodsaaklik vir ons albei se latere terug- en uiteindelike tuiskoms. Jy het jou liefde vir Afrika beseël met jou proefskrif oor die gees en die geeste van Afrika-teologie. Jy het pa geword, julle het teruggekom. Jy het bly skryf, bly vra, verheug oor die nuwe bedeling, maar nooit oorgerus nie. Al was jy, seun van Simon en Ina Brand, afkomstig uit ’n huis van onkreukbare integriteit en intellektuele durf, as’t ware in die wieg gelê om tuis te kom in die nuwe bedeling, het juis jou aristokratiese noordelike Afrikaner-afkoms jou daarvan weerhou om te knus te wees. En al het jy en Lucia julle met klein Simon en Arend in die Suide gaan vestig, het jy binnelander gebly, ’n grensbewoner wat geweet het waar jy vandaan kom en met helder oë diegene oorkant die grens gesien en ontmoet het.
Daar was vele plekke waar ons die gesprek in, oor en buite Afrikaans aan die gang probeer hou het: Fragmente: Tydskrif vir filosofie en kultuurkritiek (1998–2004); die poslys van die Groep van 63; die lesingreeks van die KKNK in die eerste jare van die nuwe eeu; die Taalsekretariaat; die boekeblad van Die Burger; LitNet; Die Vrye Afrikaan (2004–2008); en hoeveel ander fora. Deur dit alles heen het jy jouself soos ’n Degenaar met kalmte, humor, skerpsinnigheid en sagmoedigheid gehandhaaf.
Dat juis jy met jou fyn verstand die gewas in jou brein moes kry, is ironies verby. Ek onthou toe ek jou die dag ná die eerste operasie om dit te verwyder in die hospitaal gesien het. Jy was swaar verbind en verdoof, maar jou humor was so droog en lig soos altyd. Later met wyn en brood in julle boekgevulde huis van vreugde het ons almal geglo die doodsengel het jou verbygegaan, tot die gewas weer gekom het. Jy, fyn denker, aristokraat van die gees, sou vanuit die brose menslike denkorgaan die lewe ná die dood begin tegemoet gaan. Dat jy, Godverlanger, in die hoop op die lewe ná die dood geleef het, het gespreek uit die kalmte waarmee jy jou volgens getuienis op die onvermydelike voorberei het.
My vriend, hoe wens ek ons kon vir laas met die brood en wyn by ’n tafel hier benede aansit om weer die lewe te vier. Hoe wens ek ons kon vir laas hier benede gedagtes soos geskenke ruil, die blydskap van weersiens en voortsetting van wat in 1988 begin het, beleef.
Maar dit kan nie. Ons sal moet wag tot ek eendag langs jou kom sit by die tafel van die Ewige Simposium. Tot dan sal ek doen wat ek kan vir die gesprek hier benede, altyd gedagtig aan jou.
God seën jou siel, my vriend en medegedagtemaker.
Tot weersiens.
Johann Roussouw, Bloemfontein, Die Sondag van die Laaste Oordeel, 10 Maart 2013
Lees ook hierdie huldeblyk aan Gerrit Brand.
Lees Vincent Brummer se huldeblyk aan Gerrit Brand.
Lees Christo van der Rheede se brief aan Gerrit Brand.
Lees George Claassen se huldeblyk aan Gerrit Brand.
Lees Robert Vosloo se huldeblyk aan Gerrit Brand.
Lees Michael le Cordeur en Jacques van der Elst se gesamentlike huldeblyk aan Gerrit Brand.

