’n Boodskap oor Dawie de Villiers se heengaan

  • 2

...
Ons is uiteindelik drie ministers wat die kabinet in die onderhandelings verteenwoordig: Dawie, Leon Wessels en ek. Soms is die stryd moeisaam en alleen, maar Dawie bly die spanman wat meehelp om andere wat sukkel om te verstaan saam te neem op die pad van verandering.
...

Dawie was een van my mentors in die politiek.

Maar dit het nie daar begin nie. Ek het hom van skooldae gevolg as rugbyspeler, deur universiteit. Die dag op Loftus in 1970 toe hy die Springbokke op die veld gelei en ons koshuismaat Joggie Jansen kort na die afskop vir Wayne Cottrell van die All Blacks van die veld geduik het, sal ek nooit vergeet nie. Joggie het agterna gesê dit is oor Dawie hulle in die kleedkamer so opgesweep het.

’n Paar jaar later word hy parlementslid vir die Johannesburg-Wes-kiesafdeling en hier volg ek hom op in 1979 toe hy aangestel is as Suid-Afrikaanse ambassadeur in Londen. Die mense van die kiesafdeling was steeds hartseer toe ek in sy skoene moes instap. Die volgende jaar kom hy terug om minister te word en in die tyd wat volg, leer ek hom van naby ken. In die uiters moeilike tye van die 1980’s is hy een van die leiers wat die veranderingstoon aangee. In 1990 lei dit tot die vrylating van Nelson Mandela.

Die groot veranderinge in die land begin en Dawie is op die voorpunt om die proses te help bestuur. Dit is dae en nagte se knaende werk wat voorlê. Ons is uiteindelik drie ministers wat die kabinet in die onderhandelings verteenwoordig: Dawie, Leon Wessels en ek. Soms is die stryd moeisaam en alleen, maar Dawie bly die spanman wat meehelp om andere wat sukkel om te verstaan saam te neem op die pad van verandering. Hy het gesê die oorgang na die demokrasie was vir hom die hoogtepunt van sy politieke loopbaan en die vervulling van baie ideale.

Die oorgang kom in 1994 en Dawie is weer saam in die span. Dit is nou die Mandela-span. Ons trek saam om die demokratiese bedeling te vestig. Dit is nuwe werklikhede. Nasiebou en versoening is twee doelwitte wat Dawie goed verstaan en help om beslag aan te gee. Mandela het vir hom ’n sagte plek gehad. Hy skryf vir Dawie op 26 September 1995: “Best wishes to a highly competent and experienced South African who is making an excellent contribution to the unity of our nation.”

Dawie se lag was aansteeklik en sy humor sonder ophou. Maar ook sy energie en persoonlike gesondheidsbeoefening was voorbeeldig. Dawie was te alle tye ’n ware leier wat niks vir homself gevra het nie.

Ek eer jou, Dawie, vir die voorbeeld wat jy vir my en ontelbare ander Suid-Afrikaners was.

  • 2

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Mens kry die idee dat De Villiers baie beskeie was oor sy rugbyloopbaan. Dit is hoe dit voorkom in sy boek. Ook in ander opsigte ’n nederige en opregte karakter. Toegewy aan nasiebou en versoening. Dit is vir my tog jammer dat die Nasionale Party se politici nie een werklik pa gestaan het vir hulle besluite nie. Ek sonder niemand uit nie, behalwe miskien die hoofleiers soos De Klerk en PW Botha, en die res in die algemeen. Die naam van Nelson Mandela word gereeld amper soos ’n troefkaart rondgestrooi. Hoe suksesvol was die oorgang van 1994 nou werklik? Lees maar hoe baie kommentators krities is oor die oorbeklemtoning van ‘versoening’ en die onderbeklemtoning van ‘geregtigheid’ wat met Mandela se nalatenskap geassosieer word. En dat die skuld van apartheid nooit vereffen is, of ooit sal wees nie. Ek besef egter hoe maklik dit is om terugskouend te oordeel. Die kort van die lank bly egter dat die politici vir hulleself ’n goeie ‘deal’ onderhandel het, en die res van die land is figuurlik (en sedert 2008 ook nogals heel letterlik) in die duister gelaat.

  • Martin Lombaard

    Ja, so kom ’n geslag stadig maar seker tot ’n einde. Vir my ’n interessante spulletjie.
    Almal begin as vurige ondersteuners van die apartheidsidee, almal binneboudbroeders. Kry dan ook op die wa hulle mooi vergoeding, status en mag. Stuur my en duisende ander van my geslag na Angola en prys ons ryklik vir die opoffering wat ons maak. Julle geslag was voorwaar goeie praters.
    Dan raak dit duidelik dat die wiele begin afkom en hierdie geslag kom oornag, met die uitsondering van enkeles, tot bekering tot die nuwe idee. Vergewe my, maar ek dink hoe langer ’n mens op die wa kan bly, hoe voller word die sakke en hoe lekkerder sal die lewe daarna wees. Is ek dalk onnodig sinies?
    As ek daarna kyk, bly dit vir my wat die prys betaal het en nog betaal (regstellende aksie, diskriminasie ...) ’n moeilike saak. ’n Moeilike saak as ek sien hoe julle in gemak en luuksheid aftrede geniet. Maar aan die ander kant is die vraag ook waarheen die situasie sou gegaan het as julle nie tot “bekering” gekom het nie.
    Boetman Martin

    NS – Roelf, ons sien nog niks van werksgeleenthede en en ander mooi goed wat in ons dorp sou gebeur soos tydens jou besoek so ’n jaar gelede aan ons dorp verkondig is was. Dit gaan maar geleidelik al slegter. Jy weet, die basiese goed wat tot niet gaan – paaie, vullisverwydering, water ...
    Nietemin moet mens simpatie hê met die familie, wat hom persoonlik geken het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top