’n Boek vir weer lees: ’n resensie van The errors of dr Browne deur Mark Winkler

  • 0

Titel: The errors of dr Browne
Skrywer: Mark Winkler
ISBN 9781485904946
Uitgewer: Penguin

Mark Winkler is ’n skrywer wat geen bekendstelling nodig het nie. Hy was al verskeie kere benoem vir die Sunday Times Fiction Prize. Dis myns insiens verstommend dat hy nog nooit gewen het nie.

The errors of dr Browne is ’n ambisieuse projek, een waarin Winkler ’n geskiedkundige voetnota neem en uitbou tot ’n majestueuse verhaal wat meesleur vanaf die eerste bladsy. Dr Thomas Browne is ’n ware Renaissance-man. Hy’s ’n mediese dokter, ’n filosoof, ’n wetenskaplike, en ’n skrywer, met ’n voorkeur vir die mooier dinge in die lewe. Winkler beeld Browne uit met ’n slu humor wat my meermale lekker laat lag het. Humor word telkens gebruik as ’n plotmeganisme wat netjies daarin slaag om die afgryslikheid wat sentraal in die verhaal staan, te verbloem tot feitlik die laaste bladsy.

Browne word aangestel om ondersoeker en getuie te wees in ’n verhoor om te bepaal of twee vroue, Amy Denny en Rose Cullender, hulle skuldig gemaak het aan heksery in die parogie van Bury St Edmunds in Suffolk, Engeland. Hy is van meet af aan skepties oor die aantygings wat gemaak word, en die beskuldigers wat dit maak.

Alhoewel Winkler fiksie as voertuig gebruik om sy verhaal na vore te stu, is die gebeure op die werklikheid gebaseer. Tog, ten spyte daarvan dat die uitkomste vierhonderd jaar gelede bepaal is, slaag Winkler daarin om hierdie leser te laat hoop op ’n gelukkige einde. Elke karakter word met ragfyn stroke geverf tot lewensgroot persoonlikhede. Dis onmoontlik om nie ’n mate van meelewing te ervaar vir al die karakters nie. Hy slaag daarin om feit en fiksie soomloos te verweef totdat die leser naderhand nie weet waar een begin en die ander eindig nie.

Vandag is dit natuurlik ongehoord in die Westerse samelewing om bewerings van heksery ernstig op te neem. Wicca as geloof word wyd aanvaar. Vroue word egter steeds verdag gemaak wanneer hulle nie konformeer tot die eng voorskrifte waaraan hulle gebonde gehou word nie.

Dis hier waar Winkler tot sy reg kom. Alhoewel die verhaal in die 1600’s afspeel, 1662 om presies te wees, is die temas wat hy aanpak tydloos. Die patriargale behoefte om elke aspek van vrouwees te beheer en om onafhanklike denke in vroue te onderdruk, staan sentraal in die verhaal. Die obsessie met reputasie, en hoe maklik ’n fluisterveldtog ’n persoon kan vernietig, is vandag nog net so relevant soos tydens die tydgleuf waarin die gebeure afspeel. Die tekortkominge van die regsproses, die rol wat geloof speel om andersins rasionele mense te beïnvloed, die ondergeskikte rol van vroue in die samelewing, is temas wat met groot deernis onder die loep kom.

Winkler wys nooit ’n beskuldigende vinger nie. Selfs die beskuldigers word met ’n mate van empatie uitgebeeld, alhoewel Browne se ergernis met hul bygelowigheid en sy amper krampagtige vasklou aan rede, deeglik uitgebeeld word.

Die verhaal pas nie netjies in enige genre nie. Dis deels geskiedskrywing, deels hofdrama, deels biografie met ’n goeie skeut spanning wat deur die narratief vleg. Daar is ook diepe filosofiese besinning oor die aard van skuld, aandadigheid en aanspreeklikheid. ’n Mindere skrywer sou verlore kon raak, maar Winkler vleg die verskillende drade meesterlik saam tot ’n koherente, genotvolle geheel. Ek kon die boek eenvoudig nie neersit nie.

Ek dink nie die teks sou werk indien die skrywer dit probeer verpak en beperk het tot een spesifieke genre nie.

Die verhaal is terselfdertyd tydsgebonde en tydloos. Die spanning tussen geloof en bygeloof aan die een kant, en wetenskap en logika aan die ander, soos wat dit in Browne se lewe en in die teks uitspeel, word meesterlik uitgebeeld. Browne se lewe word beheer deur rasionaliteit. Tog is hy uiteindelik die instrument wat gebruik word in ’n verhoor wat grootliks op wat hedendaags net as bygeloof beskryf kan word, berus.

Thomas Browne se biograaf beskryf later sy aandeel aan die Cullender/Denny verhoor as: “The most culpable and stupid action of his life.” Die ware tragedie en afgryse lê egter nie net in die beslissing in hierdie saak nie. Dertig jaar later word hierdie saak gebruik as presedent in die verhoor in Salem, Massachusetts.

Ons weet almal wat daar gebeur het.

The errors of dr Browne is ’n boek wat ek weer en weer sal lees, en beslis kan aanbeveel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top