’n Biblioteek is meer as net boeke

  • 5

’n Biblioteek is veel meer as net ’n klomp boekrakke met ’n versameling boeke.

Dis nie net ’n plek waarheen mens gaan om naslaanwerk te doen en waar kwaai bibliotekaresses jou stilmaak as jy raas nie. Dis ’n portaal waardeur mense ander leefwêrelde kan ingaan. Dis ’n geleentheid waar lesers toegelaat en ingenooi word om onder ’n ander se vel in te klim en deur hulle oë te kyk. Dis ’n paspoort na nader lande, ander kulture, ander gebruike en ander tale. Dis ’n gesprek wat tyd en ruimte deurgrens, ’n gesprek tussen skrywer en leser wat oor eeue heen voortgaan. Partykeer is dit ’n profetiese rede, ’n voorbode van wat kan kom. Ander kere is dit ’n herinnering van wat was, ’n waarskuwing om nie die foute van die verlede te herhaal nie.

Dis ook wetenskaplik bewys dat lesers minder geneigd is om wette te oortree. Anders gestel: daar is ’n direkte verhouding tussen leesvaardigheid en misdaad.

Die biblioteek in my plaaslike gemeenskap bedien vier plaaslike skole wat binne stapafstand geleë is. Drie is laerskole en een ‘n hoërskool. Altesame is daar tussen drie en vier duisend kinders wat die skole bywoon. Al vier die skole bedien voorheen benadeelde gemeenskappe. (Sommiges sou argumenteer dat dit ook huidiglik benadeelde gemeenskappe dien.) In dieselfde gebied is daar vyf informele nedersettings. ’n Arm gemeenskap. Minstens een keer per week, soms meer gereeld, word kinders van die twee naaste laerskole onder begeleiding verby my huis geneem biblioteek toe, sodat hulle boeke kan uitneem. Ek verneem die ander twee skole se kinders word ook geneem, maar ek sien hulle nie verby my huis loop nie.

Smiddae is die tafels beset deur skoolkinders wat naslaanwerk vir take doen. Dan is daar nie plek vir ’n muis nie. Ek is nog ’n gereelde lener by die biblioteek, en ek het nou al geleer om eerder soggens vroeg my boeke uit te neem.

Ek het op vier begin skoolgaan. Ek kon toe al lees, al was dit nie altyd met begrip nie, want ek het smiddae saam met my ouer broer deur sy huiswerk gegaan. Toe ek nou amptelik in die skool is, het my pa my geneem om aan te sluit by die biblioteek. Ek het gereeld en pligsgetrou my boeke uitgeneem en terugbesorg. In die 43 jaar tussen toe en nou kan ek nie onthou van een keer dat ek ’n boete moes betaal vir boeke wat laat is nie.

Die biblioteek is ’n dubbelverdiepinggebou. Op die onderste vlak is die naslaanwerke en die kinderafdeling. Bo het die grootmense boeke uitgeneem. Daai trappe na bo was my eerste kennismaking met jaloesie. Ek was jaloers op al die grootmense wat bo kon boeke uitneem, want al die beste boeke was bo. So het ek in elk geval geglo. Die reël was: jy moes standerd 6 wees voordat jy bo kon boeke uitneem.

Ons was gelukkig. Die bibliotekaresses (daar was altyd twee) het belanggestel in jong lesertjies. Hulle het gesorg dat ek altyd weet wanneer daar nuwe boeke inkom. En toe ek standerd 4 slaag, was hulle geskenk aan my kaartjies om bo boeke te kon uitneem. Ek onthou nie dat daar toe al ’n Lotto was nie, maar ek het gevoel asof Kersfees, Paasfees en Nuwejaar ineengerol en vir my geskenk gegee was.

Ek is nou nog lid van die biblioteek. Hierdie week het ek weer gegaan om boeke uit te neem. Maar tot my skok het ek ontdek dat al die rakke leeg is. Die boeke is opgepak en word nou geberg tot verdere kennisgewing. Intussen word die gemeenskap ontneem van ’n broodnodige diens. Tot verdere kennisgewing. Die munisipaliteit wil sekuriteitsmaatreels beplan nadat daar oor die naweek ’n inbraak was, en daarvoor moet die biblioteek toegemaak word. En toe bly totdat daar ’n plan aanvaar word. Daar is geen aanduiding van wanneer enige maatreëls ingestel sal word nie. Daar is geen aanduiding of daar enige begroting is om in hierdie boekjaar enigiets te doen nie.

Die skoolvakansie is op hande. Al die kinders wat hulle tyd by die biblioteek sou deurgebring het, sal nou vir kwaadgeld rondloop. Daar is wel ’n ander, kleiner biblioteek wat die dorpsgemeenskap bedien. Behalwe dat dit te klein is om die ekstra mense te bedien, is dit ook verder weg. Moet die skoolkinders nou drie kilometer loop om boeke om te ruil, en die helfte van die skooldag verloor, terwyl daar ’n gebou etlike honderd meter weg van hul skool is? Wat van werkers wat moeg uit die werk kom en net vinnig ’n boek wil uitneem? Moet hulle nou ’n bus of taxi neem dorp toe, en dalk nie betyds daar aankom voordat die biblioteek sluit nie? Wat van die kinders wat na skool hul navorsing vir huiswerk doen? Hulle het nie geld om vervoer dorp toe te neem nie. Moet hulle hulle veiligheid in gevaar stel om hul huiswerk te doen?

Die munisipaliteit is duidelik tevrede om hul armste gemeenskap sonder boeke te laat. Daar was ook al by die dorpsbiblioteek ingebreek, maar dit word nie gesluit nie. Hoekom dan die Pineview-gemeenskap ontneem van een van hul belangrikste geriewe? As sekuriteit dan so ’n bekommernis is, hoekom nie net ’n sekuriteitsbeampte aanstel nie? Dit gebeur tog gereeld in ander dorpe.

Om die biblioteek toe te maak is dalk op kort termyn ’n haalbare oplossing. Langtermyn gaan dit meer probleme veroorsaak as wat dit oplos. Langtermyn is dit ’n kortsigtige besluit wat wys hoe uit voeling die politici is met die gemeenskappe in wie se belang hulle na bewering optree.

Dan moet hulle eerder uitgestem word.

  • 5

Kommentaar

  • Ek ken die streeksbibliotekaris van Theewaterskloof en het haar hieroor gevra. Sy sê die biblioteek word tans opgeknap en dis net tydelik gesluit. Terwyl die opknappingswerk besig was het die vandalisme plaasgevind. Die rekenaars is gesteel en die alarmdrade afgesny. Die WiFi is ook mee gepeuter. Hulle gaan die sekuriteit opknap want personeel is al daar gedreig. So die goeie nuus is die biblioteek gaan weer oop wees met ‘n nuwe baadjie en goeie sekuriteit. Gelukkig het die Wes-Kaapse regering begroot vir die uitbreiding van biblioteke. Dan kan die kinders weer na hartelus lees. In die tussentyd moet hulle maar die biblioteek in Grabouw gebruik.

  • Dit wil lyk of meeste biblioteke in die land agteruitgaan.Dikwels meer agv 'n gebrek aan nuwe aankope omdat geld vir ander dinge gebruik word, maar in Gauteng en Noordwes word biblioteke selfs afgebrand in protesaksies. Wat se oplossings kan gemeenskappe self uitdink? Daar is seker oplossings soos dat almal boeke skenk wat hulle self gekoop en klaar gelees het. Maar arm gemeenskappe se mense kan nie boeke koop as hulle beswaarlik genoeg het om te oorleef nie. Die mense by munisipaliteite en ander instansies verstaan eenvoudig net nie dat 'n ongelese boek minder waarde het as 'n gesteelde boek wat dalk êrens deur iemand opgetel word en selfs net deur één persoon gelees word nie.

  • Gustaf Claassens

    "Dis wetenskaplik bewys dat lesers minder geneigd is om wette te oortree. Anders gestel: daar is ’n direkte verhouding tussen leesvaardigheid en misdaad," sê Bettina.

    Nou wonder ek net hoe beskryf mens diegene in 'n munisipaliteit wat biblioteke sluit totdat 'n sogenaamde sekuriteitsplan goedgekeur is.

  • Reinette Rautenbach

    Ek is n bib-tannie. Innige simpatie met die boekloses. Maar sekuriteit is ’n wesenlike probleem. Baie plattelandse biblioteke het net een of twee personeellede aan diens. Ek was al in bitter ongemaklike situasies met gebruikers. Harde kriminele het my al met geweld gedreig. Moenie lag nie, ek is ernstig! Ek dink hulle waardeer die ambience. Of dalk net die lugreëling. Die punt is dat werkbare sekuriteit in ’n hoë risiko-area verpligtend is, anders is dit ’n onveilige werksplek wat strydig is met die arbeidswet.
    Wees maar geduldig. Die departement tree reg op. Hul kan nie die personeel aan ’n onveilige risiko blootstel as hul nie soveel veiligheidsmaatreëls as moontlik getref het nie. Ons het palisades, ’n gemonitorde alarmstelsel, paniekknoppie, kluisie vir fotostaatgeld en ons probeer altyd twee personeellede aan diens wees.

  • Philippus Janse van Rensburg.

    Ons wat kan lees, en gelees het, en boeke het, kan help deur wat ons gelees het en vir ons waarde het, oor te dra deur ons vermoë om presies te onthou, op te knap en dan oor te dra. Soos in die ou tyd, moet ons storievertellers word, kinders en jongmense om ons versamel en die stories vertel. Maar, dit gaan van ons vra om ons eie verstand op te skerp. Ek en my vrou is tans duidelik bewus gemaak dat ons 'n taak (en roepstem) het om beskikbaar te raak in ons omgewing. Geruime tyd al koop ek boeke wat sal saak maak vir my kleinkinders.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top