...
Engele is ouer as die Christendom. Lank voordat teoloë die triniteitsleer gekonsepsualiseer het, was stories oor engele al in die omloop.
...
Titel: Die onsienlike wêreld van engele
Skrywer: Jaco Scholtz
ISBN: 9781776351459
Uitgewer: Luca
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Hoekom ’n boek lees oor engele wanneer jy (daardie verskriklikheid) ’n “selferkende ateïs” is? Nie maar net ’n verlore siel wat afgedwaal het nie, maar skaamteloos daarby! ’n Mens kan altyd iets leer by mense van wie jy verskil en selfs by mense van wie jy nie hou nie. ’n Mens hoef nie van iemand te hou om hulle kennis te kan bewonder en daaruit te kan put nie. Uit die Boeddhisme moet ek een waarheid gedurig herleer – moenie met verwagtinge en vooropgestelde idees lewe nie. Maar as ek weer sien, dan trap ek maar weer skeef en verloor balans. So was dit vir my met Die onsienlike wêreld van engele. Om hierdie boek te lees, was ’n taamlike frustrasie. Ek lees graag enige iets oor die geskiedenis van godsdienste. Veral die Christendom, Islam, Boeddhisme en Judaïsme en al hulle vertakkinge. Kerke is net so interessant. En ook verskeie ander esoteriese en spirituele geskrifte. Godsdienstige gemeenskappe het immers ’n leeueaandeel in die ontwikkeling van ons geliefde Afrikaanse taal. Baie mense ken die storie van hoe Afrikaans met die Arabiese alfabet geskryf is lank voor dit met die Latynse alfabet geskryf is. Met die doel om Islam te onderrig! Om met die erfenis van die religieuse om te gaan, kan ’n verrykende en verkwikkende ervaring wees wat insig en empatie bevorder.
Maar ’n mens verwag tog ’n bepaalde mate van nuanse. Dalk interessante verhale van beweerde engelverskynings. Daar is tog baie sulke wonderlike verhale wat mense vertel oor onverklaarbare ervaringe. Hierdie spesifieke boek is nie so ’n boek nie. Die boek is, in kort, een lang relaas oor engele met die Bybel as die hoofbron van inligting. Die grootste frustrasie lê in die manier hoe die skrywer met die Bybel omgaan. Die boek werk met die veronderstelling dat alles, of dan nou die meeste van die dinge wat in die Bybel geskryf staan, historiese waarhede is. En dan ook dat die Bybel ’n kosmiese stryd tussen God en die bose dokumenteer en bepaalde uitsprake oor die toekoms maak. Nodeloos om te sê, is die Bybel ook, volgens die skrywer, ’n boek oor die Christendom. Die boek ignoreer gerieflikheidshalwe berge en berge navorsing, veral die politieke konteks van Judea in die eerste eeu word in die geheel van die tafel gevee.
Maar miskien die mees frustrerende deel van hierdie boek is waar daar oor die sogenaamde “gevalle engele” geskryf word, ook bekend as demone. Dit is bekend dat die Nederduits Gereformeerde Kerk se lidmate deesdae so verdeeld is oor die bestaan van Satan en die demone dat die saak op dié kerkgenootskap se vergaderinge bespreek word. In ’n onlangse artikel takel ons eie Afrikaanse filosoof Anton van Niekerk ook die saak. “Kan dit wees,” vra Van Niekerk, “dat die voorstelling van ’n bok-kop-mannetjie met ruie wenkbroue, ’n getande vurk en ’n bokbaardjie nog enige traksie in die geledere van die kerk het?” [1] Die antwoord is ja! Die duiwel staan nog sy skoene vol en volgens Scholtz is demone nie net ’n realiteit nie, maar kan demone ook beheer neem van mense. So verklaar Scholtz op bladsy 71 van sy boek: “’n Demoon kan byvoorbeeld blindheid veroorsaak. Word almal wat blind is deur ’n demoon beheer? Nee!” Dit herinner my aan jare terug, na kleindorpie se lekker skooljare. Daar sou ons ook iewers langs die pad moes hoor – tieners wat met Satanisme deurmekaar is, dra dikwels swart klere en luister heavy metal. Maar asseblief, moet nou nie dink almal wat swart klere dra is Sataniste nie!
Net genoeg inligting om jou heeltemal deurmekaar te maak. (Maar ek moet darem ook in dieselfde asem noem, ek is ná al die jare nog net so vol lof vir my onderwysers soos altyd. Wat hulle vermag het met geslag op geslag jong mense, getuig van besondere ywer en toewyding.)
Op bladsy 65 skryf Scholtz dat “die aanwys van water diep onder die grond met ’n mikstok” is ’n “waarsêerspraktyk” en die werk van demoniese magte (eyeroll). Hy hersirkuleer ook die ou voorbeeld van die Israeliete se eerste koning (volgens die Bybel) Saul se besoek aan ’n spiritistiese medium (bl 77–78), waarvolgens God die medium skok deur die ware Samuel uit die doderyk te laat verskyn. Die argument is dat spiritistiese mediums as ’n reël staat maak op demone se insigte. Hierdie voorbeeld van koning Saul word ook gebruik in die teoloog Isak Burger se boeke om spirituele mediums se werk as demoniese werkinge uit te beeld.
...
Dit is nie ’n boek wat op interessante en genuanseerde manier met die onderwerp van engele omgaan nie.
...
Engele is interessante mitiese figure en die verhale van engele vertel ons iets van die wêreld van antieke mense. Vir baie van daardie mense was engele die boodskappers van God, wat God se opdragte uitvoer en in ’n stryd gewikkel is teen die bose. Engele is ouer as die Christendom. Lank voordat teoloë die triniteitsleer gekonsepsualiseer het, was stories oor engele al in die omloop. Dit is gewoon oorgeneem deur latere godsdienstige tradisies, waaronder die Christelike tradisies. Om in 2023 egter in die werklike bestaan van engele te glo, en die duiwel daarby, is dit deurslaggewend om onkrities met die voorwetenskaplike tekste in die Bybel om te gaan. Die onsienlike wêreld van engele is so ’n boek. Dit is nie ’n boek wat op interessante en genuanseerde manier met die onderwerp van engele omgaan nie. Inteendeel, hierdie boek is ahistories en die skrywer ignoreer al die goeie bestaande navorsing wat die wêreld van die Bybel en die skrywers van die Bybelse tekste op sulke wonderlike wyses vir moderne mense kontekstualiseer.
Eindnota:
[1] Anton van Niekerk: Dit is waar die duiwel skuilhou. https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/anton-van-niekerk-dit-is-waar-die-duiwel-skuilhou-20230425, 25.04.2023, afgelaai 04.05.2023