Mymerings oor COVID-19, moederskap en plundergeweld

  • 0

Prent: Pixabay

  • Chrizane Geldenhuys (née van Zyl) woon in Luanda.

Dit is laatmiddag en ek is met die stootwaentjie op ’n drafstap. Ek hou my horlosie mooi dop, want my pols is steeds ietwat hoog sedert ek ses weke gelede COVID-19 onder lede gehad het. Baba Lisa lê vas aan die slaap onder die muskietnet met ’n kortmoupakkie aan. Geen vessie of kousies nodig nie. Dit is 25 grade Celsius – kwansuis winter in Angola. Die veiligheidswag voor my huis het ’n parka-jas aan.

Ons oefensessie word kortgeknip deur die gebrom van die muskietpolisie se sirene. Hulle doen een keer per week die rondte om die muskiete te verweer. Agter op die bakkie sit ’n man op ’n plastiekstoel met ’n gasmasker aan. Hy mik sy toerusting in ons rigting en blaas ’n enorme rookwolk daardeur. Dit lyk kompleet soos iets uit ’n distopiese film. Ek verbeel my ek is Jake Gyllenhaal in The day after tomorrow en ek maak spore voordat die rooktsunami my inhaal.

Soms voel ek asof ek gaan ontwaak en besef dit was alles net ’n droom: Geslote grense, hazmatpakke, grendeltye en plunderaars. Met die intree van 2020 arriveer ons met twee tasse in die Kaap. ’n Tydelike besoek word ’n jaar se pendel tussen ons ouerhuise. Vyf maande se gewag vir ’n enkele polisieklaringsertifikaat, ’n verdere nege maande se uithou vir werksvisums; die uitkoms ’n baba tydens die tweede vlaag. Oupas en oumas deel in die swangerskap en geboorte, restoureer die 100 jaar oue bababedjie, dra soethappies en rooibostee aan. Watter stories gaan ons eendag aan ons kinders vertel? "Pappa moes drie vlugte neem om jou geboorte betyds te haal."

.......

Baba Lisa lê vas aan die slaap onder die muskietnet met ’n kortmoupakkie aan. Geen vessie of kousies nodig nie. Dit is 25 grade Celsius – kwansuis winter in Angola.

.........

Ek is ’n pandemie-mamma wat nes miljoene ander haar ideale prentjie vir baba grootmaak moes laat vaar. Vier maande postpartum arriveer ons trekgoed in Luanda. Terwyl my man homself oor ’n mik werk, pak ek bokse uit, verf die babakamer, boor gate in die mure en bid dat my borsmelk nie sal opdroog nie. Ek kry myself jammer en verlang na Checkers Sixty60 asook Huggies Gold. Pampers is wel beskikbaar, maar peperduur. Ons beproef elke Chinese en Portugese doek op die mark en die soektog stop uiteindelik by Shoprite se Lovies-reeks. Ek voel skuldig, want ek kán lapdoeke bekostig, maar herinner myself aan die lading wat ek reeds as nuwe ma in ’n vreemde land dra.

"Luanda is nie ’n plek vir ’n vrou nie," was daar voor die trek Angola toe by ’n braai vir my gesê. "Was jy al voorheen daar?"

.......

"Luanda is nie ’n plek vir ’n vrou nie," was daar voor die trek Angola toe by ’n braai vir my gesê. "Was jy al voorheen daar?"

........

Tog wag daar vir my ’n hoop babagoed en meer koffie-uitnodigings van ander Suid-Afrikaanse ekspats as wat ek tussen borsvoedingsessies en my deeltydse studies kan bybring. Hier is ’n voltydse bediende bekostigbaar. Ek is dankbaar vir die ekstra hulp, aangesien die kos- en huishoudelike aankope fyn beplanning verg. Ek sit ’n hele dag opsy vir inkopies en dis ’n groot soektog na fyn gemmerpoeier, sojasous, dadels en vars sampioene. Lisa shop saam.

By die babakliniek ontmoet ek ’n Hollandse Namibiër en gou gesels ons tot laat saans op WhatsApp. Ek deel raad oor vastekos en sy help my om ’n tweedehandse babamonitor op te spoor. Danksy haar aanmoediging is ek kort voor lank gemaklik om in die openbaar te borsvoed, want geen mens kan in hierdie klimaat ’n doek oor die arme kind se kop trek nie. Ek verruil Lisa se organiese insekweerder vir Peaceful sleep en beraam planne om my eie murgpampoentjies te kweek.

Ons stel ’n tydelike motorbestuurder aan, want die Angolese ry met wilskrag en ek besluit om eers oor ’n paar maande die regterkant van die pad en linkerstuur aan te durf. Dit voel asof ek elke dag ’n Uber bestel. Marchal praat Engels met ’n Suid-Afrikaanse aksent. Terwyl hy hard op die pad moet konsentreer, vertel hy my van sy ervaringe as immigrantwerker. Ten spyte van sy swaarkry beskou hy Suid-Afrika as sy tweede huis. Ons vloek vir Zuma en sy trawante en ek huil oor die plundergeweld in Suid-Afrika. Hy vra om verskoning vir sy eie rassistiese uitlatings en dring daarop aan om my trollie te stoot.

Ek koop konserwatief en voel skaam, want ’n enkele aankopie kos my die helfte van sy maandelikse fooi. Ek tel die kwanzanote af en dit voel asof ek met Monopoly-geld speel: Tien duisend, twintig duisend, dertig duisend ... en meer.

Terug by die huis, en die yskas is vol. Die son sak en nog ’n dag in Afrika is vergete. Ek begin die badroetine: warm water, lekkerruikgoed, ’n sagte handdoek ... Ek dink aan die vrou met die drie kinders op die hoek van die straat: "Madrinha, Madrinha" (Godmother, Godmother). My kop bly dwaal na die videobeeld van die ma in Durban wat haar kind by die brandende gebou se dak moes afgooi. En ek is seker die vrou wat haar trollie propvol plundergoed gelaai het, is ook ’n ma.

Lees ook: 

Nothing left to loot in Soweto

The heart of Howick

Memory against forgetting

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top