My Trein-ouma

  • 2

Ek ken haar nie. Om die waarheid te sê, ek het haar nog nooit op ons trein gesien nie. Dit is nou die kwart-oor-vyftrein uit Kaapstad na Wellington. Dit is veronderstel om ’n sneltrein te wees, maar dit is meer ’n slakkepastrein as enigiets anders.

Die treinwa is besonder vol vir ’n Woensdagmiddag. Al die bekende gesigte is daar, soos Nostra-Dawie, so gedoop omdat hy altyd voorspel die trein gaan laat wees (dit is geen geheim die trein is altyd laat nie), asook die vet omie met sy dikraambril wat altyd ’n bakkie KFC op die trein eet. En tussen al die bekende en onbekende gesigte sit sy by die venster. Alleen. Tuur by die venster uit. Kyk na niks. Net daardie kyk wat half hartseer is.

Effe verslons met ’n ligte ruk-pluk in haar een hand. Ouderdom. Haar oë is vaal. Afgeskuur deur die lewe. Stomp. Sy praat nie. Sy sit net en kyk die niet in. Vel gefrommel van ouderdom en met toutjiesrige hare. Dit is die pers gedye-de hare wat my aandag trek. Daai pers gedye-de hare wat my ouma so Ouma gemaak het. Ouma Lief-Lief van die Paarl. My ma se ma. ’n Nooi Lerm van Vredenburg.

Sy was rond. Een van die ronde, groot oumas wat jou altyd so styf vasdruk dat haar lavender-lekkerruikspuitgoed aan jou klere vaskleef ure nadat sy weg is. Sy't altyd uit haar maag gelag as sy ons kinders sien. Skoolvakansies gedurende lente in die Boland was ons hoogtepunt. Cream crackers met kaas en "jam" vir ontbyt. Om die groot, ronde tafel in die sitkamer wat oor die Paarl-Vallei loer. Hoog teen Paarlberg in 1937 deur my Oupa gebou. ’n Groot huis met groot slaapkamers en ’n sonkamer. Die einste sonkamer waar Ouma ons leer Scrabble speel het.

Die laatmiddagson het altyd sulke goue strepe deur haar hare geverf, met ’n tikkie pers skynsel vir afwisseling. Sy't ons geleer van Liewe Jesus, van sy wonderwerke en dat ons elke uur moet dankie sê vir nog ’n dag op aarde. In die einste sonkamer vol boeke van predikers en Christelike goed. En dan was daar die ou swartvaal, verbleikte boksradio met sy groot rooi knop waaraan Ouma altyd gepeuter het totdat sy die kerkmusiek-kanaal gekry het. Met haar oë styf toe het sy geneurie terwyl sy gehekel het.

Sy was damn goed met hekel. Dit was soos ’n huistaal vir haar. Sy't altyd vinnig gehekel, bietjie geneurie en nog meer gehekel. Die sonkamer was ook waar sy ons bederf het met hertzoggies. Vars, tuisgebakte hertzoggies. En dan was daar die bakkie geroosterde amandels by die hertzoggies. En terwyl ek gekou het aan die amandels, het Ouma geneurie. Sondae het Ouma so baie stories vertel, ek wens ek kon alles onthou. Dit is nou net grepe, soos Polaroid-kiekies, maar verdof deur die jare. Ek wens ek kon dit onthou om te deel met my suster se kinders. Ek het nie kinders nie.

Ouma se stories. Die soort stories wat jy nooit in enige boek in die wêreld sal kry nie. Familiestories deur die jare oorvertel. Generasie tot generasie. Die stories is nou vaal in my gedagtes. Vaal soos die winterreën buite wat strepe teen die treinvenster trek.

Die tannie by die venster kyk op en kyk na my. Haar oë is steeds dof, maar daar is ’n glimlag agter die oë. Sy knik haar kop. Ek glimag terug. Haar hare is pers ge-dye. Net soos my Ouma Lief-Lief. Ek mis haar.

Ook deur Emile Butler O'Brien

My onbekende vriend …

 

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Elmari du Plessis

    Ek love die storie boeta. Ek onthou als presies soos in jou storie. Dankie vir die memories. X

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top