My onbekende vriend …

  • 2

Die trein ruk-ruk oor die spore. Dit klink soos ’n ou Bantam-bakkie wat petrol sluk en vorentoe skiet en dan weer doodruk.

Buite skiet die skoonheid van die vroeë Boland-oggend verby die vensters. Grepe uit ’n strokiesboek. Prentjiemooi. Koud met ’n lae mis wat oor die plaasdamme hang terwyl die berge uittoring en na die blou hemellug gryp.

Die trein is vol. Verbasend vol vir ’n Vrydagoggendrit uit die Paarl na Kaapstad. Die trein kronkel deur die vallei en die passasiers doen hul eie ding. ’n Paar brei, ander lees koerant. Hier en daar is daar jonges wat skelm in hul neuse krap onder die valse indruk dat niemand hulle sien nie. "Sies," flits dit deur my gedagtes.

Die trein nader Klapmuts-stasie. Ek is half opgewonde. My "spesiale" vriend klim by Klapmuts op. Baie dink hy is half boemelaar, maar hy is nie, hoewel hy soms so lyk en ruik. Maar dit pla my nie. Dit is sy Malmesbury-breistem wat my laat glimlag. So ’n warm, lekker glimlag. Nog voor die treindeure oopruk, hoor ek sy stem. "Môre, hoe gaan dit vandag?" skreeu-roep hy na die treindrywer. Iets word in die verte geroggel. ’n Antwoord. Dit klink ten minste vriendelik.

Metaal skuur teen mekaar as die treindeure oopruk. “Môre, al my goeie vriende," groet my onbekende vriend almal. "Dit is nog ’n wonderlike dag met God se genade," preek hy vriendelik. Almal bly stil. Mense koes-koes en maak asof hulle besig is. Hulle vermy oogkontak met hom. Die jong man met sy vuil klere, okkie-kortbroek en gehawende trui wat laag op sy heupe hang.

Die trein ruk voort en die Klapmuts-jongman stap in die gangetjie af en plak homself oorkant my neer. "Meneer, meneer," praat hy opgewonde. Ek glimlag en kyk op, stip in sy skrefiesogies. "Daai trein voor ons is weer vol probleme. Dit is hoekom onse trein so laat is."

Ek hoor dit elke oggend as ek die trein Kaap toe haal. Dieselfde storie. "Wat het dan gebeur?" vra ek soos gewoonlik. "Nee, ek hoor daar is weer kabels gesteel." Dit is dieselfde verduideliking elke oggend. Ek skud my kop in ongeloof soos ek dit elke dag vantevore gedoen het.

"Ja, die treindrywers het my vertel. Ek dog ek vertel Oom maar net sodat Oom nie in die moeilikheid kom nie." Skielik skiet sy stem op: "Kyk hoe lekker vreet daai koei die gras by die dam!" Ek kyk uit en sien so tien koeie staan en wei.

"Oom, die mense sê ek is kêns omdat ek so stadig is met alles, maar ek weet God maak nie foute nie. Ek is maar net ek. My ouma sê ek is spesiaal so gemaak,” sê hy met ’n lag.

Ek wonder waar hy werk? Ek wonder presies waar hy bly. Wie sy familie is en waar hy sy aansteeklike lag kry.

Die trein verminder spoed soos dit Muldersvlei-stasie nader. My onbekende vriend tel sy sak op. Hy klim oor by Muldersvlei om die trein Stellenbosch toe te kry. “Oukei, Oom, koebaai, mag God Oom se dag seën." Ek groet. Half hartseer dat ek nie meer met hom kon gesels nie. My spesiale vriend sonder naam.

  • 2

Kommentaar

  • Briljant. Ek wil ook nou weet wie die onbekende vriend is. Hy klink na ’n mens wat ander nodig het op jou dag, om klein bietjie vreugde mee te begin. Begin sommer my dag ook met ’n glimlag. Mooi gedaan Emile. Skryf nog. Skryf nog.

  • Avatar
    Elmari du Plessis

    Baie goeie storie boeta. Dis hoe ek jou ken ... al jou interessante en detailed stories. Hou so aan! 😊👍

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top