My taal is my lewe

  • 3

Anzil Kulsen (foto: Naomi Bruwer)

Dit was 1994, ek was in matriek en die land was ‘n wedergebore nuweling. Ek het aansoek by verskillende tersiêre instellings gedoen vir verdere studie. Dalk was ek dom, dalk was ek waaghalsig, miskien albei, want ek het in ‘n verkeerde rigting geneuk en moes later opskop. Vandag is ek spyt ek is nie aanvaar by die Universiteit van Zoeloeland nie. Ek wou met alle mag en mening in Kwadlangezwa gaan studeer, maar hulle het toe net Zoeloe-studente geakkommodeer. As ek nou terugkyk en die mag van die huidige student in ag neem, sou ek dit dalk reg kon gekry het dat hulle my klasse in Afrikaans aanbied. Ek sou dalk selfs, soos tans by Kovsies, kon eis dat mense in gesagstrukture verwyder moes word. Maar nou ja …

Ek is Afrikaans. Ek dink en droom en jok in Afrikaans. Ek is bruin. En trots op my herkoms. Ek kan nie iets anders wees nie, al sou ek ook hóé hard probeer. Al wat ek kan doen, is om trots te wees op wie ek is en wat ek ken. En saam te help veg vir die taal wat ek liefhet se plekkie in die son. Nes ek glo daar is plek vir my Zoeloe-eweknie of spreker van enige ander taal.

Tydens Februarie met al die rassespanning op sosiale media en die betogings by universiteite oor die taal van my hart toer ek deur Namibië om Afrikaanse boeke te bemark en taaltrots te bevorder. In skole vind ek swart kinders, wit kinders, bruin kinders, geel en blou en pienk kinders … almal so bitter trots op waar hulle vandaan kom en op hul taal. Party is Afrikaanssprekend, ander is Herero, Damara en Duits. Hulle sien nie meer mekaar se ras of velkleur raak nie. Hulle sien mekaar as individue raak en gee erkenning aan die andersheid, vier die diversiteit.

Terug op eie bodem word ek bewus van verskeie groepe jong studente wat baklei om Afrikaans hel toe te stuur. Afrikaanse mense hel toe te stuur. Hoekom? Hoe bedreig my taal en die voorreg om in my taal onderrig te word, enigiemand anders? Afrikaanse mense is rassisties, beweer hulle. Deur ons taal as onderrigtaal te probeer behou, rassisties? Ek twyfel. Dis nie Afrikaans die taal of Afrikaanse mense wat rassisties is nie. Dis mense van alle rasse en klasse en taalgroepe met een of ander minderwaardigheidskompleks wat rassisties is. Hoekom sal ons mekaar se taaltoekoms wil vermoor as daar vir elke volk, nasie en taal ‘n plekkie in die son is? As ons kan leer by mekaar se verskille, hierdie verskille vier en bewaar.

Besoeke aan skole, met Afrikaanse leerders van alle rasse, waar ons leesfeeste vier en die waarde van stories aan jong Suid-Afrikaners oordra, vertoon ‘n prentjie rooskleurig mooi. Kultuurverskille word maklik deur die jonger kinders as vanselfsprekend aanvaar. Maar ook hierdie ontvanklike siele gaan negatief beїnvloed word as dinge in ons land lank genoeg in die verkeerde rigting neuk.

Is hierdie nie juis die tyd waarin ons by mekaar kan leer nie? In sy onlangse Brief aan Afrikaanse studente stel Max du Preez  voor dat die wit student uitreik en luister wat dit is wat hul swart eweknie so kwaad maak. Hy waarsku teen emosies wat opgesweep word deur AfriForum en rig sy pleidooi direk tot die logiese denke van jong Afrikaanse studente. Ja, ons het ‘n verlede en ons almal is deur apartheid skade aangedoen. Niemand kan of wil die prys betaal vir die dom foute van ons voorvaders nie. Afbreek, doodmaak en onmin gaan dit nie beter maak nie. Inteendeel.

My oplossing vir die saak is dalk oorvereenvoudig. Maar die dag wanneer ek my skoene by my swart vriend se huis kan uitskop, die dag as vriende van verskillende agtergronde saam om een tafel kan sit en koffie drink, op gelyke vlak, die dag wanneer niemand meer veroordeel word vir waar jy vandaan kom nie … eers dan sal ons mekaar op gelyke vlak vind. Hierdie gelyke vlak word alreeds deur jong lede wat die Colour-blind beweging steun, moontlik gemaak. Doodnormale mense wat nooit die aandag van die media kry nie, kuier reeds jare lank al by mekaar om braaivleisvure, gesels oor die verlede en wonder hoe die toekoms sal lyk as ons land se jongmense nie gaan ophou om alles te vandaliseer nie.

Waar is die gemene deler? Kan ons nie konsentreer op dit wat ons gelyk maak, dit wat ons een maak nie? Kan ons nie saam veg vir ‘n saak soos herwinning of aardverwarming, of ons renosters wat uitsterf, probeer red nie? Al die negatiewe energie rig net skade aan. Geen gebou wat geplunder word, of monument wat afgebreek word, of enige stakings wat tot die besering van onskuldige mense lei, sal die verlede kan uitwis, of die agterstand oorbrug nie. Mens kan in wonderwerke glo, maar wragtig …

Terme soos “agtergeblewe” en “regstellende aksie” is oudtyds. Met al die geleenthede vandag vir jongmense (wat nie vernietig nie), hoef niemand meer agtergeblewe te wees nie. Dis ‘n keuse wat jy maak. Met harde werk, ysere wil en deursettingsvermoë kan elkeen in hierdie mooi land van ons ‘n goeie lewe vir hom- of haarself skep. Niemand wat sy sout werd is en sy weg in die arbeidsmark verdien het, hoef op grond van regstellende aksie in ‘n pos geplaas te word nie. Ongelukkig sal studente dit net regkry as hulle die instelling wat hulle daarvoor moet voorberei, respekteer en doen waarvoor hulle daar is: studeer.

Ek het tog hoop vir ons land. Hopelik bereik Du Preez se pleidooi die regte groepie mense. Dit, saam met die jong Themba Ofentse Shai van Tukkies se Facebook-inskrywing, wat wys daar is tog ‘n paar oopkop studente wat weet hulle het by ‘n instelling met ander kulturele waardes as hul eie begin studeer, gee my hoop.

In ons land blaas die media die negatiewe geweldig op. Ons word oordonder deur die negatiewe. Maar diep binne my glo ek die goeie sal oorwin. Wanneer die jong kinders by die skole wat ek besoek, eendag oorneem en met minder bagasie as ons generasie hul volwasse lewe begin, hoop ek, gló ek, sal daar algehele harmonie tussen almal heers. Sal daar ‘n plekkie in die son vir elke taal en elke kultuur wees …

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Wilhelm Fourie

    Hierdie artikel behoort verpligte leesstof vir elkeen in hierdie land te word. Anzil se siening en verhouding met Afrikaans is dié van die meerderheid Afrikaanssprekendes: Ons is eenvoudig ontsettend lief vir ons taal. Ons wil dit nie aan (byvoorbeeld) Stellenbosch behou om ander uit te sluit nie, ons wil dit behou omdat ons 'n objektiewe vrees het dat dit vir altyd as akademiese taal kan uitsterf ...

    Verder moet dit tog moontlik wees dat ons almal beter met mekaar oor die weg kan kom soos in Namibië.

  • Avatar
    Corlia Fourie

    Anzil, hou van die idee van die colour-blind-beweging. Jy's reg dat die meeste van ons Suid-Afrikaners goed met mekaar oor die weg kom. By die firma waar ek vryskutwerk doen, het ek nog nooit 'n rassevoorval gesien nie en die bruin, swart en wit joernaliste wat vir die plaaslike koerante werk en die tydskrifte, en die skoonmakers kom almal goed oor die weg - probeer mekaar se tale praat, of dan net groet in 'n ander taal. Ons gesels, ons lag, bewonder mekaar se klere en haarstyle. Miskien bly almal van ons in 'n ander land.

  • Avatar
    Hanno Visagie

    "Hopelik bereik Du Preez se pleidooi - hy waarsku teen emosies wat opgesweep word deur AfriForum - die regte groepie mense." Max du Preez, die kulturele marxis, die redder van Afrikaans? Nee, hier sit jy die pot sleg mis.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top