My stryd met ADHD deur Hykie Berg: ’n boekresensie

  • 0

My stryd met ADHD
Hykie Berg
Lux Verbi
ISBN: 9780796322036

Hykie Berg is allermins ’n onbekende in Suid-Afrika en het groot sukses behaal met sy eerste boek, My storie van hoop, wat in 2017 die lig gesien het. Sy tweede boek, My stryd met ADHD, het in 2020 verskyn en fokus meer op sy onsigbare oorlog en voortdurende stryd met ADHD (Aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom).

My stryd met ADHD is nie alleenlik gerig aan lyers aan dié geestesongesteldheid nie, maar verduidelik die kompleksiteit en alledaagse stryd met ADHD vir almal om maklik te verstaan. Die versteuring word gekenmerk deur ’n aanhoudende patroon van onoplettendheid of hiperaktiwiteit-impulsiwiteit. Alhoewel daar ná diagnose medikasie daarvoor beskikbaar is, is dit nodig dat die persoon gedragsterapie en opleiding in sosiale vaardighede ontvang asook ’n gesonde leefwyse, dieet en oefening met natuurlike aanvullings volg. Die persoon wat hand aan hand met ’n lyer leef, sal beslis baat vind by die lees van Hykie se indringende, emosionele en baie eerlike vertelling van hoe so ’n persoon se denkwyses werk.

Alhoewel daar groot gedeeltes in die boek herhaal word wat ook in My storie van hoop aangespreek word, val die lig hier direk op die omvang van sy versteuring en tot hoe ’n mate dit nie net sy lewe omvergewerp het nie, maar ook sy naastes beïnvloed, weggedryf en vervreem het. Dit het ’n direkte impak op almal rondom jou en Hykie se lewensverhaal is die seer bewys van die gevolge van ’n onbehandelde stryd met ADHD asook die moontlikhede van verkeerde bestuur en vrye toegang tot voorgeskrewe medikasie. Die onderwerp van ADHD word intensief behandel en verskaf inligting vir die lyer asook naastes van hoe lewensvernietigend dit kan wees. Boonop is medikasie geensins die (enigste) antwoord hier nie en word daar van die gebruiker verwag om ingeligte, verantwoordelike besluite te neem ten opsigte van die bestuur en verbruik van die ongesteldheid en voorgeskrewe medikasie. Die klem val op die feit dat geen medikasie ADHD kan genees nie. Dit behandel bloot die simptome. Dit is dus van kardinale belang dat die gebruiker ten volle ingelig is oor die korrekte gebruik daarvan, en die newe-effekte, asook waak teen die misbruik van dié voorgeskrewe medikasie, want dit kan in sommige gevalle selfs dodelik wees. Neem ’n ingeligte besluit met die gebruik van medikasie, moenie net blindelings mediese spesialiste se aanbevelings vertrou nie. Elke ADHD-lyer het die reg om sélf ’n besluit oor die verbruik van medikasie te neem. Jy moet hierdie toestand op ’n konstruktiewe manier hanteer.

Hykie slaag weer eens, net soos met sy eerste topverkoper, daarin om die leser mee te sleur in ’n stroomaf vertelling van die lewe toe hy stroomop geleef het, totdat hy met behulp van God ’n lewensveranderende besluit geneem het om daagliks verantwoordelike bestuur van sy lewe te onderneem. Die impak wat dit op verhoudings het, word uitgelig – verhoudings met vriende, sy ouers, kennisse en God, en die handomkeer gebeurtenis wat Survivor in 2011 in sy lewe gebring het en hom van koers laat verander het. Soos Hykie verduidelik: "Ek wil jou graag voorstel aan die hoop wat ek gevind het en jou verseker dat jy, met al jou ’tekortkomings’, ’n groter doel het as wat jy dink. Hierdie boek handel oor my pad met akute ADHD sowel as ander geestesuitdagings, en wat ek gedoen het om in beheer van my lewe te kom."

Hykie sê dat hy die eerste boek wou skryf sodat mense ingelig kon word oor verslawing en dat hulle moet besef dat daar hoop is vir enige persoon wat daarmee sukkel. "Ek wou verduidelik hoe hierdie siekte ’n mens geestelik aftakel, maar dat God verslaafdes net so liefhet as enigiemand anders en dat Hy die pad na herstel saam met hulle wil stap." Die tweede boek is geskryf na aanleiding van ’n video wat Hykie op Facebook geplaas het oor ADHD, die gevare van medikasie en die natuurlike roete wat hy in sy herstelproses gevolg het. "Die terugvoer op die video was verstommend. Ek het letterlik duisende e-posse ontvang van ouers wat hulp soek. Dit het my laat besef hoe groot die nood is en dat mense hoop dringend nodig het." Sy hoop is dat Jesus na elkeen sal kom wat hulp nodig het. Dat dié boek mense se oë sal oopmaak en hulle sal lei op ’n pad van herlewing en genesing.

Sy reis gaan deur die jare met worsteling omdat hy anders voel as ander, die verkeerde paaie wat hy begin volg, sy opstand en uitdaging teen grense, verbrokkeling van verhoudings met sy gesinslewe, familie, vriende, verhoudings met meisies, verbrokkeling van sy eerste huwelik en die vreugde in sy huwelik met Gerridene. Die onsigbare stryd met ADHD het Hykie deur diep klowe laat gaan; sy soektog na aanvaarding, wie hy is en God se afwesigheid in sy lewe was duidelik sigbaar. Ondanks die teleurstellings en verslawing, het hy nooit tou opgegooi nie en God se stem het al duideliker in sy lewe geword. Survivor is op die Maldive-eiland verfilm. "Ek het op ’n stomp gesit, my kop opgehef na die hemel en vir God gevra: "Wys my." Ek het ’n sogenaamde Paulus-ontmoeting met God gehad. Ek het ’n algehele paradigmaskuif ervaar. Ek het skielik verstaan dat ek saam met Jesus doodgegaan het en as ’n nuwe mens saam met Hom opgewek is. Ek het besef dat Jesus gesterf en al my sondes saam met Hom gevat het sodat ek foutloos voor God kan staan. Tot daardie dag het ek nie Christelike geloof verstaan nie. Vir die eerste keer het ek verstaan wat ware vryheid en ware liefde is."

Hykie het Hope in ACTion, ’n niewinsgewende organisasie wat inligting en opleiding oor dwelmverslawing en geestesversteurings verskaf, begin. Hy het homself as recovery coach bekwaam, het studeer om verslawingsberading te doen en gehelp om rehabilitasiesentrums op die been te bring. In 2015 het hy ’n natuurlike produk van Amerika waaraan sy vriend hom bekendgestel het, begin gebruik. "Dit is nou byna vyf jaar later en ek was nog nooit weer by ’n dokter, psigiater of spesialis nie. Dié produkte het my lewe geheel en al verander. Dit het my lewe gered. Daar is soveel moontlike oplossings waarvan mense nie bewus is nie. Hande vol pille is nie altyd die eerste of beste uitweg nie."

Deur geloof en harde werk het hy tree vir tree die regte pad begin stap. Hy sluit die skrywe af met agt lewensveranderende beginsels wat hy glo deel van elke Christen se lewe behoort te wees. Dié beginsels het sy lewe deur die jare heen heeltemal verander.

Nadat ek My stryd met ADHD gelees het, kan ek begryp dat dit inderdaad ’n onsigbare oorlog is. Dit is ook weer eens onderstreep dat pille nie altyd die enigste of beste uitweg is nie. En boonop is die agt beginsels waarmee Hykie afsluit, beslis ’n moet-lees en toepassing vir elke mens, en veral vir Christene.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top