My onderwyser, my held!

  • 1

Op 12 Oktober word Wêreldonderwysersdag gevier met die tema “My onderwyser, my held!”

Die ATKV en die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) nooi alle leerders om op hierdie dag stories te vertel van wat hulle onderwysers vir hulle beteken het.

Hulle doen ook ’n beroep op ouers om te vertel van die verskil wat opvoeders in hul eie en hulle kinders se lewens gemaak het.

As volwassene kan jy ook deel wees van hierdie dag deur jóúboodskap aan jou alma mater te stuur; of gaan soek jou oudopvoeder op en vertel hoekom hy/sy jou held is.

Volgens Ben Ferreira, senior bestuurder van Jeug-, Onderwys- en Taalaangeleenthede by die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) hang die sukses van ’n skool grootliks af van die gesindheid van die onderwysers. “Daarom is die viering van ’n dag soos hierdie belangrik, sodat onderwysers ook kan hoor van die invloed wat hulle het op leerders se lewens. Met al die negatiewe dinge wat deurgaans rondom onderwys berig word, is hierdie die ideale geleentheid om weer op die positiewe te fokus,” het Ferreira gesê.

’n Paar bestuurslede van die ATKV en twee skrywers wie se boeke onlangs by LAPA verskyn het, deel hul herinneringe aan onderwysers wat ’n impak op hul lewens gehad het.

"Ek bring hulde aan veral twee onderwysers:

Chris van Rooyen, Laerskool Magrietha Prinsloo, st 4. Mnr Van Rooyen was ’n man met deernis. Ek onthou dat ek vir ’n week siek in die bed was en dat hy my kom besoek het om te verneem hoe dit met my gaan - dankie vir jou omgee.

Mnr JDV Terblanche, Hoërskool Dr Malan, Meyerton. Dankie dat Meneer my vertrou het om as hoofseun iets nuuts te doen. Dankie dat Meneer my vertrou het om later, toe ek self ’n onderwyser was, deel te wees van ’n komitee vir die instel van ’n diploma vir verdere onderwys om insette te lewer oor skoolleierskap. Dankie vir Meneer se vertroue in my. Ek praat dikwels hieroor wanneer ek met leerders praat!" – Ben Ferreira, senior bestuurder: Jeug-, Onderwys- en Taalaangeleenthede, ATKV

"Ek was bevoorreg om in die platteland te kon skoolgaan! Ek was in Hoërskool Kroonstad (Blouskool) en is dankbaar vir die onderwysers wat potensiaal in my gesien het en groeigeleenthede geskep het. Retha Stoltz was my Afrikaans-onderwyseres (sy is steeds by die skool) en onder andere verantwoordelik vir redenaars en debat. Ons het letterlik ure oor verskillende onderwerpe gepraat en as ek nou terugkyk, het dit my gehelp om te leer om goeie navorsing te doen, te luister en dan ’n eie mening te kan vorm.

Chris Verhoef was die skoolhoof en hy het uit sy pad gegaan om vir ons as jong leiers geleenthede te bied om nuwe dinge te kan doen en verantwoordelikheid te aanvaar. Ons was in 1995 baie arrogant en het die skool se bestuurraad aangevat omdat daar geen leerders in die liggaam was nie (dit was nog voordat die Skolewet in werking getree het en leerders deel daarvan gemaak het) en geëis om verteenwoordiging te kry! Ons is toegelaat en dit was ’n goeie leerskool vir dit waarmee ek eendag my eie brood en botter sou verdien. Oor die jare was daar baie onderwysers wat buite die klaskamer (sportvelde, toere, kampe, ens) soveel moeite gedoen het om ons menswees te belê. Baie dankie daarvoor – ek besef vandag dit was liefdeswerk sonder betaling!" – Jaco Deacon, adjunk uitvoerende hoof, FEDSAS

"Juffrou Lynette Greybe was my sub A- en sub B-taaljuffrou by die Laerskool Excelsior. ‘’n Piepklein skooltjie op die Vrystaatse platteland, en hoeka die dorp waaroor Zakes Mda gesels het in The Madonna of Excelsior. Ek was ’n "moelike" kind: ek kon reeds vlot lees en skryf teen die tyd dat ek skool toe is, en het min ooghare gehad vir die Sus-en-Daan-nonsens wat opgedis is as interessante leesstof. Ek was verveeld en kriewelrig en vol nonsens. Juffrou Lynette kon my gedwing het om stil en gedwee op my plek te sit terwyl al die ander probeer om die boeke klaar te lees - maar sy het nie. Sy't toegelaat dat ek my eie boeke klas toe bring, en as ek hulle ook vinnig klaargelees het, kon ek skoolbiblioteek toe gaan vir nog. Sy het my liefde vir lees en woorde aangemoedig en ondersteun, en my eintlik baie tegemoet gekom.

Ek was 11 toe ons Ladybrand toe getrek het, en tipies kind het ek nie veel gewonder oor wat van juffrou Lynette geword het nie. Tot jare later, saam met my ouers op pad Johannesburg toe vir my heel eerste dag van universiteit, toe my splinternuwe baksteen van ’n selfoon lui: juffrou Lynette, net om my sterkte toe te wens vir universiteit, en vir oulaas aanmoediging te stuur en te sê sy's trots op my. Sjoe. Ek wonder baie waar sy nou is, en of sy nog lewe – ek hoop so." – Donnay Torr, bestuurder: Tydskrifte en Sosiale Media, ATKV; redakteur: Taalgenoot en Hoezit!

"Op ’n stadium in een van die baie laerskole waarin ek was, is een meneer afgedank omdat hy die meisies probeer opvryf het, een is tronk toe vir moord, een het alles gelos en ’n sendeling in Malawi geword, en een is hof toe gesleep omdat hy ’n outjie aan sy voete by die venster uitgehang het. Alles in een jaar. Dus, baie slegte onderwysers het ek goed geken. Gelukkig ook baie goeies. By Herschel Girls' School was daar June Kurz, wat Jane Austen cooler gemaak het as Britney Spears (gróót in daardie dae), Riëtte Hugo, wat Afrikaans die gewildste vak gemaak het in ’n WASP-nes, en my ma, Alta Diedericks, wat Duits lekkerder gemaak het as ’n rit in ’n BMW M5." – Carina Diedericks-Hugo, uitgewer en jeugboekskrywer

"My graad 1-onderwyseres in Beaufort-Wes, mej Strobos, was ’n inspirasie. Haar energie bly my by, asook die akademiese selfvertroue wat sy by ons geskep het. Ek onthou ook dat sy my Nan genoem het, en dit het elke keer my ore rooi laat gloei van verleentheid.

Elsa Winckler (nou self ’n skrywer) van Durbanville Laerskool onthou ek het aan ’n gewone skooldag kleur gegee met haar vroulikheid en opregtheid. Sy kon so maklik bloos, wat haar vir ons menslik gemaak het.

Ek het deur die bank goeie Afrikaans-onderwysers gehad. Een wat wel uitstaan wat die kreatiewe betref, is mnr Theuns Kotze van Vredenburg. Hy het my selfvertroue opgebou om skeppend te skryf. Sy humor, menslikheid en sin vir stories was inspirerend.

Mnr Deetlefs, ook van Vredenburg, het nie direk vir my klas gegee nie, maar hy was vir my ’n pilaar van selfvertroue, dinamiese denke en altyd ’n skeut moedswilligheid.

En as ek dink aan mnr Firmani, destydse hoof van Durbanville Hoër, spring die woord "entoesiasme" in rooi letters uit.

In kort: ek het eintlik deur die bank goeie onderwysers gehad. So aan almal van julle, Viva!" – Nanette van Rooyen (née Esterhuyse), skrywer

"Daar was verskeie onderwysers wat ’n groot rol gespeel het in my lewe, maar as ek een moet uitsonder, is dit Andrew Walls, my skeinatonderwyser by De Villiers Graaff op Villiersdorp. Mnr Walls was ’n kort, koddige mannetjie wat deur sy voorbeeld gelei het eerder as deur dwang. Nie dat hy nie soms moeilik was nie, maar deur sy streng beeld het daar baie empatie en begrip gestraal, veral vir ons Engelse koshuiskinders wat ver van die huis af was. Sy modesin was nou nie juis van die skerpste nie, en hy is gereeld daaroor gespot.

Vandag onthou ek nie veel van die skeinat wat hy my geleer het nie, en nog minder van sy modesin, maar wel baie van die lewenslesse en lewenswysheid wat hy my geleer het. Dat dit nie jou aardse besittings is wat belangrik is nie, maar jou karakter. Dat eerlikheid en lojaliteit ver verhewe is bo ander deugde. Dat ’n mens moet opstaan vir dié wat swaarkry en wat minderbevoorreg is. Dat jy altyd alle vroue soos dames moet behandel ongeag hul stand in die lewe. Dat jou woord jou eer is. Dat mense op jou moet kan staatmaak. Dat dit slegs deur die Here se genade is dat ons gered is. Ek dink die afgelope tyd baie aan hom presies 45 jaar na matriek. Ek glo hy was in alle opsigte ’n ideale onderwyser. Ek eer vandag sy nagedagtenis." – Graham Bam, provinsiale bestuurder, FEDSAS

"Ek salueer vandag vir juffrou Johanna Botha van Lucas Meyer Primêre Skool in Vryheid vir die rol wat sy in my lewe gespeel het. Dankie, juffrou Botha, dat jy vir my ’n mentor was; dankie dat ek by jou kon leer wat dit beteken om die lewe voluit te leef." – Mercia Eksteen, ATKV-projekorganiseerder

 

  • 1

Kommentaar

  • Stefanie Du Preez

    Ek wil net vir al die onderwyser by Laerskool M.L. Fick Skool Potchefstroom, Hoërskool Gimnasium Potchefstroom waar ek skool gegaan baie dankie sê vir dit wat julle my geleer en gedoen. My graad 1 juffrou sal ek nooit vergeet nie Phia Engebrecht. Sy nog net so oulike en word ook nie ouer nie. Fichardtpark Primêre Skool Bloemfontein al die onderwyser is ysters in die skool.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top