My octopus teacher: ’n filmresensie

  • 0

Foto-erkenning: Netflix

My octopus teacher
Met Craig Foster
Regisseurs: Pippa Ehrlich en James Reed
’n Netflix-dokumentêr

Die gevaar met ’n meesterwerk soos hierdie dokumentêr is dat ’n resensent so oorweldig kan raak dat hy/sy in ’n rits clichés kan verval (“Asemrowend!” “Moet dit nie misloop nie!” “Onverbeterlik!”) wat die leser/kyker oorversadig en geïrriteerd laat. Niks kan regtig ooit so goed wees nie, en dikwels is dit vir die resensent ’n persoonlike ervaring wat hom of haar so oorweldig dat die produk hulle oorweldig. Maar sal ander mense daarby aanklank vind, en indien wel, hoekom?

Nou sit hiérdie resensent met ’n dilemma. Hoe om lof en eer aan hierdie uitsonderlike stukkie lewe in woorde te gee sonder om daardie lofsange nutteloos-leeg en vervelig te maak. Luipraat-resensie-terme. “Want,” noem ’n vriendin by wie dit onlangs aanbeveel is met ’n pruimedantmond: “Niks kan so goed wees nie!”

Wees verseker, hierdie dokumentêr is in sy/haar eie klas (die seekat is vroulik!) wat my as kyker met ontsag vervul het. Nie net oor die verkwiklike ware gebeurtenis en onderwaterfotografie nie, maar omdat dit ’n mens weer nietig laat voel. Jy kom opnuut onder die indruk hoe min ons van ons eie planeet weet, en hoe sekere seediere gestereotipeer word. Ons leef voorwaar op ’n verruklike planeet.

Sedert Jules Verne se 20,000 Leagues under the Sea het walvisse en seekatte ’n onwelriekende naam gekry. Ek onthou nog die skets waarmee ek grootgeword het (dalk nog in ’n groen Skatkis-boek?) van ’n reusemonster van ’n gedrog met tentakels wat gedreig het om ’n ontvanklike klein seuntjie wat daarna gestaar het, te verwurg. Van daardie oomblik af het “seekat” doodgevaar gesimboliseer. Daarom is My octopus teacher aanvanklik met ’n COVID-masker en gesaniteerde blou handskoene benader. O, die vooroordele wat soos slyk in ’n drein rondgedryf het!

’n Doodgewone natuurkundelessie? Watwo! Niks kan verder van die waarheid wees nie. In hierdie manjifieke dokumentêr raak ’n natuurliefhebber bevriend met ’n seekat – eintlik hy en sy broer Damon, wat ook verantwoordelik was vir die Koi-dokumentêr, The great dance: a hunter’s story (2000), waarvan die uwe die première in Upington waargeneem het. Aanvanklik geld alle vooroordele wat soos goudvissies deur die oseaan baljaar.

Mens en seekat ervaar mekaar as bedreigings en vrees vyandskap. Hierdie grepie uit ’n onderwaterlewe verduidelik egter daardie ou cliché wat as ’n liedjie sy plekkie in ons ouers se harte gevind het: “A stranger’s just a friend jou do not know.” Dit verduidelik: Daar is soveel kreature, seediere, visse, en nou seekatte, wat ’n mens in films as gestereotipeer ervaar wat in werklikheid mensvriendelik is, en met wie ons vriendskappe kan begin, dat die kollig nou op hulle moet val.

Dalk moet Disney ook oor hul muiskneukels geraps word vir animasiestereotipering van sekere (see-)kreature as gedrogte. Maar hierdie dokumentêr stel die mistastings reg en slaan dit bloedneus. Dit bewys dat indien jou hart op die regte plek sit, en jy die natuur respekteer, ’n nuwe wêreld kan oopgaan. Dit beteken nou nie jy moet ’n sandhaai vir middagete oornooi nie (jy is dalk die hoofgereg!), maar binne perke ontdek duikers, soos Craig Foster in hierdie geval, ’n dier (vis?) wat nie alleen met hom vriende maak nie, maar eintlik ’n vreemde onderwaterromanse met hom van stapel stuur. En dis wat hierdie dokumentêr so bo gemiddeld, verbluffend en spesiaal maak.

Vergeet eentonige dokumentêre met pratende koppe oor vervelige onderwerpe. My octopus teacher op Netflix is een van daardie ervarings waaruit jy leer en wat jou verryk. Iets wat jy graag wil toekurk. Wanneer die lewe dan werklik knel, wil jy die kurkprop verwyder bloot om daardie paradyslike rustigheid weer te ervaar.

Neem jou afstandbeheerder, klik op Netflix se My octopus teacher, en kyk hoe jou lewe verander. Dit is, om die cliché weer uit die motbolle te ruk ... onmisbaar!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top