My heel eerste held

  • 3

Foto verskyn met toestemming en is verskaf

My ma was ’n jaloerse ouer – sy het self erken dat sy te jaloers op haar babas was om my pa toe te laat om ons vas te hou. Ek dink sy was eintlik te jaloers op my pa om hom te deel. Dit was my indruk regdeur my kinderjare. Sy het hom – een van die lekkerste mense wat jy ooit kan teëkom – vir haarself gehou en almal op aarde wat ’n verhouding of enige kontak met hom wou hê, moes deur haar gaan, soos Christene deur Jesus tot die Vader. Sy was altyd die son waarrondom al die planete moes wentel, antikloksgewys.

Dus is ek nie regtig toegelaat om daardie byna-liefdesverhouding met hom te hê wat dogtertjies as ’n stadium in hulle ontwikkeling veronderstel is om met hul pa’s te hê nie. Elektra is gefnuik. Miskien verduidelik dit sommige dinge, of miskien is ek só gebore.

My eerste held was my niggie Susan, ongeveer ’n jaar ouer as ek. Haar ma het myne na Florence Nightingale laat lyk. Soos George, een van die karakters in Seinfeld, gesê het toe sy vriende kla oor hulle ouers: Show some respect. Susan se ma (wat nie meer lewe nie) was ’n erfgenaam uit die Vrystaat. Verwen, sjarmant, wreed. Daar is ’n foto van Susan en haar broertjie, wat my ouderdom is (was). Hy is ook oorlede. Die foto herinner my aan kindertjies in ’n konsentrasiekamp of oorloggeteisterde gebied – getraumatiseerde senu-orreltjies. Gelukkig was hul pa (my pa se broer) soos ’n engel wat oor hulle gewaak het (wanneer hy nie moes werk nie) en in die nagte opgestaan het om hulle te vertroos. Ten minste is hy toegelaat om dit te doen – haar ouers was nie so verknog aan mekaar soos myne nie.

Maar Susan, sy was soos ’n engel in my oë. Sy het my geleer hoe om te wees, of hoe ek wou wees: selfloos, liefdevol, beleefd, besorg. Sy het haar boetie wat maar ’n jaar jonger as sy was, rondgedra, steierend. Hy was ’n fris knaap. Sy het hom altyd teen almal beskerm. En vir my, en enigeen na aan haar. Sy het byvoorbeeld vir my gesê, lank voor ons skool toe is: As enigiemand ooit vir my wil vertel waar babas vandaan kom, moet ek my ore toedruk en weghardloop en sê ek wil dit glad nie weet nie. Want iemand het haar vertel en dit het haar hele lewe bederf.

Ek en sy was van kleins af onafskeidbaar. Sy het soos Heidi van die berge gelyk toe sy klein was. Haar bruin oë was ook my lens op die wêreld. In ons tienerjare was die jaar wat ons skei, soms te wyd. Ek het na haar gekyk en hopeloos jonk en ongesofistikeerd gevoel. Dan weer ingehaal. Ek het altyd vir haar stories vertel, dit was my geskenk.

Sy het bleek en woedend geraak in haar tienerjare. Ek dink sy was punk, grunge en goth voordat dit mode was. Sy was in die kunsskool en haar skoolrok het ’n swart brandmerk in die vorm van ’n strykyster op gehad. Sy was koel en roekeloos met swart oogskadu en het onvanpaste aanmerkings in geselskap gemaak. Haar ma was hande in die hare.

In my enigste digbundel het ek oor haar geskryf. Ek haal dit in prosavorm aan, omdat dit steurend is om ’n gedig in die middel van ’n rubriek te lees:

Companion of childhood closer than a sister, how I miss the captivating circus of your mind. You sprouted wings at fifteen, absent-minded child, and rushed headlong into restless adolescence. With what breathtaking eloquence you raged, oh awesome fragile heroine of my meek years. Furious and pretending not to give a damn ever, you got your own back on the neighbourhood – shaming your mother, at times even getting through to your father, who built grandfather clocks all over the yard. Saying things as they were and worse, laughing harshly at the wrong moment. You were so hopelessly inconvenient.

Op universiteit het sy ’n liefdesteleurstelling van epiese afmetings beleef. Die man was ’n sjarmante swendelaar met ’n vrou en kind elders. Sy is in Denmar opgeneem. 11 breinskokke later was sy bleek en stil, met gapings in haar geheue en ’n klein, gefikseerde glimlaggie.

Ek het haar sielkundige se nota gelees. Die diagnose was endogene depressie en dat sy glo nie die lewe kan handhaaf nie.

Ons het mekaar wel weer gevind. Ons het deur dit alles briewe geskryf vir mekaar. Haar ma het my briewe gelees soos sy Susan se Leonard Cohen-kassette verbrand het: Dis wat vir Santjie siek gemaak het, het sy gesê.

Met haar volgende kêrel is sy getroud, jonk-jonk. Hy was ’n lui dromer wat wel die energie gehad het vir affairs. En graag gedrink het en dan het sy gewone passiwiteit soos mis voor die oggendson verdwyn. Het hy handgemeen geraak. Daar was ’n dogtertjie met haar pa se wye, dromerige oë.

Hulle is geskei en hy is later onder geheimsinnige omstandighede dood. Die saak is nog nie gesluit nie. Daar was ’n vrou by hom toe hy geskiet is.

Met die jare het Susan haar mojo teruggekry en haar glimlag het ontvries. Sy is weer engelagtig met ’n edge. Sy het een keer vir my gesê haar ma het (soos my ma) nie van ons ouma, hul skoonma, gehou nie. Maar dit het haar nie gepla nie, het Susan gesê, want haar ma het ook nie van haar gehou nie.

Sy is weer getroud met ’n baie kort, bles man wat besonder breedsprakig is. Sy het juwele begin maak en haar in Pretoria gevestig as maker van gesogte ringe voordat sy Stilbaai toe getrek het. Jongensfontein, in ’n huis waar elke venster vol see is en waar sy winter en somer elke oggend douvoordag in die getypoel swem. Die huwelik werk en daar is ’n briljante, eksentrieke seun wat al ’n volwassene is. Soos haar dogter bly hulle naby haar, want almal wil na aan Susan wees. Sy het ’n winkel en haar werknemers is gek oor haar.

Sy is nog steeds lieflik. Haar lang hare is nou bloupers soos ’n meermin s’n. Ek het geen sibbe meer in die land nie, maar sy is my anker, een van die stringe wat my aan die verlede bind. My mooiste, morose roos.

  • 3

Kommentaar

  • Joan Hambidge

    Hartverskeurend en aangrypend. Hierdie rubrieke moet asseblief gebundel word.

    Tydsdokumente. Ook belangrik hoe die skrywer eerlik kyk na haar lewe.

  • Daleen Mulder

    Hoe pragtig en meesleurend vertel jy die storie, dankie, Deborah! Ek stem saam met Joan Hambidge. Dis 'n tydsdokument, dit hoort in 'n bundel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top