Hoe het jou 2022 gelyk? Wat staan vir jou uit wanneer jy terugkyk oor die jaar wat verby is? Wat was jou gebeurtenis van die jaar?
LitNet het lesers genooi om ons te laat weet en in aanmerking te kom vir ’n kontantprys van R2 500. Lees hier meer oor die kompetisie. Die kompetisie het op 9 Januarie 2023 gesluit.
Hier is die tweede groep inskrywings wat ontvang is.
Christél de Swardt, aktesekretaresse
Dit was begin-Januarie. Ek het besluit hierdie jaar wil ek ’n ander musiekinstrument leer speel. My keuse was die fluit, ook deur sommiges ’n dwarsfluit of silwerfluit genoem. Soos met alles wat ek aanpak, het ek eers deeglike navorsing gedoen. Opgelees oor die soorte fluite wat daar is en watter tipe fluit die beste sal wees vir ’n beginner. Daarna het ek besluit op grond van al my opleeswerk watter tipe fluit ek wil aanskaf. Alles het seepglad verloop. Ek het die spesifieke fluit wat ek wil hê tweedehands gekoop nadat ek ’n advertensie op Gumtree gesien het. Die fluit was egter nooit gebruik nie en nog splinternuut. Dit was dus ’n uitstekende kopie en ek was baie in my skik daarmee.
Daarna was dit tyd vir die volgende stap in die proses en dit is om iemand te vind wat vir my kan fluitlesse gee. Dit was ’n bietjie van ’n hobbel in die pad, want waar begin jy soek? Weereens navorsing gedoen en afgekom op ’n musiekonderwyseres wat in dieselfde straat as ek woon, net om te moes uitvind sy is in die proses om te emigreer. Sy het egter vir my die kontakbesonderhede van twee ander persone gegee, met wie ek in verbinding kon tree. Die een was Afrikaans en die ander een Engels. Ek het egter nie baie van die gedagte gehou om les te kry in Engels nie en het toe eerste die Afrikaanse musiekonderwyseres gekontak. Sy kon my egter nie inpas nie en ek moes toe noodgedwonge kontak maak met die Engelse musiekonderwyseres.
Dit werk toe so uit dat die Engelse musiekonderwyseres my wel kon inpas. Boonop sê sy toe sy verstaan Afrikaans! Ek was baie opgewonde en kon nie wag vir daardie eerste Dinsdag in Februarie om aan te breek sodat ek kon begin met die fluitklasse nie. Daardie dag het ek amptelik begin fluitspeel. Die Engelse musiekonderwyseres, Rachel, was toe op die ou end die heel beste keuse, al was sy laaste op my lys. Sy praat wel Engels en ek Afrikaans, maar ons verstaan mekaar uitstekend. Sy het in die bietjie minder as ’n jaar wat ek fluitlesse by haar neem vir my meer van musiek geleer as wat ek in al die jare geleer het terwyl ek klavier gespeel het. Dít was my gebeurtenis van die jaar, dat ek kon leer fluitspeel.
Charlotte Pretorius, tuisteskepper met baie stokperdjies
My man het verlede jaar afgetree en ons lewe het heel rustig verloop totdat daar op ’n dag ’n kat op ons patio verskyn het. Sy was baie wild en ons het vir haar melk en kossies uitgesit. Omtrent drie weke later, nadat sy steeds elke dag haar kos kom eet het, het ons twee klein katjies in ’n boom gesien. Daarna het die mamma en twee katjies steeds elke dag kom eet. Hulle het egter wild gebly, maar ons het ons aan hulle verkyk. Nog ’n kat het “sy” opwagting gemaak en was maar altyd saam met die mammakat en kleintjies, en ons het gedink dit is die pappakat. Op ’n dag het die “pappakat” toe ook opgedaag met drie kleintjies en ons het besef dat die pappa toe inderdaad ook ’n mamma is! Ons sit toe met sewe wilde katjies, maar aangesien ons ’n ou huis met ’n groot tuin het, het dit nie saak gemaak nie. Die katte het ons vermaak en ons het hulle van kos, melk, speelgoed en kombersies voorsien. Die eerste mammakat het toe wraggies weer ’n werpsel van twee gehad en ons het besef ons gaan nou ’n plan moet maak. Met my man se aftreegeld wat uitbetaal het, het ons ’n deel geneem en in ’n “katfonds” gesit. Ons het ’n vanghok geleen en die katte stelselmatig gevang en laat steriliseer by die veearts. Ons het sewe wyfiekatte en twee mannetjies gehad. Tans is daar nog net enetjie wat gevang moet word en ons sal sy geslag vasstel na hy of sy ook gesteriliseer is. Elke kat het ’n naam en sy of haar eie persoonlikheid. Hulle kom eet nou in die huis en drie is nou al so mak dat ons hulle kan vryf en optel. Hulle is almal pragtige en gesonde katte met baie speelgoed en ons geniet hulle baie.
Rina Bester, aspirantskrywer
2021. Ek wen derde prys in die BSV se poësie-afdeling. ’n Ou hand in die bedryf van skrywery, eerste. Tweede, ’n vrou wat goed, nee, bitter goed, met woorde omgaan. En ek.
Ek? Ja, ék is derde. Die dag toe ek gebel word met dié blye tyding, spring ek nie op en af en gil nie. Ek sak met lamme bene op die kombuisvloer neer. Ek stotter in ongeloof: Ek glo dit nie. Die beste derde plek ooit! Dankie … en ek huil.
Die prys? Plek in ’n meester se Februarie 2022- poësieslypskool. ’n Aanlyn aanbieding, maar ek kon nie omgee hóé ek aan die man se lippe hang nie.
Aan my kant van die skerm het ek notas gemaak tot my arm lam was. Verwonderd oor die mag van woorde. En wit blaaie. Maak dit vol met woorde, het die man gedaag. Om liefdeswil, het die man gesê, maak die wit vól.
Daarna het ek na my “Spar-Good-Living-80-leaves-punched-and-perforated”-skryfblokstal toe gegaan. Die blaaie, nie spierwit nie, maar belyn met flou blou lyntjies – twee-en-dertig per bladsy – en met groot gesukkel my woord-perd, die ou vel-en-been-knol, opgesaal. Ek ry woorde soos Don Quixote sy Rosinante, en loop die blaaie storm met my penne-lans. Ek los merke op al die wapperende wit windmeulvlerke. Myself vol knoppe en duike geval ook. Die woordperd het gebokspring en geprotesteer. Die vasklou aan my kant, en egaliger galop van my ou knol, word tog beloon. Ek skryf in vir ’n kompetisie. En nog een. Ek wen prysgeld en ’n trofee. Ek stáán op die saal!
Die tweede kompetisie se prysuitdeling is iewers in Januarie 2023. In ’n e-pos is ek geloof: Jou woorde gaan ook skouers skuur in die bundel wat uitgegee word. Sou Don Quixote tevrede gewees het met sy oorwinnings tot hier?
En wat maak my ou knol? Hy gaan staan. Kyk net verveeld agtertoe na waar ek in die stof lê. Hy verseg om ’n woordpoot vorentoe te gee. Ek moet glo eers nuwe ’n skoon Spar-skryfblok gaan koop vir ons om storm te loop. Dus, verskoon my, dames en here. Die knol is onrustig. Ons het ’n windmeul of twee om te gaan verower, want 2022 was die jaar dat my woorde vrye teuels gekry het om dalk, net dalk, van my ’n skrywer te maak en drome te bewaarheid.
Inge Venter, afgetrede dosent

Ná die wêreldwye Covid-pandemie, my man se afsterwe in 2020, my trek vanaf Potchefstroom na Bloemfontein, ses keer se uitstel van ons besprekings by Etosha, skoolvakansies en verlof, beskikbaarheid van verblyf in Namibië en vlugte na en van Windhoek en voertuie (met lugreëling), kon ek uiteindelik dié foto neem op Etosha se soutpan, 40 grade, halfeen op 2 Oktober 2022! Die foto van my drie opgeruimde dansende kinders vanaf Afrika, Australië en Suid-Amerika vertel nie van ons 18 vlugte na en van Windhoek nie, ook nie van heerlike kuiers, opvang, sáámeet, báie wild en kleinkinders se verwondering oor my hartland nie!
Joanita Erasmus-Alt, musiekonderwyser
“Kontrapunt”
Tina-Bella van der Merwe, instrument in die hande van die Here
Ja! Dit klink na ’n tawwe een, dié. Die enigste gebeurtenis wat my gedagtes ongetwyfeld vasvang, is dat ek moes ophou werk. Die oproldeur-episode was die oogklapverwyderaar-gebeurtenis in my lewe in 2022.
Ek was aangestel as operasionele bestuurder by ’n welbekende konstruksietoebehore-verhuringsmaatskappy in ’n baie klein Karoodorpie met die naam Laingsburg. Vir die eerste keer in my toe 59 jaar, bereik ek die hoë sport van ’n (betalende) sogenaamde top-posisie: operasionele bestuurder. Net, my visie en idee van wat die werk behels, verskil van dít wat ek moes doen … Ek is immers aangestel om die sake vlot te laat verloop, nie om die werk eiehands alleen te doen nie, dan nie? So het ek gedink.
Ek het my werk geniet. In besonder Woensdagoggende se opening met skriflesing en gebed het ek in my lewe in gevleg soos ’n koeksister, en soms het die 10 minute ’n uur geraak as ons eers warm is …
My tyd daar was egter van korte duur, want een dag, toe die son my weer so verblind en ek die staal-oproldeur nogmaals halflyf laat sak het, loop ek met my voorkop binne-in die skerp rand vas. So tussen die trane deur het die volgende woorde outomaties oor my lippe gekom: “You don’t belong here anymore!”
Dié werk het my darem 8 maande gehou; ’n rekord in my eie oë.
Maar die Here het gepraat. Langer kon ek nie bly nie. My werk was nou bý die huis, ván die huis af, en bý my man … wat 22 jaar my senior is en my nodig het. En op die koop toe het ons ’n klein katjie, wat uit die drein by die werk gered is, ryker geword!
Dié episode het ons natuurlik finansieel geknak, want skielik is my maandelikse inkomste weg, en my man se pensioen is maar skraps verby na al sy jare diens as predikant.
Hierdie gebeurtenis in 2022 is verreweg die beste ding wat ooit met my kon gebeur. “Hoe so?” sal jy vra. Want nog nóóit in my lewe het ek al so ná aan God se genade geleef soos nou nie! Sela!
Wonderwerke is moontlik. Dit gebeur nou daagliks in my lewe. Want wanneer ’n mens van God afhanklik is vir alles, moet jy Hom onvoorwaardelik vertrou vir alles.
Dankie, Here, vir 2022 se seëninge en 2023 se voorspoed en vrede!
Ina Kleynhans, pensionaris
Die gala-aand
Wanneer ’n kompetisie as ’n uitdaging aanvaar word, is daar reëls wat in aanmerking geneem en nagekom moet word, asook e-posse om weg te stuur. Dit is die maklikste.
As jy immers dít wat jy moet instuur moet formuleer om die beoordelaars te behaag, is dit ’n perd van ’n ander kleur. Jy lees oorspronklikheid, interessantheid, kreatiwiteit word verlang en niks van die “inspiration and perspiration” wat aan die klok gehang word nie.
Ons is in Pretoria. Die plekaanwysing lei ons na die agterste ry tafels in die verste hoek van die saal. Daar kry ek en my suster ons sit sonder klagte of murmerering, want sien, ek is hardhorend en weet byvoorbaat dat ek niks gaan hoor nie. Niks kan egter my geesdrif demp nie. Ek neem my voor om die aand terdeë te geniet.
Die jeug se pryse is reeds uitgedeel. Vaagweg hoor ek iewers my naam, maar dit registreer nie, totdat my suster my in my ribbes pomp.
“Toe, staan op!”
Grootoog staar ek haar aan. “Hoekom?”
“Gaan vorentoe!”
’n Lamheid oorval my. “Ek kan nie!”
“Staan net op!”
“My kruk?” vra ek benoud.
Sy skarrel onder die tafel in en kry die kruk in die hande.
Ek gryp die kruk. My baadjie se mou steek vas. Sy help my. Ek strompel vorentoe. Klik-klak, klik-klak, al om die tafels beweeg ek. Die trappies doem voor my op en ek weet ek gaan nie daarop kom nie. Helpende hande bring my egter tot op die verhoog en verslae staan ek daar. My hand word geskud en ek staan met ’n groot koevert in my hand. Ander ontvang ook pryse. Eindelik is ek weer die verhoog af en gaan val uitasem op my stoel neer.
My hart klop in my keel. Ek weet nog steeds nie waaroor die opgewondenheid was nie. Ek kyk na die koevert waarop daar “Kortverhale” staan. Ek kan dit nie glo nie. Ek vee die sweet van my bolip af.
Ek sukkel om tot verhaal te kom. Die volgende oomblik weerklink my naam weer oor die mikrofoon.
“Staan op!” begin die ritueel weer van voor af.
“Ag nee! Wat het ek verkeerd gedoen?” Ek kyk verbaas op. Ander staan ook mettertyd op
“Staan net op!” Laat my suster hoor en help my op.
Na ’n rukkie wens hulle ons geluk met ’n eervolle vermelding vir ons gedigte.
“Amen!” sê ek daarop.
Alet Janse van Rensburg, Engels-onderwyser in Boedapest
Vanjaar kon ek my lewenslange droom om Nederland te besoek, bewaarheid. Ek stel al jare in Nederland belang. Ons oorvleuelende tale en kulture vind ek so fassinerend dat ek selfs my honneurs in Afrikaans en Nederlands aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus voltooi het. As gevolg van Covid-19 was daar vir ons honneursstudente geen vooruitsig van die jaarlikse uitruilprogram waartydens ons Nederlandse studente ontvang of self as gaste Nederland toe gaan nie. Heel ironies het ek eers die geleentheid gekry om Nederland te besoek tydens my skoolvakansie as ’n Engels-onderwyser in Hongarye.
Soos die vliegtuig oor Nederland gedaal het, kon ek groen lappies land aan weerskante van ’n stroom sien en dit het my sowaar herinner aan die Visriviervallei, net ’n paar kilometer van my tuisdorp. Het my voorvaders se harte ook so geswel toe hulle aan die Kaap anker gegooi het? Hulle het heel waarskynlik gebewe van vrees en nie van opgewondenheid nie. Ons het wel albei ons vaderland agtergelaat en die onbekende ingevaar.
Van die oomblik wat ek voet aan wal gesit het, kon ek myself nie keer om my Afrikaanse kultuur en grootwordjare met die Nederlandse kultuur en leefwyse te vergelyk nie. Nie op ’n “akademiese” manier, soos in die opstelle wat ek vir Nederlandistiek geskryf het nie, maar eerder as ’n toeris wat proe, sien en ’n nuwe land en myself terselfdertyd verken.
Ek is trots om te sê ek stam uit ’n nasie wat hardkoppig en moedig genoeg is om onder seevlak te boer. Die Nederlanders is konstant in ’n stryd om hulle landbougrond droog te hou. Party bronne glo dit het gelei tot die Poldermodel van samewerking ten spyte van onenigheid, omdat buurdorpe selfs ten tyde van rusie hulle wapens moes neersit en hulle grawe moes optel om saam keerwalle te grawe. Ek lag lekker as ek in teenstelling daarmee aan ’n ou kwinkslag dink: Die laaste keer wat Afrikaners saamgestaan het, was toe hulle oor die rand van ’n skip katte geskiet het.
My tyd in Nederland was ’n wonderlike wipplankrit. Ek het gehuil toe die saagmeulens my aan my oorlede oupa herinner het. Ek het gelag toe ek gedink het wat sal gebeur as iemand die kerkbasaar in kennis stel dat een pannekoek in Amsterdam 20 euro kos. My droom om Nederland te besoek het dalk waar geword, maar dit is beslis nie die einde van my kulturele ontdekkingsreise nie.
Tasneem Daniels, radio-producer, skrywer, onderwyser en erfenisnavorser
Daa is niks wat ek mee lief het as om stories te ve’tel, en oorie jare het ek baie fun gehad om tussen’ie mediums te move om my stories uit te kry. Ek het my grootste break innie TV industry gekry, dan hettie Covid pandemic vi my vi ’n ses geslat, en dan innie donkerste van donkerte het die beste medium vi my gevind – die medium van radio.
Ek wêk nou by Radio 786 (100.4 fm) as ’n executive producer vi mee as ’n jaa, en 2022 was my ee’ste vol jaa byrrie radio. Although ek baie uitgetrek is innie aane agter ’n dag se wêk, is ek dankbaar nie net virrie feit dat ek ’n cool job tydens die Covid pandemic gekry’t, maa oek dat ek met ’n jong inspired Muslim-span wêk en veilig in my job my creativity kan bewys virrie benefit van ôse radio listeners.
To date het ek mee as 300 programme produce vi daily en weekly shows, naamlik, Reflections, FYI en The Breakfast Club. Dit include oek programme vi outside broadcasts byrrie Spar Cape Town Ramadaan & Lifestyle Expo, ôse grootste event wat byrrie Greenpoint Track in March 2022 plaasgevind het – ’n venue wat baie significance het oo ôse sports en cultural history vannie Muslim community oppie Cape Flats. In Ramadaan 2022 wassit oek ’n honour om Tazzkiyyah Time te produce – ’n program wat oppie radio speel te’wyl ôse listeners hulle pwaasa (vas) briek innie aan’e.
My ma het oek ha journalism career by ’n community radio station begin. Een dag het ek vi haa gesêrat ek voel baie at home mettie radio medium, toe gie sy vi my die grootste glimlag as of sy my liefde vi radio haaself create het! Maa nevertheless, haa joy is my joy, en laat ek vi haa bietjie credit gie, want ek het baie jare in ’n studio gespend wanner ek klein was, met my crayons en colouring book wanner sy haa live interviews doen – dit is maa sieke waarie radio seeds geplant was!
2022 is nou innie rearview mirror maa Radio 786 is nog altyd op my gratitude list, want hierrie jaa was my stêkste jaa wat content producing involve. Daa is niks wat jou ha’t vollere maak as om conversations te begin binne-in mense se huise met jou programme, waa djy value kan add tot hulle liewens oppie airwaves. Daai is vi my net priceless!
Marie du Plooy, tuisteskepper
My gebeurtenis van die jaar 2022 beleef ek by die hospitaalkliniek saam met beenloses in stokou rolstoele, asook eenbeenpasiënte, sukkelend met kieries. ’n Maer vroutjie hou haar kind, met onbedaarlike hoesbuie, styf vas in haar arms. Ander strompel stadig voort, kromrug van osteoporose en verwaarlosing. Nog een lê snakkend na asem kombersloos op ’n trollie, natgesweet van angs en koors. Soveel geskende, halwe liggame, pynverskrompelde gesigte ... Daar sit-lê mense, siek tot die dood toe.
Ek kan nie anders nie as om my gunste en gawes opeens te tel. Ek voel potsklaps opreg dankbaar en lief vir my liggaam. Hier besef ek die uiterste broosheid van my eie aardse tempel. Dat sommige van hierdie stomme mense nog enigsins kon voortsukkel in die toestand waarin hul liggame is, grens aan ’n wonderwerk en gaan my verstand te bowe.
Kan ek ooit genoeg dankbaar wees vir my twee arms en bene, my goeie gehoor en sig? Ek kla so maklik; te maklik. As dit nie te snikheetwarm is nie, is dit te onhoudbaar koud. Selfs wanneer die wind waai, of dit nie reën nie (of dit reën), het ek klagte op klagte.
So baie kere verkeer ’n mens onder die indruk dat omstandighede jou geluk bepaal. Al verkondig die koerantopskrifte “Kosinflasie styg skerp” en al kan ek nie veel aan die onaangename klimaatsomstandighede en stygende pryse verander nie, kan ek nie tog wel darem ’n verskil probeer maak in my eie en ander se lewe nie?
Kla ek nie te veel oor luukse onbenullighede nie? Waardeer ek my lyf en gesondheid? Kla ek nie net omdat dit al gewoonte geword het nie en soms selfs met die witbrood onder die arm? Dalk moet ek dankbaar wees ek ontvang wel ’n salaris, al is dit hierdie jaar sonder die begeerlike verhoging.
Ja, sien uitdagings raak. Wees positief. Maak planne. Dit inspireer! Nie net jouself nie, ook andere. Onmoontlik? Nee, Langenhoven het nie om dowe neute geskryf “die man wat al dae lekker kos eet, eet nooit lekker nie” nie.
Vasberadenheid om eerder die beste van ’n goeie ding te probeer maak en nie die slegste van ’n slegte nie, kan positiewe eggo’s uitstuur wat negatiwiteit help nekomdraai.
Is dit nie makliker om in talle situasies te soek na wat goed en mooi is nie? Dan kan elke oomblik vol positiewe moontlikhede word en 2023 ’n jaar om na uit te sien!
Logan Adams, skrywer
My 2022 was ’n roller coaster ride, maar terselfdertyd iets besonders.
In 2022 het ek op die ouderdom van 20 my tweede digbundel, Tussen stiltes, vrygestel, sowel as my derde boek en eerste roman, Dagga, dagga en drank. Hierdie jaar was al die odds teen my, juis omdat ek steeds met kliniese depressie moes deal en op medikasie gesit was. Vir drie maande het ek ook deur ’n withdrawal period gegaan, en dit het veroorsaak dat ek die meeste van die jaar emosioneel, fisies en finansieel uitgeput was. Omdat ek desperaat was om gesond te word, het ek allerhande goed probeer soos medikasie, oefening en ’n dieetplan. My stryd met depressie het my ook gedryf na drank, tot op ’n punt waar ek nie sonder dit wou wees nie. Dit was een van die redes hoekom ek my roman geskryf het; vir bewusmaking oor substance abuse. My kondisie het dit vir my baie moeilik gemaak om te reis vir werk, juis omdat ek in die entertainment industry werk en dit nie altyd hunky-dory gaan in die bedryf nie. Ek moes by tye my gesondheid op hold sit sodat ek geleenthede kan aangryp en hopelik ’n beter lewe vir myself skep. Een van my simptome was dat ek baie gebewe het, wat dit vir my moeilik gemaak het om voor mense te praat. Ten spyte van al my struikelblokke in 2022 het ek steeds uitgestyg.
Ek het nie net hierdie jaar twee boeke vrygestel nie, maar ek het ook vier kortfilms geskiet. Drie van hulle was geskiet vir die produksiemaatskappy ABS Produksies en dit was op televisie uitgesaai. Die ander kortfilm, wat ek self vervaardig het, was genomineer vir ’n toekenning by die Johannesburg Film Festival. Ek het ook in 2022 my debuut gemaak as rubriekskrywer, omdat ek ’n artikel vir Kuier se “Wat die hart van vol is” geskryf het.
Ek het ook hierdie jaar ’n internskap gedoen by die hof in Paarl, en het sover in drie howe gewerk. Ek het by die produksiemaatskappy OppieStoep gewerk om meer te leer oor die bedryf. My eerste boek, Die nood roep, was ook ingeseën by my laerskool en ons plaaslike biblioteek in Paarl, Wes-Kaap.
Ten slotte, alhoewel ek baie moes sukkel met my gesondheid en verskeie negatiewe emosies ervaar het, het ek die beste gemaak van die slegste tyd in my lewe.
Leigh-Anne Hill, eienaar en skrywer
My gebeurtenis van die jaar 2022 moet nog haar opwagting maak. Hierdie wonderwerk se naam is Faith Joy Shiloh Hill, ons ongebore dogtertjie. Haar naampie beteken dan geloof, vreugde en hemelse vrede. Sy behoort haar verskyning te maak by of voor April 2023. Ons het definitief ’n groot getuienis met haar. Haar naampie is reeds vir ons ’n uitspraak van totale oorwinning. Ek glo wat jy spreek en sê sal jy kry. Te veel mense noem hulle kinders iets wat niks beteken nie.
Ek weet Jesus se hande is oor ons en hy is in beheer van alles. Ek is onder fetale medisyne en spesiale sorg by die hospitaal. Die dokters het water op haar brein ontdek en vermoed sy het Downsindroom. Hulle het my gevra of ek my swangerskap wil beëindig en ek het volstrek gesê nee. Dood en lewe is nie in my hande nie. Lewe is definitief ’n geskenk van ons Hemelse Vader. Ek het ’n baie hoërisiko-swangerskap en daar is ander komplikasies ook, maar ek glo en weet alles sal goed uitwerk. Jesus bepaal my lewe en weet alles van my en haar. Alles sal uitwerk soos wat dit moet, want Jesus is groot en almagtig.
Ek moes Kaap toe kom vir sussie se geboorte en ons seuntjie en my man agterlaat in Gauteng. Ons bly in Boksburg waar die groot ontploffing gebeur het. Ek sien in dit ook hoe Jesus ons beskerm het, want ek het die kliniek by die hospitaal bygewoon waar die ontploffing gebeur het. Daar was net nie beddens by die hospitale nie en ek moes noodgedwonge afkom Kaap toe. Ek glo al hierdie was vir die beste en in die groter plan. Jesus weet definitief wat hy doen en hoekom en ons berus by sy plan. Dis nie aldag maklik nie, maar Hy is met ons. Ons wag tans vir sussie om haar opwagting te maak. Dit kan enige tyd gebeur van nou af, want my baarmoeder het twee dele en ons het ’n spasie beperking. Ek weet my God is veel groter as die natuurlike dinge wat aangaan.
My oë is op Jesus en ek glo ek en sussie sal een honderd persent oukei wees. My gebeurtenis van 2022 was definitief toe ek uitgevind het van haar. Geloof, vreugde en hemelse vrede gaan ons vooruit totdat sussie hier is en ons kan definitief nie meer wag nie! Jesus is groot.
Sandy Adams Martinus, onderwyser
Skilderkwas
Na Covid-19 het ek soos ’n atleet by die wegspringblok gevoel. Alhoewel ek jare se oefening agter die rug gehad het, het ek gewonder, selfs getwyfel, of ek genoeg stamina en deursettingsvermoë sou hê om die wedloop van 2022 te voltooi.
Ek het deur die hekke van die Nuwejaar geloop as waarnemende adjunkprinsipaal by Mamre Primêr. Na 26 jaar se onderwyservaring het my hart tog woes in my binneste geklop.
Depressie was ’n doolhof. In elke hoek en draai loop ek my vas. Al manier om uit te kom, is om terug te gaan na die pad wat ek reeds ken. Vandaar kan ek weer op ’n nuwe pad loop. My wêreld is glad nie ’n sprokieswêreld nie. Soms laer as ’n vloerlap en afkrakerig praat die stiefsusters van die lewe my bang.
Maar op ’n dag skyn daar ’n lig. ’n Advertensie verskyn op Facebook vir ’n skrywerswerkswinkel, aangebied deur die bekende skrywer en storieverteller Elias P Nel. Uit blote nuuskierigheid het ek ingeskryf. By die werkswinkel in Grabouw open die spreker met die woorde “Toe val die lig op my”, en niks is meer dieselfde nie
Op 29 Augustus 2022 stel ek my debuutbundel, Seisoene, uitgegee deur Marleo-Uitgewers, bekend en word die eerste gepubliseerde digter in my dorp. Op 5 November 2022 word ’n bundel, Woordenaars, ’n saamgestelde bundel deur beginners, deur Elias P Nel by Naledi vrygestel. Hierdie digbundel spruit uit ’n skrywerwerkswinkel wat deur Dagbreek Trust geborg is, waar 24 beginnerskrywers, ook ek, ingesluit word.
My visie is om ’n slypskool vir Afrikaanse skrywers in my tuisdorp te begin. My jare lange betrokkenheid by WOW (Woorde Open Wêrelde) en die pas ontdekte skrywerswêreld bring my in aanraking met verskillende mense uit verskillende dele van die skrywerswêreld. As uitvloeisel hiervan het ek my geskaar by ’n nuut gestigde niewinsgewende organisasie, ASEM (Afrikaanse Skrywers en Mentors). Met die fokus op bemagtiging het ASEM ten doel om gevestigde skrywers as mentors aan te stel om die bemagtigingsproses te verstewig. So sal beginners en gevestigde skrywers hul kennis deel.
Om te skryf is vir my soos terapie. Afrikaans is vir my soos ’n myn wat wag om gedelf te word, vol minerale wat wag om ontgin te word. Elke pragstuk is goud werd en die reëls die variëteite van die Afrikaanse taal.
2022 het my geleer dat niks kosbaarder is as die edelstene van die lewe nie.


