Uit die LED-verligte collegium van akademia tree een van die jonger Afrikaanse akademici na vore met ’n resensie wat my tanende belangstelling in Afrikaanse boekresensies ’n 180-grade-rigtingverandering laat maak: Marni Bonthuys.
Sy skryf vir LitNet oor Ver in die wêreld, die boek wat Frederik de Jager saamgestel het oor ekspat-Suid-Afrikaners se ondervinding van die lande waar hulle tot ruste gekom het nadat hulle om welke redes ook al pad gegee het uit hul geboorteland.
Aanvanklik het ek geskrik toe ek die resensie sien uitrol op my rekenaar, soos dinge op ’n rekenaar doen. Lang paragrawe wat uit die kuberruim borrel soos die mense wat in ’n kajuit vasgekeer was in A night at the opera.
Gelukkig het Bonthuys ’n resensiestyl wat vriendelik is. Sy spin haar reaksie op eers die tematiek, en daarna die afsonderlike bydraes soos hulle aansluit by daardie groter agtergrond.
Vermoedelik sal die meeste resensente op só ’n aanpak besluit. Die kuns lê egter in die uitvoering daarvan. As hulle iemand soek om haar resensie op RSG voor te lees, hoef hulle nie verder te soek as Magdaleen Kruger nie. Bonthuys se trant en inkleding is uitnemend goed, haar formulerings saaklik en sonder enige ruimte vir waninterpretasie.
Maar daar is ook iets anders aan die gang in Bonthuys se resensie. ’n Intrigerende, uitdagende spel waardeur sy meer vertel van haarself sonder om dit werklik te vertel. Sê maar sy skep ’n enigma. Die resensent as raaisel.
Wat presies is die omstandigheid waarna sy verwys wanneer sy sê “as jy soos ek self al (e)migrant was (of is)”? Miskien hou ek bloot van geheimenisse, maar van die oomblik af dat daardie sin geknal het, het haar opmerkings oor die aardighede van emigrante se gedrag (oor die Groen Mamba, laervorming ens) vir my ’n soort neweverhaal begin vertel.
Buiten dat dit ’n agie soos die uwe se leesgang laat verstadig na ’n snuffeltrant, sodat alles wat Bonthuys sê oor aspekte van emigrasie behoorlik geweeg kan word, bou hierdie neweverhaal vir my ’n beeld op van ’n persoon wat met gesag en ondervinding oor die onderwerp kan skryf. Terwyl sy die essensie van die verskillende bydraes een vir een vir ons oopvou sodat ons die groot mosaïek kan sien, kyk ek stip na hoe sy daardie essensies raaklees en verwoord.
En só, baie subtiel en substansieel, kry die resensie sy groot gesag. Hierna hoef Ver in die wêreld nie weer geresenseer te word nie. Marni Bothuys het die finale woord gespreek.
Wat meer kan ’n mens van ’n resensie verwag? Ander akademici en kritici kan gaan inboor in die hoedanighede van die afsonderlike verhale. Oor die geheel het ons nou die leiding en oordeel.
Ek sien ongeduldig uit na nog meer resensies deur Marni Bonthuys.
Lees ook:
Ver in die wêreld, saamgestel deur Frederik de Jager: Verpligte leesstof vir voornemende emigrante


Kommentaar
Ek hoop Crito deel haar sienings oor die bohaai rondom die polemiek oor die resensie van Sjaka S. Septembir se roman op Vrye Weekblad. Boeke is duur en 'n mens wil weet of dit hoegenaamd die moeite werd is om 'n boek soos dié te koop, en die resensent te glo, of nie. Ek vertrou Crito se oordeel en waardebepalings.
Veels geluk, Marni!