My afternoons with Margueritte – lewensbevestigend

  • 0

My afternoons with Margueritte (Frans met Engelse onderskrifte)

Regisseur: Jean Becker

Rolverdeling: Gérard Depardieu, Gisèle Casadesus, Claire Maurier, Sophie Guillemin

’n Mens bly dankbaar vir Cinema Nouveau en dat ons nog enigsins films soos hierdie kan sien, te midde van die oorweldigend kommersiële aanbod. Vir enigeen wat glo in die waarde van lees, boeke en opvoeding sal My afternoons with Margueritte lewensbevestigend wees.

Germain (Gérard Depardieu) is ’n groot nutsman met ’n groot hart, maar hy is die spreekwoordelike ruwe diamant. Op skool was hy “stadig”, en hy het met moeite leer lees. Deur terugflitse na sy kinderdae leer die kyker sy ma ken.

Sy is ’n ydel, selfgesentreerde vrou wat swanger geraak het deur ’n lukrake seksplesiertjie en wat nooit ’n kind wou gehad het nie, en sy het Germain dit van kleins af baie duidelik laat verstaan. Tussen sy groep vriende by die plaaslike bistro is hy die ou wat slim woordspelings nie snap nie, en daar word goedig (en minder goedig) met hom gespot.

Op ’n dag in die park ontmoet hy ’n bejaarde dame, Margueritte (Gisèle Casadesus), ’n Mensch van daardie ou soort wat ’n ware opvoeder is. Geleidelik, en baie onopsigtelik, begin sy werk aan Germain se lae dunk van homself. Sy lees vir hom Die Pes van Camus voor en hulle gesels oor alles en nog wat. Om aan die einde van die film te kan terugkyk op hoe hulle tye saam op al twee se lewens ’n wesenlike invloed gehad het, is ’n goeie gevoel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top