Must fees fall?

  • 0
Universities, language, access, education, and student protest – follow the debate.

Ek is nie net te oud om werklik te weet wat deesdae in universiteite en in studente se koppe aangaan nie, ek is ook ‘n bevoorregte, wit Afrikanerman met twee grade wat nie net deur apartheid bevoordeel is nie maar ook nog nooit in my lewe regtig swaargekry het nie en in staat is om van die dag wat my kinders gebore is, aansienlike bedrae geld te spaar vir hulle toekomstige studies.

Alhoewel ek dus heeltemal onbevoeg is om ‘n mening uit te spreek oor die huidige oproerigheid onder studente, is daar nogtans ‘n paar aspekte wat my, as ‘n gewone, belastingbetalende landsburger, kwel.

Eerstens, as ek so na die retoriek van sommige van die studenteleiers luister (‘n jong dame van Ikeys het dit vergelyk met die reg op skoon drinkwater) kry ek die gevoel dat die studente glo hulle het die reg op ‘n graad – nie net tersiêre onderrig nie, maar ‘n graad. Sekerlik is dit ‘n wanopvatting?

Die lewe is ongelyk. Nie almal is ewe sterk, vinnig of slim nie. Dus, jammer as ek arrogant klink, maar nie almal is intellektueel in staat om universiteit toe gaan nie.

Niemand, wit of swart, het ‘n gemeenregtelike of grondwetlike reg om ‘n graad te hê nie. Al wat artikel 29(1)(b) van die Grondwet erken, is dat almal die gekwalifiseerde reg het “to further education, which the state, through reasonable measures, must make progressively available and accessible” (my kursivering).

Die reg op “further education”, en veral op ‘n graadstudie, is dus beperk tot studente wat bevoeg, gewillig en bekwaam is om aan ‘n universiteit te studeer.

Tweedens: ek is nie seker hoekom baie studente aandring op ‘n graadstudie nie. Is dit omdat hulle ‘n graad as die sleutel tot die poorte van die ekonomiese paradys beskou veral omdat jy deesdae skynbaar niks met matriek kan uitrig nie, of is dit omdat hulle voel dat ‘n graad meer status het?

Ook dit sou ‘n volslae wanopvatting wees.

‘n Graadstudie is een van die grootste geldelike beleggings wat jy in jou lewe maak (naas ‘n huis, maar dié kan jy oor 20 jaar afbetaal, jou studies nie). Sodanige belegging is dan veronderstel om ‘n opbrengs te toon, anders het jy jou en jou ouers se geld in die water gesmyt, welke opbrengs sal realiseer slegs as jy ‘n graadstudie gedoen het wat jou in staat stel om ‘n spesifieke nering of beroep te volg of gesogte en skaars vaardighede aangeleer het.

Wat is die punt daaraan om honderde duisende rande te spandeer aan ‘n graad wat nie veel beteken uit ‘n suiwer finansiële oogpunt nie, bv ‘n gewone BA of B Econ?

Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek is onsettend lief vir die lettere en wysbegeerte en dit sal bitter jammer wees indien dit afgeskeep word ten gunste van ander studies, maar dit gaan hier vir my suiwer om ekonomiese oorwegings. Die wesenlike harde realiteit in Suid-Afrika is dat ons meer ingenieurs as taalpraktisyns nodig het.

Ek het al van studies gehoor waarvan beweer word dat dit jou etlike jare kan neem om reëel finansieel in te haal by iemand wat direk na skool begin werk het of ‘n baie goedkoper, korter kursus (bv iets wat jou vir ‘n ambag bekwaam) gedoen het as ‘n graadstudie.

Terloops, ek ken ‘n elektrisiën wat báie meer geld maak as ek met my twee grade. Sy totale studiekoste was heelwat minder as myne en hy kon baie gouer die arbeidsmark betree as ek.

Dit is dus sotlik om neer te sien op ‘n ambag of om te reken ‘n graad is die alfa en die omega, veral as daar konstante pleidooie is dat die land ‘n ernstige tekort het aan ambagsmanne in sekere velde, wat nog te sê klein besighede.

Derdens: Hoe realisties is die eis dat studiekoste nie mag styg nie en die onlangse onderneming dat dit nie sal styg nie, wat nog te sê dat studies verniet moet wees?

Voor ek aangaan: ek verstaan die noodkrete van behoeftige studente en my hart bloei vir hulle, maar ek voel nogtans dat hulle sekere wesenlike realiteite uit die oog verloor.

Om mee te begin: al verpligting op die staat is om, deur redelike stappe te doen, progressief verdere opleidingsgeleenthede beskikbaar te stel en toeganklik te maak. Sover my kennis strek, is daar geen sodanige afdwingbare wetlike of gemeenregtelike verpligting op universiteite nie (miskien ‘n morele verpligting in die lig van ons geskiedenis).

Daar is geen twyfel dat die staat sy plig in dié verband versaak het nie, aangesien die bydrae tot studiekoste heelwat gedaal het in plaas van om te styg. Dit is egter ongelukkig water onder die brug en die vraag is wat die staat nóú moet doen om dit reg te stel.

Die gewilde antwoord of strydkreet is dat as die regering en sy tenderpreneurtrawante net sal ophou steel en geld mors, sal die nodige fondse beskikbaar wees. Dit is nie net ‘n oorvereenvoudiging nie, maar ook prakties onhaalbaar. Dink die studente regtig die soustrein gaan stop net omdat hulle daarop aandring (veral omdat, ironies genoeg, heelwat van hulle dalk mik vir ‘n plek op daai einste trein)?

Ek is geen ekonoom nie, maar ek verstaan dat, in sy eenvoudigste vorm, die staat geld kry óf deur dit te leen óf deur belastinginkomste.

Ek glo dat selfs die studente, toekomstige leiers wat hulle is, weet dat die land se ekonomie so te sê in sy moer is, dat inkomste uit kommersiële bronne, soos maatskappybelasting, heelwat gedaal het, en dat ons alreeds besig is om geld te leen en ons reserwes te gebruik om lopende uitgawes, soos die staat se salarisrekening, te betaal.

Geld wat geleen word, moet terugbetaal word en die geld om dit te doen gaan ook uiteindelik uit belastinginkomste moet kom.

So die arme individuele belastingbetalers sal weer eens moet opdok vir die huidige gemors. In die lig van die hemelhoë belastingkoerse en die handjievol mense wat die land se belastinglas dra, is ek seker die studente sal verstaan hoekom belastingbetalers nie juis rasend van opgewondenheid oor die vooruitsig is nie, veral omdat ons weinig voordeel daaruit trek en ons geld gemors word op die SABC, SAL, Eskom, Prasa, ens.

“Welvaartbelasting” is ook ‘n woord wat mense gerus maar kan vergeet. Die boonste 1% of so van die bevolking betaal klaarblyklik alreeds 61% van alle inkomstebelasting, dus is welvaartbelasting al lankal ‘n realiteit. Ek weet nie hoe akkuraat dit is nie, maar lees die artikel wat op die blog van Rolling Alpha verskyn het deur die skakel te volg: http://www.rollingalpha.com/2015/10/22/but-who-pays-south-africas-tax/?utm_campaign=shareaholic&utm_medium=facebook&utm_source=socialnetwork.

Ek hoop die blote gedagte aan verdere belastings vervul die studente, as (hopelik) toekomstige produktiewe burgers van die samelewing, met net soveel afgryse as vir my!

Bydraes van die privaatsektor is ook nie die antwoord nie. Privaat instellings lewer reeds ruime bydraes in die vorm van beurse en skenkings, terwyl hulle ook in bitter moeilike ekonomiese omstandighede wurg.

Terloops, as ek die studente ‘n wenk kan gee: moenie bydraes van die privaatsektor vereis deur marxistiese retoriek te gebruik nie.

Die ander opsie is dat die universiteite ‘n plan moet maak om studiekoste te beheer.

Bo en behalwe die feit dat hulle geen wetlike verpligting het om dit te doen nie, hoe moet hulle dit doen? Deur geriewe en personeel te verminder? In dié verband kan iemand asseblief vir my verduidelik hoe die eis dat universiteite nie van “outsourced labour” gebruik moet maak nie, eerstens versoenbaar is met die vereiste dat die studiekoste nie mag styg nie en tweedens, wat de hel dit nou eintlik met die studente te doen het.

Hoe dit ook al sy, ek ken twee mense, hoogs geleerde wetenskaplike en mediese navorsers wat leiers op hulle vakgebied is, wat nie permanente aanstellings by die Universiteit Stellenbosch kon kry nie weens ‘n gebrek aan geld. Albei is nou vort na groener weivelde, een daarvan oorsee.

Universiteite sukkel reeds om met die privaatsektor mee te ding om hulle talent te behou. As dit nog moeiliker gaan raak omdat hulle nie geld het om die beste mense aan te stel en te behou nie (dosente het ook gesinne vir wie hulle moet sorg), sal dit die einde van Suid-Afrikaanse universiteite as bastions van geleerdheid en uitmuntendheid wees. ‘n Graad van ‘n versoolde hoërskool is sekerlik nog minder die gewaande paspoort tot rykdom en geluk as wat dit nou is?

Dus, as die geld van die staat moet kom, die trogvreters nie gaan terugstaan vir die edele doel van opvoeding nie, en verdere belasting die middelklas selfs onder meer druk gaan plaas, dan sal die geld uit die huidige beskikbare fondse moet kom, wat sal beteken dat besteding op ander gebiede verminder sal moet word, want volgens Business Day is daar nie geld vir alles nie (http://www.bdlive.co.za/opinion/columnists/2015/10/26/a-blind-revolution).

Dit sal tot verdere oproer lei, want hoekom moet naskoolse opleiding voorrang geniet bo alle ander sosio-ekonomiese regte soos behuising, mediese sorg en sosiale toelaes, veral in soverre die meeste mense in die land steeds in haglike omstandighede leef?

Watter sinvolle voorstelle of finansieringsmodelle het die studente self al mee vorendag gekom? Julle is die volgende generasie politieke leiers en intellektuele elite, so ek dink nie dis onbillik om te hoor waarmee ons skerpste breine vorendag kan kom nie.

Kan julle miskien onder meer die volgende aansny in julle oorwegings?

  1. Presies watter finansiële bystand word verlang?
  1. Wat is die vorm van die bystand wat verlang word, naamlik skenkings of sg sagte lenings (wat hopelik daartoe sal lei dat die geld wat terugbetaal word weer toekomstige studente sal help), en wat moet die terme van sulke lenings wees?
  1. Hoe moet sodanige bystand gefinansier word in lig van die ander dringende maatskaplike kwessies wat aandag vereis?
  1. Sou dit ‘n wesenlike verskil gemaak het as die studente wat bystand by die NSFAS gekry het, wel so af en toe die geld terugbetaal het?
  1. Is ‘n student geregtig op verdere bystand indien hy/sy nie jaarliks suksesvol met sy/haar studies is nie? Indien wel, hoekom (veral in die lig van die nypende tekort aan geld)? In dié verband, skenk asseblief oorweging aan die hoeveelheid geld en hulpbronne wat alreeds deur onsuksesvolle studente vermors is.
  1. Moet behoeftige studente voorrang geniet, met ander woorde moet ‘n groter deel van die bystand aan behoeftige studente gaan? Indien wel, wat moet die kriteria wees om as ‘n behoeftige student te kwalifiseer? Sal dit suiwer finansiële kriteria wees of sal bemagtigingskriteria ‘n rol speel?
  1. Wat van belastingvoordele (of beter voordele) vir privaat individue en maatskappye wat geld skenk vir tersiêre opleiding?
  1. Kan die staat voorwaardes aan enige finansiële bystand koppel wat kan dien as finansiële aanmoediging vir studente om vaardighede aan te leer en kursusse te volg wat kan bydra daartoe dat die vaardigheidstekorte in sekere sektore reggestel word?

Vierdens, wat die protesoptrede self betref, dink ek die studente was meestal uiters gedissiplineerd, en hel, was dit nie lekker om ‘n slag te voel dat gewone mense se stemme weer ‘n slag gehoor word nie, veral omdat wit en swart sáám (uiteindelik!) betoog het nie?

Daar is egter ook aspekte wat my hieraan pla.

Om mee te begin, hoekom was dit nodig om die universiteite self se werksaamhede en medestudente se eksamenvoorbereiding te ontwrig, in so ‘n mate dat UWK ten tye van die skryf hiervan nog nie klasse hervat het nie?

Hoekom is die universiteite eerste aangeval en hoekom het dit so lank gevat vir die studente om te besef dat die huidige debakel eintlik voor die nimlike Blade en kie se deur gelê moet word?

En hoekom nou eers, so kort voor die eksamen? Julle weet tog al lankal deur die universiteite se konsultasieprosesse dat hier massiewe verhogings kom. Watter gevolge gaan julle optrede hê vir studente wat reeds sukkel?

Hoekom protesteer julle nie al lankal teen die spandabelrigheid van die regering, sy magsmisbruike, die gemors waarin die NSFAS hom bevind, korrupsie en diefstal nie? Dis tog ou kwessies, nie waar nie? Wat van die ander maatskaplike en diensleweringskwessies wat ook deel vorm van die ekonomiese vryheidstryd?

Verder, ons is nou ‘n demokrasie. Hoë studiegeld, die regering se onvermoë of onwilligheid om hulle grondwetlike pligte na te kom, asook hulle grootskaalse vermorsing en korrupsie is niks nuut nie. Ongelukkig lees ek egter gereeld van die jeug se apatie of stille protes deur weg te bly as dit verkiesingstyd raak. Hoeveel van julle, ‘n beduidende magsblok, het in die vorige verkiesing gestem, en indien wel, vir wie het julle gestem? Daar is beter maniere om jou verteenwoordigers in die parlement en die Uniegebou te kry as om deur die heining te breek.

Wat my egter die meeste pla, is dat van die betogers die besliste indruk geskep het dat hulle ‘n mate van woede en selfs haat teenoor die universiteite en hulle besture het. My onrustigheid in dié verband word versterk deur die toespraak wat Jonathan Jansen gegee het, synde die Inaugural Stephen Ellis Memorial Lecture by die Nederlandse Ambassade in Pretoria op 9 Oktober 2015. Die toespraak kan gelees word deur op die volgende skakel te kliek: https://martinplaut.wordpress.com/2015/10/25/south-africa-when-student-activism-turns-to-gangsterism.

Jansen se artikel is uiters ontstellende leesstof en is iets wat meer dringende aandag moet geniet as die kwessie van klasgelde, aangesien dit die potensiaal het om nie alleen tot grootskaalse sosiale onrus te lei nie maar omdat ons nie ons probleme ooit sal kan oplos as ons mekaar haat en nie vertrou nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top