Musiekonderhoud: Petronel Baard gesels oor haar nuwe liedjie en aanlyn konsert

  • 0

Petronel Baard (Foto: verskaf)

Hallo Petronel. Jy het onlangs ’n nuwe liedjie (in samewerking met Gavin Jay) vrygestel. Waaroor gaan die liedjie? Hoe was dit om saam met Gavin Jay te werk? Is dit jul eerste collaboration?

Ja, dit is en dis opwindend. Ek het die opnames baie geniet en dink ons is bring ’n diverse tog aanvullende geheel na die tafel. Dis ’n heel nuwe genre vir my. Die liedjie gaan oor klasverskille en harde realiteite. Oor hoe jy die lig op jou pad moet soek ten spyte van omstandighede.

Kan jy asseblief meer vertel oor hoe die liedjie ontstaan het?

Dit vloei uit my samewerking met hulle oor verskeie jare, maar dit was ons eerste opnames saam. Ek het gaan inloer na hulle my genooi het om te kom opneem op die rou track. Toe sing ek so ’n paar lae net daar en Gavin Jay sit sy deel by ... en so is "Seek the Light" gebore. Die improvisasie werk in ’n groot mate.

Kan jy asseblief meer oor die aanlyn konsert wat op 31 Mei plaasvind vertel? Waar kom die idee vandaan? Hoeveel kos dit? En waar kan mense inskakel?

Dit kos R100 en mense kan kaartjies aanlyn deur Quicket koop. Al die informasie is op my webwerf, www.petronelbaard.com. Hier is ’n direkte skakel om ’n kaartjie te koop. Dis ’n baie diverse klomp kunstenaars wat strek oor jare van my pad deur die kunstenaarslandskap van Suid-Afrika. Die idee kom van soortgelyke Sondagaandkuiers deur Lang Vrou Produksies en kie oor die internet met plaaslike kunstenaars hier by my en is bedoel om hoop te bring in hierdie omstandighede wat ons tans beleef. Vir ons almal. Die legendariese saxspeler McCoy Mrubata het op my eerste album gespeel 20 jaar gelede en Jannie du Toit was betrokke by JNS Musiek, die platemaatskappy wat my eerste twee albums uitgebring het. Ek ken vir Godfrey Johnson van Evita se Perron af in 2001 toe ons my tweede album, Déjà vu lewend daar opgeneem het. So kan ek van almal ’n storie vertel. Die lieflike Luna Paige, pragtige Riku en Jackie Lätti, talentvolle Jean Tunes Marais van Tunes Studio Stellenbosch wat iets baie spesiaal doen, die onvergeetlike Riana Scheepers, ’n meer onlangse konneksie, Philippe Kangi met sy prettige Franse musiek, die briljante pianis Ben Schoeman, liedjiereus Stef Kruger en my kosbare musiekvrinne Soetmelk. Schalk Maas en Altan Ungerer. Gavin Jay maak ook ’n elegante buiging. Dit gaan wonderlik wees – almal het ’n tuisvideo gemaak en ons sit dit met groot flair voor op die 31ste. Vir gerief kan mense ook deur die Pierneefteater book. 

Daar is ’n aantal wonderlike woord- en musiekkunstenaars by jou aanlyn vertoning betrokke. Wie is dit? Kan jy asseblief ’n bietjie uitbrei oor hulle betrokkenheid?

Riana Scheepers doen byvoorbeeld ’n voorlesing van ’n pantoen wat handel oor ’n vrou wat al dieper in haar seegrot in verdwyn. Ek het dit ook getoonset. Dis besonder gepas vir ons huidige kluisenaarsbestaan. Jannie du Toit doen twee pragtige liedjies en Stef Kruger maak ook sy buiging met sy geveerde pen. Soetmelk is ook woordkunstenaars; ons sluit oa ’n lockdown-video in van ons snit "Wie sien die maan". Deel van die Diversiteit-album van Tunes Studio wat 30 April uitgekom het. Dis digtersmusiek. Luna Paige sing ook iets uit haar eie pen, soos die meeste van ons ander ook. Die vertoning is baie "uplifting" en vol skakerings van emosie van vrolik tot nostalgies, diep, en dis mos net soos ’n kabarettis daarvan hou. Aanlyn is tog ook anders. Dit is ’n bietjie meer van ’n "lucky packet" en jy kan ander tegnieke gebruik as in die teater in jou aanbieding. Interesting times indeed!

Petronel, jy is al lank in die bedryf. Het jy enige raad vir jong kunstenaars in die tyd van COVID-19?

Jou aanlyn teenwoordigheid is nou meer belangrik as ooit, so dis iets om op te fokus. Moet egter nie vergeet om kreatief te bly en nuwe werk te skryf en/of aan te leer nie. Daar is nou ook skielik ’n internasionale arena sonder dat jy fisies hoef te reis daarvoor wat duursaam is. Gebruik dit.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top