Musiekonderhoud: Neil Nachtrein oor Op plekke waar ons eens was

  • 5

Die sanger en liedskepper Neil Nachtrein het onlangs ’n nuwe album, Op plekke waar ons eens was, bekendgestel. Hy beantwoord ’n paar vrae oor die musiek en die lewe.

Goeiedag, Neil. Hoe’s alles?

Dagsê Henry, alles is goed ... Maar régtig – ek het vrede en vreugde, en ek’s dankbaar daarvoor.

Baie geluk met jou nuwe album, Op plekke waar ons eens was. Dis ’n album wat oorloop van kragtige melodiewerk en meesleurende lirieke – nie ’n pap of dooie sekonde êrens nie. In ’n mediaverklaring word gesê jy het besluit om “ná drie jaar van Blomtrein ry [met verwysing na jou tydperk van samewerking met Jan Blohm] op ’n ander stasie af te klim” en jou “eie trein se stoom aan te vuur”. Op watter maniere is dié album vir jou ’n nuwe koers wat ingeslaan word? Hoe sou jy sê verskil dit van jou werk met Blomtrein, en ook van jou vorige vrystellings? Op watter maniere het jy (of andere) jouself uitgedaag om diep te delf vir die nuwe materiaal?

In ’n groot mate voel hierdie vir my soos ’n eerste album, in die sin dat die eindproduk ooreenstem met die visie wat ek gehad het terwyl ek geskryf het, ’n volkome breinkind. Sou nie sê dis noodwendig ’n nuwe rigting nie, maar wel die rigting wat ek nog altyd in gedagte gehad het – dit voel of ek uiteindelik soos myself begin klink.

Met my eerste vrystelling, Gisters & Blisters, het ek – baie groen – met ’n handvol liedere by ’n studio ingestap. Van wat in ’n studio gebeur, het ek nie veel geweet nie, met die gevolg dat die engineer/producer ’n groot invloed gehad het op hoe die album uitgedraai het.

Die opnames wat ons as Blomtrein gemaak het, was live takes in die studio, iets wat ek nog altyd wou doen en graag weer sal wil. Ek en Jan het die tunes op toer geskryf en dit elke aand voor ‘n gehoor getoets, wat dit moontlik gemaak het dat ons ‘n hele album in ’n paar sessies kon neerlê.

Wel, ek het basies myself vir ses maande in die huis toegesluit en geskryf. Die snit “Op plekke waar ons eens was” is die enigste lied wat reeds geskryf was, en dit het gedien as die hoeksteen vir die album. Ek’t nog altyd gedink dis ‘n sterk titel wat gepas sal wees vir ’n album. In dié tyd het ek ook baie geskaaf aan my kitaarspel en speelstyl, wat ook nuwe diepte aan die album verleen het. Aan die ander kant voel dit ook of songs reeds daar is, klaar gebeur het, klaar bestaan ... jy moet net stil word en luister.

Dit is duidelik dat jy baie waarde heg aan die lirieke wat jy skep – daar is ’n digterlike aanslag wat getuig van ’n groot liefde vir woordkuns. Trouens, die laaste snit op die album, “Op plekke (Slot)”, word gedeeltelik uitgevoer as ’n “spoken word”-stuk. Hoe beskou jy die wisselwerking tussen liriek en musiek in jou werk? Wat word eerste gebore, en watter element moet watter een “volg”? Hoeveel kop-teen-notaboek-geslaan vind plaas totdat jy weet die lirieke – en die volledige pakket – van ’n lied is nou “reg”, of ten minste “gereed”? Word daar in die ateljee verder getimmer aan liedere, of moet jy jou oorspronklike instink voor die record-knop gedruk is, vertrou? En, waar en hoe is hierdie passie aanvanklik gebore?

Vir seker, die een kan nie sonder die ander nie. Alhoewel die vergelyking gereeld opkom, sien ek myself beslis nie as ’n digter nie. Ek skryf lirieke – dis anders. My fassinasie met hoe mens met woorde kan speel se vonk het in my tienerjare ontstaan met die eerste luister na “August and everything after” van Counting Crows. Adam Duritz se melankoliese styl het groot aanklank gevind by my as jong musiekliefhebber. Later jare het skrywers soos Gert Vlok Nel, Kabous Verwoerd, Cohen, Waits en Springsteen ook ’n massiewe impak op my gemaak.

Daar’s nooit ’n vaste patroon nie. Soms begin ek skribbel aan iets en toonset dan, maar met hierdie album het ek grotendeels eers die musiek geskryf en probeer luister wat die gevoel is, waarheen vat dit jou as jy jou oë toemaak, wat wil dit sê, en toe lirieke geskryf.

Ek dink daar word heelwat geskaaf ná die aanvanklike neerpen. Sodra die melodie in jou kop is, voel dit makliker om met lirieke rond te speel en ’n goeie metrum te kry.

Soos vroeër genoem, het ek definitief met die studio in gedagte geskryf, en die album was 90% gereed vir opname.

Verlange, eensaamheid, verlore liefde en nostalgie/melankolie dien deurlopend as hoekstene vir die album. Tot hoe ’n mate moet die verskeie vertellings vir jou verbonde wees aan iets wat werklik gebeur het? Of beskou jy die liedere as kreatiewe skeppings, stories wat vertel word wat treffend (en maklik geskep) is, of dit nou fiktief of niefiktief is? Dit raak veral interessant as ’n mens dink aan die baie spesifieke visuele beelde wat jy gebruik, soos die heuning-polkadot-romp in “Niks is meer ons eie”, of Conroy’s-kafee en die Mimosadam in “1998”. In ’n mediaverklaring verwys jy na die verskil tussen inspirasie en invloed ... Hoe sluit dit aan by die kwessie van stories skep in jou lirieke?

Die hele album is byna soos ’n lewenswandel ...

(1) “Op plekke waar ons eens was” – gee liries die pas aan vir wat verwag kan word, waaroor die album handel.

(2) “Somerville” – ’n misterieuse love song aan ’n plek of persoon.

(3) “Weet jy nie?” – kennismaking met die Gospel en ewigheidsbesef.

(4) “Stilste uur” – nuwe liefde wat vir eers moet gaan, met die hoop dat tyd vir vanaand ’n bietjie stilstaan.

(5) “Dans om koue vuur” – ’n verhouding op die rotse.

(6) “Hannah” –’n geliefde afstaan aan die dood.

(7) “Rivier” – ’n herinnering aan hoe dit was.

(8) “Pelgrim” – ’n alleenreis in soeke na ...

(9) “1998” – ’n terugblik na jonkwees.

(10) “Niks is meer ons eie” – die besef dat volwassenheid nie so onskuldig is soos deur kinderoë nie.

(11) “Op plekke (slot)” – ’n Damaskus-soeke na die sin uit alles.

So ja, tot ’n redelik groot mate kon ek nog nooit regtig fiktiewe stories uitdink nie. Dit moet self beleef, gesien, gehoor word, al is dit nie mý storie nie. Alhoewel, ek dink dis altyd emosioneel outobiografies, al is dit fiktiewe karakters. As skrywer probeer jy maar altyd iets van binne jouself na vore bring in dit waaroor jy skryf. Jy moet, anders gaan niemand jou glo nie.

Ja, sommige belewenisse los ’n tatoemerk op jou geheue en jy kan nie anders as om dit presies weer te gee nie. Spesifiek “1998” handel oor die dorpie waarin ek grootgeword het, tienerwees, toekomsdrome, mense wat agterbly of weggaan. Conroy’s, Mimosadam, Odendaallaan, die tiekiebokse voor die poskantoor ... dis alles scenes wat my in ’n oomblik terugvat na die daar en toe.

Invloede sien ek so half as “you are what you eat” – jy kan dit amper nie verhoed nie – of jy dit nou wil hê of nie, dit beïnvloed jou. Inspirasie word meer gebore uit die werklikheid, die realiteite van wie en wat ons is. So, die kombinasie van albei is belangrik – geen persoon is interessant genoeg om net oor hulself te skryf nie.

Die instrumentwerk op die album is relatief gestroop, selfs minimalisties. Tog duik daar oral lekker verrassings op, soos die bekfluit op “Pelgrim” en die mandolien (as ek reg luister) op “1998”. En dan, amper asof vanuit nêrens: distorted kitare en harde tromme in die laaste deel van “Hannah”. Hoor jy hierdie uiteenlopende instrumentasie in jou kop wanneer jy die liedere skep, of is dit ’n geval van toets-en-kyk-wat-werk? Hoe besluit jy op die ou end watter instrumente en arrangements ‘n spesifieke lied ten beste dien? Is daar oomblikke op die album wat vir jou uitstaan as gunstelinge in hierdie opsig – iets waardeur jy self verras is, of oor en oor luister vir die lekkerte daarvan?

Ek’s altyd oop vir voorstelle en eksperimentering in die studio – mens móét wees. In hierdie geval het ek wel vooraf ’n baie goeie idee gehad van wat ek wil hê. Die idee was van die begin af dat die akoestiese kitaar die hoof- instrumentele feature van die album sou wees. Van daar die gestroopte klank ... selfs van die perkussie is op kitaar.

Dan vind ek groot aanklank met die “vamp”-element wat baie in soul music voorkom. Die outro jam op twee chords wat gepaard gaan met ‘n sanger en musikante wat hulself net oorgee en verloor in die musiek. Van daar snitte soos, “Hannah”, “1998”, “Niks is meer ons eie”. Hier het die manne van Crooked House Studio in Bloem, Pieter Greyling en Jean Fourie, ook ‘n belangrike rol gespeel. Hulle het van die begin af op die trein gespring (pun intended) en presies verstaan wat ons wil bereik. Veral op die snit “Weet jy nie?”, die dubbeloktaaf vocal, die layered backing vocals, en so meer.

Dit bly maar altyd ’n bietjie onbekende grond om te besluit wanneer het ‘n snit optimale potensiaal bereik en jy weet nooit regtig of jy dit regkry nie. Oordoen jy dit? Het jy te min gedoen? Dis maar ’n natuurlike twyfelproses vir enige kreatiewe skepping, maar êrens binne jou is daar ’n artistieke integriteit wat jou rigtingwyser is en jy moet leer om dit te vertrou, I guess.

Oe ja, daar is van die tunes wat ek baie geniet. Is dit bietjie vain van my om so te sê? Ek reken ek sal altyd die akoestiese songs skryf, dis maar wat ek doen, maar ek’t wel ’n vars aar ontdek wat ek meer sal wil ontgin in die toekoms. Soos met “Weet jy nie?”, “Hannah”, en “Niks is meer ons eie” – dis ’n rigting wat my opgewonde maak.

 

Jy het ’n besonder sterk en unieke stem, oftewel vokale aanslag, wat beslis onmiskenbaar is. Daar is natuurlik weer eens verrassings, soos die seldsame falsetto-oomblikke op “Pelgrim”. Beskou jy die stemwerk as ’n tipe “trademark” van jou musiek? Hoe dink jy het jou sangstyl ontwikkel oor die jare – veral van jou optredes voordat jy oorspronklike musiek geskryf het? Ek is seker ander mense het ook al onwillekeurig raakpunte met Eddie Vedder se aanslag gehoor wanneer hulle na jou musiek luister ... Is daar spesifieke sangers by wie jy aanklank vind, en by wie jy wenke vat (direk of indirek)?

Henry, ek hoop so. Ek dink elke sanger wil graag ’n unieke stem hê. Gelukkig is sangstyl iets waaraan jy kan skaaf, dit bly maar ’n skill wat jy tot ’n mate kan aanleer en verbeter. Dis iets waaraan ek doelbewus werk vandat ek begin het. In my eie oë is ek maar meer ’n songwriter wat probeer sing en musikant wees. So van dag een af het ek besef ek’s nie ’n buitengewoon natuurlik-begaafde vocalist nie en dat ek maniere moet vind om my stem meer effektief te gebruik.

Een van die vreedsaamste oomblikke is wanneer jy besef jy begin soos jouself klink. Maar om in dieselfde sin as Eddie Vedder genoem te word ... daarteen gaan ek nie protesteer nie. As ek kon kies, sou ek wel soos Jeff Buckley wou kon sing, maar jy werk maar met die talent wat vir jou gegee word en ek was nog altyd ’n aanhanger van Vedder.

Te veel om te noem, maar ek geniet om na Foy Vance, Paolo Nutini, Jeff Buckley, Brian Fallon, Bruce Springsteen en Anderson East te luister vir ’n bietjie vocal tips.

Jy het besonder baie toere en gigs agter die blad, en jy hou aan reis vir die musiek – soos ek verstaan, is jy in Standerton vir ’n huiskonsert terwyl ek hierdie vrae opstel. Hoe belangrik is dit vir jou, beide persoonlik en as skeppende kunstenaar, om aan die reis te bly? Vind jy dat jy steeds verras word deur dinge en mense wat jy op die pad teëkom, na al die jare? En hoe beïnvloed dit jou werk as liedskrywer? Is daar enige optredes, venues of plekke wat vir jou as hoogtepunte uitstaan? Enige agter-die-skerms-stories wat jy nie sommer sal vergeet nie, lekker of onlekker?

Dit bly maar eintlik die enigste manier om hierdie roeping te beoefen. Jy kan vir mense soveel vertel as wat jy wil, maar ultimately moet jy hulle kan wys wat jy kan doen. Dis show business, the business of showing, not telling. Ek dink dis waar ons Afrikaanse musiekbedryf die kat aan die stert beet het. Daar word te veel vir die publiek gesê waarna hulle behoort te luister.

Daar is inderdaad min vervelige oomblik op die pad. Elke aand is uniek, elke gehoor is uniek en mens word telkens verras. Die einste Standerton-huiskonsert wat ek met slegs ‘n akoestiese kitaar aangepak het, het byvoorbeeld geëindig in ’n gedansery, los, vas, sokkie, iemand wat eenkant staan en kopskud (soos in headbang), alles terwyl die kindertjies in ’n sandput langs die “stage” sit en speel. So ja, never ’n dull moment.

In ’n gesprek in die aanloop tot hierdie onderhoud het jy grappenderwys gesê jy is al “die afgelope 12 jaar onder die radar” as musikant. Die plaaslike musiekbedryf en/of -landskap kan inderdaad ’n bliksem wees. Hoe beskou jy jou plek op die landskap, en wat sou vir jou die ideale verhouding met die musiekbedryf wees? Waar dink jy skiet die plaaslike bedryf tekort, en waar dink jy is daar tog sterk punte wat uitgebou moet word, indien daar eniges is?

Ja Henry, ons bevind ons in ’n unieke, veranderende industrie wat jou soms laat kopkrap oor hoe jy die pad vorentoe moet aanpak. Vir my is daar niks wat die live element klop nie. Daai wêreld wat ontstaan tussen kunstenaar en luisteraar die oomblik wanneer die eerste noot gespeel word en jy sien, hoor en beleef wat musiek kan bemag.

So ek reken ek verkies die organiese pad, waar jy elke aand ’n nuwe onverwagte aanhanger tot die musiek bekeer omdat hulle dit beleef het en dit kies, nie omdat iemand dit vir hulle vertel het nie.

Wat hou die nabye en verre toekoms vir Neil Nachtrein in, in so verre jy dit kan beheer?

Hopelik ore wat ontvanklik is. Ek sal nie omgee om meer en meer te gig nie. Beslis nog albums – ek geniet dit net so baie om kreatief te wees in die studio.

Wat is die sin van die lewe?

Dankbaarheid, want alles is net genade. Dis eerlikwaar soms al hoe ek kan sin maak van wat om ons aangaan – deur ’n lewe van dankbaarheid.

  • 5

Kommentaar

  • Louisa Weideman

    Whow, wat 'n "spot on" onderhoud met Neil Nachtrein!
    As die hele wêreld net kan hoor dat Neil sê lirieke en musiek diepte het wat harte aanraak en mense kan bekeer van die "rokkie-bokkie-sokkkie" -musieksindroom.

  • Neil Nagtrein's talent both as a musician and poet is remarkable! His music creates atmosphere and draws emotion. He is sure to get the recognition he deserves before long. Wonderful album!

  • Estelle Meyer

    Wat 'n voorreg om hierdie te lees. Neil bly 'n nederige ou wat harte diep raak met sy uitsonderlike vermoë om met woorde te toor. Mag ons nog vele albums uit sy pen hoor.

  • Neil Nachtrein, baie trots op jou. Baie geluk met jou nuwe album. Jy het hard gewerk om tot hier te kom - digter, musikant, nederige mens, rolmodel, Fouriesburger . . . welgedaan!

  • Marieta Haskins

    Begaafde, nederige sielsmens! So bly dat meer mense aan jou wonderlike talent blootgestel word. Jy het hard gewerk aan jou droom, maar nooit vergeet om mens te bly nie. Baie geluk met jou puik album. Ons luister met plesier!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top