Musiekonderhoud: Henry Cloete gesels met Megan Danner van Rooksein

  • 0

Die musiektrio Rooksein het in die laaste paar jaar golwe gemaak, en pas ’n nuwe enkelsnit bekendgestel. Megan Danner, die hoofsanger, beantwoord ’n paar vrae.

Rooksein (foto: verskaf)

Goeiedag, Megan. Hoe’s dinge?

Dinge gaan altyd goed met my. Ek verkies om ’n positiewe uitkyk op die lewe te hê!

Baie geluk met Rooksein se nuwe enkelsnit, “Onthou jy die dae”, wat pas bekendgestel is. Dis ’n lekker gestroopte lied, in die sin dat die verse en refreine reguit en sonder tierlantyntjies of versteekte afdraaie op die oor val. Tog klink dit of daar veel meer gedagtes en werk in die arrangements ingegaan het as met jul vorige snitte. Julle sê ook in ’n mediaverklaring dat hierdie lied ’n nuwe koers vir Rooksein aandui. Kan jy uitbrei hierop? Wat presies is die nuwe koers wat ingeslaan word? Hoe het die drie lede van Rooksein hierop besluit, en hoe word dit spesifiek vervat in “Onthou jy die dae”? Dink jy julle gee iets op van Rooksein se vorige akoestiese aanslag, wat die verlies aan getroue aanhangers kan beteken? Of is dit ’n geval van “Groei saam met ons, of bly agter”?

Rooksein is baie opgewonde oor “Onthou jy die dae”. Hierdie liedjie is vir ons as ’n band ’n nuwe koers, omdat dit ons eerste liedjie is wat ’n tipe van ’n rockklank het. Ons probeer altyd om ons verskeie liedjies uniek te maak en elkeen sy eie klank te gee, maar met “Onthou jy die dae” het ons harder probeer.

Dit is die eerste liedjie wat die hele band saam geskryf het – Renier van der Westhuizen (ook lid van Rooksein) skryf gewoonlik ons musiek. Ons wou hierdie liedjie spesiaal maak.

Dit was ’n risiko wat ons bereid was om te vat, met die wete dat ons dalk aanhangers sal verloor. Ons vorige enkelsnitte se klank is meer akoesties en rustig, maar ons wou juis die band die uitdaging gee en onsself druk om te groei en te verbeter. Ons sal mettertyd leer oor wat werk vir ons en wat nie. Ons het sover goeie terugvoer ontvang oor die nuwe enkelsnit en vertrou dat Rooksein se pad vorentoe helder is.

Luidens die mediaverklaring handel “Onthou jy die dae” oor verneukery in verhoudings. Was dit ’n persoonlike, onlangse ervaring vir een van die bandlede? Of hoe het dit gebeur dat hierdie tema gekies is? Dink jy kunstenaars het in die algemeen ’n verantwoordelikheid om dinge wat hul pla in die samelewing uit te lig en aan te spreek? En hoe doen ’n mens dit sonder om te preek, en ook nie mense te vervreem wat bloot op soek is na kief musiek nie? Of is daar ’n goue balans wat julle nastreef?

Die snaakse ding oor ons nuwe enkelsnit is dat alhoewel die liedjie gaan oor verneukery in verhoudings, nie een van die bandlede al so iets ervaar het nie. Dit is wat vir ons so uitdagend was – om jouself in iemand anders se skoene te moet indink en daardeur beskryf hoe hulle voel.

Ons wou ook nie die liedjie swaar of hartseer maak nie, en dit het dit nog meer uitdagend gemaak. Ons wou dus bewustheid verhoog onder ons luisteraars dat sulke dinge wel gebeur – mense word verneuk en seergemaak, maar mens moet aanbeweeg en oorbegin.

Musikante moet altyd deur hulle musiek ’n boodskap oordra of ’n storie vertel en mense moet hulself daarmee kan vereenselwig. Musiek het ’n manier om net in mense se kop te weergalm … vas te sit. Dus is dit nie nodig om te preek nie – die musiek doen die werk vir jou!

Ek dink wat Rooksein nou het, is ’n goeie balans tussen boodskap/stories en musiek. Uit die terugvoer wat ons kry, kan ons hoor dat mense luister na ons woorde, maar tog word die melodie en liedjie oor die algemeen waardeer en ons wil dit so hou.

 

’n Driemanskap sorg altyd vir ’n interessante dinamiek binne ’n band  –  die gevaar van “three’s a crowd” is seker altyd daar. Hoe werk die dinamiek vir jou? Hoe werk die liedskepproses tussen julle drie, en hoe word die logistiek en ander praktiese uitdagings hanteer? Wat gebeur wanneer julle koppe stamp? Oorweeg julle dit om nog lede by te kry, of is dit ononderhandelbaar dat dit Megan, Dian en Renier bly?

Ek, Dian en Renier het ’n band gevorm wat nie sommer gebreek kan word nie. Ons was drie vreemdelingstudente wat ’n passie en liefde vir musiek het. Die Here het ons oor mekaar se pad gebring en van daardie dag af is ons onskeibaar. Ons werk so goed saam op ‘n verhoog en verstaan mekaar se lyftaal en maniertjies baie mooi. Ons komplementeer mekaar baie mooi en die een probeer nie beter wees as die ander een nie.

Ons gebruik mekaar se sterkpunte en vul mekaar aan. Met hierdie liedjie se skryfproses het ons begin met die melodie. Daarna het ons elkeen woorde neergesit, ons het gesing en toe besluit watter lirieke beter pas by die liedjie – ons werk maar op gevoel. Hierdie driemanskapdinamiek is wat ons Rooksein maak en dit sal altyd so bly.

Terug by die musiek self: Daar is ’n paar lieflike snitte van Rooksein aanlyn te vinde, soos “Krag” en “Woordelose storie”. Dit is duidelik dat daar geweldig baie aandag geskenk word aan die gehalte van die liedere, die instrumentering, en ook die lirieke. In die mediaverklaring sê julle ook: “Die doel is om betekenisvolle musiek te maak in ’n generasie waar dit besig is om uit te sterf.” Hoekom dink jy is dit besig om uit te sterf? En hoe sou jy “betekenisvolle musiek” definieer? En as dit ’n generasieverwante probleem is, hoe lyk Rooksein se teikenmark?

Musiek beteken vir elke persoon iets anders. “Betekenisvolle musiek” is eintlik maar ’n relatiewe begrip. Elke persoon het sy/haar eie smaak, maar ons hoop dat Rooksein deur ons lirieke en melodie ‘n boodskap kan oordra en gedagtes sal agterlaat.

Ons hoop dat dit ’n gevoel of emosie in mense wakker maak, ’n herinnering terugbring en mense laat besef dat hulle net mense is – jy is ’n mens met emosies en gevoel en jy moet erkenning gee daaraan.

Ons teikenmark is dus nie beperk tot ’n sekere groep nie, maar is enigiemand wat net mens is (en natuurlik na ons musiek wil luister).

Op ’n totaal ander noot: Jy het onlangs onder die top drie geëindig in die talentkompetisie/program Maak my famous. Geluk – dis nogal ’n prestasie! Waarom het jy ingeskryf vir die kompetisie, en hoe het jy die hele proses ervaar? Opwindend? Senutergend? Uitputtend? Is jy bly jy het dit gedoen? Wat dink jy beteken sulke kompetisies, en sukses daarin, in die algemeen vir jong kunstenaars? En vir watter negatiewe gevolge moet ’n mens moontlik op die uitkyk wees?

As ek terugdink aan Maak my famous, raak ek sommer bly! My ma het my, sonder dat ek daarvan bewus was, ingeskryf. Ek het eers uitgevind daarvan toe Emo Adams my bel en in kennis stel dat ek uit meer as 6 000 mense gekies is vir die top 48!

Daarna het alles so vinnig gebeur, en toe ek my oë uitvee is ek in die top drie. Ek is baie bly ek het deelgeneem en is dankbaar vir die geleentheid.

Ek dink dis wonderlik dat daar sulke platforms vir jong kunstenaars is, omdat dit hulle laat groei en leer. Sulke platforms maak ook baie deure oop en gee vir hulle geleenthede en ervaringe wat hulle dalk nie sou kry nie.

Rooksein is ’n betreklik jong groep, wat minder as twee jaar gelede in die lewe geroep is. Daar is ’n cool agtergrondstorie oor hoe julle almal by die Pukke Talentfees ontmoet het. Hoe presies het dit gebeur? En hoe balanseer julle die musiek met die studies? Sal julle opskop en voltyds musiek maak as die geleentheid groot genoeg is? Of is dit op die oomblik eerder ’n uitlaatklep of ’n stokperdjie?

Ek en Dian het deelgeneem aan Pukke Talentfees en Renier het in die gehoor gesit. Renier het besluit om ons te kontak en te nooi vir ’n middag waar ons musiek gaan maak. Ons het so goed oor die weg gekom dat ons daardie volgende aand al ons eerste gig gehad het – sonder ’n naam en vir slegs R60!

Van daar af het Rooksein gegroei en tot vandag toe nie opgehou nie. Ons wil definitief ons studies klaarmaak, en dit is iets wat ons gaan doen.

Ons prioritiseer tussen studietyd en oefentyd en het nou al ’n goeie balans gekry. Musiek is wel iets wat ons vir ’n bestaan wil doen, maar ons glo dat die Here in beheer is en ons sal gaan waar Hy ons lei. Ons vat dit maar dag vir dag!

Jou professionele musiekloopbaan is dalk nog relatief kort, maar dit was besig! En daarby strek jou persoonlike musiekervarings natuurlik veel verder die verlede in. Wat sou jy beskryf as jou grootste hoogtepunte tot dusver in die onderskeie afdelings? En daarmee saam, enige ervarings wat jou laat bloos en skaamkry as jy terugdink daaraan?

My musiekloopbaan is iets waarvan ek al droom vandat ek ses jaar oud is (dit is toe ek begin sing het in kompetisies). Dit voel werklik of my droom stuk-stuk waar word met alles wat die afgelope jaar gebeur het.

My hoogtepunt is definitief die Maak my famous showcase waar ek voor 5 000 mense opgetree het en ook toe Jo Black my by een van se optredes uit die gehoor geroep het om saam hom te sing! Dit is dinge waarop ek baie trots is.

Wat hou die nabye en verre toekoms in, vir Megan Danner en ook vir Rooksein?

Megan Danner en Rooksein sal voortgaan om ons drome en musiekloopbaan na te jaag. Ons gaan aanhou musiek uitbring en optredes doen.

Wat is die sin van die lewe?

Vir my is die sin van die lewe om jou doel op aarde na te jaag. Om dit waarvoor die Here jou bestem het te vind – so sal jy altyd ’n hart vol vrede hê.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top