Jako Meyer, die sanger bekend as voorman van die groep Moses Metro Man, se eerste solo-album, Middernag Kantoor, is pas uitgereik. Hy beantwoord ’n paar vrae.
Goeiedag, Jako. Hoe's dinge?
Lekker Henry, dit gaan goed man, wel met interessante tye om ons. Hoe sê hulle op sosiale media – "What a time to be alive."
Baie geluk met jou eerste solo-album, Middernag Kantoor, wat pas bekendgestel is. Die eerste vraag wat opduik is: Waarom juis nou ’n solo-album? Jy het wel oor die afgelope paar jaar hier en daar ’n enkelsnit as solokunstenaar vrygestel ("Strandloper" in 2018, "Dinge wat ons al vergeet het" in 2017), maar hier is die volle album nou. Wat het jou laat besluit jy wil jou eie koers inslaan? Wat voel jy is die grootste verskille tussen jou solomusiek en dit wat deur Moses Metro Man geskep word, en ook hóé dit geskep word? Is dit moeiliker om die geboorte van ’n debuutalbum alleen deur te maak, of is dit juis verfrissend?
Baie dankie. Jis jong, ja, dit was omtrent ’n pelgrimstog tot hier. Volgens my beplanning moes hierdie album lankal uit gewees het. Ek het ongelukkig ’n bloutjie geloop met ’n vervaardiger ’n paar jaar gelede. So ek moes eers my finansies uitsorteer om die album klaar te maak. Gelukkig het my pad gekruis met Johan Viljoen aka Jim Steinman s'n, maar ek sal later meer daaroor uitbrei.
Soos jy weet, verander tye. Ons raak ouer, die hoofpyn raak erger die volgende dag. So ek het lank met die behoefte gestoei om ’n solo-album uit te bring. In ’n band skryf mens waaroor die hele band kan saamstem. Al vyf lede moet saamstem, en ek dink dit is wat hierdie proses makliker gemaak het.
Ek het steeds met ander skrywers en musikante gewerk, maar ten einde was dit my eie verantwoordelikheid. Ek het nodig gehad om te groei, nie net as skrywer nie, maar ook as mens. Dit is voorwaar vir my ’n voorreg om mense in my middernagkantoor toe te laat.
Middernag Kantoor is nou wel ’n solo-album, maar daar's diep en wye instrument- en vervaardigingswerk wat opklink. Reeds op die openingsnit, "Beskerm my", kan ’n mens byvoorbeeld hoor dat daar noukeurig besluit is oor die elemente vir die verse, refrein, alles, en dit loop deur die hele album, met onverwagse bekfluitjies en brass sections wat opduik. Hoe het jy te werk gegaan met hierdie arrangements? Was dit reeds in jou kop toe jy pen op papier gesit het vir die songs, of hoe het daai proses gewerk van konsep tot eindproduk? Hoe ’n groot rol het medewerkers daarin gespeel?
Johan het van die begin af my visie vir die album verstaan. Baie van die songs was reeds geskryf, en ’n hele klomp is ook tydens die proses van die opname geskryf. Johan het ’n uitstekende werk gedoen om die songs te verwerk en te vervaardig.
Daar gaan steeds ’n vol band saam met my optree, so dit was vir my belangrik om aandag te gee aan elke instrument. Die begaafde Loke-Louis Claassen het die tromme vir die album opgeneem. Die bekfluitjie wat jy daar hoor, is gespeel deur Deon Meiring.
Gepraat van medewerkers – jy het ’n paar ander sangers en musikante ingespan vir van die liedere – Deon Meiring op "Daar waar ek wil wees", Roux Cloete op "In die stilte", Marno van der Merwe op "Epiloog" … Hoe het dit gebeur dat hierdie spesifieke musikante vir hierdie spesifieke liedere betrek is? Het jy ’n spesifieke stem in jou kop gehoor toe dit tyd raak vir opnames, of was daar laataand-braaivuurbeloftes (of iets soortgelyk) betrokke? Met wie sal jy nog op soortgelyke wyses wil saamwerk in die toekoms? En, as enigiets moontlik was, wie sou jy nooi vir ’n volgende samewerking – plaaslik of internasionaal, lewend of dood? En hoekom?
Om ’n eerste solo-album op te neem na tien jaar in ’n band is ’n vreesaanjaende proses. Ek het ’n paar vriende nader gehark en skryfsessies gereël. Michael de Villiers, Tiaan Erasmus en Johan Viljoen is van die manne saam met wie ek sekere songs geskryf het. "In die stilte" is geskryf deur Roux Cloete en Franco Prinsloo.
Wat die collabs betref: Ek en Deon het ’n teaterprojek, Die Wyndigters, in 2018 geskep. Ek wou spesifiek ’n lied saam met hom opneem wat ons ook as die Wyndigters kan bemark, veral omdat daar ’n bundel op pad is. "In die stilte" is vantevore deur my en Roux opgeneem in 2012, maar nooit vrygestel nie. Hierdie was die perfekte oomblik om weer asem aan die song te gee. Wat die collab met Marno betref – behalwe die feit dat ek die grootste respek het vir hom as akteur en sanger, is dit ook geïnspireer deur middae se kantoorsessies by Rock@88 op Lynnwood.
Wat my tweede album betref, is daar reeds ’n collab in die pyplyn met Peter Crafford (3rd World Spectator se hoofsanger en designer van die album artwork).
Jan Blohm, Laudo Liebenberg, Danie du Toit en Karen Zoid is ook op my lys. Maar net die tyd sal leer – ’n collab moet natuurlik ontpop.
Internasionaal dink ek ’n collab met Matt Bellamy van Muse, Brandon Flowers van The Killers of Meatloaf sou berge versit het. En natuurlik die koning van alle sangers, Freddy Mercury.
Een van die (talle) indrukwekkende elemente van Middernag Kantoor is die uiteenlopendheid daarvan. "Lugballon", wat onlangs as enkelsnit uitgereik is, is byvoorbeeld ’n opgewekte, hoëtempo-kraglied – dieselfde kan gesê word van "Nuwe jaar" en "Terug na my toe". Dan is daar heelwat snitte wat meer die meesleurende, laetempo-roete neem. Het jy opsetlik aan ’n balans vir die album probeer werk in hierdie opsig? Of het dit bloot natuurlik so verloop? Dink jy daar is ’n goue draad, storiegewys en musiekgewys, wat deur die album loop en wat daardie soort ebb and flow nodig het om dit te laat werk? Of hoe sou jy daardie vloei van Middernag Kantoor beskryf?
Ek het van die begin af geweet ek wil iets rustiger doen. Iets waarna die meeste mense kan luister, en nie net my vriendekring nie. So ek het bewustelik dit so beplan om ’n wye verskeidenheid van myself ten toon te stel. As akteur wat ’n groot liefde het vir musicals, is emosionele ballads deel van my. Maar so ook die rock van Moses Metro Man, wat deel is van my DNS. Dan moet mens natuurlik ook een of twee liedjies uitgee wat gespeel sal word op die radio. Dis tog lekker as meer mense aanklank vind by die musiek.
Wat die goue draad betref: Die reis binne-in my, en in my middernagkantoor, is die goue draad wat saamgeweef word deur die woorde en vocals van die album.
Ek is nou 34. Ek kan nou groei waardeer en tegemoet stap. Elke liedjie op hierdie album is deel van daardie groei.
Met Moses Metro Man was jou sterk en unieke stemwerk altyd ’n kenmerkende eienskap, en op Middernag Kantoor is dit uiteraard weer iets wat uitspring, opspring, inspring, oral die luisteraar nader trek en aandag vereis. Veral op "Ingelein" is daar ’n soort gemaklike selfvertroue in die ambisie, en op "Nuwe Jaar" word daar byna naatloos na falsetto en terug gespring. Hoe sou jy die groei van jou stemwerk beskryf sedert MMM se eerste vrystellings tot nou, by Middernag Kantoor? Is jy iemand wat sangoefeninge en klasse onderneem, of een van diés wat twee pakkies entjies kan klap en steeds onmiddellik ’n vyfoktaaf-range kan loslaat? Uit watter bronne put jy inspirasie vir jou vocal werk, en hoe sal jy dit nog wil ontgin in die toekoms?
Jis, baie dankie vir jou mooi woorde, man. Ek dink met Moses se eerste vrystellings was ek baie versigtig. Ek is nou op ’n baie goeie plek in die sin dat ek voel ek kan enigiets probeer en dit waarskynlik regkry. Dis maar met die jare se blootstelling aan a capella, musicals, rock bands, teater en televisiewerk. Mens leer ken jouself as kunstenaar, deur die rowwe tye, en deur die lekker tye. Ek het nog nooit sangklasse gekry nie, maar ek het baie geleer by fantastiese musikale leiers oor die jare. Van stemopwarmingsoefeninge wat ek geleer het by Niekie van der Walt in Flipacoin, tot blootstelling saam met die maestro Eddie Clayton.
Ek put my inspirasie uit die feit dat daar nog baie is om te explore. Of dit nog op, of nog af is. Om myself as vocalist altyd uit daardie comfort zone uit te kry. Ek put ook inspirasie uit ander sangers. Verskillende kleure en geure. Ons almal leer by mekaar uit genade.
Soos reeds genoem, het jy oor die laaste drie jaar een of twee snitte sporadies vrygestel wat ook nou op die nuwe album is. Party mense glo daar is g'n punt meer aan albums nie, dat elektroniese singles die enigste logiese pad vorentoe vir kunstenaars is. Andere glo vas albums is waar die ware kuns lê, en dat dit ewe veel kommersiële sin maak. Jy het op ’n manier albei dié benaderings gevolg. Wat is jou filosofie hierrondom, en hoe sou jy verkies om dit met toekomstige vrystellings te doen?
Ek sal altyd verkies om ’n album op te neem. Die moeilike ding van slegs ’n single is … hoe weet jy regtig of dit ’n single is? Ek meen, as jy ’n label met tientalle skrywers agter jou het, is dit seker ’n ander storie, maar ek verkies om ’n klomp te skryf en dan daaruit die sterkstes te kies.
Die twee snitte wat sporadies vrygestel is, was eintlik deel van die groter prentjie.
Jako Meyer het nou al ’n paar diep spore in die plaaslike musiekbedryf gelaat, met baie opnames, optredes en dies meer agter die blad. Wat staan tot dusver vir jou uit as hoogtepunte, en ook laagtepunte? Enige stories (voor of agter die skerms) wat jy nie sommer sal vergeet nie, of eerder sal wil vergeet?
Ek dink toe ek in 2010 besluit het om te freelance, was dit ’n hoogtepunt. Daarna was daar baie laagtepunte, en tye wat wilde vasbyt geverg het. Maar die mense voor wie ek optree en wat ek ontmoet, is een groot hoogtepunt wat alles die moeite werd maak.
As ek ’n paar moet uitsonder, sal dit definitief my ontmoeting met Deon Opperman wees. Ek het hom in 2011 ontmoet as lid van sy cast vir Tree aan!. Dit was baie van ons se eerste "groot" gig. Deon het soveel wysheid, en om vir ’n oomblik dit te kon opslurp, was besonders.
Moses Metro Man. Sonder twyfel. En nou, om hierdie segment van my te deel.
Wat hou die nabye en verre toekoms vir Jako Meyer in, wat musiek en ander dinge betref, in soverre jy beheer daaroor het?
Ek is so bly jy noem die beheer wat ons het. In die praktyk is alles maar genade. Ek verskyn later vandeesmaand in 7de Laan met ’n baie interessante rol.
Dan is ons besig met ’n nuwe Moses-album. Die Wyndigters het ook lekker dinge in die pyplyn – dis nou as daar nog ’n pyp is om te rook.
Wat is die sin van die dood?
Hulle sê ’n mens begin eers werklik lewe na die dood.