Musiek vir die agtergrond: Gaan kyk hierdie fliek en sing saam

  • 0

Musiek vir die agtergrond

Regisseur: Sallas de Jager
 

Spelers: John-Henry Opperman, Lizelle de Klerk, Brümilda van Rensburg, Terence Bridgett, Neil Sandilands, Ian Roberts

Om te sê dat hierdie fliek my verras het, is ’n onderbeklemtoning. Veral die voorprent met daai "Heitou Peteitou"-liedjie het my nie moedig gestem nie.

Die afgelope dekade of wat beleef Afrikaanse musiek ’n opbloei, maar ongelukkig is die styging in verkope en die aantal sangers omtrent omgekeerd eweredig aan die gehalte van die musiek. Kort daarna begin die opbloei van Afrikaanse flieks, en gou sien ’n mens die wenreseppie raak: kry ’n bekende Afrikaanse sanger, gooi ’n klomp catchy tunes in en dis dit op met ’n flou, onoorspronklike draaiboek. Die motivering lyk só: die volk is mal oor die musiek, dus sal hulle ook mal wees oor die fliek. Nou moet ek sê (nie sonder ’n bietjie leedvermaak nie) dat ek al ’n hele paar van hierdie “wenresepte” sien flop het by die loket. You can fool most of the people most of the time, but ... julle ken die res.

Nou kom hier ’n fliek wat presies dié probleem takel. Paul (John-Henry Opperman), ’n talentvolle jong kroegsanger, se wyse mentor (Ian Roberts) sê hy moet net vasbyt en hard werk, sy deurbraak sál kom. Maar Paul sien nie kans om nog te wag nie, hy het die geld te nodig. Dus teken hy die aanloklike kontrak waarmee musiekpromotor Lucy Ferreira (Brümilda van Rensburg) belowe sy sal ’n stér van hom maak. Newwermaaind die treurige song wat hy met ’n backtrack moet sing.

As ons dan ’n gebrek aan goeie Afrikaanse musiek het, het ons gelukkig geen gebrek aan goeie akteurs nie. John-Henry Opperman is perfek in sy rol, soos al die ander akteurs, met veral Brümilda van Rensburg wat uitstaan.

Gaan kyk hierdie fliek en sing “Heitou Peteitou” lustig saam – praat van ’n catchy tune ...
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top