Munisipale aanspreeklikheid: ‘n vergete bottel wyn, ‘n motoralarm, nat gras en die koue Liesbeeckrivier

  • 0

wyn_kar650

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Mits hy nog leef, sal ‘n sekere mnr Butters van Kaapstad stellig die aand van 18 Augustus 1990 nie maklik vergeet nie. Vroeër daardie middag – dit was 'n Saterdag – het hy nog 'n paar stelle tennis gespeel en toe het hy en vroulief besluit om by 'n restaurant in Rondebosch in die Moederstad te gaan eet. Daar was 'n ruim munisipale parkeerarea waar mnr Butters sy motor gaan parkeer het. Soos ons maar almal maak, het hy sy motor se voorwiele tot teenaan die randsteen van die parkeergebied laat gaan op so 'n wyse dat die neus van die motor óór die randsteen gesteek het. Direk langs die randsteen was daar 'n lysie sowat 50 cm breed waarop gras welig en slordig gegroei het. Tussen die gras was daar los stukke leiklip en gebreekte teëls. Die lysie het 'n effense helling na die oostekant gehad en aan die einde van die lysie was daar 'n geleidelike val na die Liesbeeckrivierkanaal, sowat 2,7 meter laer as die parkeerterrein. Daar was nie 'n heining tussen die parkeergebied en die kanaal nie; daar was geen ligte in daardie omgewing van die parkeerterrein nie en daar was ook geen waarskuwings van die afgrond so naby aan die parkeerterrein nie.

Ewenwel, mnr en mev Butters het net in die restaurant gaan sit toe mnr Butters onthou het van die bottel wyn wat nog onder sy vrou se sitplek in die motor lê. Hy het motor toe gestap en die linkerdeur oopgesluit. Terwyl hy besig was om die bottel wyn onder die sitplek uit te haal, het die motor se alarm afgegaan en om dié ding se bek stil te maak moes hy omstap na die bestuurder se kant. Om geen besondere rede nie het hy besluit om aan die voorkant van die motor om te stap. Jy sal onthou dat daar 'n lysie van so ongeveer 50 cm breed was tussen die randsteen en die geleidelike afgrond na die Liesbeeckrivierkanaal. Boonop was die motor se neus oor die randsteen. Dit het vroeër die dag gereën en die gras was nat – en nou weet jy al wat gebeur het: mnr Butters het sy balans verloor en toe hy sy oë uitvee, lê hy onder in die betonkanaal van die yskoue Liesbeeckrivier. Met die valslag het hy 'n fraktuur van sy heup opgedoen, asook verskeie ander beserings.

Mnr Butters het daarna 'n aksie om skadevergoeding teen die Kaapstadse munisipaliteit ingestel, want dié is die eienaar van die Liesbeeckrivierkanaal, asook van die parkeerterrein waar hy sy motor geparkeer het. In sy dagvaarding het hy aangevoer dat die Kaapstadse munisipaliteit nalatig was deurdat hy versuim het om redelike voorsorgmaatreëls te tref vir die veiligheid van gebruikers van die parkeerarea. In die besonder, het mnr Butters aangevoer, het die munisipaliteit versuim om 'n voldoende spasie tussen die parkeerterrein en die kanaal te laat. Verder was hy van mening dat die munisipaliteit nalatig was vanweë sy versuim om 'n behoorlike heining tussen die parkeerterrein en die kanaal aan te bring; vanweë sy versuim om gebruikers van die parkeerarea te waarsku van die gevaar wat die kanaal geskep het, en – les bes – vanweë sy versuim om behoorlike beligting op daardie plek van die parkeerarea aan te bring sodat mense die afgrond na die kanaal kon sien.

In die ou dae was dit nogal moeilik vir iemand om met 'n skadevergoedingsaksie teen 'n munisipaliteit of 'n plaaslike owerheid te slaag. Die beginsel was dat 'n munisipaliteit nie aanspreeklik is vir, byvoorbeeld, sy versuim om paaie en sypaadjies behoorlik in stand te hou nie – tensy bewys kon word dat toe die munisipaliteit die pad of sypaadjie die eerste keer gemaak het, hy daardeur 'n nuwe gevaar geskep het wat nie voorheen bestaan het nie. Munisipaliteite is gevolglik onthef van die normale verantwoordelikheid wat op 'n eienaar van grond rus om te waak teen gevare wat op daardie grond ontstaan, selfs al het hy nie die gevare geskep nie. Hierdie vreemde beskerming van munisipaliteite het na ons reg oorgewaai uit die Engelse reg. Gelukkig het daar by ons howe 'n kentering gekom en is daar in verskeie sake beslis dat dieselfde beginsels van die gemenereg wat van toepassing is wanneer 'n mens 'n gewone landsburger aanspreeklik wil hou weens 'n onregmatige daad, ook op 'n munisipaliteit van toepassing is.

Een van die beginsels is, kortliks, die volgende: iemand kan aanspreeklik gehou word vir skade slegs indien dit op skuld – in die vorm van opset of nalatigheid – berus.

Iemand tree nalatig op indien hy versuim om soos 'n redelike mens op te tree. Die redelike mens, só word geredeneer, sal onder bepaalde omstandighede voorsien dat daar 'n redelike moontlikheid is dat sy optrede, of sy versuim om op te tree, skade aan iemand anders kan berokken. Die redelike mens sal dan redelike stappe doen om sodanige skade te verhoed. Indien iemand dus versuim om op te tree soos 'n redelike mens onder die omstandighede sou optree, is hy nalatig.

Hierdie beginsels, so het ons howe in die jongste jare beslis, is ook op munisipaliteite van toepassing.

Maar terug na mnr Butters se saak teen die Kaapstadse munisipaliteit. Die hooggeregshof in Kaapstad het beslis dat die munisipaliteit wel versuim het om soos 'n redelike mens op te tree. Die hof was van mening dat die munisipaliteit moes voorsien het dat mense hulle voertuie sou parkeer met die neuse oor die randstene, soos wat mnr Butters inderdaad gedoen het. Die hof het ook beslis dat dit voorsienbaar was dat mense, soos mnr Butters, vóór om hul voertuie sou loop ten einde aan die ander kant van die voertuig te kom. Daar kan verskeie redes voor wees hoekom 'n mens aan die ander kant van die voertuig wil kom: dink maar aan die galante heer wat die motor se deur vir 'n dame wil oopmaak.

Die hof het ook beslis[1] dat die smal lysie waarop mnr Butters geloop het, 'n gevaar ingehou het deurdat dit effens skuins na onder geloop het en deurdat die gras daarop nie netjies en kort gehou is nie. Daar was 'n plig op die munisipaliteit om óf daardie gevare wat die lysie ingehou het uit te skakel óf 'n doeltreffende versperring tussen die parkeerarea en die kanaal op te rig.

Aan die ander kant, het die hof beslis, was mnr Butters self ietwat nalatig deurdat hy versuim het om behoorlik op te let en het die hof uiteindelik beslis dat die munisipaliteit 75% van mnr Butters se skade moet betaal en hy self 25% van die skade moes dra. Skadevergoeding van R60 000 is aan hom toegeken. In vandag se geldwaarde is dit natuurlik heelwat meer.

Die Kaapstadse munisipaliteit was nie tevrede met die uitspraak nie en het geappelleer, maar ook op appèl het die hof teen die munisipaliteit en ten gunste van mnr Butters beslis.

[1] Cape Town Municipality v Butters  1996(1) SA 473 (CPD)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top