Munesu

  • 0

Haar afgeleefde rooi tas het vandag ʼn skelpienk strik om die handvatsel. Sy wil doodseker maak sy sien dit van ver af aankom op die bagasieband. Daar is vreemde mense in die wêreld. Sal sommer jou tas vat as dit interessanter as hulle s’n lyk. Sy weet, sy het al eenkeer meer as ʼn  uur langs die band gestaan en wag vir haar bagasie totdat Munesu haar kom haal het. Hy het haar tas by hom gehad, gesê hy het dit voor die damestoilet se deur gekry net langs die vervoerband. Die skelm vroumens moes eers gaan pieps het voordat sy verdwyn het met haar tas. Gelukkig vir Munesu. Ongelukkig vir die skelm met die nood.

Munesu ken haar al lank, vandat sy so gereeld begin reis het na die ongeluk en Barnie se dood. Sy onthou nog goed die eerste keer toe die lang swart man van Zimbabwe haar gehelp het om weer by haar motor te kom. Sy was verbaas oor die perfekte Afrikaans en het hom gekomplimenteer op sy mooi maniere en suiwer taalgebruik. Hy het skaam geglimlag en vertel dat hy op ʼn  plaas in Zimbabwe grootgeword het waar hy van kleins af saam met die boer se kinders gespeel het.

Dit was met haar terugkeer van Switserland. Sy was gedaan na die lang vlug, maar in ekstase oor die sneeubedekte berge en kristalhelder mere. Haar kop het nog gedraai van die mallemeule-week in Montreux, haar besoek aan die museums, die asemrowende kunswerke van Lausanne, die Chagall venster in die Fraumünster van Zürich en die besoek aan die melkery waar sy toegekyk het hoe gruyère gemaak word. Sy het selfs ʼn  pakkie van hierdie welbekende Switserse kaas in haar handbagasie saamgebring vir haar buurvrou, Selma. Die arme ding het nog nooit gereis nie en het tog so uitgesien na ʼn  stukkie lekkerny van oor die water.  Switserland was pragtig, maar heeltemal te koud na haar sin. Sy verkies Europa net na die stormloop van Julie en Augustus en het haar toekomstige toere beplan rondom die Europese herfs.

So het Munesu keer op keer langs haar opgedaag as sy die lughawe-gebou binnestap, haar groot bruin handsak met paspoort en vliegkaartjie styf vasgeklem onder haar arm. Hy is een van die mees behulpsame sekuriteitspersoneel op die lughawe en sien toe dat sy by haar gunstelingplekkie in die besige restaurant gaan sit, waar hy seker maak sy kry ʼn  koppie koffie en toebroodjie voordat sy die lang gang aandurf na die internasionale toonbank om aan te meld.

Dis nie dat hy dink sy is te oud om haarself te help nie, dit is deel van sy ambisie om eendag ʼn  toergids te wees sodat hy ook die wêreld kan gaan sien soos sy. Hy knyp altyd ʼn paar minute af om met haar te gesels oor haar ervarings en hang aan haar lippe as sy hom saamneem op haar verhale van die groen woude van Duitsland, die kliphuisies, bloedrooi papawers en hobbelpaadjies van Griekeland en die waterstad van Italië waar die verlede vir jou loer uit guitige houtvensters. In die  geklots van water teen die straatkante, hoor jy die stemme van die verlede.

“More mevrou Aggie!” Munesu se oë blink vriendelik en sy glimlag flits verblindend as hy haar tas by haar neem en die handvatsel verstel om dit rustig agter hom aan te trek na die restaurant op die grondvloer. “Waarheen reis ons vandag?”

“My liewe Munesu, vandag is ek op pad Ooste toe. Viëtnam.” Sy kyk rond vir ʼn bankie voordat sy verder praat. Haar kragte is aan die min kant vandag. Sy sal moet begin om minder te reis. Dit neem elke keer langer vir die vlugvoosheid om die wyk te neem. Benewens Switserland, het sy nog ʼn  paar Griekse eilande en ʼn  vinnige draai in Turkye ingepas die laaste paar maande. Sy is hoeka volgende week vyf-en-sewentig en hierdie is ʼn verjaardaggeskenk aan haarself. Sy was nog nooit in Asië nie en beplan om benewens Hanoi en die onmiddellike omgewing, ook ʼn  draai in Laos te maak - die land van die vergete landmyne wat jaarliks nog verantwoordelik is vir die dood en skending van talle kinders.

“Viëtnam was nog altyd ʼn  droom van my Munesu. Dit is so ʼn intense land van verskillende invloede met dertiende eeuse tempels, agtiende eeuse strate en negentiende eeuse prag en praal. Barnie het eenkeer soontoe gereis vir ʼn  kongres oor die behoud van die Afrika- en Asië-olifante. Ek wil gaan kyk waar hy was, waar sy voete geloop het.”

Munesu sien sy is gedaan en stuur haar behendig in die rigting van ʼn ry plastiekstoele waar hy haar help om te gaan sit. “Kom ek gaan haal vir mevrou Aggie van daardie lekker wegneemkoffie dan vertel jy my van die Ooste en sy mense.” Sy knik dankbaar en haal ʼn noot uit haar beursie en hou dit uit vir hom.

Terwyl sy kyk hoe sy regop figuur in die netjiese uniform kleiner word, gaan sit sy stadig agteroor en sluit haar oë. Sy moet haar pille drink wat in die deurskynende houertjie in haar handsak is. Sy onthou nou dat sy nog nie vanoggend kans gehad het nie. Dit was so besig met die pakkerye en toe gou langsaan na Selma om haar sleutel af te gee. Selma sal soos gewoonlik na haar kat kyk en haar malva op die stoep versorg. Liewe Selma. Sy is tog so bekommerd en het onderneem om Munesu te skakel sodat hy vir haar by die deur van die vertreksaal kan wag. Soos wat hy altyd doen met die laaste klompie reise wat sy onderneem. Tog so ʼn liewe kind, die Munesu. Hy het haar eenkeer vertel dat sy naam beteken dat God binne ons is. Sy het skeef geglimlag en gedink aan die moord en doodslag rondom haar. Daar is nie baie Munesu’s meer in hierdie wêreld nie. As God wel daar is, moet jy baie diep gaan delf.

Na ʼn rukkie is Munesu terug met ʼn koffie en toebroodjie vir haar. Hy kyk vinnig rond of sy toesighouer nie naby is nie, voordat hy langs haar plaasneem en seker maak sy drink haar handvol pille. Die slaappilletjie hou sy terug vir wanneer sy veilig in haar sitplek is, want daai ene klop haar vinnig uit. Gewoonlik wag sy net tot na aandete voordat sy hom drink en na ʼn vinnige draai in die piepklein badkamertjie is sy reg vir ʼn rustige nag waar sy droom van Barnie en saam met hom hand aan hand stap deur katedrale, markpleine, langs wilde rooi papawers en kobaltblou oseane.

“Munesu, ek dink hierdie mag dalk my laaste toer wees.” Sy kyk uit oor die polsende gang van mense. Vreemde gesigte op pad iewers heen, al trekkende aan bagasie op wiele. Vinnige voete, veral die sakemanne, fluks op pad om nog ʼn dollar of pond te gaan maak. Hier en daar hop ʼn kleuter rond met honderde vrae in temerige stemmetjies en bont rugsakkies. Kamtig verveelde tieners loop en selfies neem terwyl hulle probeer om ongeërg te lyk oor die groot avontuur wat wag, maar die blink oë en die senuagtige handbewegings spreek boekdele.

Vlugtelinge, almal van ons. Altyd aan’t wegbeur van die alledaagse, die roetine, die probleme en verveeldheid van ons bestaan. Maar sodra ons daar is waar ons wil wees, verlang ons terug na die bekende, die gemaklike, die lewe wat soos ʼn  ou jas om ons vou.

O, maar hoe geniet sy dit nie om ʼn  tas te pak en deur die hele roetine te gaan van aanmeld, tas inweeg, deurstap en wag vir die hekke om oop te maak na die gapende bek van ʼn  blikvoël nie! Na al haar reise die afgelope tyd, staan sy nog steeds verwonderd oor die magiese bekoring van reis en om jouself een dag tuis te bevind en die volgende dag in ʼn  antieke kasteel rond te dwaal terwyl jy kyk na versamelstukke en kunswerke wat na al die eeue nog bewondering afdwing.

Dit is al waarvoor sy lewe, noudat dit net sy is. Die een keer wat sy saam met Barnie na Rome was, was die beste tyd van haar lewe. Die twintigste eeuse skrywer Alberto Moravia het Rome beskryf as die stad met meer monumente as huise, en hulle twee het, hand aan hand, hul verkyk aan meeste hiervan. Langs die gebroke Kolosseum wat deels gebou is met behulp van geplunderde goud en skatte van Jerusalem, het hulle tradisionele roomys geëet wat tot op haar skoene gesmelt het. By die klipmasker van Triton by Piazza della Bocca het hulle grootoog gestaar na die oop mond wat volgens oorlewering, ʼn leunaar se hand afgebyt het as dié dit durf waag om sy hand daar in te druk.

Terwyl sy in haar droomwêreld verkeer en mymer oor haar avonture, sit Munesu aandagtig en luister. Hy weet dit is belangrik vir haar om te vertel, om haar wêreld en drome te uiter en te hoor.  Haar gesig verander met elke storie en haar oë kreukel as sy lag wanneer sy vertel van haar geworstel om ʼn bord pasta af te sluk op die Campo de’ Fiori wat eens ʼn plek van teregstelling was.

Sy laat hom aan sy ouma dink. Sy kon ook heerlike stories vertel en diep uit haar maag lag. Munesu sit nog ʼn rukkie by haar voordat hy opstaan en ʼn ent wegstap om op sy plek by die deur te gaan staan. Maar hy maak seker hy kan haar dophou. Hy sien haar terugleun in die stoel, haar handsak op haar skoot.

Nadat hy die eerste keer met haar kennis gemaak het, het hy sy selfoonnommer in haar foon gestoor en ook vir haar vriendin Selma gestuur. Gewoonlik stuur Selma vir hom ʼn boodskap om te laat weet dat Aggie op pad is. Die Gautrein se bus loop by haar huis verby en sedert sy ʼn jaar gelede in die groot motorongeluk was, is dit hoe sy by die lughawe kom.

By die deur na die internasionale vertreksaal wag hy vir haar. Haar stories is kleurvol en hy kan lank luister na haar vertellings van vreemde kos, kulture en gewoontes wat hy nie verstaan nie en plekke wat hy net soms op die groot skerms in die lughawegebou sien.

Maar vandag is anders. Aggie is moeg. Haar stories stop in die middel van sinne en dan staar sy net voor haar uit. Haar skouers is krommer as gewoonlik en haar hande bewe liggies waar hulle op die handsak rus.

Na ʼn goeie halfuur staan sy op en stap stadig deur toe, die rooi tas met die skewe pienk strik sleep eensaam agter haar. Sy stap krom by die gebou uit na waar die busse geparkeer staan. Munesu volg op ʼn veilige afstand en kyk totdat sy veilig in die bus sit.

Dan haal hy sy selfoon uit en stuur ʼn boodskap vir Selma.

Aggie op pad terug huis toe. Hierdie keer het sy langer geneem om na die werklikheid terug te keer.

Lees ook

Jonathan

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top