
Sy was nog altyd ’n lysie-mens. Dit hou haar hande besig en haar gedagtes georden.
Vandat Myra kan onthou maak sy lysies van haar gedagtes, boeke wat sy wil lees, plekke wat sy wil besoek, resepte wat sy wil probeer en, natuurlik, inkopielysies.
Nou, meer as ooit, het sy hierdie lysie-gewoonte van haar broodnodig. Dit help dat sy al die nodige aktiwiteite moet onthou vir die afhandel van Theuns se lewe en sommer om haar te help fokus sodat sy nie in ’n bondeltjie verdriet verval nie. Verdriet is tydmors, sou Theuns kort en bondig verklaar het as hy hier was. Dit dien geen doel nie. Wat verby is, is mos verby en die lewe gaan aan.
Myra gaan sit swaar by die kombuistafel met haar pen en notaboek om die lysie aan te vul en regmerkies te maak teenoor dié wat afgehandel is. Begrafnis, regmerkie. Skriftelike bedankings, regmerkie. Bankbestuurder en reëlings, regmerkie. Prokureur en testament, regmerkie. Theuns se klere uitsorteer, geen regmerkie nie. Theuns se garage en visgoed uitsorteer, geen regmerkie nie.
Sy staar uit oor die heuwel met fynbos en die donkergrys massa water met die skuimkoppe, links van die heuwel. Die wind waai nou al vir dae aanmekaar en sy kan dit skaars uit die huis waag. Sy is dankbaar vir Theuns se visie om ’n ordentlike en stewige huis hier te kom bou. Alles is goed beplan, net van die beste en ideaal vir alle weersomstandighede. Dis net jammer hy het nie lank genoeg geleef om sy droomhuis te geniet nie. Laat verlede jaar, net voor sy aftrede, is die huis klaar gebou en drie weke gelede moes sy hom begrawe.
Haar trane het al die tweede dag opgedroog. Nou bly ’n dowwe leegheid oor. Sy het iewers gelees dat mens deur ’n paar stadiums van rou gaan. Die skok het net ’n dag of twee gehou; toe kom die ontkenning, waarin sy nog steeds vasgevang is. Sy weet nie wanneer die woede, onderhandeling en aanvaarding gaan kom nie, want die ontkenning maak dat sy nog steeds twee plekke by die tafel dek. Sy het selfs gister nog sy gholfklere op die bed uitgepak, want Woensdae was gholfdag. Sy het dit gisteraand voor slaaptyd weer sorgvuldig opgehang.
Wat die res van die proses aanbetref, het die depressie al klaar in haar lyf kom nesmaak. Sy wens net sy kan nog huil sodat die aanvaarding gouer kan kom.
Haar oog vang die foto oorkant die muur met ’n glimlaggende Theuns en Tamara wat op sy rug sit soos ’n klein apie. Myra glimlag en onthou daardie dag soos gister. Dit was hulle enigste dogter se tiende verjaardag en sy het aangedring dat haar pa haar vir oulaas op sy rug abba om die huis, want van die volgende dag af sou sy amptelik ’n tiener wees wat op haar eie voete moet staan. Die kind het altyd ’n ding gehad vir drama en Theuns het gemoedelik meegedoen. Wat Tamara wou hê het sy gekry.
Nou is Theuns onder ’n hopie sandgrond van Verlatenbaai waarvoor hy so lief was en Tamara hop van die een Europese land na die ander met haar loopbaan as verhoogaktrise. Weliswaar ’n baie onbekende een, maar in haar wat Myra se oë is, die beste wat hierdie land nog opgelewer het. Sy is so spyt die kind kon nie nog ’n week bly nie, maar die stiltes tussen hulle was nog altyd te veel vir Tamara se borrelende persoonlikheid.
“Ek moet werk Ma, dis al hoe ek Pa se dood kan verwerk.”
Haar pragtige gesiggie met Theuns se groen oë was treurig en trane het geluidloos oor haar wange gestroom. “Ek belowe sodra hierdie produksie klaar is, kom ek huis toe vir ’n maand. Dan gaan toer ek en Ma die hele Suid-Afrika. Ma sal oukei wees, ek weet. Ma is ’n fighter.”
Hier, alleen by haar kombuistafel in haar huis in die piepklein vissersdorpie in die Wes-Kaap, skud Myra stadig haar kop. Sy kon nie vir Tamara antwoord nie. Het net geglimlag en haar trane met ’n outydse sakdoek afgevee. Nou, hier met die fynbos en die see voor haar antwoord sy vir Tamara.
“Nee my kind, ek is nie ’n fighter nie. Ek is ’n lafaard wat nooit my eie lewe gehad het nie. Ek het weggekruip agter jou en jou pa. Net met my hoërskoolloopbaan, my lysies, my liefde vir julle en my boeke, het ek seker gemaak julle lewens verloop seepglad terwyl myne in ’n wentelbaan om julle gedraai het. My simpel gediggies het ek geskryf as julle uithuisig was en diep binne in my kas weggesteek. Ek het geweet julle sal dit net kritiseer en afmaak as amateuragtig.
“Jou pa se loopbaan was myne ook. Ek het saam met hom gestap met elke krisis, elke oorwinning, elke bevordering, en ek was saam met hom toe hy die hartaanval in die winkelsentrum gekry het. Saam in die ambulans toe hy vir oulaas sy oë toegemaak het. Sonder ’n woord of ’n laaste kyk in my rigting. Soos in die lewe, so was hy in die dood. Gerig op sy wêreld en wat die volgende stappe moes wees. Ek was altyd ’n nagedagte vir hom, en jammerlik, vir jou ook.”
’n Beweging buite trek haar aandag en dwing haar terug na die hede. ’n Seemeeu swiep heen en weer voor die kombuisvenster, al krassend en beurend teen die wind, maar vasberade in sy vlug. Die seemeeu gaan sit op die breë, beskutte vensterbank waar hy vir ’n wyle kan rus teen die wind. Sy klein ogies en lang snawel slegs ’n paar meter van haar af. Sy sit doodstil, te bang om haar teenwoordigheid weg te gee. Dan sien sy die gekoekte vislyn om sy poot. Dis iets wat ’n gereelde gesig op die strand is – beangste en verminkte seevoëls met vislyn wat die laaste lewe uit hul wurg of hulle kniehalter in vlug en beweging.
Myra moet hierdie dier probeer red. Al hoe sy naby hom gaan kom is om hom te lok met kos. Daar is nog gevriesde sardientjies van Theuns se laaste visvang-ekspedisie op die rotse.
Pynlik stadig staan sy op en retireer na die spesiale aasvrieskassie om die hoek, haar blik vasgenael op die voël daarbuite. Toe sy buite sy gesigsveld is, ruk sy koorsagtig die vrieskas se deksel oop en grawe tussen die stinkende aas rond totdat sy ’n pakkie vasvat met die piepklein gevriesde vissies in. Myra gril tot in haar tone, maar hou haar asem op terwyl sy een loswikkel en in die badkamer se wasbak gaan afspoel. Sal die seemeeu die ding ooit vreet as dit gevries is? Sy dink nie so nie, maar dalk is hy honger genoeg.
Met die yskoue vissie in haar hand stap sy treetjie vir treetjie tot by die kombuisvenster. Toe die voël haar gewaar vlieg hy vervaard op maar die visnet haak aan die venster se handvatsel vas en hy klap verbouereerd sy vlerke teen die glas. Myra is so naby sy kan sweer sy sien vrees in die diertjie se kraalogies. Sy hou die vissie soos ’n offer uit terwyl sy die venster oopmaak. As sy haar arm uitstrek kan sy hom aanraak maar die krassende snawel weerhou haar daarvan. Sy sit die sardientjie op die vensterbank neer en draai om om ’n sker te kry vir die visnet. Hoe sy dit gaan afkry van sy poot af, weet nugter alleen!
Die volgende oomblik is daar ’n lawaai van vlerke wat klap en skottelgoed wat breek. Myra swaai om en sien hoe die voël sukkel om sy balans op die wasbak te kry. Met die gespartel het hy by die venster ingevlieg en bo-op die wasbak beland. Sy weet sy moet gou speel voor die arme ding nog seerder kry en sy gryp ’n handdoek wat in die wasmandjie langs die wasbak staan. Sy bid dat die plan moet werk en met dié gooi sy die handdoek oor die seemeeu. Wonder bo wonder val dit netjies oor sy kop! Sy gryp na hom en voel dat sy beheer kry oor die wriemelende dier.
Met die handdoekbedekte seemeeu vasgeknyp onder haar linkerarm grawe sy in die laai vir die skêr en vat dit genadiglik vas met die eerste probeerslag. Myra begin saggies met die voël praat soos destyds met Tamara as die kind ontsteld of bang was.
Sy is verbaas oor haar eie kalmte en behendigheid terwyl sy die visnet losknip. Terwyl sy aanhou om met hom te praat voel sy waarlik hoe die voël minder en minder spartel. Gou knip sy al die netstukke van sy poot af en met sy kop nog steeds bedek, stap sy yskas toe om van die brood uit te haal. Hopelik trek hy nie sy neus op vir die stysel nie, aangesien sy eerste keuse ’n blink vissie was. Terwyl sy die brood aan die een punt vashou, druk sy die ander punt onder die handdoek in. So stap sy terug na die venster om die dier vry te laat, seker daarvan dat hy niks gebreek het of nog bloei van die visnet nie. Met een beweging trek sy die handdoek van sy kop af en sit hom op die vensterbank neer.
Met ’n laaste kyk van sy swart ogies en ’n geskreeu wat haar vir ’n oomblik doof laat, lanseer die seemeeu homself van die vensterbank af, reg in die wind. Sy staan vir ’n lang ruk en kyk hoe hy hoër en al krassende verdwyn.


Kommentaar
Pragtige storie.
Aangrypend mooi.