Motorrepubliek: Ry-indruk van die MG3 1.5MT Comfort

  • 0

In F Scott Fitzgerald se The Great Gatsby (1925) herverbeel die onsigbare kerkmuis James Gatz hom as die skatryk en flambojante Jay Gatsby. Hy skep ’n geïdealiseerde weergawe van sy mindere self, wat die maniërismes, materialisme en uitspattigheid van die boklas ten alle koste nastreef in sy vergeefse reik na die onhaalbare trappie van die sosiale leer waarop ou geld homself verewig.

Gatsby se transformasie is ewe uitsonderlik as tragies. Sy fantasie (verwesenlik deur kriminaliteit) van ’n beter lewe word deurgaans vertroebel deur die obsessie dat net die bou van ’n gepaste en oortuigende hede sy verlede kan wegskryf.

Die MG-handelsmerk deel vandag hierdie spanning, maar op ’n omgekeerde wyse. Morris Garages was ’n tydgenoot van The Great Gatsby. Dit was, net soos Rover, Austin en Triumph, ’n bloubloedlid van die Britse industriële orde voordat dit oor dekades heen weens politieke inmenging en gepaardgaande wanbestuur, chroniese beleggingstekorte en ’n verouderde produkaanbod ineengeplof het.

Terloops: Tussen 1957 en 1962 is die MG Magnette-gesinsedan en verskillende weergawes van die MGA-sportmotor ook plaaslik in Durban vervaardig.

Teen die vroeë 2000’s was MG op sy knieë en kon slegs ’n intensiewe kapitaalinspuiting sy ondergang stuit. Dit het: Vanaf 2007 behoort dié kenteken aan die SAIC Motor-groep, een van China se vier grootste (en staatsbeheerde) motorvervaardigers.

MG is toe mettertyd hervorm na ’n hoofstroommotormaker, met sukses.

In 2025 is daar meer as 300 000 MG’s in Europa verkoop, hoewel, tekenend van die tye, dit grotendeels die kompakte ZS en mediumgrootte HS-stadsnutse was.

MG se eeu oue erfenis is onmiskenbaar, en sy latere transformasie van sport- na hoofstroommotors noodsaaklik en betekenisvol. Maar teen watter prys het dit gekom? Gatsby het ’n verlede geskep uit behoefte en ’n liefdeshonger vir die onverkrygbare Daisy; MG moes besluit wat van sy verlede die moeite werd was om te behou.

Na agt jaar landuit het MG in 2025 teruggekeer na Suid-Afrika. Sy aanvanklike produkreeks het uit die ZS, HS en Cyberster elektriese sportmotor bestaan; die begrotingsvriendelike 3, ’n luikrugmodel, het kort daarna gevolg.

Gegewe die Sisufosrots van stygende lewenskoste in Suid-Afrika is sakpasbukse kanonvoer in die massamark-loopgraafstryd hier. Dié sub-R300 000-segment word oorheers deur die plaaslik geboude Volkswagen Polo Vivo (met gemiddelde verkope van 2 000 eenhede per maand) as segmentleier en die Suzuki Swift (1 600 eenhede).

Nou kom staan en krap die Brits-Chinese kapokkie in hulle slaai.

Die intreemodel, wat 1.5MT Comfort heet, kos R269 900 en beskik oor ’n kragtiger enjin en groter grootste bakwerk én kattebak as die Polo Vivo 1.4 55 kW (R271 900) en die Swift 1.2 GL R228 900).

Die MG3 neem ook die leiding op die tegnofront. Sy enkele USB-sok vir die agterpassasiers, trukamera en digitale instrumentasie ontbreek by sy opponente. Die MG beskik boonop oor onverwagte snuisterye soos ’n volt- en banddrukmeter.

Die ry-ervaring is egter die aangenaamste verrassing. Sy ligte stuur, presiese ratwisselaksie en gewillige gestoei teen die wette van fisika herinner my aan die plesier van ’n liggewigmotor bestuur wat nypend by die grootmotorkategorie se kolosse ontbreek. Alles wat jy verlang, word sonder teenstribbeling of onderhandeling gelewer. Draai. Rem. Versnel. Nie sportief nie, maar met groot genot met ’n soort speelsheid, sonder die blikkerigheid van prysbewuste bougehalte.

Gepraat van materiale: Ja, jy verwag (en kry) ’n harde plastiekfassie – standaardtoerusting in dié randreksegment. Die sitplekke is gemaklik, en beenruimte meer as gangbaar vir die agtersittendes. Maar langerate kan hulle regmaak vir ’n platter haardos, danksy die dak se afwaartse helling.

Vir ’n intreemodel is die 1.5 Comfort se spesifikasielys voortreflik. Apple CarPlay en Android Auto, koordloos in die MG, is ’n alledaagse gegewe, maar afwesig by die Suzuki. Daarbenewens beskik die MG oor vier lugsakke (Polo: twee; Swift: ses) sowel as allerbelangrike stabiliteitsbeheer.

Tekorte?

Met ’n geweer teen die kop sou sleutellose toegang jou enigste Kerswens wees, wat jou die las sou spaar om eers in jou broeksak vir die sleutel te moet vroetel wanneer jou hande vol van vanaand se soetsuurvark takeaway-pakkies is (lángs die witbrood onder jou arm).

Anders as Jay Gatsby het die MG nie ’n gedaanteverwisseling ondergaan om iets te word wat dit nie was nie. In plaas daarvan het die waarde van ’n geërfde identiteit bygedra tot die bou van ’n volhoubare toekoms. Die maatskappy se skuif na gewilder volumemodelle dui daarop dat iets wél prysgegee is tydens die transaksie met die noodlot: die verlede as betaalmiddel.

MG3 1.5 Comfort

Taksering: ****
Prys: R269 900
Dryfstelsel: 1,5 liter-petrolenjin, 4 silinders, 81 kW @ 6 000 r/min, 142 N.m @ 4 500 r/min; vyfspoedhandratkas, voorwielaandrywing
Verrigting: 0–100 km/h in 10,8 sekondes; topsnelheid nie beskikbaar
Verbruik: 6,0 l/100 km (aangevoer)
Naverkope: 5-jaar-/150 000 km-waarborg, 3-jaar-/45 000 km-diensplan

Lees meer hier:

Die Motorrepubliek se padkaart

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top